Omslag: Tafelberg
Diereriem
Etienne van Heerden
Tafelberg
SKU: 9780624096849
- Inleiding: die roman as genre
Diereriem van Etienne van Heerden is ’n roman wat die genre van die roman eer aandoen. Die roman is ’n veelsydige genre wat korter novelleagtige werke, poëtiese vertellings, ’n groot aantal subgenres soos speurverhale, spioenasieverhale, rillers, liefdesverhale, briefromans, historiese romans en vele meer insluit. Etienne van Heerden skryf egter groot romans wat verskillende subgenres inkorporeer, vele stemme aktiveer en verskillende verhale meng en vervleg en oor mekaar skuif. Diereriem is ’n lywige werk van 560 bladsye, en by die lees daarvan moet ’n mens onwillekeurig dink aan die groot 19de-eeuse romans wat die genre sy beslag gegee het. Hierdie soort romans, ongeag hulle verskeidenheid en historiese eiesoortighede, word gekenmerk deur omvang en diepgang, deur ’n verhalende rykdom, ’n omvattende skopus in die hantering van menslikheid, van plekke, karakters, gebeure en historiese plasing.
Skrywers van klassieke romans wat genoem kan word, is onder meer Tolstoi en Dostojewski, Balzac en Dickens. Bygesê, baie van daardie groot romans is vir moderne lesers moeilike leesstof. Jy is immers al gedaan gelees aan Victor Hugo se Les miserabeles, dan het die hoofkarakter nog nie eers op die toneel verskyn nie. Hierdie romans was natuurlik ook nie sonder foute nie. Henry James het van Dostojewski se romans gesê dat hulle soos drillerige bakke jellie is, “loose baggy monsters” sonder enige struktuur, maar dan het hy toegegee dat “sheer genius pulls them through” (James 1972:29). Per slot van rekening, ook in Henry James se woorde, “[E]xcellence does not need perfection.”
Kontemporêre romans wat indrukwekkend is, moet egter ook daarin slaag om kompleksiteit en ’n ryk inhoud so virtuoos te hanteer dat die teks spanning opbou en behou, dat dit die leser bly boei en meesleur. ’n Grootse opset in ’n kontemporêre literêre roman kan, net soos in die ou romans, as weelderig, uitwaaierend en veelvlakkig beskryf word, maar die verskil tussen die ou romans en die hedendaagse grotes is waarskynlik struktuur en groter patroonmatigheid, asook verteltempo en spanning op verskillende vlakke, inhoudelik en tegnies. Veral is die kontemporêre groots opgesette literêre roman ook digter, soms byna poëties in segging, in metaforiese bewustheid en kompleksiteit. Hierdie eienskappe onderskei dan ook die literêre roman van populêre “baggy monsters”.
Waarop ek wil wys, is dat die roman ’n veelsydige literêre genre is wat aan die skrywer groot vryheid gee. In die woorde van Henry James:
The novel is of all pictures the most comprehensive and the most elastic. It will stretch anywhere – it will take in absolutely anything … It has the extraordinary advantage – a piece of luck scarcely credible – that, while capable of giving an impression of the highest perfection and the most finish, it moves in a luxurious independence of rules and restrictions. (James 1972:338–40)
Al is hierdie uitsprake omtrent 150 jaar oud, bly dit steeds relevant, want dit is waarmee die leser te make het by die lees van Van Heerden se Diereriem. En as mens teoreties oor die roman begin dink, is Diereriem daardie soort teks wat mens na die sienings van Mikhail Bakhtin lei. Daaroor later meer.
- Oorsigtelike beskrywing van die roman
In die eerste plek sien mens die neerslag van verskeie genres in Diereriem. Dit kan gesien word as ’n spioenasieverhaal, want Antonie en sy vriende is as spioene gewerf deur die apartheidsregering se Staatsveiligheidsraad toe hulle nog studente was om dissidente en linkse persone en insidente te rapporteer. Nie een van hulle slaag daarin om uit hierdie soort lewe te ontsnap nie. Die roman kan ook gelees word as ’n liefdesroman, omdat daar meer as een liefdesgeskiedenis ontvou wat ook al die karakters se lewens beïnvloed. Die politieke onderbou van die historiese periodes en omstandighede van al die karakters se lewens speel deurgaans ’n bepalende rol, sodat geskiedenis en politiek deurlopend ’n agterliggende en tog dominante rol speel in alles wat gebeur en vertel word. Ek verwys hier na die skerp insig in die politieke klimaat voor en ná 1994, die vervaging van die grens tussen politiek en kriminaliteit, ook voor en ná 1994 tot in die hede. Die belangrikste is egter die invloed van hierdie eksterne faktore op die lewens van die karakters.
Antonie se pogings om uit te vind waarom hy so rondgejaag word, en sy eie ondersoek na die omstandighede van Mei Hui se dood, neem verder die vorm aan van ’n speurverhaal. Hy speur elke klein leidraad na en volg dit verbete op soos ’n egte speurder.
Uiteindelik is dit ook, en dalk veral, ’n sielkundige roman, en wel in die vorm van ’n biegroman. Daarby is die een wat bieg ’n pikareske figuur wat homself en die leser die hele tyd ontglip. Die vraag “Watter soort mens doen hierdie soort werk?” wat Antonie se vrou hom vra, word die vraag wat hy vir homself wil beantwoord. Hy ondersoek dus sy eie lewe. Sy intellektuele vermoë en wye belangstellingsveld was aanvanklik sy basiese toerusting, maar hy weet ook goed hy was van die begin af gedryf deur sy lus en liefde vir avontuur en uitdaging. Aanvanklike opwinding word roetine, maar in die stadium van sy lewe waarin hy hom tans bevind, het dit stresvol en ’n las geword. Die dood van sy vrou is die draaipunt wat hom dwing om homself deeglik te beskou.
Die roman is inderdaad die resultaat van hierdie selfondersoek. Die optekening waarmee Antonie begin in ’n kamertjie in ’n klein hotelletjie in Istanboel, is die roman wat voor die leser lê. Hierdie aspek van Diereriem, die ontleding van die samestelling, die opbou en uitbou, die toetsing en die ondersoek van die grense van ’n psige, asook die (bykanse) ontbinding en die aan sigself uitgelewerdheid van daardie psige, die uiteindelike onmoontlikheid om van die self se beperkinge te ontsnap, is waarskynlik die boeiendste deurlopende draad in die roman.
Op verhalende vlak vertel die roman ’n hele reeks stories. Dit is Antonie se verhaal, maar ook die verhaal van die vriendskap van die drie vriende, Antonie Muskeljaatkat Vermeulen, Carl Goedhals (Kaal Goedhals) en Jannie Benade, ook bekend as Alfa. Elkeen se lewensgeskiedenis word betrek en geïntegreer in wat Antonie dink en beleef. ’n Ander belangrike karakter wie se lewensverhaal ook in die roman ingevleg is, is die Chinese meisie Mei Hui. Maar selfs minder opvallende karakters word uitvoerig deur biografiese agtergrond aan die leser bekendgestel, soos Samantha, Antonie se vrou, en Giovanni die gewese skeepskaptein en tans restauranteienaar van Marsaxlokk, en sy seun. Van Heerden se vertelstrategie is daarop gerig om elke karakter wat in die roman verskyn, as ’n volledige mens uit te beeld, en dit sluit dan die karakter se agtergrondsgeskiedenis in. Gevolglik is die roman verhalend ongelooflik ryk en word die leser van een boeiende verhaal na die volgende gevoer.
.........
Van Heerden se vertelstrategie is daarop gerig om elke karakter wat in die roman verskyn, as ’n volledige mens uit te beeld, en dit sluit dan die karakter se agtergrondsgeskiedenis in. Gevolglik is die roman verhalend ongelooflik ryk en word die leser van een boeiende verhaal na die volgende gevoer.
.........
- Die verhaal
Die “diereriem” waarna die titel verwys, is nie die sodiak nie – trouens dit gaan nie oor óf die astrologie óf die astronomie nie. Tydens hulle studentejare in Stellenbosch word drie vriende gewerf om as spioene vir die destydse Staatsveiligheidsdiens te werk, soos reeds gemeld. Hierdie organisasie staan bekend as die Diereriem omdat die deelnemers diername kry. Antonie Vermeulen, die verteller in die roman, se kodenaam is Muskeljaatkat; Jannie Benade, wat later ’n skatryk internasionale sakeman van onder meer skaduagtige transaksies word, is Alfa; en die derde lid van die Diereriemtrio, die aantreklik en joviale Carl Goedhals, is ook bekend as Kaal Goedhals.
Die roman begin waar Antonie in Istanboel in ’n klein hotelkamertjie woon en wag dat iemand met hom kontak maak vir ’n opdrag wat hy moet uitvoer. Hy is in ’n persoonlike krisis en begin met ’n diepgaande selfondersoek. Hy ervaar homself as ’n verloopte en verdwaalde mens en bevind hom ook tussen ander verlooptes, soos die Siriese hotelbaas, wat ’n vlugteling is, en die Turkse skoonmakervrou wat iemand is om wie daar ’n groot droefheid hang. Intussen is hy gefokus op ’n kamer in die gebou oorkant die straat waarin hy glo ’n vrou woon. Hy sien haar nooit, maar die blote feit dat sy daar is, die gordyne oop- en toemaak, fassineer hom soveel dat hy inderwaarheid op die leë kamer en die venster, en veral op die vrou wat hy vermoed daar woon, gefikseer raak.
As student moet Antonie op linkses en dissidente spioeneer en verslae indien. Dit is opwindend. Maar ná die politieke oorgang in 1994 moet al drie vriende ander maniere vind om te leef en te oorleef. Alfa betree die sakewêreld, ’n keuse waarvoor die grondslag gelê is reeds toe hy as student in sy vrye tyd hoenders verkoop het in die townships. Hy raak betrokke in die skemergebiede waar die grense tussen politiek en kriminaliteit vervaag en word skatryk uit hoofsaaklik sigaretsmokkelary. Antonie bedryf ’n reisagentskap as dekmantel en voer op sy toere en in die geheim allerlei soorte opdragte uit, van “wet work” (wat moord insluit) tot klein “Tuinwerkies” en “slow burners” wat lank neem om vrugte af te werp. Soms moet hy net boodskappe of nommers oordra, kontakte maak of gekontak word. Maar soms moet hy in die donker ’n slap liggaam stil in water laat ingly. Die opwinding en uitdagings sowel as die stres en skok wat so ’n lewe meebring, is die stramien waarop die roman gebou is.
Soos die verhaal ontvou, syfer daar stukkies inligting deur oor Antonie se lewe tot op daardie punt sodat die leser te wete kom van sy suksesse, maar veral van sy vrese en verwyte en skuldgevoelens. Sulke brokkies word ook herhaal om die belang daarvan te illustreer, soos byvoorbeeld dat hy op ’n keer opgesluit was in groot benoudheid in Berlyn, ’n ervaring wat steeds by hom spook. Eers na die beskrywing van ’n aantal skynbaar uiteenlopende gebeure uit sy verlede stel hy homself voor (bl 24) en begin ’n min of meer chronologiese uiteensetting van sy lewe. Hy was slim en begaafd – volgens die persoon wat sy aanlegtoetse afgeneem het, kon hy enigiets gaan doen, omdat sy aanleg en intellek beide van so ’n aard was dat dit moontlik sou wees. Maar hy wil liewer alleen in die berg gaan loop en dan bedreig word, waaruit sy gevoel vir avontuur en gevaar duidelik word. Wat ook belangrik is, is dat sy skoolmaats hom Vliegoog genoem het omdat hy altyd klein en onopvallende dinge raakgesien het, dat hy so fyn kan kyk en oplet soos ’n speurder of ’n spioen. Soos die roman vorder, word al die uiteenlopende insidente en gegewens van konteks voorsien en begin die verhaal as ’n groter geheel ontwikkel.
Ná sy vrou, Samantha se dood, kumuleer die stres van baie jare en sy meer onlangse skuldgevoelens, sodat hy vrees dat sy lewe (en sy gees) gaan uitmekaarval. Vir ’n tyd werk hy glad nie, maar later ontvang hy weer opdragte, eers om dokumente uit die apartheidstyd te deursoek, onaanvaarbare materiaal te vernietig en die res na ’n instituut te neem om beveilig te word. Antonie werk dus weer, maar hy glo hy sal nooit weer wees wie hy was nie. Hy aanvaar verder ’n opdrag om die Wagner-groep se verhouding met die Russe te ondersoek vir ’n groep binne die ANC en hoop dat dit sy “uitrafeling” sal stuit (34). Maar sy jeugvriend Jannie Benade, of dan Alfa, vra hom ook om as ’n kleiner konsultantopdrag ’n uiters geheime boek in die hande te kry. Alfa is al jare lank besig om ’n museum van taboe kuns op te bou waarin hy allerlei grillige en uiters ongewone items versamel. Hy is ryk genoeg om homself hierdie luukse te kan veroorloof en Antonie voer die opdrag, ’n “Tuinwerkie”, gewillig uit omdat dit minder spanning meebring.
Soos die verhaal ontwikkel, blyk dit dat die verbintenis tussen die drie vriende en hulle gedeelde ervarings die samebindende lyn in die roman is, maar dit ontvou met tyd en loop uit op ’n verrassende slot. Hierdie spanning en gevoel van bedreiging word regdeur die roman volgehou. Van Heerden slaag daarin om die leser vasgenael te hou deur al die draaie en kinkels wat die verhaal neem. Antonie word deur Amandel, Alfa se helper wat opdragte oordra, van bakboord na stuurboord gestuur deur stede rondom die Middellandse See om die geheime boek, wat in ’n beroemde mens se vel gebind is, te vind en dit om te ruil met ’n vervalsing sodat die oorspronklike gruwelboek in Alfa se taboeversameling kan kom. Veral Antonie se verblyf in Marsaxlokk op Malta, waar hy merkwaardige ondervindinge beleef, word intens beskryf. Op elke plek is daar stilstand en wag én spannende insidente, telkens nuwe mense of ou kennisse wat hy ontmoet en met wie hy saamwerk. Hierdie taak handel hy betreklik gemaklik af, maar intussen soek hy ook na Mei Hui, die Chinese meisie wat as Alfa se dogter grootgeword het en op wie Antonie heimlik verlief is.
Mei Hui is ’n prominente aanwesigheid in die roman, sowel wanneer sy afwesig is as wanneer sy wel direk handelend optree. Sy is ’n wetenskaplike wat navorsing doen oor bye, en die navorsing word as deel van die sentrale intrige gebruik. Sy doen gereeld werk vir Alfa, maar Antonie weet nie presies wat nie en ook nie hoe betrokke sy by alles is nie. Hy glo sy is ’n merkwaardige meisie, maar tot aan die einde is Antonie nooit seker wat sy werklik is nie, “’n (w)onderbaarlike vrou of ’n aartsboef?” (523).
Waar die roman begin, is hy uiteindelik in Istanboel en wag op die groter opdrag om die Russiese Wagner-konneksie te ondersoek, maar hy bevind hom in ’n staat van toenemende spanning wat dreig om hom te oorweldig, asof iets ondenkbaars gaan of kan gebeur, asof alles wat in die verlede met hom en ook in die stad Istanboel al gebeur het, saam op onheil afstuur.
Die tyd loop uit. Dit kan enige oomblik gebeur. En dis asof dié wete van die onafwendbare koms van Die Grote die stad nog meer chaoties maak. Asof dit Istanboel se dringendheid, sy hewigheid, opjaag. Elkeen vir homself, voel jy dikwels, terwyl almal op ’n voldonge einde afstorm. Hierdie eensgesindheid om te waag wat jy kan, om kanse te vat en mekaar in te loop, gee jou ’n soort lighoofdigheid waarvan ek gehou het toe ek jonger was, maar wat nou vir my te riskant en uitputtend is. (27)
- Die samehang in die roman
.......
Dit is een van die sterkste bates van die roman dat hierdie geweldige hoeveelheid verhalende stof bymekaar en samehangend gehou word ten spyte van die vinnige verwisselinge van tyd en plek en karakters in die vertelling. Die sterkste bindmiddel is die feit dat Antonie regdeur die roman die verteller en fokalisator is. Hy dink en vertel sy lewensverhaal op ’n vrye assosiatiewe wyse – nie altyd ewe betroubaar nie ...
.......
Dit is een van die sterkste bates van die roman dat hierdie geweldige hoeveelheid verhalende stof bymekaar en samehangend gehou word ten spyte van die vinnige verwisselinge van tyd en plek en karakters in die vertelling. Die sterkste bindmiddel is die feit dat Antonie regdeur die roman die verteller en fokalisator is. Hy dink en vertel sy lewensverhaal op ’n vrye assosiatiewe wyse – nie altyd ewe betroubaar nie, maar dit is soos hy sake sien en interpreteer. Sy bespiegelinge neem hom op vreesaanjaende geestelike togte, soms met rede en soms heeltemal sonder bewysbare redes. Hierdie eensydige blik bind die roman, maar gee die leser ook al hoe meer insig in die gekwelde psige van die hoofkarakter.
Daar is ’n groot aantal deurlopende motiewe wat die verhaal telkens na die sentrale kwessies terugstuur. Die vraag wat Samantha aan Antonie vra voor sy sterf: “Watter soort mens is jy om hierdie werk te doen?” word ’n leitmotief, want dit is die vraag wat hy vir homself en natuurlik vir die leser wil en moet beantwoord. Die herinnering wat herhaaldelik terugkeer, is hoe hy sy vrou se uitvaart beleef het. Sy was lank siek en op ’n dag was sy nie soos gewoonlik voor die venster toe hy by die hospitaal kom nie. Hy het dadelik geweet sy is oorlede. Voor sy geestesoog kon hy haar sien soos wat sy deur die venster uitbreek en wegvlieg omring van fyn glas soos sy die ewigheid in verdwyn.
Nee, dit was eerder ’n wégvlug, weg uit die aardse bestaan uit. Uit lyding en worsteling uit. Sy’t met ’n skettering van glas verskyn en die glasstukke het nes ’n swerm blink bye haar liggaam vergesel in sy eerste uitbars en die wanhopige energie van sy vlug. (22)
’n Ander bindmiddel is die geleidelike ontmaskering en aftakeling van Antonie se persoonlikheid. Hy is meer as bewus van sy eie tekortkominge. Wanneer hy die opdrag van die voormalige apartheidsmense ontvang en aanvaar, sê hy van homself: “Ek het nog altyd baie persoonlikheid gehad, maar geen karakter nie. En toe stem ek in tot die Operasie Stokvel-opdrag, wat ’n paar maande gelede afgehandel is” (33).
Deel van sy persoonlikheid is dat hy agterdogtig is. Hy is bewus daarvan en benader alles met sy vliegoog, maar hy is ook skerpsinnig genoeg om te weet dat hy self deurentyd dopgehou word. Hy is inderwaarheid sy eie grootste vyand. Daarom is hy nie altyd eerlik nie: Hy verklap Alfa se geheim aan Carl en hy laat met opset boodskappe op sy oorlede vrou se foon om diegene wat sy foon tap, te uitoorlê. Soos ’n egte spioen is hy self met allerlei strategieë besig om te manipuleer.
Die bynaam Vliegoog wat Antonie as kind by sy skoolmaats gekry het, is ’n ander deurlopende motief. Hy bly steeds die fyn waarnemer wat alles raaksien, soos die nat plekke op die handdoek in die kamer oorkant die stegie in Istanboel (12). Hy is die hele tyd intens bewus van alles wat om hom aangaan en sien agtervolgers of moontlike kontakte dadelik raak. Sy Muskeljaatkat-bynaam is ook nie ’n toevalligheid nie. ’n Muskeljaatkat word beskryf as ’n sluipjagter wat sy prooi doodmaak met ’n vinnige byt aan die nek. ’n Muskeljaatkat is rats en beweeg op verskillende maniere deur te klim, te loop, te hardloop en boom te klim. Hulle het baie vinnige reflekse en is meestal alleenlopers, behalwe tydens paring. Al hierdie eienskappe kan op Antonie van toepassing gemaak word en sy naam onderskryf dus telkens sy optrede.
Die stelselmatige uitkalwing van vastighede in Antonie se lewe vorm ’n sterk verhaallyn. Ná sy vrou se dood voel dit vir hom asof hy sy greep op tyd verloor het: “Tyd is weggeruk van die horlosiegesig en is vervorm tot ’n onvoorspelbare ruimte van vertraging of versnelling” (22). Hy verloor ook kontak met enige plek as tuiste: “Dit het my swak gemaak. Dit het my in ’n soort Don Quijote verander. ’n Dolende ridder, omring deur spoke uit sy morsige verlede” (23). En inderdaad is hy, en word hy, toenemend ’n soort pikareske figuur, ’n reisiger sonder bestemming of doel.
’n Ander motief wat stelselmatig ontwikkel, is Antonie se ingesteldheid teenoor godsdiens. Hy minag Samantha se charismatiese kerkie, maar verdra dit. Nogtans begin hy later al hoe meer religieuse voorwerpe raaksien en daaroor dink, sodat daar duidelik ’n vir hom ongekende soeke na die metafisiese ontwikkel.
Ek begin dinge sien. Kry die vreemdste oortuigings. Ek begin by kerke verbyry en na hul voordeure staar – spesifiek Katolieke kerke. Sou ek binnegaan en daar is ’n kruis teen die muur of ’n beeld van Christus aan die kruis, sou ek lank daarna kyk. Té lank. Terwyl ek so kyk, het ’n bloedtraan eenkeer oor die wit wang van die Madonna begin vloei. Die kerkgangers het na asem gesnak. Daardie soort ding het met my gebeur. Ek vertel dit skamerig hier. (30)
Uiteindelik spreek hy in Marsaxlokk in tale en kry daarna weer soms dieselfde soort gevoel en neiging. Hy dink byvoorbeeld: “Dalk moet ek Giovanni openlik meedeel: Ek het my lewe lank deur ’n spieël in ’n raaisel gekyk, en nou wil ek in die saligheid kyk. Is dit heeltemal waar? Waarom doem die kruis dan voor my op as ’n galg?” (276).
Giovanni se antwoord is: “Ek het ook daardie verhouding met God. ’n Man sonder die gewig van ’n slegte gewete is nie ’n man nie. Hy’s ’n vlinder, en die wind gaan hom in die muur vaswaai (277).
Die kerninsident wat aanvanklik nie lyk asof dit so bepalend gaan wees nie, word aan die einde van die roman onthul. Wanneer hulle almal bymekaar is in Istanboel – Alfa, Muskeljaatkat, Mei Hui en selfs Amandel, wat niemand nog ooit gesien het nie – word die legkaart uiteindelik voltooi. Die sleutel tot baie van sy vrae lê in die een moontlikheid wat Antonie nie oorweeg het in die hele voorafgaande tyd waartydens hy almal verdink het van ’n komplot teen hom nie. Selfs die liefdeservarings met Mei Hui kan hom egter nou nie red nie, al sê sy vir hom: “Die enigste manier om te vlieg, Tony, is om lief te hê” (550). Sy ontreddering is volledig: “Ek het nodig om af te reken. Iemand om ’n knou toe te dien. Ek voel wreedheid in my opwel” (522). En dan begin hy skryf aan die boek wat die leser nou net gelees het.
- Gevolgtrekking
Tot watter gevolgtrekking moet mens kom oor so ’n roman wat ryk is tot in elke detail, in verhalende inhoud, in skopus en struktuur, in intrige en ruimtelikheid, selfs in elke sin en elke treffende frase? Die taalgebruik in die roman is so virtuoos dat dit ’n hele essay op sigself vereis – raak, direk, vermaaklik en soms verraderlik diepsinnig.
Soos ek aan die begin van die essay gesê het, is die groot romans van Etienne van Heerden vergelykbaar met ander groots opgesette romans in die wêreldliteratuur. En hoe meer ek daaroor gedink het, hoe meer het ek ingesien en besef hoe Van Heerden se werk, veral hier in Diereriem, die belangrike dinge wat Mikhail Bakhtin oor die roman geskryf het, wáár maak, hoe dit in werking gestel is, hoe teoretiese konsepte in ’n werklike teks funksioneer – inderdaad in ’n eiesoortige kontemporêre idioom en struktuur en styl, maar onmiskenbaar nou verwant aan ander klassieke romans wat betref aard en onderliggende sowel as in werking gestelde romanmatige aanvoeling. Die twee werke van Bakhtin waarna ek wil verwys, is die bekende Problems of Dostoevsky’s poetics (oorspronklik in 1929 gepubliseer, uitgebrei in 1963 en in Engels vertaal deur Caryl Emerson in 1984) en The dialogic imagination (vier essays van Bakhtin, byeengebring en vertaal deur Michael Holquist en Caryl Emerson in 1981).
Die sentrale en bekendste konsep in Bakhtin se teoretisering oor die Dostojewski se werk is polifonie, wat saamhang met konsepte soos poliglossie, heteroglossie en dialogisme, wat in die laaste van die vier essays in The dialogic imagination breed uitgewerk word. Bakhtin se insigte aangaande hierdie eienskappe van die roman kom oorspronklik uit sy studie van die romans van Dostojewski. Dit gaan daaroor dat die roman die een genre is waarin daar nie net met een stem gepraat word nie, maar dat vele stemme gehoor kan word wat almal saam ’n fiksionele werklikheid tot stand bring. Die veelfasettigheid van die werklikheid, wat die model vir die roman is, kan net op hierdie manier tot lewe gebring word. Dostojewski beskryf nie sy karakters en die intrige in sy romans volgens een enkele monologiese stem of vanuit een enkele wêreldbeeld nie, maar streef na ’n veelstemmigheid waarin baie stemme en standpunte aan die orde kom.
A plurality of independent and unmerged voices and consciousnesses, a genuine polyphony of fully valid voices is in fact the chief characteristic of Dostoevsky’s novels. What unfolds in his works is not a multitude of characters and fates in a single objective world, illuminated by a single authorial consciousness; rather a plurality of consciousnesses, with equal rights and each with its own world, combine but are not merged in the unity of the event. (Bakhtin 1984:5)
Nou klink dit teenstrydig met wat in Diereriem gebeur, want daar is een enkele verteller en fokalisator in die roman. Antonie Muskeljaatkat is deurentyd aan die woord. Hy is die een wat oor homself vertel, maar wat ook ander se sienings en standpunte weergee en ander karakters en hulle optrede beskryf. Hy bly die enkele psige waardeur die verhaalgebeure gefilter en beoordeel word, want hy is die enigste fokalisator. Die roman hanteer hierdie verteller en fokalisator egter op baie maniere. Antonie vertel, maar hy gee feite, bespiegelinge, ander se woorde op verskillende maniere weer. Sy eie wisselvallige gemoed kleur deurlopend sy vertelling en die leser is nooit seker hoe eg of feitelik die inligting is nie.
Een belangrike en subtiele aspek van Bakhtin se omskrywing van polifonie gaan oor die karakter as individu. As mens deeglik lees, besef jy dat die manier waarop Antonie na homself kyk, eintlik is soos wat hy dink ander hom sien. Hy is die hele tyd in gesprek met al die ander mense in sy lewe (en natuurlik ook met die leser wat hy soms aanspreek) en vertel alles volgens wat hy vermoed ander mense van hom dink of kan dink. Daarom verdedig en verduidelik hy homself, kla hy homself aan en verklaar hy homself. Dit is dus inderwaarheid ’n gesprek eerder as ’n vertelling. Sy bespiegelinge gaan byvoorbeeld dikwels daaroor dat hy nie werklik weet hoe en waarom Alfa hom gebruik nie. Hy verdink Alfa van allerlei dinge, en soms beskryf hy Alfa soos hy in die hede van die roman lyk as ’n klein maer onindrukwekkende mannetjie asof hy Alfa kleiner moet maak om self sterker te voel. Dit is verstommend hoe hierdie werkwyse aansluit by wat Bakhtin oor Dostojewski skryf:
Between the most superficial elements of a character’s manner of speech, the form in which he expresses himself, and the ultimate foundations of his worldview Dostoevsky always creates a profound organic bond. A person is wholly present in his every gesture. And the orientation of one person to another person’s discourse and consciousness is, in essence, the basic theme of all of Dostoevsky’s works. The hero’s attitude toward himself is inseparably bound up with his attitude toward another, and with the attitude of another toward him. His consciousness of self is constantly perceived against the background of the other’s consciousness of him – “I for myself” against the background of “I for another”. Thus the hero’s words about himself are structured under the continuous influence of someone else’s words about him. (Bakhtin 1984:207; my kursivering)
Antonie Muskeljaatkat Vermeulen is die ekstreme voorbeeld van iemand wat homself ondersoek in terme van hoe ander hom sien, in terme van hoe hy dink ander hom sien, in terme van sy verhouding tot ander mense/karakters.
Bakhtin is uiters krities teenoor wat hy genoem het die monologiese aard van Westerse diskoerse (in ag genome die historiese tyd waarin hy geskryf het) omdat dit, volgens hom in ongeveer 1929, die individu reduseer tot ’n item (wetenskaplik, ekonomies, sosiaal, psigologies, ens) binne ’n groter dominante sisteem. Dit tas dan volgens hom die individu se vryheid en verantwoordelikheid aan, maar hierdie siening geld vir enige dwingende ideologiese of politieke stelsel wat die vryheid van individuele denke of die geestelik vryheid van die individu beperk. Dit is interessant dat Bakhtin hier téén die Westerse denke skryf terwyl die kommunisme in dieselfde historiese periode besig was om ’n houvas te kry op alle vrye denke in Rusland. Nogtans is sy siening algemeen geldig. Dit dui daarop dat ’n individu nooit van buite volledig gedefinieer of beskryf kan word nie en hy sê selfs dat ’n individu se vermoë om nooit te word wat hy of sy in ander se objektiewe menings en beskrywings is nie, noodsaaklik is vir die gesondheid en oorlewing van daardie individu se subjektiewe bewussyn. Dit beteken dat niemand in elk geval ooit volledig beskryf kan word nie; wat beskryf word, kan ook nooit die absolute volle waarheid wees nie. Die term wat hy skep vir hierdie oopeindigheid van die individu, word in Engels vertaal met “unfinalizability”. Die term onfinaliseerbaarheid dui ’n onmoontlikheid aan, want vir Dostojewski en Bakhtin is wat hoogstens beskryf kan word, “the event of interaction between autonomous and internally unfinalized consciousnesses” (Bakhtin 1984:176).
Antonie is in sy stryd om geestelik te herstel, om sy selfbeeld terug te kry, om iets van sy lewensvreugde te herwin, regdeur die roman in ’n staat van óf wording óf verwording, ’n staat van óf verbetering óf verslegting, ’n staat van óf insig óf verwarring. Bakhtin wys op hoe Dostojewski die uitbeelding of voorstelling van ’n karakter (of ’n werklike mens) as ’n afgeronde voltooide entiteit beskou as ’n reduksie en ’n degradering van die veelsydigheid en veelstemmigheid van elke enkele psige.
He saw in it a degrading reification of a person’s soul, a discounting of its freedom and its unfinalizability, and of that peculiar indeterminacy and indefiniteness which in Dostoevsky constitute the main object of representation: for in fact Dostoevsky always represents a person on the threshold of a final decision, at a moment of crisis, at an unfinalizable – and unpredeterminable – turning point for his soul. (Bakhtin 1984:62)
Die onfinaliseerbaarheid van die individu, van alle individue as karakters in die roman en van mense in die werklikheid, bring gesamentlik die polifonie van die roman tot stand. In romans waar dit die geval is, is dit onvermydelik dat hierdie eienskap van die teks ontwikkel uit die insig in en aanvoeling van die romansier, van ’n romansier soos Dostojewski, en in hierdie geval ook van Van Heerden.
As ’n jong student het ek eenkeer vir ’n wyse dosent gevra wat die verskil is tussen populêre romans en ernstiger romans. Die meer populêre verhale lees dan so lekker en is tog uiters slim en kundig en vaardig geskryf. Haar antwoord was “’n mens- en wêreldbeeld”, of in Engels “a vision of man”. En hier kan ek weer Bakhtin aanhaal, want hy het aan die hand van Dostojewski se werk besef dat die wêreld nie eng en benouend beskryf moet word nie, want die wêreld lyk nie so nie; daar is deurlopend veel meer aan die gang as wat ’n enkeling kan sien of weet.
Nothing conclusive has yet taken place in the world, the ultimate word of the world and about the world has not yet been spoken, the world is open and free, everything is still in the future and will always be in the future. (Bakhtin 1984:166)
Die romansier moet so ’n oop en wye mensbeeld en wêreldbeeld hê om ’n oortuigende groot roman te skryf. Die verwondering oor die oneindige aantal verskyningsvorme en die onuitputlike aantal moontlikhede van menswees en ervaring en wêreld is dalk uiteindelik wat ’n ware skrywerskap voed.
Die finale opmerking wat oor hierdie roman gemaak moet word, is dat Van Heerden daarin slaag om regdeur onderhoudend en boeiend te bly. Sy styl is kwiksilweragtig, borrelend, lewendig, vermaaklik en briljant. Hy hou die leser se aandag moeiteloos. In die tradisie van die hygroman word altyd gepraat van “die uitgestelde begeerte”: Gaan die twee mekaar kry, en indien wel, hoe? Dit hou die leser se aandag. Wat Van Heerden inderdaad in Diereriem regkry, is om die begeerte uit te stel, nie net van karakters nie maar veral van die leser. Deur al die ingewikkelde verwikkelinge in die verhaal, deur al die uitwaaierende beskrywings en bespiegelings wil die leser toenemend al hoe meer en dringender weet wat die kruks van die hele intrige is. Die leser smag na die uitkoms van die verhaal as verhaal. Die skrywer manipuleer dus die leser se begeerte soos ’n ervare minnaar. En dit werk! Want die ontknoping (wat ek hier verswyg om die geheim te bewaar) is ’n openbaring wat die leser terugstuur na die begin van die roman, na ’n totale herbeskouing, omdat veel van wat vertel is, in ’n gans ander lig geplaas word.
Uiteindelik moet hier toegegee word dat die ideaal om die leser in die totstandkoming van die roman te betrek, inderdaad bereik word in Diereriem. Die leser moet met ’n vliegoog lees en sal dan deel raak van die estetiese realisering van die verhaal. Daarin hoop ek dat vele lesers groot vreugde sal vind.
Bibliografie
Bakhtin, MM. 1981. The dialogic imagination: four essays by MM Bakhtin. Vertaal deur M Holquist en Caryl Emerson. Austin: University of Texas Press.
—. 1984 (1929). Problems of Dostoevsky’s Poetics. Vertaal en geredigeer deur Caryl Emerson. Minneapolis: University of Minnesota Press.
Genet. https://en.wikipedia.org/wiki/Genet_(animal)).
James, H. 1972. The art of fiction. In Miller (red) 1972.
Miller, JE (red). 1972. Theory of fiction: Henry James. Lincoln: University of Nebraska Press.
Muskeljaatkat. https://af.wikipedia.org/wiki/Kleinkolmuskeljaatkat.
Van Heerden, E. 2026. Diereriem. Kaapstad: Tafelberg.
Lees ook:
Migranteliteratuurtemas in Die wêreld van Charlie Oeng deur Etienne van Heerden
Gebeente deur Etienne van Heerden: ’n LitNet Akademies-resensie-essay
Ballade van 'n dun man: Opmerkings oor Etienne van Heerden se Asbesmiddag




