
- Jason Lloyd skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
Dit is stil, donker en bibberkoud op ’n verlate Karoo-dorp.
Nou wonder ek: Bestaan spoke of geeste (die Engelse woord is spirits) nog? Of het dit uitgesterf met die aanbreek van die nuwe Suid-Afrika? Of was dit dalk met die instel van Swart Ekonomiese Bemagtiging (BEE)?
So het ek gewonder en gedink toe ek onlangs op ’n verlate plattelandse dorpie gekuier het.
Dit is nadat ek ’n swart gewaad in die Karoo-donkerte gewaar het. Kyk, die oumense het ons mos “geleer” hoe om vas te stel of dit die ware Jakob is.
Wie onthou nog die storie van die Uniondale-spook? Die dame wat grusaam verongeluk het terwyl sy op pad was om te gaan trou. Motoriste wat die dame met die trourok ’n ryloopgeleentheid gegee het, het eers besef dat dit ’n spook was nadat sy soos ’n groot speld uit die motor verdwyn het.
My oorle oupa het ons altyd met vreesaanjaende spookstories vermaak. Ja, dit was vreesaanjaend, maar dit was ook pure pret om na die bangmaakstories te luister. Ek het altyd uitgesien na skoolvakansies en die hope spookstories.
Gevolglik het ek altyd moeilik aan die slaap geraak. Die donkerte het ek ook nie altyd maklik aangedurf nie. Veral as daar ’n bekende persoon onlangs dood is.
Volgens my oupa was dit moontlik om ’n spook te sien, maar dié voorreg het nie almal te beurt geval nie. Een van die vereistes om ’n spook te sien is om sogenaamd “met die helm gebore te word”. En glo my, nie almal van ons is met dié besonderse eienskap gebore nie.
Jy moes ook in die regte posisie wees om ’n spook te sien. As jy op jou voete bly staan het, sou jy glo nooit die spook kon sien nie.
Jy moes glo skielik platval of hurk en na die voete van die persoon kyk om vas te stel of dit op die grond is. Indien nie, sou dit ’n spook gewees het.
Terug by my “spook-ervaring” in die Karoo. So steek ek toe vas in my spore toe ek die swart gewaad gewaar. Wie kan dit nou wees? Is dit miskien ’n misdadiger wat moeilikheid soek? Nee, hoekom praat of maak die persoon dan geen geluid nie?
Die gedagte dat dit ’n spook kon wees, het onwillekeurig by my opgekom. Ek het skielik platgeval om te kyk of die persoon “tussen hemel en aarde” loop. Sover ek kon sien, het die persoon op die grond geloop.
Skielik het ek besef ek’s nie met die helm gebore nie. So, dit kon nie ’n spook gewees het nie.
Vir die oumense het spoke altyd bestaan. Die meeste van hulle het ’n eie ervaring gehad met spoke. Hulle kon jou altyd of sou jou altyd ’n storie of twee van spoke kon vertel het.
Of spoke bestaan of nie, maak nie meer vir my saak nie. Ek is net bly ek kan hulle nie sien nie. Dit laat my ietwat veilig voel, want ek’s vrek bang vir spoke.
Dit is stil, donker en bibberkoud.
Lees ook:
Dinkskrum: Notas ter herinnering aan Jakes Gerwel, die Karooseun van die plaas Malvern
Ware spookverhale van Suid-Afrika deur Daniël Lötter: ’n resensie

