“Die Silwerskermfees bring denkers, doeners, makers en towenaars oor generasies en provinsies heen saam in die naam van film,” sê Waldimar Pelser, direkteur van M-Net se Premium-kanale. Vanjaar vind die fees van Woensdag 20 tot Saterdag 23 Augustus by The Bay Hotel en Theatre on the Bay in Kampsbaai plaas.
Die 13de Silwerskermfees spog met ’n ryk oes van 21 kortfilms, waaronder dokumentêre, onafhanklike kortfilms, asook kortfilms deur gevestigde én opkomende filmmakers. Ook word ses vollengte speelfilms, waarvan drie debute van die betrokke regisseurs is, bekendgestel.
In 2025 is daar sewe dokumentêre prente op die program teenoor verlede jaar se vyf. Onderwerpe wat in dié films gedek word, is uiteenlopend – van die Marikana-slagting en die oorgang na demokrasie in 1994, tot die tragiese verdrinking van ’n bekende Springbok-rugbyspeler se babaseun. Laasgenoemde is verlede jaar as ’n konsep by die fees se Silwermark voorgelê.
My F*k, Marelize! is een van die ses speelfilms.
Ja, jy het reg geraai, daardie video van Marelize Horn wat met haar fiets in ’n rugbypaal vasry en haar geskokte ma se uitroep wat sosiale media in 2019 laat gons het, is die grondslag vir hierdie speelfilm. Maar agter die kort video is ’n gesin met hul eie verhaal en worstelinge.
My F*k, Marelize! vertel die verhaal van Heidi, ’n vrou met ’n sterk wil wat haar kanker vir haar familie wegsteek, en Marelize, haar ongeluksvoël-dogter wat moet leer hoe om fiets te ry, sodat sy ’n au pair in Nederland kan word.
Wat kan verkeerd gaan?
In die rolverdeling is Je-ani Swiegelaar (Heidi), Zandélle Meyer (Marelize), Neels Clasen (Tiaan) en Nichola Viviers (Wilmari). Net terloops, Zandélle is ook benoem vir beste nuweling in ’n telenovela of sepie vir Binnelanders (S14) in die kykNET Silwerskermtoekennings vir Film en TV wat op 23 Augustus aangekondig word.
Die draaiboek is geskryf deur Brett Michael Innes en die regisseur is Zandré Coetzee, mede-eienaar van Nagvlug Films. Haar regiedebuut is ’n samewerking tussen Suid-Afrika en Namibië en word deur Nagvlug, Nostalgia Productions en Joe Vision Production Tours in Namibië vervaardig.
........
Die film is in Windhoek, Namibië verfilm en dele is selfs op die rugbyveld, waar die virale video gemaak is, verfilm. Die ware Marelize en Wilmari was deel van die verfilming en het selfs die voertuig bestuur toe “Marelize” fietsgery het.
.........
Die film is in Windhoek, Namibië verfilm en dele is selfs op die rugbyveld, waar die virale video gemaak is, verfilm. Die ware Marelize en Wilmari was deel van die verfilming en het selfs die voertuig bestuur toe “Marelize” fietsgery het.
Marelize en Heidi Horn sal by die première van die film by die Silwerskermfees teenwoordig wees.
My f*k, Marelize! is van 29 Augustus landwyd in Suid-Afrika, asook in filmteaters in Namibië te sien. (Volledige lys onderaan die storie.)
Vrae aan Zandré, Marelize en Zandélle:
MR: Wat aan hierdie storie het jou belangstelling geprikkel en hoekom was dit werkbaar as film?
ZC: Ek en Brett wou lankal al saamwerk. Soos mense wat aanhou belowe hulle gaan nog saam braai! En toe besluit ons dit is nou of nooit. Hy’t nog lank ná die video uitgekom het daaroor getob, en toe met Marelize begin gesels. Ons het besluit om Namibië toe te gaan om die Horns te ontmoet. Tiaan, Marelize se pa, het ’n lekker kroeg by sy huis en daar het ons gesit, stories gedeel en besef daar’s baie meer aan hierdie gesin as net ’n snaakse video.
Hulle het my herinner aan vakansies by my ouma, met kos, speelkaarte en liefde sonder woorde. Brett het later gesê ek moet regisseer, want ek het hul hart verstaan. Ons het geweet ons wou nie nóg ’n disfunksionele gesin uitbeeld nie; ons wou iets wys wat warm, herkenbaar en liefdevol is. Die Horns is ’n goeie, gesonde familie.
MR: Vertel my hoe jy te werk gegaan het met die rolverdeling?
ZC: Die rolverdeling was absoluut sentraal. As jy regte mense moet uitbeeld, soek jy meer as net talent en iemand wat soos die karakter lyk. Jy soek teenwoordigheid en ’n gevoel van egtheid. Ons het nie die akteurs volgens voorkoms gekies nie; ons het eerder gefokus op die energie tussen hulle voor die kamera.
Ek het Je-ani jare gelede tydens oudisies vir ’n ander projek ontmoet en ek was toe reeds beïndruk. Hierdie keer was die tyd en die projek nommerpas, en gelukkig was ’n speelfilm ook op haar wenslysie. Je-ani, tesame met Zandélle, Neels Clasen en Nichola Viviers, het vir ons die Horns se dinamika met humor, egtheid en siel laat voel. Dit was regtig ’n ongelooflike rolverdeling.
MR: Hoe hanteer jy ’n film as regte mense uitgebeeld word en deel van die proses is?
ZC: Dis ’n delikate balans. As jy dit nie met respek aanpak nie, stel jy hulle teleur. Ons het die storie benader soos iemand wat die verhaal van ’n mal aand oorvertel ... Dalk dramaties, dalk deurmekaar, maar met die gevoel van waarheid.
........
Ons het doelbewus elemente van vermaak ingesluit, maar altyd met die Horns se essensie in gedagte. Die film moes voel soos ’n tuisvideo – eerlik en intiem.
.........
Ons het doelbewus elemente van vermaak ingesluit, maar altyd met die Horns se essensie in gedagte. Die film moes voel soos ’n tuisvideo – eerlik en intiem. Ons het selfs by die kankerorganisasie waar Heidi werklik behandeling ontvang het, geskiet. Ons wou hul wêreld so getrou moontlik vasvang. Meeste goed in die draaiboek het werklik gebeur, dalk net nie in daardie week of jaar nie.
MR: Hoekom dink jy het die video die verbeelding so aangegryp?
ZC: Dit was daardie perfekte epic fail-oomblik, iets waarna ons almal bly soek op sosiale media. Maar wat dit onvergeetlik gemaak het, was Heidi se rou, eerlike reaksie.
Ek dink dit het mense laat voel asof hulle nie alleen in hul foute en flaters is nie. Die video het iets van ’n stuk menslikheid en selfaanvaarding losgemaak. En dít is ook die kern van die film.
MR: Is daar iets spesiaals van die ware Horn-gesin wat ons in die film sien of iets waarvoor kykers op die uitkyk moet wees?
ZC: Die wit Harley Davidson wat in die film gebruik word, is Tiaan Horn, die pa, se motorfiets. Die motor waarin Heidi rondry het aan Je-ani Swiegelaar se oupa behoort. Die vervaardigers, Paulo Areal en Brett Michael Innes, maak cameo-verskynings in die chemokliniek-tonele.
MR: Hoe het jy gevoel toe jou ma jou flatervideo op sosiale media deel en het die gedagte ooit deur jou kop gegaan dat dit viraal kan gaan?
MH: Nooit nie! Ons dink nou nog dit kan nie waar wees nie. Ek het die video vir my sussie aangestuur dat sy ook lekker kan lag en gedink dis waar dit sal eindig. En hier oornag het soveel ander mense ook die geleentheid om te lag.
MR: Hoe voel dit nou dat miljoene mense jou in hierdie video gesien het?
MH: In alle eerlikheid, amazing. Dit beteken miljoene mense kon lag en dis al wat ek nog my hele lewe lank wou hê: om geluk te bring, al is dit ietsie kleins. Al is dit 19 sekondes lank, soos hierdie video. Ek is net een mens en kon so baie mense gelukkig maak. Ek verruil dit vir niks!
MR: Toe Brett jou kontak met die gedagte om ’n film te maak, wat was jou ervaringe en verwagtinge? Hoe het jy jou familie oortuig?
MH: Ek het obviously my ma ingetrek; sy is deel van alles. Maar ons het gedink hierdie is een hengse grap. Hoe maak jy ’n movie hieruit? En die volgende oomblik is daar Zoom calls en dit word ons lewe. Dit was vinnig én stadig, tegelykertyd. Dit slaan steeds ons asems weg.
........
Maar ons het gedink hierdie is een hengse grap. Hoe maak jy ’n movie hieruit? En die volgende oomblik is daar Zoom calls en dit word ons lewe. Dit was vinnig én stadig, tegelykertyd. Dit slaan steeds ons asems weg
.........
Ons was net so dankbaar dat iemand ons storie wou gehoor het en gedink het ons het ’n storie om te vertel.
MR: Voel jy Zandélle het jou karakter en persoonlikheid goed uitgebeeld – herken jy jouself en jou gesin in die film?
MH: Ons het nog nie die volledige film gesien nie, maar ek dink Zandélle is fantasties en ek dink Nichola Viviers moet eintlik ’n komediant wees. Sy is supersnaaks. Ek kan steeds nie glo dat die span sulke goeie akteurs gekry het wat ons so goed verteenwoordig nie. En die feit dat Je-ani my ma speel is die coolste ding ooit. Toe hulle sê Je-ani speel vir Mamma, was ons in skok.
MR: Hoe betrokke was jy by die verfilming en voel jy dis ’n ware weerspieëling van die Horns?
MH: Ons was baie meer betrokke as wat ek gedink het hulle ons gaan toelaat om te wees. Hulle het kom kuier by ons huis; ons het saam gebraai, maar alhoewel ons nog net klein deeltjies gesien het, weet ek hulle gaan ons reg uitbeeld deur die wonderlike akteurs wat hulle gekies het.
MR: Wat beteken hierdie film vir julle as gesin?
MH: Vir my beteken hierdie meeste vir my mamma. Dis wonderlik dat sy haar storie kan vertel. Sy het nie die maklikste lewe gehad nie. En mense wil gaan hoor en kyk na wat sy te sê het. Sy het ons selfvertroue geleer, om jou man te staan en jouself nooit kleiner te maak nie. Dit was ongelooflik dat Brett-hulle gesê het hulle wil nie die storie van die 19 sekonde video vertel nie; hulle wil die storie wat daartoe aanleiding gegee het, vertel.
MR: Sien jy uit na die première in Kaapstad?
MH: Ons familie is een van pure chaos; niks gaan soos ons wil hê nie, maar op een of ander manier werk dinge tog uit. Hierdie geleentheid is geen uitsondering nie.
........
Ons familie is een van pure chaos; niks gaan soos ons wil hê nie, maar op een of ander manier werk dinge tog uit. Hierdie geleentheid is geen uitsondering nie.
..........
Ons sien ongelooflik baie uit en kan nie glo hierdie geleentheid is vir ons gegun nie vir die 19 sekondes van destyds. Ons gaan ook sommer bietjie langer bly in Kaapstad om al die goed te doen wat ons nog altyd in die Kaap wou doen.
Zandélle:
MR: Hoe voel dit om weer ’n skoolkind te speel, nadat jy nou al jou vlerke in ander rolle ook gesprei het? Ons ken jou darem in ’n jong rol in Binnelanders, maar in Suidooster en Wyfie speel jy jou eie ouderdom.
ZM: Sjoe, dis vreemd wat skoolklere en ’n swaar skooltas kan doen. Om ’n rol te speel van ’n skoolkind maak verlange binne my wakker. Die dae toe sweetkolle onder my arms en wat ek gaan dra vir ’n sokkie, my grootste probleme was. Ek mis die eenvoud en kwaliteittyd saam met my ma en ouma.
MR: Jy het verlede jaar jou skryf- en regiedebuut by die Silwerskermfees met die kortfilm, O, Griet! Sy’s droog, gemaak. Hoe voel dit om vanjaar terug te wees in ’n speelfilm?
ZM: Silwerskermfees is ’n vibe, maar eers ná die première van jou film. Voor die première is dit bietjie stresvol, want jy weet nie hoe die gehoor dit gaan ontvang nie. Dis ’n anderste tipe gevoel om ’n film waarby jy betrokke was saam met ’n gehoor te kyk. Dis bietjie soos ’n teateropvoering. Jy is verlig as die gehoor lag, trane loop of daar’s ’n kort stilte na die einde, want dan weet jy dit het hulle op een of ander manier geraak. Ek glo dit gaan die geval wees met die film van My f*k Marelize!, want ek het al daai emosies beleef in een go, toe ek dit onlangs gekyk het. Ek dink Silwerskermfees is ’n ongelooflike platform om erkenning te gee vir mense se kuns. Die filmteaters is nie meer so vol nie en ek het eers laasjaar besef hoe ek die movie-huis gemis het. Dit sal altyd anders wees om ’n film op ’n grootskerm te kyk. Jy sit saam met ander voor ’n groot skerm, eet springmielies en word saam weggevoer na ’n ander wêreld toe.
MR: Hoe anders benader jy ’n rol as jy weet jy is een van die akteurs wat ’n ware gesin uitbeeld?
ZM: My F*k, Marelize! was darem nie ’n biopic nie, maar net ’n geïnspireerde storie oor die Horns. Dus het ek nie Marelize fyn bestudeer nie en Zandré wou ook nie hê ons moes veel te doen gehad het met die familie tydens die verfilmingsproses nie, om ons te verhoed om onsself te moet auto-correct in stede van om net die storie te vertel. Maar my benadering was om drie eienskappe van Marelize vas te pen en daarmee te speel. Vir my was dit naïef, ongeluksvoël en groot dromer. Ek maak baie staat op die regisseur en Zandré het vir ons die Horns se wêreld só mooi geskets, omdat sy en Brett self tyd saam met hulle spandeer het. Zandré het ’n ongelooflike manier om met metafore te werk, wat jou dadelik laat verstaan wat sy wil hê van jou. Omdat Marelize ’n regte mens is, is die verantwoordelikheid soveel groter om haar karakter te regverdig, en dus moes sy iemand anders geword het as wie sy was aan die begin en ’n coming of age moment was nodig. Verder probeer ek ook bietjie van myself in die karakter vind, om ’n eerlike gevoel oor te dra.
MR: Hoe nou het jy saam met Marelize gewerk? Hoeveel insae het sy gehad in jou rol en hoe het dit verskil van ander rolle wat nie op ware mense gegrond is nie?
ZM: Dit sluit goed aan by die vorige vraag. Omdat Zandré vir ons gesê het om nie met die familie veel in kontak te kom nie, het ek en Marelize nie eintlik saamgewerk nie. Die eerste keer wat ons ontmoet het, was op die eerste dag van verfilming in Windhoek, Namibië se NG Kerk. Hulle hele familie was daar en hulle kar is in een van die skote. Die storie self gaan nie soveel oor Marelize nie, maar meer oor die Horn-familie. My voorbereidingsproses was baie dieselfde as ander projekte, behalwe op stel het ek rêrig probeer om teenwoordig te wees en dit kan net kom as jy werklik luister vir jou mede-speler en vergeet van die verfilmingspan om jou. Ek het nie anders voorberei vir die rol nie, of dit ’n storie is oor ’n ware verhaal of net fiksie is, die karakter is ’n mens in haar wêreld. Die enigste verskil, sal ek net sê, is die verantwoordelikheid, want jy wil geregtigheid laat geskiet met die uitbeelding van die karakter en die familie se storie. Ek moes ook bietjie van my sepietegnieke laat gaan, soos om nie te veel te hamer op blocking nie en daai laaste ingetoë kyk skrap. Dit klink so maklik, maar jy moet net die moment omarm om natuurlike spel te kry.
MR: Wat het jy die meeste van die rol van Marelize geniet?
ZM: Definitief al haar valle van die stunt acting. Ek het ook geniet om net te wees in haar skoene, sonder om perfek te probeer wees of iets te moet bewys.
MR: Hoe het jy Zandré Coetzee as regisseur ervaar en wat het jy by haar geleer?
ZM: Soos ek gesê het, Zandré is ongelooflik. Ek kan nie glo hierdie is haar eerste rodeo as regisseur nie. Sy het ’n manier om te toor met metafore en vir jou ’n prentjie te skep wat die beste uit jou uitkry.
........
Ek het by haar geleer dat jy nie te fyngevoelig moet wees nie, vat die kritiek soos ’n man, implementeer dit en beweeg aan. Ek het ook by haar geleer om nie die eerste opsie te vat nie, maar om dieper te delf as dit kom by karakterkeuses en hulle motiewe agter hoekom hulle doen wat hulle doen. Sy inspireer my om net beter te wees, al maak ek lekker baie voetfoute langs die pad.
..........
Ek het by haar geleer dat jy nie te fyngevoelig moet wees nie, vat die kritiek soos ’n man, implementeer dit en beweeg aan. Ek het ook by haar geleer om nie die eerste opsie te vat nie, maar om dieper te delf as dit kom by karakterkeuses en hulle motiewe agter hoekom hulle doen wat hulle doen. Sy inspireer my om net beter te wees, al maak ek lekker baie voetfoute langs die pad.
Ekstra inligting:
- Daar is ’n tweede vertoning van My f*k Marelize! op Saterdag 23 Augustus om 11:30 by die Silwerskermfees. Kaartjies beskikbaar by Quicket.
- Die swierige Silwerskermtoekennings vir Film en TV, waar die beste feesfilms saam met top-televisie vereer word, vind op Saterdag 23 Augustus by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) plaas.
By hierdie geleentheid word filmfees-presteerders en televisie-uitblinkers van die afgelope jaar (April 2024 tot Maart 2025) beloon met die gesogte Silwerskermbeeldjies. Wenners van die ander filmkategorieë, wat onder meer toekennings vir tegniese prestasie insluit, word die oggend van 23 Augustus tydens ’n geleentheid by The Bay Hotel aangekondig.
- Ná afloop van die fees sal al die rolprente op kykNET uitgesaai word. Dit sal ook later op die stroomdiens Showmax beskikbaar wees. Alle kortfilms sal vanaf 7 September op Saterdae om 20:00 op kykNET uitgesaai word, terwyl die kort dokumentêre vanaf 8 September om 20:00 op Sondae sal wys. Dit sal ook ná die uitsendings op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
- Vir die volledige Silwerskermfees-program, besoek die fees se webwerf: www.silwerskermfees.co.za
Hiermee die lys van fliekteaters waar My f*k, Marelize! gaan wys in Suid-Afrika en Namibië:
Ster Kinekor
Bay West – Port Elizabeth
Blue Route Mall Tokai – Kaapstad
Brooklyn Mall – Pretoria
Cape Gate – Kaapstad
Cradlestone Mall – Johannesburg
Cresta Mall – Johannesburg
The Grove – Windhoek
Maerua Mall – Windhoek
Garden Route – George
Waterest – Pinetown
Ilanga Mall – Mbombela
Mall of the North – Polokwane
V&A Waterfront – Kaapstad
Mimosa Mall – Bloemfontein
Mooi River – Potchefstroom
Rosebank Nouveau – Johannesburg
Somerset Mall – Somerset West
Rustenburg – Rustenburg
Eastgate – Johannesburg
Irene – Pretoria
The Grove Lynnwood – Pretoria
Tygervalley – Kaapstad
Vaal Mall – Vanderbijlpark
Nu Metro
Canal Walk – Kaapstad
Menlyn - Pretoria
Ballito Junction – KwaZulu-Natal
Worcester – Wes-Kaap
Boardwalk Casino – Port Elizabeth
Loch Logan – Bloemfontein
Woodlands – Pretoria
Galleria – Amanzimtoti
Clearwater Mall – Johannesburg
The Pavillion – Durban
Onafhanklik
Whale Coast Roadhouse – Hermanus
Epic North Ridge – Bloemfontein
Movies @ Montecasino – Johannesburg
Movies @ Silverstar – Krugersdorp
Grand West Casino – Kaapstad
Lees ook:

