Die wêreld van Charlie Oeng: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 3

Die wêreld van Charlie Oeng
Etienne van Heerden
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624080527

1. Inleidend: ’n storie en ’n teks

Studente van die letterkunde word dit altyd ingeprent dat wanneer ’n mens ’n verhalende teks lees, daar aan die een kant sprake is van die “storie” en aan die ander kant van die “teks”. Die “storie” is al die gebeure waarvan ’n teks vertel, mooi netjies in ’n logiese en chronologiese volgorde gerangskik – dit kan ’n mens gewoonlik eers doen nadat jy die hele teks gelees het. Die “teks” is dit wat jy in jou hande het, met ander woorde die resultaat van die skrywer se verwerking van daardie “storie”, die volgorde waarin hy of sy besluit het om die gebeure te rangskik en al die skrywerstegnieke (die vertelperspektiewe, die tempowisselings, die verskillende vertelstyle) wat hy gebruik het om die storie op papier te kry. Aan die een kant lees ons agter die storie aan: ons word gedryf deur ons nuuskierigheid na die verloop en uiteindelike afloop van die gebeure, met ander woorde ons behoefte om te weet wat die antwoord is op “... en toe?”. Aan die ander kant lees ons om oormeester en verbyster te word deur die skrywer se vermoë om die gebeure so te rangskik en aan te bied dat die sinvolheid daarvan duidelik word en betekenisse kan vermenigvuldig.

Etienne van Heerden se jongste roman, Die wêreld van Charlie Oeng, is ’n uitnemende voorbeeld van die wyse waarop ’n boeiende reeks gebeure, oftewel storie, deur die verteller Tian Kilian (en agter hom natuurlik die skrywer Van Heerden) omskep is tot ’n betekenisryke teks. Dit is veral die proses waardeur die karakter Tian van sy eie ervaring en navorsing ’n teks maak wat my in hierdie essay interesseer.

2. Oor die maak van die roman

Die rede waarom Tian ’n roman skryf waarin hy die wêreld van die Amsterdamsgebore Chinees Charlie Oeng (’n verafrikaansing van die naam Ng) naspeur, hou verband met die feit dat sy ouers in 1964 vermoor is op hulle Karooplaas op die juiste moment dat Charlie besig was om daar ’n vuurwerkvertoning te hou. Die leser verneem reeds vroeg in die roman van hierdie gebeurtenis, maar dit duur die volle lengte van die roman om die ingewikkelde oorsake van die moord, die stadige opbou daartoe en die nagevolge daarvan uit te pluis. In die behoefte om te verstaan wat gebeur het en die trauma daarvan te verwerk, lê dus die oorsprong van die roman wat Tian skryf en wat ons lees.

In sy volwasse lewe is Tiaan ’n uitgewer in Kaapstad wat homself tipeer as een van “die alleenstaandes, die skames” van die samelewing. Nadat hy jare lank die herinneringe aan die dag van sy ouers se voortydige dood van hom weggedruk het, besluit hy op ’n dag dat dit nodig is om “uit te vind wat presies gebeur het toe die Chinese man wat met die boot na ons land gekom het, besluit om ’n vuurwerkvertoning op Slootplaas aan te bied, met als wat daarna gevolg het” (36). Hy besluit dus om na Amsterdam te gaan om ondersoek te doen na die wêreld van Charlie Ng. Op pad daarheen gaan hy eers na Zürich, waar hy teen sy beterwete die vuurwerkvertoning met die oorgang van die ou jaar na die nuwe meemaak. Dit is vir hom ’n angswekkende ervaring, maar het ook die effek dat dit die verlede losmaak in hom met die krag van ’n vuurwerkontploffing: “Diep in my psige het die dramas van my lewe gefluit en oopgepof in drakekleure en onverwagse patrone” (38), skryf hy hieroor.

Daar is verskillende redes waarom hy die taak aanpak om die geskiedenis wat tot sy ouers se dood gelei het te verwerk tot roman. Die belangrikste hiervan is sy gevoel van aandadigheid aan die gebeure. Hy is naamlik die een wat sy ouers oorreed het om Charlie toe te laat om die vuurwerkvertoning op die plaas te hou. Verder voel hy skuldig omdat hy oorleef het en hulle nie: “Só is dit maar as jou ouers vroeg en onverklaarbaar sterf. Vir die res van jou lewe kom die onopgeloste dood daagliks jou lewe binnegery met die galm van staal. Jy leef as ‘t ware binne-in hulle dood, en jou eie lewe is ’n oortreding, ’n dislojaliteit” (240). Alhoewel die konfrontasie met sy skuldgevoel as oorlewende een van die belangrikste redes vir die skryf van die roman is, blyk dit mettertyd dat dit ook vir hom ’n manier is om troos en berusting te kry.

Dit is nie vreemd dat Tian hom wend tot die skryf van ’n roman om sin te maak van die gebeure rondom sy ouers se dood nie. Sy pa was prokureur op ’n Karoodorp en naweekboer op die plaas wat sy ma by haar ouers geërf het, en sy ma het ’n klein boekwinkel op die dorp bedryf. Reeds as kind het Tian die troosryke nabyheid van boeke ervaar en ’n sin ontwikkel vir “papier se vermoë om fantasie te berg” (48). Daarby is hy, soos reeds genoem, ’n uitgewer wat ervaring het van werk met produkte van die skrywersverbeelding. Die leser word dus deurgaans bewus gehou van die feit dat hy besig is met die skryf van ’n roman (188, 307, 496) en dat dit vir hom ’n pynlike proses is, soos wanneer hy verwys na die “verhaal wat uit my mond nagmerrie” (116).

Om die verhaal te vertel wat hom sal verlos van die trauma van onverwerkte herinnering moet Tian nie net onthou nie, maar ook fantaseer of fiksionaliseer. Daarom bestaan die roman nie net uit gedeeltes waarin hy as ek-verteller vertel wat hy self meegemaak het en steeds ervaar nie, maar ook uit gedeeltes waarin hy die verhaal van Charlie Ng se lewe rekonstrueer op grond van dit wat hy opgelees het oor die Chinese gemeenskap in Amsterdam in die jare voor die Tweede Wêreldoorlog, die onderhoude wat hy voer met mense wat Charlie en sy familie geken het, en sy besoeke aan die plekke waar Charlie hom in die loop van sy lewe bevind het.

Amsterdam

’n Belangrike deel van die verhaal oor sy navorsing is sy ontmoeting met die lugwaardin Jenny May wat deel is van die Chinese gemeenskap in Amsterdam en hom help om mense te ontmoet wat kan lig werp op Charlie se verlede. Sy word uiteindelik sy minnares en begeleier in die herbesoek van sy ouers se dood ten einde begrip te ontwikkel en berusting te kry, maar ook die een wat hom konfronteer met ongemaklike vrae oor sy vooroordele en beperkinge. Die resultaat hiervan is dat die verhaal nie net vertel word uit die ek-vertellersperspektief van Tian nie, maar vir groot gedeeltes ook uit die perspektief van Charlie soos wat Tian hom dit verbeel. Die verhaal word by geleentheid ook vertel uit die perspektief van ander karakters wat deel uitmaak van Tian se wêreld (soos die blinde Ouma Ogies wat op hulle plaas woon en die albino Witkant wat inligting aan die Veiligheidspolisie verskaf) en sommige wat deel is van Charlie se wêreld (soos sy gestorwe ma se tante Ouma Voetjies en die vrou genaamd Sy wat hy ontmoet op die skip op pad na Suid-Afrika).

Alhoewel Tian terugkyk na die traumatiese gebeure wat hy as jong seun beleef het en sy verhaal dus grootliks vanuit ’n agternaperspektief vertel, beweeg die vertelling voortdurend tussen verskillende tye. Dit blyk uit die frases wat beklemtoon dat daar teruggekyk word na die verlede, soos: “Nou, van anderkant die jare hou ek hom dop” (57); “[dit] begryp ek eers jare later” (70); en “in my geheue ry ons soggens skool toe” (86). Ander frases verwys weer eksplisiet na iets wat later in die vertelling gaan volg, soos: “Daarby sal ek kom. Aanstons” (253) en “hy weet nie dat die teken verband hou met sy eie dood wat nie ver in die toekoms lê nie” (438). Dit is ’n byna tergende spel waarin die skrywer bietjie vir bietjie oor die loop van die roman die inligting in verband met die verlede aan die leser prysgee, ’n manier waarop die langsame proses waardeur Tian insig verwerf, uitgebeeld word.

In ’n nota wat die roman voorafgaan, vertel Tian dat die 36 hoofstukke van sy roman gebaseer is op die optekening van 36 oud-Chinese krygstaktieke, wat dateer uit die Qing-dinastie of die laat Ming-era. Tian se nota verwys daarna as “taktieke van misleiding” wat gebruik maak van die vals beskuldigings en dwaalspore wat in sielkundige oorlogvoering en spioenasie gebruik word. Sommige bronne beweer dat Chinese kinders hierdie 36 krygstaktieke, wat byna soos idiome funksioneer, reeds op skool aanleer en dat dit op verskillende terreine toegepas kan word (onder andere besigheid). Dit is duidelik dat elkeen van hierdie krygstaktieke of “idiome”, wat gebruik word as die titels van die hoofstukke, in ’n ryk interaksie tree met die intrige, ruimte en karakters wat in Tian se roman beskryf word. Dit kan van toepassing gemaak word op die optrede van feitlik elkeen van die rolspelers in hierdie roman, of dit nou Charlie is wat homself beskeie hou terwyl hy die kans afwag om wraak te neem op diegene wat hom van sy geliefde beroof het (“Steek jou lem agter ’n glimlag weg”; “Gee voor jy’s ’n swaap maar behou jou kalmte”; “Wag rustig terwyl jou vyand homself uitput”); of die manne van die Veiligheidspolisie wat die albino Witkant mislei en misbruik vir hulle eie doeleindes (“Skop die gras sodat die slang sy lyf wys”; “Saai tweedrag waar jy kan”; “Vang die leier en verwoes só die vyand”).

Die 36 krygstaktieke dien in hierdie roman ook as metafoor van die skrywer se strategieë in die omgang met sy materiaal en met sy leser. Tian lê trouens self die verband tussen sommige van die taktieke en die skryfproses wanneer hy sê: “Ek moet dink aan die ses-en-dertig krygstaktieke en hoedat mens ook in die skryf van jou verhaal ’n geraas maak in die ooste maar aanval uit die weste. Hoedat jy tekstueel tweedrag saai en jou leser die dak op neem en dan die leer verwyder” (542).

Een van die sjarmes van hierdie roman is inderdaad die taktiese spel wat die verteller met die leser speel deur voortdurend heen en weer te beweeg tussen die verskillende verteltye en -ruimtes om hom steeds nader te bring aan die ontknoping van die verhaal in die slot van die roman wat eintlik twee teenoorstande momente voorhou. In die voorlaaste hoofstuk, genommer 35 en getitel “Verwond jouself”, wil Tian homself ná die hele proses van terugdelf in die verlede losmaak van Suid-Afrika, wat hy sien as ’n “land van slagting” en “spektakelpolitiek” waar die kuns voorlopig ondergronds moet gaan en weggebêre moet word totdat dit êrens in die toekoms dalk weer ontdek sal word (iets wat herinner aan Charlie se verhaal oor die biblioteek wat vir 900 jaar toegemessel was, 340–2). Dit beklemtoon Tian se swaarmoedige blik op die lewe wat reeds vroeër geblyk het toe hy vertel het van die skrikwekkende Skreeu wat soms opgeklink het uit die spoelsloot op hulle plaas in die Karoo: “Waaroor almal saamstem, is dat die Skreeu te make het met die vreeslike dinge wat mense mekaar aandoen, met die onliefde, die wreedheid, met hierdie plek waarin ons woon se verskriklike geskiedenis van bloed” (21).

Hierteenoor keer die laaste hoofstuk van die roman, nommer 36, met ’n titel wat nié uit die boekie van Chinese krygstaktieke gehaal is soos al die ander nie, terug na ’n moment van tydelike verlossing in die verlede toe Tian én Ouma Ogies die oplugting ervaar het wat gebring word deur uiting te gee aan intense smart. Dit is dus ’n slot wat bevestig dat daar verlossing skuil in die konfrontasie van jou trauma en pyn, soos wat Tian dan inderdaad ook doen met die skryf van sy roman. Boonop kom die titel van hierdie hoofstuk, “Laat die skaduwee van die skoenlapper oor jou val”, uit ’n passasie wat Tian se minnares Jenny May aan hom voorlees uit die werk van die Chinese skrywer Chuang Tzu. Dit het te doen met die illusionêre aard van die werklikheid (het Tzu gedroom hy is ’n skoenlapper of het die skoenlapper gedroom hy is Tzu?) en die voortdurende transformasie van alle dinge, soos verbeeld deur die lewensiklus van die skoenlapper. Dit suggereer dat alles ten slotte in die teken van die transformatiewe krag van die verbeelding staan sodat die skryf van die roman – ten spyte van Tian se donker visie – tog oplugting bring en dit op ’n positiewe noot eindig.

Chuang Tzu

3. Oor name, vooroordeel en stereotipes

Die hantering van name in die roman verskaf by wyse van spreke ’n kortbegrip van die historiese konteks waarbinne hierdie roman hom afspeel. Tian verwys daarna dat hy “aan die begin van die tweede dekade van die een-en-twintigste eeu begin torring [het] aan die gebeure van daardie treurige jaar, lank gelede in die Karoo”, 371), maar die gebeure waarvan dit vertel, strek terug tot in die twintigerjare van die vorige eeu. Dit is ’n tydspan waarin die ongelykheid, misverstand en wantroue tussen mense tot groot konflikte gelei het, en hierby sluit die roman bewustelik aan.

Wanneer Charlie in Amsterdam gebore word terwyl sy moeder en vader vlug van die polisie wat die Chinese buurt in die Binnen Bantammerstraat in die stad wil “skoonmaak”, is dit ’n vooruitwysing na die feit dat hy vir die grootste deel van sy lewe aan die ontvangkant van vooroordeel en xenofobie sal wees. Dit lei tot die skipbreuk van sy verhouding met ’n jong Amsterdamse meisie en laat hom uiteindelik beland in ’n Amsterdamse slagskuur en die Nederlandse vertakking van die Chinese triades. Om van hulle weg te kom, vlug hy na Parys waar hy sy roeping as kunstenaar probeer uitleef totdat hy in die Tweede Wêreldoorlog ’n kok word vir ’n groep Nazi-offisiere wat ’n huis in Frankryk beset. Hierna vertrek hy na Hongkong, waar hy as bedelaar werk voordat hy weer deur die triades gevind word wat hom afdreig om vir hulle moord te pleeg. Wanneer hy van hulle ontsnap, werk hy as ’n ekstra in die Amerikaanse film The World of Suzie Wong wat in 1960 vrygestel is en die patroon verskaf vir die titel van Tian se roman. Wanneer hy terugkeer na Amsterdam, gee sy jeugvriend Corrie van Gogh (’n nasaat van Vincent se broer Cornelis) hom die raad om na Suid-Afrika te kom. Op die bootreis na Suid-Afrika ontmoet hy ’n vrou wat nie ’n naam het nie, maar slegs as Sy bekend staan. Hy raak op haar verlief en leef met haar saam terwyl hy op diesoutpanne naby Port Elizabeth werk totdat sy hom verlaat en sy lewe in duie stort. Dit is terwyl hy op soek is na haar dat hy uiteindelik beland in die dorp waar Tian en sy ouers woon.

Dit is hier waar hy ervaar wat dit is om ’n vlugteling te wees: “In hierdie dorp het hy gesien hoe daar met vlugtelinge gewerk word. […] Hulle praat met jou soos hulle met ’n hond of ’n perd praat. Selfs wanneer hulle vriendelik is, is dit die soort woorde wat jy ’n troeteldier sal toevoeg. Hulle draai die kop vriendelik skeef, of beknik elke woord met die kop. Hulle weet nie die lyftaal van neerbuigendheid word hamerhoue wat die spykers van hul woorde in jou inkap nie” (404). Hy word verkleineer deurdat sy naam vervorm word of deurdat hy met ’n verskeidenheid byname, feitlik almal ’n verbinding met Chinees, benoem word. In Suid-Afrika sê mense vir hom Ng is nie ’n naam nie, net ’n geluid en word dit herskryf tot Oeng om aan te dui hoe ’n mens dit moet uitspreek (216). Hy word ook benoem met verminderende name soos Chinaman, Koekepan (’n verwysing na sy aankoms op die dorp), Konfoes (’n spottende verwysing na Confucius), chopsticks, bootchinees, soutchinees, hangchinees, dreinchinees en hurkchinees. Dieselfde geld vir die vrou (dit blyk later sy het in Turkye grootgeword) wat Charlie op die bootreis na Suid-Afrika ontmoet en wat sy groot liefde word. Sy verkies om naamloos te bly en slegs “Sy” genoem te word, maar op Tian se geboortedorp word sy ook onderwerp aan verminderende name soos Palestyn, koeliemeid, Winkelpop en winkelhoer (308). Hierteenoor getuig die name wat Charlie haar gee van sy intense liefde vir haar. Dit is name soos Siaam, Foonde, Meheen, Mondaan, Fje en Shebeez wat slegs in “’n taal wat niks anders ken as die droom oor haar en die verlange na haar nie” bestaan en waarvan sy die “hele woordeskat” uitmaak (209). Hier funksioneer die name as vertolking van ’n onpeilbare liefde eerder as ’n teken van die ongemaklike of vyandige omgang met mense wat vir jou vreemd is.

Volgens Tian is sy roman ook ’n poging om te vergoed vir die kwetsende vooroordele wat Charlie (en ander soos hy) in hulle dorp moes verduur: “Ja, dit was waar my Die wêreld van Charlie Oeng begin het. By daardie name. My storie is ’n poging om hom ’n eie naam te gee, al weet ek dat hy ook na ons gekyk het en boere in eenders bakkies gesien het, en vroue wat almal dieselfde klere dra” (189). Hy probeer dus om die verskynsel van vooroordeel en stereotipering na alle kante toe in sy roman aan te spreek, maar erken by voorbaat sy eie faling deur die naam Oeng in plaas van Ng in die titel te gebruik (waarskynlik om die Afrikaanse lesers van die roman ter wille te wees). Dit is veral Jenny May, wat tydens haar en Tian se navorsingsbesoek aan Hongkong, vir Tian daarop wys dat hy gevaar loop om Charlie te eksotiseer en so te stereotipeer. Sy gee hom ’n koerantartikel met die titel “Beyond stereotypes” en waarsku: “Wees versigtig, […] jy met jou Mister Oeng” (182).

Die feit dat Charlie gewerk het as ’n ekstra op die stel van die Amerikaanse film The World of Suzie Wong en die opdrag gekry het om “tipies” (171) te lyk in elkeen van die rolletjies wat hy gespeel het, stel ook die probleem van stereotipering aan die orde. Die film se uitbeelding van Hongkong, en veral die karakter Suzie Wong, het al dikwels onder skoot gekom omdat dit veral Oosterse vroue as eksoties en onderdanig, eerder as mense uit eie reg, uitgebeeld het. Die uitdaging om mense op ’n onbevooroordeelde wyse voor te stel in die kuns is ’n probleem waarmee enige kunstenaar, en in hierdie geval ook Tian, te doen het. Dit lyk asof die roman argumenteer dat dit veral belangrik is in ’n wêreld waarin die vermeende verskille tussen mense lei tot uitsluiting, onderdrukking en konflik, of dit nou gaan oor die sestigerjare van die vorige eeu of die huidige tyd, waarin die alomteenwoordige vlugtelingprobleem opnuut tot stereotipering lei. Dat Tian sukkel om dit reg te kry, blyk uit Jenny May se beskuldiging dat hy nie kan ontkom van sy paternalistiese neiging om ook vir haar te stereotipeer nie: “Jy kyk na my en jy sien Chinees. Jy sien iets wat die mense toe jy ’n kind was van hulle afgestoot het, maar nou swaai jy dit om na iets eksoties” (192). Hy is ook voortdurend bewus van moontlike kritiek op sy poging om Charlie se wêreld te rekonstrueer: “Die onpeilbaarheid van die Ooste, hoor ek al die beskuldiging. Jy met jou veroostering van die Karoo,” skryf hy by geleentheid (173).

As optekenaar van die gebeure rondom sy ouers se dood en die konteks waarin dit gebeur het, besef Tian ook dat hy nie die verlede moet kamoefleer deur byvoorbeeld die denigrerende name en pejoratiewe terme wat gebruik is vir mense wat nie wit was nie, weg te laat nie. As dit gebeur, sê hy, is dit “asof hierdie woorde nooit daar was nie. En as die woorde verdwyn, só hoop mense skynbaar, verdwyn ook die houdings ágter die woorde uit die geskiedenis. En hul voorouers se wandade. So word ’n nuwe verlede opgedroom en was die geskiedenis sy hande in onskuld. Maar ek, ek moet als in die oë kyk. As ek eerlik wil wees, moet ek ’n lem in die hand hê. Al laat dit my bloei” (53). Tian skryf dus oor sy ouers se “versigtige dissidensie” wat gesien moet word teen die agtergrond daarvan dat hulle “diep ingeweef was in die dorp se bevoorregting” (58). Daarom vertel hy dat sy prokureur-pa soms die regte van swart mense verdedig het, maar dikwels ook ander pad gekyk het wanneer die veiligheidspolisie hulleself te buite gaan, ook dat hy alle Xhosas George genoem het (40) en na Charlie verwys het as Chinaman of Koekepan.

Ten spyte van die feit dat Tian worstel met die probleem van onbevooroordeelde voorstelling en dit moeilik vind om Oosterlinge nié te eksotiseer of stereotipeer nie, teken hy uiteindelik tog vir Charlie Oeng as ’n komplekse persoonlikheid gevorm deur ’n veelbewoë geskiedenis. Al was Charlie saam met ander aandadig aan sy ouers se dood, ontwikkel Tian begrip vir hom en begin hy selfs ’n “verskrikte lojaliteit” teenoor hom voel. Hy identifiseer ook met Charlie se buitestanderskap en gemarginaliseerdheid in dié opsig dat hy homself begin sien as ’n “verstote burger van sy land” en homself voorberei vir ’n “toekoms as ekstra” eerder as hoofspeler (193). Hy sê immers dat hy hom in Charlie se gemoed begeef om hom te probeer verstaan, “want as ek hom begryp, het ek die roete na myself gevind” (313). Met hierdie stelling oorskry hy dus die vooroordeel en afstand wat hy aan die begin van sy projek voel.

4. Oor oeuvres en enkelromans

Daar is al meermale gesê dat Van Heerden doelbewus besig is om te skryf aan ’n oeuvre eerder as wat sy romans los van mekaar bestaan. Daar is dus heelwat te leer in verband met elke nuwe roman wat verskyn deur te kyk na die raak- en verskilpunte met sy ander romans.

Een van die mees opvallende raakpunte tussen hierdie roman en ander in Van Heerden se oeuvre is die plasing van die grootste deel van die romangebeure in die Karoo, die ruimte waarin Tian groot geword het en waarin die moord op sy ouers plaasvind. Van Heerden is geleidelik besig om die ganse Karoo in kaart te bring in sy fiksie – nie net as agtergrond vir die verhaalgebeure nie, maar as ’n ruimte met geografiese, historiese, politieke en sosiologiese dimensies wat sorgvuldige ontleding verg. Die Karoo is ’n dwingende, byna bepalende teenwoordigheid in Toorberg, Kikoejoe, Die swye van Mario Salviati, In stede van die liefde, 30 nagte in Amsterdam en Klimtol, en ook in ’n hele aantal verhale in My Kubaan en Liegfabriek. Boonop word hierdie Suid-Afrikaanse ruimte, net soos in Die wêreld van Charlie Oeng, in meerdere van sy romans gejukstaponeer met ruimtes buite Suid-Afrika, soos byvoorbeeld ’n verskeidenheid wêreldstede in In stede van die liefde en Amsterdam in 30 nagte in Amsterdam.

’n Ander raakpunt tussen Die wêreld van Charlie Oeng en romans soos Kikoejoe en 30 nagte in Amsterdam is die fokus op die apartheidsbestel in die sestigerjare en die lang nawerking daarvan op diegene wat dit meegemaak het. Van Heerden verwys dikwels na sy geslag skrywers as “die kinders van Verwoerd” wat in die hoogty van apartheid grootgeword het en herhaaldelik daarheen terugkeer om dit te dissekteer, miskien ook om hulleself daarvan los te skryf. Dit wat Tian sê oor die skryfproses waardeur hy wil vergoed vir wat hy sien as sy aandadigheid aan die moord op sy ouers, geld dalk ook vir die skrywer wat terugkeer na die apartheidstyd: “Hierdie hand wat hier skrywe, is die hand van ’n medepligtige, ’n moordenaar. Een van die redes waarom ek Oeng se verhaal skrywe, is die hoop dat ek myself sou kon oortuig dat my aandadigheid kleiner was as wat ek dag” (496). Dit is ook opmerklik dat die registreerders van hierdie periode in Van Heerden se romans dikwels kinders is wat, sonder dat hulle opgemerk word, met hulle nuuskierige blik dié dinge in die samelewing uitlig wat hulle ouers doelbewus miskyk. Hulle is ook dikwels in Van Heerden se romans diegene wat later as volwassenes daaroor besin (Fabian in Kikoejoe, Henk in 30 nagte in Amsterdam, Tian in Die wêreld van Charlie Oeng).

Daar is ook ander soorte karakters wat al vantevore hulle verskyning in Van Heerden se romans gemaak het en ook hier aanwesig is. Van Heerden het byvoorbeeld ’n voorliefde vir die sonderlinge persoon wat die een of ander bonatuurlike vermoë het en dus besondere insigte in die wêreld rondom hom- of haarself openbaar. Die blinde Ouma Ogies in Die wêreld van Charlie Oeng, wat geen spore laat en geen gewig registreer op ’n skaal nie, voel onheil aan voordat dit gebeur en het die vermoë tot empatiese inlewing met mense in pyn. In hierdie opsig is sy verwant aan karakters soos Druppeltjie in Toorberg, ook Jonty Rhodes en Mario Salviati in Die swye van Mario Salviati, al het elkeen van hierdie karakters ’n eiesoortige funksie in die betrokke romans. Verder is Tian Kilian, wat homself tipeer as een van die “alleenstaandes” en “voortvlugtiges” (36), by wyse van spreke familie van die ander “klein” persone wat ten spyte van hulle onbelangrikheid tog die een of ander etiese verantwoordelikheid op hulleself neem. Daar is byvoorbeeld duidelike ooreenkomste met Fabian in Kikoejoe en Henk in 30 nagte in Amsterdam (laasgenoemde se beperking blyk onder andere uit die feit dat hy die “kleingeskiedenisse” van onbelangrike mense opskryf, soos byvoorbeeld Cornelis van Gogh, die onmerkwaardige broer van Vincent van Gogh wat ’n konneksie met Suid-Afrika gehad het). Dikwels word hierdie karakters gejukstaponeer met en uiteindelik beïnvloed deur ’n uitbundige en onkonvensionele lewensgenieter soos tante Geert in Kikoejoe en tante Zan in 30 nagte in Amsterdam. In Die wêreld van Charlie Oeng staan die ingetoënheid en teruggetrokkenheid van Charlie byvoorbeeld teenoor die uitgelatenheid van die einste Cornelis van Gogh se afstammeling, die rooikop-Hollander Corrie, wat rondloop met ’n onbekende skildery van sy familielid Vincent in ’n koker op sy rug en juis daardeur betrokke is by wat met Tian se ouers gebeur.

Die magiese realisme wat so ’n boeiende aanwesigheid is in Toorberg en Die swye van Mario Salviati is ’n speelse teenwoordigheid in hierdie roman, met die leser wat nie weet of gegewens soos die Skreeu wat opklink in die spoelslote op Slootplaas, die drakies op Charlie se werf in die Karoodorp (dalk eerder dwerghoendertjies of bantams?), en die albino Witkant se vermoë om Charlie se tekeninge te laat beweeg deur die aanraking van sy vinger, aangebied word as magies-realistiese “werklikheid” of bloot die produk van ’n bepaalde karakter se oorverhitte verbeelding nie. Dit geld ook ander elemente in die roman, soos die toorsirkel wat Charlie trek en waarbinne hy dan gaan sit. Wanneer Tian as kind binne dieselfde sirkel gaan sit, kry hy hoendervleis en “iets kom op, soos ’n wind of ’n swerm”, ’n “galm”, “’n geluid sonder geraas” of “’n fluistering wat dawer” (16). Daar is ook die reuk van swawel wat Ouma Ogies by Tian waarneem nog voordat sy ouers op die aand van die vuurwerkvertoning sterf (17) en wat tot in sy volwassenheid aan hom bly kleef. Net soos in Van Heerden se ander romans word hierdie momente in Die wêreld van Charlie Oeng vermeng met feitelike gegewens van die soort wat in geskiedenisboeke opgeteken word. In hierdie geval kombineer hy byvoorbeeld historiese feite in verband met die Chinese gemeenskap in Amsterdam, die film The world of Suzie Wong wat in 1960 vrygestel is en die politieke realiteite van die jare sestig in Suid-Afrika met die fiktiewe gebeure in sy roman.

Wat nuut is in Van Heerden se oeuvre is Die wêreld van Charlie Oeng se fokus op die Oosterling en die impak wat probleme rondom die voorstelling, stereotipering en appropriasie van die kulturele ander het op die skryf van ’n roman. Besonder vindingryk is ook die strukturering van die roman rondom die 36 krygstaktieke wat beeld word van die mens se strategieë in sy omgang met ander mense én van die skrywer se taktieke in die verhouding met sy leser. Nuut is ook die Zen-inslag waarmee die lewe en die skryfproses ten slotte bejeën word (so vlugtig en irreël as die efemere droom van ’n skoenlapper). Dit alles werk mee om aan die roman ’n digte tekstuur te gee, amper soos die borduurwerk op ’n ryklik-versierde Chinese jas of mantel (soos die een wat Mavis Latsky vir Charlie gemaak het om by sy vuurwerkvertoning op die plaas te dra). ’n Groot aantal uiteenlopende gebeure, ruimtes, tye en karakters word ten slotte tot eenheid gebring in die borduurwerk van hierdie roman waarin rykheid van tekstuur en vermenigvuldiging van besonderhede, eerder as gestrooptheid, die rigtinggewende beginsel is.

Wanneer Tian in sy latere lewe nadink oor hoe hy as seun sy ma en pa se gesprekke afgeluister het, skryf hy: “Vir my is lees tot vandag toe nog so ’n afluisterproses. Wanneer ’n goeie manuskrip in my hande beland en ek my daarin begin verdiep – bygesê, wanneer dit ’n skrywer is wat haar storie ken – kry ek daardie ou opwinding van stadig nadersluip terwyl my ouers dink ek slaap, van afluister en stadig begin verstaan, asof iets nuuts vir my oopgaan” (92–3). Aan die einde van die roman het die leser in ’n groot mate dieselfde ervaring: Van Heerden bou in hierdie roman met ’n uitnemende verbeeldingskrag, kennis en vernuf ’n wêreld wat vir jou nuwe perspektiewe op ou vraagstukke open. Die wêreld van Charlie Oeng is ’n waardige toevoeging tot ’n gedugte oeuvre.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Wilna de Klerk

    Die verhaal was boeiend en hoewel baie lank met onverwagte draaie kan ek enige iemand aanmoedig om Die Wêreld van Charlie Oeng te lees!

    • Uitstekende boek van 'n meesterskrywer en storieverteller. Dalk een van sy beste nog, wat my betref! Dit is 'n moet op my rak. Baie, baie dankie weer eens aan die skrywer, dit is 'n merkwaardige boek wat ek nie kon neersit nie; maar ook nie wou klaarmaak nie ...

  • Ek gaan vandag die laaste hoofstuk van hierdie roman aandurf - as'tware my 'lendene omgord'. Dit was verrykend om by Tian, die mense in sy skrywe, en ou idees wat op 'n nuwe manier aangebied word, betrokke te wees! Kry die boek, lees dit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top