Diereriem deur Etienne van Heerden: ’n resensie

  • 0

Omslag: Tafelberg

Diereriem
Etienne van Heerden
Tafelberg
SKU: 9780624096849

........
Etienne van Heerden is ’n romansier wat in byna elkeen van sy romans poolshoogte neem van die stand van die wêreld soos wat dit daar uitsien ten tyde van die skryfproses. In sy jongste roman Diereriem word die karakters geplaas teen die agtergrond van historiese en sosiale kragte wat op die oomblik dwarsoor die wêreld uitspeel: geopolitieke verskuiwings, migrasie, (bio-) tegnologiese ontwikkelinge, woekerende kapitalisme, misdaadsindikate, korrupsie en nog meer.
.........

Etienne van Heerden is ’n romansier wat in byna elkeen van sy romans poolshoogte neem van die stand van die wêreld soos wat dit daar uitsien ten tyde van die skryfproses. In sy jongste roman Diereriem word die karakters geplaas teen die agtergrond van historiese en sosiale kragte wat op die oomblik dwarsoor die wêreld uitspeel: geopolitieke verskuiwings, migrasie, (bio-) tegnologiese ontwikkelinge, woekerende kapitalisme, misdaadsindikate, korrupsie en nog meer. Die ek-verteller verwys na die huidige tydsgees as “dié van ’n regse, tegnologiegedrewe, oewerlose uitspattigheid” (369).

Diereriem vertel die verhaal van drie vriende wat reeds as Stellenbosse studente gewerf word om vir die apartheidstaat se Intelligensiediens te werk en dus op kampus begin om inligting oor studentebedrywighede aan regeringsagente te voer. Jannie Benade (ook Alfa genoem) is die entrepreneur onder die drie wat uiteindelik ’n skatryk sakeman vol skadukante word. Carl Goedhals is die vrouejagter wie se spesialisgebied later huurmoorde is, alles agter die front van ’n loopbaan as restaurateur aan die Tuinroete. Antonie Vermeulen is die introverte lid van die driemanskap wat na sy studentejare bly spioeneer, terwyl hy in die Suid-Afrikaanse diplomatieke diens werk en later sy loopbaan as “operateur” voortsit terwyl hy ’n beskeie reisagentskap in Brackenfell bedryf.

Diereriem is die naam wat hulle as studente vir hulleself gee, met die Latynse leuse: “Morior invitus”, oftewel: “Onoorwonne sterf ek” (die voorliefde vir Latyn kom uit hulle regstudie). Antonie besef mettertyd dat hulle uitgesoek is, omdat hulle slim en talentvol was, maar ook omdat hulle elkeen ’n swakheid gehad het wat deur hulle opdraggewers “uitgebuit, gevorm en benut kon word” (206). Soos dikwels die geval, beweeg hulle met die 1994-oorgang in Suid-Afrika naatloos in onder die vlerke van die ANC-regering (106) en verskuif hulle alliansies van die ou na die nuwe regime. In beide fases beweeg hulle in die skadugebied waar politieke belange oorgaan in misdaad; Antonie beskryf die driemanskap as “die bad boys club van die nuwe republiek, spoke van die ancient regime, aktief in die area waar intelligensiedienste affairs aanknoop met die kriminele sfeer” (298).

Hy is dan ook die een wat die ek-verteller en spilpunt van die roman is. As introverte randfiguur in die driemanskap registreer Antonie alles wat rondom hom gebeur. Sy bynaam op skool was Vliegoog vanweë die saamgestelde oog waarmee hy dinge raaksien wat ander miskyk, ’n soort karakter waarvan Van Heerden dikwels gebruik maak (een iterasie hiervan is die seun Fabian in die 1996-roman Kikoejoe). Die teks wat ons lees, is die verhaal wat Antonie begin opskryf wanneer hy uiteindelik besluit om weg te stap van alles wat hom gevange hou in ’n loopbaan wat berus op dubbele lewens, vals bodems, agterdog en geweld. Dwarsdeur die loop van hierdie omvangryke roman voer Antonie (kodenaam Muskeljaatkat in die Diereriem) ’n gesprek met die leser, omdat hy weet hoe moeilik dit is om simpatie te wen vir ’n moreel gekompromitteerde karakter. Tog wen hy mettertyd die leser se vertroue: Hy is diep melankolies, oorval deur verdriet oor die pynlike kankerdood van sy vrou Samantha en verskeur deur skuld oor alles wat hy in sy lewe gedoen het. Die vraag wat hom teister, is die een wat Samantha hom vra nadat sy per toeval uitvind wat sy werklike beroep is (80): “Watter soort mens is jy om hierdie werk te doen?”

Antonie se vertelling is meanderend en mymerend, deurspek van herinneringe aan die verlede en uitweidings oor al die toeristebestemmings waar hy aangedoen het in sy vals lewe as toerleier en waarby hy nou weer in die uitvoering van ’n dubbele opdrag aandoen. Daar was, so skryf hy in die eufemistiese jargon van sulke operateurs, “altyd ’n parallelle operasie” terwyl hy toergroepe begelei het: “’n Natwerkie of ’n Tuinwerkie of ’n decoy duck” (397). Daar is kleurvolle (miskien te uitgesponne) beskrywings van die bestemmings waarby hy aandoen in die uitvoering van sy opdragte: die Victoria-waterval, Lissabon, Marsaxlokk op Malta, Marseille, Positano, die eiland Prinkipo in die See van Marmara en Istanboel. Voordat die leser hom kan kritiseer, bely hy self dat sy vertelling “swaar dra aan die oordaad en hiperbool van ons tyd” (364), ook dat hy noodgedwonge sy toevlug neem tot ’n soort “hiperstyl en satiriese afstand” (323). Ten spyte hiervan word elkeen van die bestemmings tog sinvol verbind met verwikkelings in die narratief wat besig is om op te bou tot by die beslissende moment.

Die verwikkelinge hou veral verband met Mei Hui, die Chinese meisie wat onder Alfa se sorg in Zimbabwe grootgeword het. Sy is ’n briljante jong navorser op die gebied van biotegnologie by Cambridge wat besig is om te beweeg in rigtings waarvan Alfa nie altyd op hoogte is nie. Naas die gestorwe Samantha, is Mei Hui Antonie se groot liefde, die vrou met wie hy nog altyd ’n elektriese konneksie gevoel het. Wanneer hy hoor dat sy in ’n motorbomontploffing in Malta gesterf het, begin hy obsessief soek na die moordenaar in ’n poging om wraak te neem. Dit word net so ’n belangrike drywer van die plot as die twee opdragte waarvoor hy oorspronklik na Europa reis (die een hou verband met ’n rare boek wat Alfa wil bekom vir sy Museum van Taboe en die ander met ’n versoek uit die Suid-Afrikaanse presidensie). Verder raak Antonie se skuldgevoel so oorweldigend in die periode kort na die dood van Mei Hui dat hy – geswore ateïs wat enkel veragting voel vir sy ouers se NG Kerk-affiliasie en later sy vrou se charismatiese godsdiensbeoefening – die gloed van Christus aan sy lyf begin voel.

Een van die redes vir Antonie se religieuse opstuiwing – naas sy behoefte aan belydenis en vergifnis – is sy obsessie met vaderverraad. Wanneer hy uitvind dat dit sy pa was wat hom voorgestel het as potensiële spioen of “spook” aan ’n regeringskontak, voel hy verraai. Dié gevoel word verhewig deur die feit dat sy pa ’n akteprokureur was wat trustgeld gesteel het en homself om die lewe gebring het. Wanneer hy dus totaal ontstem en opgejaag is deur Mei Hui se dood in Malta, identifiseer hy hom baie sterk met Christus wat deur sý Vader verraai is om as Lam aan die kruis te sterf. Tydens hierdie psigologiese dieptepunt probeer hy om die misterie van die Christus-dood te deurgrond sodat hy kan boete doen vir die gruwels wat hy gepleeg het.

Antonie se koorsige religieuse soeke ontstel sy opdraggewer Alfa en dié se enigmatiese assistent Amandel in so ’n mate dat hulle allerlei maneuvers uitvoer om hom te beheer en te stuur in die rigting van die finale ontknoping. Die krisis waartoe die romangebeure opbou, kan uiteindelik teruggevoer word na ’n oer-insident van verraad uit die driemanskap se Stellenbosse studentedae. Dit is hieruit wat die wantroue en wrokkigheid tussen hulle voortkom. In die proses ontdek Antonie dat nie één van die figure rondom hom – hetsy losieshuiseienaar, restaurateur, skoonmaker of fuck buddy – losstaan van die netwerk wat sy bewegings beheer en monitor nie, dat hy orals en altyd dopgehou en “gespeel” word deur groter magte.

Presies hoe ’n mens Diereriem sou klassifiseer, is moeilik om te sê. Spioenasie-riller in die styl van John le Carré, waarin agente handel namens ’n nasionale intelligensiediens? ’n Soort misdaadroman waarin operateurs kriminele opdragte uitvoer vir opdraggewers wat persoonlike rykdom en steeds groter invloedsfere nastreef? ’n Genre wat die skaduwêreld tussen regerings en die misdaadwêreld betree en waarin die weddenskappe so hoog is dat dit die voortbestaan van die wêreld kan bepaal? Antonie self suggereer op dubbelsinnige wyse dat sy verhaal “hoort in die genre van deathfic, ’n storie waarin die skrywer sy mees geliefde karakter vermoor” (336).

........
Die aksiebelaaide gebeure (dink bomontploffings, seks, diefstal, moord, jaagtogte) word gekombineer met Antonie se optekening daarvan soos bepaal deur sy skuldbelaaide gemoed. Dit sorg vir ’n leeservaring wat jou op die vlak van uiterlike gebeure slinger van die een ruimte na die ander, en op die vlak van innerlike gebeure van een psigologiese onthulling na die volgende.
........

Die aksiebelaaide gebeure (dink bomontploffings, seks, diefstal, moord, jaagtogte) word gekombineer met Antonie se optekening daarvan soos bepaal deur sy skuldbelaaide gemoed. Dit sorg vir ’n leeservaring wat jou op die vlak van uiterlike gebeure slinger van die een ruimte na die ander, en op die vlak van innerlike gebeure van een psigologiese onthulling na die volgende. Van Heerden vervleg hierdie twee vlakke van die verhaal op behendige wyse: Die vertelling van dramatiese gebeure word met presisie gepaar met bepaalde fases in die psigologiese proses wat homself tydens die opskryfproses uitspeel. Die koorsagtige tempo van gebeure word getemper deur Antonie se nabetragting oor die verlede waaruit dit alles gespruit het. Dit is ’n afrekening met eie aandadigheid aan ’n korrupte, misdadige en magsbehepte wêreld waarin die pion net soveel skuld dra as die spelers.

Hierdie spioenasie-cum-misdaadverhaal (die heenwysings na ander genres maak dit moeilik om die roman te kategoriseer) bring ’n nuwe wending in Van Heerden se oeuvre. Daar is ’n strakker fokus op die realiteit met weinig blyke van die magiese realisme wat in talle van sy romans opduik. Terselfdertyd keer dit terug na sekere standhoudende temas in sy werk, veral die een wat verband hou met die maniere waarop “die kinders van Verwoerd” (’n frase uit vroeër romans wat hier herhaal word) steeds besig is met ’n verantwoordingsproses.

........
Diereriem is ’n nogmaals verstommende ontplooiing van die ryk skrywersverbeelding wat Etienne van Heerden se oeuvre kenmerk. Steeds nuwe temas, karakters en ruimtes word tot samehang gebring om die probleme van ’n bepaalde tyd en die impak daarvan op die menslike psige te peil.
.........

Diereriem is ’n nogmaals verstommende ontplooiing van die ryk skrywersverbeelding wat Etienne van Heerden se oeuvre kenmerk. Steeds nuwe temas, karakters en ruimtes word tot samehang gebring om die probleme van ’n bepaalde tyd en die impak daarvan op die menslike psige te peil. Diereriem beweeg soos ’n koorsige peilstif oor die landskap waarin ons op die oomblik leef om uit te vind waarvandaan ons kom en waarheen ons op pad is. Dit sorg vir ’n leesavontuur van uitnemende gehalte.

  • ’n Gesprek oor Diereriem vind om 11:30 op 10 Oktober 2026 by die Toyota Stellenbosch Woordfees plaas. Hier is nog inligting.

Lees ook:

Resensie: Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden

Die wêreld van Charlie Oeng: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

Gebeente deur Etienne van Heerden: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

Gebeente deur Etienne van Heerden: ’n interpretasie

Etienne van Heerden (1954–)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top