- Jason Lloyd skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
........
Die onlangse kabinetskommeling deur president Cyril Ramaphosa wat geïnisieer is deur die Demokratiese Alliansie se leier John Steenhuisen, of liewer dié party se Federale Uitvoerende Komitee, maak nie vir my sin nie, omdat dit nie gedryf is deur die onderskeie ministers se passie vir hul ministeriële posisies nie.
........
Die onlangse kabinetskommeling deur president Cyril Ramaphosa wat geïnisieer is deur die Demokratiese Alliansie se leier John Steenhuisen, of liewer dié party se Federale Uitvoerende Komitee, maak nie vir my sin nie, omdat dit nie gedryf is deur die onderskeie ministers se passie vir hul ministeriële posisies nie.
Ek sê dit, omdat die posisie van ministeriële adviseurs gebruik word om die gaping in vaardighede tussen ’n minister en sy of haar departement te help oorbrug. Dit is internasionale praktyk en nie net tot Suid-Afrika beperk nie.
Feit is dat ministers politici is en dat akademiese kwalifikasies/ervaring/vaardighede nie ’n voorvereiste vir aanstelling in die kabinet is nie.
Steenhuisen, of liewer die DA, se aanbeveling aan Ramaphosa om veranderinge aan te bring aan die DA se ministers en adjunkministers in die koalisieregering berus op drie bene:
I
Die pos van adjunkminister van handel, nywerheid en mededinging is sedert 25 Junie vakant, omdat Ramaphosa vir Andrew Whitfield afgedank het omdat hy sonder toestemming oorsee gereis het. Dit het ’n vakante pos in die DA se totaal van ses adjunkministers in die koalisieregering meegebring. Met ander woorde, dié vakature sou in elk geval gevul moes gewees het.
II
Vroeër vandeesmaand het Steenhuisen glo vir Dion George genader om sy pos as minister van bosbou, visserye en omgewingsake te ontruim om plek te maak vir Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme. Die vakante pos van adjunkminister van handel, nywerheid en mededinging is glo aan George gebied. Dié adjunkministerspos is ’n kritieke pos om in te werk. Die DA wou glo hê George moes dié pos beklee, omdat hy ook Amerikaanse burgerskap het. Dié Amerikaanse verbintenis sou waardevol kon wees in onderhandelinge oor ’n handelsverdrag met Amerika. George was voorheen die DA se woordvoerder oor finansies en is ook dié party se federale voorsitter van finansies. Hy het onder meer in die finansiële sektor gewerk en het ’n MBA-graad, asook ’n doktorsgraad (DBA) in die ekonomie.
George het glo geweier om gedemoveer te word tot ’n adjunkminister.
Boonop het Meyer Steenhuisen se uitnodiging “beleefd” van die hand gewys, omdat hy onafgehandelde sake het in die Wes-Kaapse regering. Hy doen glo goeie werk in dié provinsiale kabinet en het alreeds die vertroue van sleutelrolspelers in die landbousektor in dié provinsie gewen.
Dié weiering het glo Steenhuisen se planne deurmekaar gekrap, omdat Meyer se bevordering tot die kabinet as ’n logiese stap beskou is, want hy is ’n gewilde federale voorsitter van die party. Hy is boonop die mees senior bruin persoon in die DA – wat een van die party se topdrie-posisies (federale leier, federale voorsitter en voorsitter van die federale raad) beklee.
III
Bogenoemde gebeure het die tafel gedek vir Steenhuisen om vir Willie Aucamp in George se plek te benoem as minister van bosbou, visserye en omgewing. Aucamp is tans een van twee parlementslede wat saam met Karabo Khakhau as nasionale woordvoerders van die DA dien.
Aucamp – seun van die oudpolitikus, oudparlementslid en predikant Cassie Aucamp – is ’n wildboer in die Noord-Kaap. Daar word geglo binne DA-geledere dat hy goed sal doen in sy ministeriële posisie. Wel, die tyd sal leer.
Dié gebeure het die deur oopgelaat vir die redelik onbekende DA-parlementslid Alexandra Abrahams (39) om as adjunkminister van handel, nywerheid en mededinging aangestel te word. Sy is sedert 2019 ’n LP en dien op die parlement se portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling, asook die gesamentlike komitee oor grondwetlike hersiening. Sy was ook die DA se woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling.
Sy het van 2009 tot 2011 gewerk as ’n assistent vir die DA se veldtogbestuurder vir die 2009-verkiesing in die Wes-Kaap David Maynier. Hy is tans Wes-Kaapse minister van onderwys. Sedert 2011 tot 2019 was Abrahams ’n amptenaar in die ministerie van maatskaplike ontwikkeling in die Wes-Kaapse regering.
Sy is van Athlone op die Kaapse Vlakte en het in 2004 aan die Hoërskool Westerford in Rondebosch gematrikuleer. Sy het ’n BA in internasionale verhoudinge, asook ’n BA-honneurs in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.
Volgens Mondstuk Media moet Abrahams se aanstelling as adjunkminister as teenvoeter dien vir Gayton McKenzie, PA leier, se uitlatings dat die DA nie werklik omgee vir bruin ondersteuners nie en dat bruin mense nie met leiersposisies vertrou word nie.
Ek dink dit is ’n bietjie oordrewe, omdat die DA wel veral in die Wes-Kaap bruin LUR’e (provinsiale ministers) het. Tweedens mag die raselement miskien ’n rol gespeel het in Abrahams se aanstelling, maar daar is algemene konsensus in die DA en in kringe waar sy bekend is dat sy geskik is om bevorder te word tot adjunkminister.
In baie gevalle word kabinetsministers beskuldig dat hulle onbevoeg is vir hul onderskeie posisies. Dit is nie heeltemal akkuraat nie, omdat departemente nie op ’n daaglikse basis deur ministers bestuur word nie, maar deur direkteurs-generaal of departementshoofde. Ministers is hoofsaaklik vir beleid en politieke leiding verantwoordelik. Bygesê, kabinetsministers kan deur swak beleid en politieke leiding hul departemente tot mislukking lei. En ook deur ongehoorsaam te wees om na hul bevoegde ministeriële adviseurs te luister.
Ministers of adjunkministers moet egter ’n passie hê vir hul ministeriële posisies, dan vaar hul departemente baie beter. My persoonlike ervaring as ’n ministeriële woordvoerder en parlementêre skakelbeampte vir twee Oos-Kaapse provinsiale ministers in drie verskillende provinsiale departemente (provinsiale tesourie, maatskaplike ontwikkeling en openbare werke) oor ’n tydperk van vyf jaar het getoon dat passie tot sukses bydrae.
Een van die twee destydse provinsiale ministers vir wie ek gewerk het, het ’n groot passie vir maatskaplike kwessies gehad. Toe hy aangestel word as provinsiale minister vir maatskaplike ontwikkeling, was dit ’n hoogtepunt in sy lewe. Hy was passievol en het gelewe vir wat hy doen, maar binne ’n bestek van ’n maand is ons deur die premier in ’n provinsiale kabinetskommeling geskommel tot in openbare werke.
Openbare werke handel oor langdurige infrastruktuurprojekte van miljoene of miljarde rande wat tegnies vervelig is, oor die Uitgebreide Openbare Werke-program (EPWP), asook die provinsiale bateregister. Ek kon sien hoe die minister se belangstelling en passie vir openbare werke nie op die dieselfde peil as vir maatskaplike ontwikkeling is nie.
Ek kan ook sien hoe passievol Abrahams is vir maatskaplike ontwikkeling. Sy het ten minste oor 14 jaar in beide die Wes-Kaapse regering en die parlement met maatskaplike ontwikkeling doenig gewees.
In toesprake, in media-onderhoude, op perskonferensies, op sosiale media, in persverklarings en in die parlement kan jy hoor hoe passievol sy is. Sy het ook ’n hele paar moderne voorstelle gemaak oor die digitalisering van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA) se uitbetalings van maatskaplike toelaes aan die armes.
Gegewe haar passie en moderne aanleg vir maatskaplike ontwikkeling, sou ek graag wou gehad het dat sy as minister of adjunkminister van maatskaplike ontwikkeling aangestel word.
Handel, nywerheid en mededinging is ’n hoogs tegniese departement wat voortdurend vasgevang is in komplekse onderhandelinge met oorsese lande en is nie soseer direk betrokke by die daaglikse aangesig van dienslewering nie.
Boonop, gegewe die slegte verhouding wat daar was tussen Whitfield en die minister van handel, nywerheid en mededinging Parks Tau en sy adjunk Zuko Godlimpi, kan sy maklik as ’n onskuldige vasgevang word in die toksiese politieke grofgeskut van die ANC teen sy vennote in die koalisieregering.
Die internasionale ekonomiese terrein (internasionale handeling en internasionale finansies) en geopolitiek se gesig is reeds besig om te verander, weens die handelsoorlog wat president Donald Trump van Amerika geloods het.
Suid-Afrika is persona non grata in Amerika. So dit kan broekskeur gaan vir Suid-Afrika om ’n voordelige handelsooreenkoms vir die land met Amerika te onderhandel. Amerika het immers met goeie rede geen respek vir die Suid-Afrikaanse regering nie.
Ek hoop nie Abrahams word verstrik in die heen en weer tussen die ANC en Amerika nie. Enige mislukking in die onderhandelinge tussen Amerika en Suid-Afrika kan deur ’n slinkse en onbevoegde ANC op die DA blameer word en in dieselfde asem kan hulle Abrahams as onbevoeg afmaak. Alles is moontlik as dit by die ANC kom. Kyk hoe het hulle die land opgemors. Die bewyse is oral.
Dit kan dalk net die impetus wees wat ’n demper plaas op Abrahams se passie vir die politiek en dienslewering aan die mense in die algemeen.
Lees ook:
Dinkskrum: Vervroegde algemene verkiesing moet ontslae raak van ANC
Dinkskrum: Die leierskapsgehalte van sekere bruin leiers pla
Dinkskrum: Gedagtes oor skrywers se voedingswaarde vir die siel


