Die weerligvoël deur Jaco Jacobs: ’n resensie

  • 0

Boekomslag: https://www.panmacmillan.co.za/authors/jaco-jacobs/die-weerligvoel/9781779991447

Die weerligvoël
Jaco Jacobs
Pan Macmillan South Africa
ISBN: 9781779991447

........
Wanneer Timo aan die begin van Jaco Jacobs se nuwe jeugboek, Die weerligvoël, wonder hoekom Khaia hom en sy oom Stormeiland toe laat kom het, sinspeel Khaia op sy spesiale talent wanneer sy sê dat hy met “twee tonge gebore is”. As daar in aanmerking geneem word hoeveel uiteenlopende stories die afgelope 25 jaar uit Jacobs se pen verskyn het, wonder ek nou met hoeveel tonge hy gebore is. In Die weerligvoël verwys Khaia na die feit dat Timo met diere kan kommunikeer. Jacobs se tonge praat met baie verskillende gehore en lesers in ’n verskeidenheid formate en genres.
........

Wanneer Timo aan die begin van Jaco Jacobs se nuwe jeugboek, Die weerligvoël, wonder hoekom Khaia hom en sy oom Stormeiland toe laat kom het, sinspeel Khaia op sy spesiale talent wanneer sy sê dat hy met “twee tonge gebore is”. As daar in aanmerking geneem word hoeveel uiteenlopende stories die afgelope 25 jaar uit Jacobs se pen verskyn het, wonder ek nou met hoeveel tonge hy gebore is. In Die weerligvoël verwys Khaia na die feit dat Timo met diere kan kommunikeer. Jacobs se tonge praat met baie verskillende gehore en lesers in ’n verskeidenheid formate en genres. Sy amper 300 titels sluit in prenteboeke, kinderfiksie, jeugfiksie, raaisel- en speletjiesboeke, grapboeke, feiteboeke, rympie- en verseboeke, ’n beginnerleesreeks en fiksiereekse vir verskillende ouderdomme.

Verder is Jacobs ook ’n baie produktiewe vertaler en het hy al meer as 340 boeke in Afrikaans vertaal. Van sy eie boeke is al in Nederlands, Portugees, Spaans, Italiaans, Sloweens en Mandaryn vertaal. Die tonge-metafoor kan dus ook letterlik, met betrekking tot tale, toegepas word.

Maar terug na Timo se twee tonge. Timo kan van kleins af met diere praat. Nie bloot geluide vertolk nie, maar kommunikeer. Aan die begin van die verhaal woon Timo saam met sy oom Adam in die opsigtershuisie van ’n skrootwerf, en leer hy sy troetelrot Lucky om op ’n driewiel, wat hy vir hom gemaak het, te ry. Wanneer Timo en Lucky se toertjie heel toevallig in die pers aandag trek, verander hulle lewens vir altyd. Die woedende knaagdierhater en eienaar van die skrootwerf dank Timo se oom af en hulle is hulle blyplek kwyt. Die skatryk en wêreldbekende omgewingsaktivis Khaia Kunene het egter ook die koerant gelees, daag geïnteresseerd in Timo se spesiale talent by die skrootwerf op en Timo, en Jacobs se lesers, se avontuur begin.

By die skrootwerf was Timo se gunstelingboek Die geheim van die oerwoud. Ongelukkig was dit ’n ou verslete kopie waarvan die laaste lotjie bladsye uitgeskeur is. Hy moes dus elke keer dat hy die boek lees, sy eie slot uitdink. Timo se gunstelingboek is egter nie deur Jaco Jacobs geskryf nie. Jacobs is nooit voorspelbaar nie. Van die voorblad en agterplat kan lesers slegs aflei dat Timo se opdrag of taak op Stormeiland verband hou met ’n reuse- en skaars voël. Jacobs verklap verder nooit te veel nie en hou sy lesers aan die raai. Wanneer Kenzi en Timo in die boom sit, ignoreer Kenzi Timo se vrae waarop lesers ook graag antwoorde sou wou hê, en spanning word ongeforseerd opgebou. Sy maak hom stil en verduidelik: “As hy ons hoor, gaan hy nie uitkom nie.” En breek hierna haar sin af: “Hy’s moeilik vandat ...” waarmee Jacobs seker maak dat niemand die boek op hierdie stadium sal toemaak nie.

Slim leidrade word ook in die verbygaan, nog voor spanningsvolle aksietonele, geplant vir wakker lesers om hulle eie speurwerk te doen. “Khaia sê jy is soos Herman.” Wanneer Timo dan oor Herman uitvra, word sy vraag geïgnoreer. Jacobs voer sy lesers nie met ’n lepel nie. Hulle blaai om en lees agter leidrade en lekker aan. Dit voel selfs of hy die karaktername spesiaal uitgedink het om lekker te lees. Die meerderheid van die name het twee lettergrepe en eindig op oop klanke, met ander woorde vokale en y, soos Timo, Kenzi, Pundu, Vula, Khaia, Nina en Lucky.

Iain Rennie se gedetailleerde illustrasies gee boonop lewe aan Jacobs se karakters. Sy karikatuuragtige lyntekeninge is ekspressief, geanimeerd en skakering en tekstuur word slim deur arsering geskep. Daar is iets enigmaties aan sy grootoogkarakters, byna asof hulle subtiel leidrade wil gee, of plek-plek wil waarsku.

Tot Timo die weerligvoël ontmoet, voel alles soos ’n dalk effe vergesogte, maar binne die raamwerk van die teikengroep, realistiese avontuurverhaal. En ná die ontmoeting gaan lesers plek-plek saam met Timo, Lucky, Kenzi en Pundu op fantasie-avonture. Teen hierdie tyd het lesers egter ingekoop en vervaag die lyne tussen realisme en fantasie. Pundu is ’n mitiese of towervoël, deur volksoorlewerings geïnspireer. Timo het ’n bonatuurlike talent. Moet egter nie towerspreuke of paljas verwag nie. Dit gaan uiteindelik oor ’n baie lekker storie. Daar word naels gekou, kop gekrap, duime vasgehou en lekkergekry.

Jaco Jacobs voel sterk daaroor dat kinder- en jeugboeke nie moraliserend moet wees en geforseerde lessies moet oordra nie. Die storielyn van Die weerligvoël plaas wel onwillekeurig die soeklig op stropery en die onwettige aanhouding van wilde diere. Daar is ook niks mities of fabelagtig aan die voorbeelde van spesies wat in aanhouding uitgesterf het, wat deur Khaia aangehaal word nie. Die kriminaliteit hier rondom word duidelik en realisties in die storielyn uitgebeeld. Die erns hiervan oorheers gelukkig nooit die storie nie. Lucky, die troetelrot, speel ’n barshou-rol. En wie sou kon dink dat “HOUOPHOUOPHOUOPHOUOPHOUOPHOUOP”-gedagtes so effektief sou kon wees.

Jaco Jacobs noem graag dat hy speel wanneer hy skryf en met Die weerligvoël is dit duidelik dat hy baie lekker gespeel het. Hierdie boek waarborg eerstens ontsnapping en ’n lekkerleeservaring vir nege- tot dertienjarige seuns én meisies. Enige iets anders wat daaruit geoes kan word, is ’n bonus. Jacobs doen wat hy baie goed doen. Hy maak lees lekker.

........
Jaco Jacobs noem graag dat hy speel wanneer hy skryf en met Die weerligvoël is dit duidelik dat hy baie lekker gespeel het. Hierdie boek waarborg eerstens ontsnapping en ’n lekkerleeservaring vir nege- tot dertienjarige seuns én meisies. Enige iets anders wat daaruit geoes kan word, is ’n bonus. Jacobs doen wat hy baie goed doen. Hy maak lees lekker.
.........

Mag hierdie skrywer nooit sy tong ... of tonge verloor nie.

Lees ook:

Goue lint, my storie begint: fantasie en verbeelding in kinderliteratuur

Kinder- en jeugliteratuurskryfskool 2026 by die Breytenbach Galery: ’n onderhoud

’n Resensie van Huisgenoot: Het jy geweet?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top