Tydens die Etienne van Heerden Veldsoirée van 2024 het Etienne uit sy roman Gebeente voorgelees. LitNet deel graag sy voorlesing in die oploop na die Veldsoirée van 2025, wat van 25 tot 27 Julie plaasvind.
Die onderstaande teksgedeelte uit Gebeente word met die vergunning van NB Uitgewers geplaas.
*
Agter Altydoopvygie se huisie Opkyk, in die teenoorgestelde rigting, daaikant toe, lê die Oog. Jy moet hier af, weg van die dorp af, en deur die leegte en weer op en as jy bo-op daai koppie staan, kan jy omtrent skrik vir dáárdie kontrepsie. Hy lê daar, spierwit en blink. ’n Reuse-oogbol. Op hierdie plat, vaal vlakte ’n merkwaardige en onverwagte ding.
Hy was nie altyd daar nie, maar is daar kom neersit baie jare gelede, en vanuit hom word aandagtig opgekyk na die Melkweg, wat in hierdie storie van ons op ’n dag gesteel is toe haar seun Jisses al oor die dertig jaar oud was.
Altydoopvygie se huisie, gebou op die Sterrewag se grond, was eens ’n skaapwagtershut, sommer eintlik net ’n hok van klip. Gepakte klip, nie eens dagha om te help nie. ’n Skuiling vir die skaapwagter teen die ergste wind en ryp, uit die dae lank voor jakkalsdraad die veld opgedeel het.
Dit was die dae van die wit mense se eerste heugenis, maar lank nadat die Eerste Mense, die jagters wat hier gepronk het, deur die Boere uitgeskiet is soos kleinwild. Dit was die Tyd van die Hardvogtigheid, sê die mense. In ’n kerk in ’n groot stad ver anderkant hierdie vlaktes, ’n stad wat ook maar in die middel van ’n groot stuk veld staan, sy naam is Bloemfontein, daar lê glo ’n kerkregister en daarin is aangeteken dat ’n diaken van daardie gemeente gelukgewens word omdat hy die vorige naweek drie Boesmans doodgeskiet het. Dis dieselfde kerk se sinode wat in daardie jare ’n sinodebesluit geneem het dat die aarde voortaan nie meer om die son sal draai nie en dis daardie kerk wat soos ’n Krismiskoek hier kom bou is met klip uit hierdie aarde, hier in Gebeente. Daar staan hy nou nog as sieraad van ’n bitter en wanstaltige liefde.
Mens moet nooit dink dat hierdie dinge uitgeboer is nie. Jy kan jouself verkwalik as jy vlak kyk; as jy vrede goedkoop wil maak, as liefde vir die medemens vir jou kleingeld is wat jy uit ’n twaksakkie losknoop, by die een of ander winkel gekoop, a nee a.
So, Opkyk die hut kom uit die tyd toe troppe merino’s nog deurgejaag is, tydsaam en wei-wei, na die jongste reënveld, altyd aan die verskuif, oor ’n vlakte waar die einder voor jou bly wyk. Hier, van klip gebou en afgekalk, was die skaapwagter se lêplek. Dit ruik na braaivleis en skaapvet, en dis net ’n entjie van die sterre. Jy hoef skaars die hand uit te steek, dan brand jy jou vingers.
Die hut is uitgebou baie lank ná die Hollandse span vanuit verre Utrecht, Nederland – daardie Eerste Ekspedisie na die Sterre – hier kom nesskop het. Op soek na ’n teken, het hulle hul teleskoop van die muilkar se rug gelaai en hom in ’n opkykposisie staangemaak, op pilare wat hulle met diep fondamente moes vasbou. Die slim manne van die Utrechtse Observatorium het die plek Opkyk genoem. Want dis wat jy hier doen: Jy lê snags hier op jou rug en kyk op. Tot die dag toe die teleskoop gebars en hulle die pakmuile moes gaan soek so ver as StefaansOndermaans se plaas, hulle’t so geskrik. Die sterrekundiges ook, want die bars van die teleskoop het net een ding beteken: Hierdie plek, hierdie klipperige vlakte, is onverskillig oor die wette van matematiese presisie.
En nou is Opkyk Altydoopvygie Losper se blyplek. Die pilare en opslaanhut van die Hollanders bestaan nie meer nie; wind en weer en wegdraers het dit so besôre. ’n Ekstra kamer het later bygekom, ’n buiteoond vir brood, ’n herd, ’n kooi en ’n tafel met twee stoele. Bokant die huisie skitter die Melkweg en agter gee garing- en kokerbome skuilte teen die wind en pisplek vir haar honde, die vyf wat sy aanhou as beskerming teen die jakkalse van die grootpad. Dis die drosters wat hier ver bykom om by die Wiggelaars of in die dorp by die skut of die dieselgarage of die taaierplek werk te gaan soek. Of dis boormanne wie se boor in klip vasslaan en hulle’t nou hoop nodig. Ook spanne skaapskeerders wat op hulle baaisiekels met die pap taaiers vir die poeierstof deurry na ’n volgende plaas.
Sy’t nie lus vir deurbringers wat mes dra en geen skaduwee gooi nie. Maar daar was een uitsondering, in die tyd toe sy nog by haar ouers gebly het. Dit was die tyd toe die kleinkomeet op die miershoop geval en die nes uitgevonk het. Die man wat gesê het hy’t geen besit nie, net die bondeltjie goed, die kierie, die boksie Lion Matches en die maer kolliehond-baster-Canis africanis wat op sy hakke draf. “Ek is ’n kind van die Melkweg. Dis my kaart en my transport.”
Hy’s egter gou vort, hierdie man, vir húlle die kakprater, vir háár die verskietende ster, hierdie onverwagsheid wat hulle Dirk Ligter die Soveelste genoem het. Ander het hom Verbygaande geroep, en nog ander Dirk Ligtersoon. Die man wat haar geroer het daardie slag toe sy reën op haar voel val en die son haar so inskyn dat sy ’n loot begin uitstoot.
Dis ten minste wat bespiegel is, want later, hier na die einde van hierdie storie van ons, sal ánder klokke beier en dan sal jy uitvind watter vader váder was. Luister maar mooi, knoop dit in die oor en wees, nes hierdie vlaktes, aandagtig.
Maar hierdie een, hy was Verbygaande, sy herkoms het hom na skaapwol laat ruik, na droë bloed en vaagweg die geur van ’n oopgebreekte miershoop. Na zol en bietou. Dit was ’n dronkerige konkoksie, dié reuke wat die deurbringer aangehang het, hy met die ver kyk in die oë en die tand van ’n luiperd wat aan ’n riempie van sy nek hang.
Hy was Altydoopvygie se éintlike liefde, ja. ’n Rolbos, kan jy maar sê. Hy was vol stories en kwinkslae; jy kon skote hoor klap en vroue hoor sug en jy’t geleer van treinspring en tarentaalstrikke en hoe jy ’n pendoring uit die voet suig of skaap by volmaan slag want dan’s die murgbeen vol.
Die son was oor sy blaaie en die Oog het meer as ooit getjank. Wanneer daardie groot teleskoop op die bult so ’n ent weg van haar huisie draai om die grille van die heelal te volg, huil sy ratte. Ratte met ’n huilgeluid meer angswekkend as die roep van ’n pou; ’n teleskoop met ’n lens soos die gelaat van ’n plaasdam.
Daar het Altydoopvygie kort ná Jisses se geboorte jare gelede werk gekry as skoonmaker. Dit was lank ná die draai van die maan, daardie één keer dat hy sy agterste gesig glo aan die Professor van Utrecht gewys het, en hom ’n insig só tot barstens toe vol gegee het dat sy projek uitmekaargebars het, soos net die heel oudste inwoners van OuGebeente by hul voormense gehoor het. Maar later dáároor. Sy kry die werk, want sy kan versigtig werk, sien. Sy’s aandagtig vir die instrumentpanele en die lense, vir die rekords en die tabelle, en deesdae vir die laptops en die Apple-fone en die oorfoontjies. Sy kan ’n volstruisveer liggies trek oor glas en geheimenisse sonder om te steur. Sag van voet en fyn van siel; almal in die Wiggelary se liefling. Binne-in die groot koepel, waar sy versigtig met die verestoffer en die ligte, dun lappies van skaapwol uit die distrik werk, of saggiesies vee met die moerbeiboom-sywurms se gesponne sy, heers ’n groot stilte. “Hierdie is ’n katedraal,” is op haar eerste werksdag aan haar verduidelik. “Hier luister jy na die uitspansel. Mense dink ons kyk net. Maar ons luister ook. Ons praat min, want ons, aardse wesens, is stomgeslaan. Dis jou werksomstandighede. Jou vakbond is die heelal. Hier is jou taak: Vat die verestoffer en veeg so liggies oor als wat jy sien, heeldag en aldag. Gebruik die moerbeiboomlappies vir als wat glas is. En bring koffie om elf en drie vir Professor Emeritus.”
Hier’s baie stof. Maanskilfers sif af. Versigtig en suutjies. Jy’s net ’n asempie.
Só’t sy haar werk verstaan, hier waar die mense sterre tel en name vir hulle sit en uitdink.
Wanneer daardie lens huil, weet sy dis omdat hy die skaamteloosheid van God inkyk.
God se spandabelrigheid. Dis mos vir almal om te sien. Kyk maar daai sterre.
*
Dis wat sy nou dink terwyl sy haar regmaak om die kind by Frau Kwaai uit te kry vir die Eerste Oorkyk. Dis vir haar ’n ongemaklikheid, die lang uitstel, die kind kruip al en hy was nog by geen kliniek nie.
En dis oor die vreemde ding wat die vorige dag gebeur het, toe die seuntjie weer net aan ’t kruip gegaan het dat sy besluit hy moet nou na Frau Kwaai. Dit kom al ’n ruk aan. Hy sal nog so in die huisie om haar voete wees op ’n naweeksdag en dan skielik, deur die bedrywigheid van huissake, kom sy agter, die asempie is weg.
“Jisses!”
Selfs die honde, nou al óm haar, is deurmekaar. G’n reuk los die kind agter hom as hy so wegkruip nie. Die honde kry sy spoor nie gevat nie. Neuse teen die werf hol hulle draaie.
“Jisses!” Sy weet al dis verniet, dié geroepery. Maar dit help haar ontslae raak van die opgeboude frustrasie van kind alleen grootmaak, dan nog so ’n liewe maar onverstaanbare kind.
“Jisses!”
Sulke tye is daar egter geen ander raad as om maar te gaan soek nie. En sy kry hom wel altyd, hoogs tevrede, besig met die torretjies of ’n klein skilpadjie wat hy raakgekruip het. Of ’n ander skepseltjie by wie hy sy wang teen die grond druk en begin pruil vir die gediertetjie met die voelhorinkies of vlerkies of donkerrooi, krom angel. Wang teen die aarde suutjies daar by die oorkruipertjie, die honderdpootjie of die miskruier; die seuntjie het so ’n oog vir die onderste diertjies, het hy nie.
Ja-nee, ontvange en gebore juis in die tyd toe Statistiek SA almal kom tel het tydens die Groot Sensus. Nou kruip hy – omstrede vaderskap en al – op die werf rond met ’n ou varksening in die kies. Die dummies daar by die Chinese winkel is vir Altydoopvygie te duur. Jisses piepie tjiertjies in die stof soos hy kruip, want doeke is te moeilik sonder kraan. Hier in die Sterreveld is geen water nie. Dit moet hiernatoe karwei word.
Toe, toe kom die dag toe hy anderste was, behóórlik anderste. Toe hy met ’n doel kruip. Sommer dwarsdeur en met ’n gekraak en ’n gestoei, jy kan dit nie glo nie, daai seuntjie beur deur die doringbos, ’n halfdroë halfmanshoë klos pendorings en blare, so dig nie eens die mossies wil daar klossienes maak nie, daardeur beur hy asof hy verlang na straf en pyn.
En toe hy bebloed anderkant uitkom, toe vat sy hare vlam. Dis die pyn wat hom so warm gemaak het, het sy gedag. Sy’t haar gehaas en water gaan skep en oor sy kop gegooi. Die honde was skoon oorstuurs en het tjankend wye draaie gehol al om die huis asof rowers toegeslaan het. Altydoopvygie was aan ’t skrou, maar natuurlik, sy bly buite hoorafstand en buite sig van die ander mense en sy’t dit verkies om so wég te lewe, maar nou hierdie kind wat pal aan die brand slaan. God se bestiering, wie kan haar tog help, hoe word mens nie getoets nie, nè?
Sy’t klein Jisses gegryp en onthou wat sy die vorige aand nog gedink het: Dis lankal tyd vir die Eerste Oorkyk van die kind. Dis al óór die tyd. En nou met die vlamkop dag sy – nou het my nalate my ingehaal.
Nou was daar net een raad: Frau Kwaai. Die een wat Altydoopvygie altyd vermy, want sy vra so ín. Altydoopvygie het Jisses se voorkop gevoel maar die smeul was weg. Sy’t hom op die heup gegooi en aangestryk dorp toe, na die bopunt van die kweperboomlaning, daar waar die griepwind se lem blink.
*
As jy hier loop, loop jy vlugtig. Vinnig deur die dorp, seuntjie op die heup. Jy skop stof in die skinderbekke se oë. Dis die leeglêers wat so rondstaan of in die skaduwees onder die bome soos ou honde hul babelas lê en uitrus. Of dis die mense wat iewers ’n werkie het en na buite deur ’n venster kyk of by ’n oop winkeldeur staan of dalk nou en dan ’n bakkie wat verbyry met mans wat agterop sit en na jou kyk asof jy ryp koring op die land is. Deesdae het die manne ’n nuwe ding: Hulle fluit so in die verbyry na jou. Jy kom nie ongedeerd by jou bestemming aan nie; jy dra die gril nes ’n rok om jou lyf. Vir ’n vrou is die lewe slagyster.
Lees ook:
Gebeente deur Etienne van Heerden: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

