Asbesmiddag
Etienne van Heerden
Tafelberg
ISBN-13: 978-0-624-04575-5
Sagteband met invouflappe
352 pp
R150
Etienne van Heerden is een van die bekendste en mees onderhoudende romansiers in Afrikaans, en ’n nuwe boek deur hom is altyd groot nuus. Sy jongste, Asbesmiddag, is geen uitsondering nie. Dit is ’n verwikkelde en veelvlakkige roman en verdien om gelees te word. Trouens, Asbesmiddag is ’n meer suksesvolle komposisie, met ’n hegter en meer geïntegreerde struktuur, as sy soms ietwat uitgesponne voorganger, In stede van die liefde (2005).
Die storie begin in ’n klein, eenvoudige haarsalon in Stellenbosch. ’n Skrywer, ook professor in kreatiewe skryfwerk by ’n universiteit in die stad, is ’n gereelde kliënt. Hier ontvlug hy die irritasies en teleurstellings van die universiteitslewe, en kan sy verbeelding weer op vlug gaan. Die skrywer is juis honger vir ’n nuwe storie wanneer hy een middag ’n ewe gereelde en bekende kliënt in die haarsalon raakloop: ’n bejaarde Afrikaanse asbesmagnaat, die Doktor.
Hierdie kolos van die Afrikaanse sakewêreld bevind hom midde-in allerlei intriges. Hy word byvoorbeeld geblameer vir die longsiekte van een van die salon se sjampoemeisies se oupa, en daar is sprake van wedersydse afpersing. Daar is ook die ongelukkige afloop van ’n jeugvriendskap tussen die skrywer se vader en die magnaat, ’n bloedbroederskap wat volgens die skrywer verraai is en om vergelding vra. Die skrywer ruik dus bloed, en hierdie middag, die asbesmiddag van die titel, bied die inval vir ’n nuwe roman.
Die skrywer begin werk aan ’n roman waarin die magnaat die hoofkarakter is, ’n roman waarin hy sal afreken met hierdie “prins van handelsmerke”. Hy verloor egter gou houvas op die gang van sy verhaal. Hy is nie die enigste een wat intriges skep en storielyne manipuleer nie. Die skrywer word, soos die magnaat, self ook die fokus van mededinging, hebsug en verraad; hy word ’n karakter in ander se stories. ’n Fortuinverteller voorsien al vroeg in die boek dat hy tot ’n val gebring sal word deur iemand na aan hom. Maar wié is hierdie iemand? Is dit die eienaars van die salon, Giuseppe en Maria Giulliani, wat die magnaat se geld begeer? Die geheimsinnige Wes-Afrikaan, Mister Deejay Gucci X, wat die skrywer agtervolg? Is dit die voormalige atleet in die skrywer se kreatiewe skryfkursus wat sy mentor blameer vir sy (die atleet) se mislukking as skrywer? Die jong grafiese romansier (die Ier) met wie die skrywer ’n kortstondige en moeilike verhouding het, en net so honger vir verhaalgegewens is as die skrywer self? Of is dit dalk die magnaat sélf wat agter die komplekse vlegwerk van die verhaal sit ...?
Asbesmiddag is ’n metafiksionele teks: dit is ’n roman oor die skryf van ’n roman. Die intriges waarna hier bo verwys is, lei nie tot ’n netjiese ontknoping nie. Van Heerden gebruik dit juis om te besin oor hoe die knoop wat storie is, gemaak word; hoe die vlegwerk van invalle en motiewe wat die roman is, tot stand kom.
Hierdie self-referensialiteit is egter nie beperk tot besinning oor die skryf van bloot hierdie spesifieke roman nie; Asbesmiddag is ’n breër, meer ambisieuse besinning oor, en bestekopname van, die rol van die roman, die skrywer en die letterkunde as sodanig in ons era.
Asbesmiddag kan onder andere as ’n “kampusroman” gelees word,[1] en Van Heerden maak sinvol gebruik van die konteks van ’n kreatiewe skryfkursus om te reflekteer oor skrywerskap en die roman. Verder gebruik hy ook die gegewe van die hedendaagse universiteit se obsessies met dienslewering en winsgewendheid om die belangrikste ekonomiese, kulturele en politieke verskuiwings van ons era te tematiseer en te ontgin. Hierdie globale verskuiwings – kommodifisering en markfundamentalisme, virtualisering en die oorheersing van visuele oor gedrukte media – word in Asbesmiddag die konteks vir meer as net ’n besinning oor die rol van die roman en die letterkunde: dit is ook die breër konteks waarbinne die politieke oorgang en identiteitspolitiek in Suid-Afrika aangeroer word.
Asbesmiddag tree in hierdie opsig sinvol in gesprek met temas in die onlangse Afrikaanse letterkunde. Soos in so baie Afrikaanse romans van die afgelope jare het Van Heerden dit ook oor die Afrikaners se verlies aan politieke mag, en wat dit vir hulle identiteit, kulturele geheue en verhouding met die landskap beteken. Deur hierdie onderwerpe aan te roer teen die agtergrond van beide die ekonomiese logika en kultuurverskynsels (en kultuurverskuiwings) van sogenaamde globalisering en ’n ouer geskiedenis van Afrikanerkapitalisme (die wyn-, asbes- en rolprentmagnate in die roman) vertel Van Heerden egter ’n baie meer komplekse verhaal oor plek, herkoms en identiteit as dit waaraan ons gewoond geraak het in die “verliesliteratuur” van onlangse tye.
As daar in Van Heerden se Asbesmiddag, of by sy skrywer-hoofkarakter, enigsins ’n nostalgie vir ’n verbygegane tyd te bespeur is, is dit dus altyd reeds ’n gelativeerde nostalgie. Van Heerden skryf sy roman – en dit is miskien wat dit so ’n vervullende leeservaring maak – alreeds in die wete dat selfs nostalgie ’n verhandelbare kommoditeit is, eerder as ’n veilige agterdeur vir die verbeelding om aan die "nuwe” te ontsnap. Wat is meer bemarkbaar in ons tye as identiteite, “outentieke” kulturele ervarings en die bewaring en verpakking van ons herkoms? Die magnaat is immers betrokke by allerlei bewarings- en erfenisprojekte, net soos die skrywer self alreeds ten volle produk is, hoe krities hy ook al daarteenoor staan ...
Ek kan ook die fassinerende gegewe noem van die skrywer se familieplaas, Nooitgedacht, wat nou ’n geprivatiseerde hotelplaas is. Die plaas, ’n soort skarnier tussen identiteit en landskap in die Afrikaanse prosa, word hiermee radikaal herwaardeer:
'n Nuwe band word gevestig met die grond, ’n inpalming. Ontdaan van politieke mag word hulle nou verbruikers van die grond eerder as bewindhebbers. Die landskap as speelpark. ’n Nuwe soort patriotisme, volkome in pas met die kommodifisering wat ook die landskap van die letterkunde ingeneem het (p 149).
Die vraag is natuurlik dit: Wat is daar aan ons menslikheid méér as bloot ons status as verbruikers? Wat is die letterkunde, en die roman, méér as bloot ’n blinkverpakte, bemarkbare kommoditeit? Die antwoord op die eerste vraag hang ten nouste saam met die vermoë van die letterkunde om voortdurend op hierdie "méér" aan te dring. Die moontlikheid vir die letterkunde om dit nog te doen is straks die belangrikste metafiksionele vraag wat Van Heerden in hierdie boek aan die orde stel.
Asbesmiddag kan sekerlik ook gelees word as ’n soort speurverhaal.[2] Van meet af aan word die skeppingsproses voorgestel as bloederig en dikwels gewelddadig. Die skryfdaad is misdaad, gebou op diefstal en verraad. Een van die hoofstukke is getitel “Picasso, die dief” – die onlangse openbare debat oor Picasso se toe-eiening van Afrika-kuns funksioneer as ’n metafoor vir die kreatiewe proses in die algemeen. Kreatiwiteit en oorspronklikheid is nie ’n netjiese, konvensioneel-etiese proses nie; dit lê sigself nie neer by polities korrekte kodes oor eienaarskap en outentisiteit nie. Die skrywer is skuldig aan diefstal en selfs simboliese moord – van sy ouers, byvoorbeeld.
Die soort vrae wat in hierdie speurverhaal gestel word, is: Wie is die slagoffers van hierdie misdaad? Op wie se bloed teer die verhaal? Wie is wérklik verantwoordelik vir die storie wat hier vertel word, vir die diefstal en die vadermoord wat hier gepleeg word? Soos menige klassieke speurverhale stuur die boek af op ’n toneel waar al die belangrikste “verdagtes” saamgebring word op een plek, sodat ’n onthulling kan plaasvind ...
Presies hoe dit afloop sal ek nie hier verraai nie.
Eerder as bloot ’n reeks losstaande romans, skryf Van Heerden doelbewus aan ’n oeuvre. Sy verskillende boeke tree met mekaar in gesprek, en elke nuwe roman maak ook ’n kreatiewe herlees van sy voorgangers moontlik. Daar is menige temas uit Van Heerden se vorige romans in Asbesmiddag te vind. Om maar net enkeles te noem: die familieplaas en die verplasing na die stad; die oedipale drama wat afspeel tussen ouers en seun, veral tussen ’n vroeg afwesige vader en ’n sterk maar koesterende moeder; die metaforiese rol van diere, veral diere wat deur teling of afrigting die merk van menslike ingryping dra; die kulturele tweeledigheid van ’n agtergrond wat beide Afrikaans en Engels is; die weerloosheid en afgerondheid van die mens, “die mens as knaend falende masjien” (p 54).
Van Heerden se hoofkarakter is die skrywer, die Professor, Sebastiaan Graaff. Hy verwys op ’n keer na homself as ’n “dun man”. Ek kon nie help om aan Bob Dylan se "Ballad of a Thin Man" te dink nie: “Something is happening here and you don’t what it is, do you, Mr Jones?” In ’n sekere sin is Van Heerden se hoofkarakter wel ’n dun man: ietwat oorbluf en uit pas met die nuwe orde en die nuwe tegnologieë, met die krimpende kapitaal van sy kunsvorm en passie, Nederlandse gedigte en sy kulturele verlede (sy taal kwyn as openbare medium, sy familieplaas is nou ’n geprivatiseerde vakansieplaas), en met die manier waarop die verpakking van letterkunde en die opdis van die skrywer as kommoditeit sy eie waarde, sy “skaarheidswaarde”, depresieer.
Hy is ook in ’n ander sin onbewus van wat aangaan: hy is onbewus van die intriges rondom sy eie pogings om die verhaallyne van sy roman in toom te hou. Hy weet hy ook nie dat sy minnares, die grafiese romansier, hom ’n karakter maak in die boek wat sy skryf nie. Tog is dit ook juis die skrywer-hoofkarakter se “uit pas wees” met die tye en heersende modes wat hom ’n besonder skerp kommentator maak. In hierdie sin is hy nié soos Dylan se Mr Jones nie: hy is deeglik bewus van wat aangaan – kunsteoreties, ideologies, en polities. Alhoewel Van Heerden hom soms ironies skets as ’n ietwat pretensieuse figuur, is dit juis wat hom so ’n suksesvolle karakter maak.
Graaff is natuurlik deels geskoei op Van Heerden, en baie van sy besinnings in die loop van die roman is oorgeneem uit rubrieke wat Van Heerden elders gepubliseer het. Dit sou egter ’n fout wees om te veel in te lees in hierdie ooreenkomste. Asbesmiddag maak baie gebruik van die idee van die skrywer en die boek as kommoditeite, en Van Heerden speel ’n heerlike, soms self-ironiserende spel met sy eie persona. Hy het ook al dikwels in die verlede sy onderskeie beroepe sinvol neerslag laat vind in sy skryfwerk: die reklamewêreld in die kortverhaal “Liegfabriek” en die roman Casspirs en Camparis, byvoorbeeld, en die reg in Toorberg. In hierdie gevalle was die beroepswêreld en professionele diskoerse nie bloot ’n agtergrond of konteks vir die storie nie, maar ’n instrument waarmee sekere van die ideologiese en eksistensiële foutlyne in ons bestel aangespreek kan word – én in die menslike kondisie, wat by Van Heerden altyd maar draai om die onvoltooidheid, die weerloosheid van die mens. Dit was dan seker net ’n kwessie van tyd voordat Van Heerden sy huidige beroepe – professor in skeppende skryfwerk, “webmeester” en kenner van web-teorie – in ’n roman sou gebruik.
Die idee van ’n “liegfabriek” is dalk ’n goeie metafoor vir hierdie boek ook. Die roman skryf teen die “lieg” in – van die bemarker, die politikus, die magnaat – wat die menslike kondisie as voltooid, voltooibaar, of bestendig uitbeeld. Polities gesproke sou ’n mens kon byvoeg die roman skryf teen die “lieg” in dat daar een taal, een groep en een identiteit kan wees – die groot lieg, vandag, van een waardestelsel, van wins, wat juis korte mette wil maak met alle ander waardestelsels.
Natuurlik verklaar Van Heerden die roman nie dood nie, en aan die einde is dit duidelik dat ongeag hoe gekommodifiseerd die roman en die skrywer self word, die waarde van die roman juis daarin setel dat dit sê: “alles van waarde is weerloos” – dit is die negatiwiteit waaraan die goeie skrywer hom skuldig maak, en waarteen beide magnaat en bemarker hulle verset. Selfs in sy omgang met die verlede is die roman nie ’n erfenisprojek, soos die magnaat se opknap van ou geboue, nie. Die roman gooi nie wal teen die besef van ons eindigheid, weerloosheid en onwetendheid nie. Dit fókus juis daarop.
Van Heerden se Asbesmiddag is ’n bestekopname – maar nie ’n skietstilstand nie! – oor die rol van die storie, die roman en skryf in hierdie onmoontlike tye vol nuwe moontlikhede.
Metafiksionele tekste kan maklik die indruk skep dat dit selfkoesterend is, veral vir lesers wat nie self skryf of literatore is nie. Van Heerden se jongste teks is egter nie ’n boek slegs vir skrywers en literêre teoretici nie. Hy gebruik die gegewe van ’n roman-in-wording om sinvolle, interessante vrae te stel oor die veranderende kulturele, politieke en ekonomiese landskappe waarin ons ons plaaslik en globaal bevind – en boonop vertel hy ’n verbluffende, intrige-belaaide verhaal vol liefde, haat, hartstog en verlange. In ’n genre wat maklik bloedloos kan wees, is hierdie juis ’n verhaal oor bloed – familiebande, bloedbroederskap, slagdiere en meer; oor die weerloosheid en verwondbaarheid van mense.

