
Illustrasie van draak en seuntjieridder: Richard Duijnstee op Pixabay
- Anke Theron skryf ’n gereelde kinderboekrubriek vir LitNet.
.......
Daarom: Laat die kinders lees. En lees vír hulle, want ons almal het stories nodig. Ons breine het stories nodig. Hoeveel armer sou ons nie wees sonder ons verbeelding nie?
........
Eendag lank, lank gelede was daar ’n vreesaanjaende, vuurspuwende draak ...
Fantasie was nog altyd ’n interessante spel met die verbeelding as dit kom by kinderliteratuur. Sommige voel kinderliteratuur is die gepaste plek vir feetjies, drake, diere wat kan praat, tydreise, verafgeleë paradyse waar alles altyd rooskleurig is. Totdat die booswig opdaag of iets vreeslik verkeerd loop. Ander beskou weer fantasie as iets waarteen kinders beskerm behoort te word. Spoke, towenaars, hekse, grusame gebeure, monsters wat kinders kom steel of selfs opeet as hulle nie gehoorsaam is nie, of nog erger, ’n stuk steenkool in jou kerskous kom los. Hierdie bipolariteit rondom fantasie en of dit goed of kwaad doen sal in hierdie rubriek bespreek word. Die wisselwerking tussen hierdie twee konsepte sal beskou word in verband met hoe dit die leeservaring van kinderliteratuur beïnvloed.
Heel eerste is dit belangrik om te verstaan wat presies bedoel word met die terme fantasie en verbeelding in verband met kinderliteratuur. Die volgende sal as breë werkende definisies in hierdie artikel gebruik word.
Fantasie verwys na stories en konsepte wat die grense van die werklikheid oorskry; magiese wêrelde, diere wat kan praat, bonatuurlike elemente soos towerkragte, spoke, weerwolwe en dies meer. Dit kan as die teks of onderwerp wat verbeel word, beskou word.
Verbeelding is die innerlike proses by die kind. Die verbeelding is dus die kognitiewe en psigiese aspek. In hierdie artikel wys dit op hoe ’n teks in ’n kind se kop verbeel word tot ’n wêreld.
Die onderskeid hierbo word getref vir duidelikheid. Sodat daar duidelik onderskei kan word tussen wat buite die kind se beheer gebeur en ’n invloed het, en die kind se innerlike reaksies. Eenvoudig gestel, die boek teenoor die leser/voorleser en waaroor die leser beheer het en waaroor nie.
........
Fantasie is daarom nie net bloot ontvlugting nie, maar ’n ander manier om oor die werklikheid te praat en te besin. Veral vir kinders is dit ’n manier om die werklikheid te verstaan en te begryp. En ja, dit is tot ’n mate waar vir enige storie vir volwassenes en kinders. ’n Storie per definisie vra verbeelding van sy leser, om in iemand anders se skoene te klim en ’n wêreld te verbeel wat nie jou eie is nie.
........
Fantasie is daarom nie net bloot ontvlugting nie, maar ’n ander manier om oor die werklikheid te praat en te besin. Veral vir kinders is dit ’n manier om die werklikheid te verstaan en te begryp. En ja, dit is tot ’n mate waar vir enige storie vir volwassenes en kinders. ’n Storie per definisie vra verbeelding van sy leser, om in iemand anders se skoene te klim en ’n wêreld te verbeel wat nie jou eie is nie.
Hoe werk fantasie en verbeelding?
Fantasie en verbeelding speel ’n sentrale teoretiese rol binne die studie van kinderliteratuur, aangesien dit nie slegs as estetiese of vermaakelemente funksioneer nie. Dit funksioneer ook as noodsaaklike ontwikkelingsgereedskap vir die kind se brein. Volgens Kadiyan en Dagar (2023) fasiliteer fantasie in kinderliteratuur kognitiewe, emosionele en morele ontwikkeling deurdat dit kinders in staat stel om abstrakte denke te vorm. Dit help ook om probleemoplossingsvaardighede aan te leer en komplekse emosies binne ’n veilige ruimte te verwerk. Fantasiewêrelde skep simboliese ruimtes waarin kinders hul eie ervarings kan projekteer, uitspeel en herinterpreteer. Hierdie benadering word goed geïllustreer aan die hand van verskeie tradisionele of kanonieke kinderliteratuurtekste.
Alice’s adventures in Wonderland deur Lewis Carroll en Peter Pan deur James M Barrie speel af waar ongewone logika en magiese gebeure kritiese denke omvergooi in die soeke na identiteit en ’n psigiese self (Kadiyan en Dagar 2023). Dit is slegs twee voorbeelde waar karakters kan vlieg, seerowers oorwin word en sampioene magiese kragte het, in stede van dodelike gevolge.
Mahmood (2020) brei hierdie perspektief uit deur te beweer dat fantasie as literêre genre sonder twyfel verbind is aan die psigologiese aard van die kind, aangesien kinders van nature geneig is tot verbeelding- en rolspelspeletjies. Fantasie word hier beskryf as ’n literêre vorm wat kinders help om bo die beperkinge van die wetenskaplike werklikheid uit te styg en alternatiewe moontlikhede te verken. Anders as blote verbeelding, wat dikwels aan werklike ervarings gekoppel bly, funksioneer fantasie as ’n vorm van “sekondêre wêreldskepping” waarin kinders aktief betekenis konstrueer en morele teenstellings soos goed en kwaad kan ondersoek (Mahmood 2020). Hierdie proses bevestig die idee dat fantasie nie ’n ontvlugting van werklikheid is nie, maar ’n manier om die werklike op ’n dieper vlak te verstaan. Mahmood (2020) bring die konsepte van verbeelding en fantasie bymekaar. Dus: verbeelding – om te dink dat alternatiewe gebeure werklik gebeur – wat dan hande vat met fantasie – om te dink dit wat nie logies moontlik is nie, gebeur.
Die onbewuste
Ons kan ook ’n psigoanalitiese struktuur gebruik om die werking van die verbeelding en fantasie in terme van die onbewuste van die kind te verstaan.
........
Ons kan ook ’n psigoanalitiese struktuur gebruik om die werking van die verbeelding en fantasie in terme van die onbewuste van die kind te verstaan.
........
Uit die strukturalistiese teorie tree Jacques Lacan se drieledige teorie na vore. Hy veronderstel dat die onbewuste uit die verbeelde, simboliese en reële ordes bestaan en dat elk spesifieke karaktereienskappe en kenmerke het.
Kortliks werk sy strukturalisties-linguistiese georiënteerde teorie as volg: Die verbeelde orde is die ruimte waar die verbeelding funksioneer, voor taal en simboliese betekenis. Die simboliese orde is waar taal funksioneer en waar daar betekenis gegee word aan wat aanvanklik in die Verbeelde Orde ontstaan het. Laastens is die reële orde die ruimte waar geloof en al die dinge wat die menslike verstand nie kan begryp nie, lê. Dit is waar die onverstaanbare woon. Kinders funksioneer tussen die verbeelde en die simboliese ruimtes.
Wanneer kinders rondom 12 maande begin praat, begin hulle tussen die verbeelde en simboliese ordes beweeg. Kinders funksioneer hoofsaaklik in die verbeelde orde tot en met hulle die vaardigheid aanleer om te praat, lees en skryf. Hierdie aanleerproses gebeur oor ’n aantal jare en daarom het kinders die unieke vermoë om tussen hierdie twee ruimtes te beweeg. Dit gebeur ook dat kinders nie altyd die taal of simbole het vir wat hulle in die verbeelde orde of ruimte ervaar nie. Dit het soms unieke woorde en betekenisse tot gevolg.
’n Verhaal wat hierdie wisselwerking goed demonstreer, is Peter Pan and Wendy (Barrie 1911). Die karakter van Peter Pan is ’n figuur wat die tussengang van die verbeelde en simboliese order vergestalt. Hy kan vlieg, hy kan reëls breek wat ons as die lesers nie kan nie. Onthou hy word nooit groot nie en bly in die oorspronklike teks vir altyd ’n kind. Wat hom selfs nog interessanter maak, is die ervarings wat Peter Pan vir volwasselesers bied. Volwassenes sal die verhaal vir kinders voorlees, of in ’n hervertelling, film of TV-reeks herken. Wat die unieke geleentheid ook vir volwassenes bied om die verbeelde orde te besoek.
Verbeelding en fantasie werk dus saam om baie meer in die psige van ’n kind te verrig as blote vermaak en ontvlugting. Om die waarheid te sê, wat moontlik as ontvlugting voorkom, is presies wat van kinders aktiewe lesers maak en oneindige geleenthede vir hulle bied.
Aktiewe lesers
Alhoewel boeke wonderlike vermaak bied, veral as die storie aksiebelaaid en/of opwindend is, is die verbeelding van die leser aktief betrokke. Die jongleser word nie net passief “vermaak” nie, maar bou aktief betekenis deur hul verbeelding. Fantasie en verbeelding werk saam om aktiewe lesers te help skep, deurdat die kind besig is om die storie wat hy of sy lees, te verbeel. Daar word verbintenisse gebou tussen woorde en simbole en wat dit vergestalt in die kind se verbeelding. Dit gee aanleiding tot die kind as leser of aanhoorder, wat dan ook ’n medeskrywer in hul eie kop en verbeelding word.
Dit is juis waarom verskeie kenners dit eens is dat vrae oor die storie deel moet wees van die voorlees- en leeservaring. Hierdie jonglesers vul die gapings in, besluit watter karakter is betroubaar, asook wie is die held en wie is die booswig. Hulle leer ook deur hierdie verhale hoe om stereotipes of argetipes uit te ken. Byvoorbeeld, ’n karakter soos Repelsteeltjie in die klassieke sprokie belowe om die prinses/meisie te help op die voorwaarde dat sy haar eersgeborene vir hom sal gee. Kinders kan moontlik leer deur hierdie storie om sulke onderhandelings uit te ken en sal dit dan later self gebruik. “As ek my tandeborsel en my speelgoed wegpak, kan ek twee slaaptydstories kry?” is ’n onderhandeling wat in sommige huise gereeld gebruik word. Tog sinspeel hierdie slim woordgebruik op of die karakter goed of sleg is. Dis een ding om jou tande te borsel en speelgoed weg te pak sodat jy kan kry wat jy wil hê, maar ’n hele ander saak om ’n kind weg te gee. Die kognitiewe saadjie lê in watter vrae daar gevra word aan die kind terwyl hierdie storie gelees word. Is dit reg van Repelsteeltjie om te onderhandel oor ’n babatjie? Ons as volwassenes weet dit is ’n mooi verbloeming van mensehandel, maar wat verstaan ’n kind hiervan? Is dit reg om te dink dat as jy onderhandel vir iets, jy altyd sal kry wat jy wil hê? Al hierdie hoër vlak denke het ’n dun goue draadjie in ’n storie vir kinders.
Ons kan ook dink aan Hansie en Grietjie. Dink bietjie aan die Heks se woorde om die kinders in die lekkergoedhuisie in te lok ... Is dit nie die eerste kennismaking vir ’n kind met die konsep van “as iets te goed is om waar te wees, is dit gewoonlik nie waar nie”? Dit is ook ’n goeie inleiding om vir kinders te leer dat wanneer iemand vir jou lekkergoed aanbied en jy hulle nie ken nie, jy eerder moet weghardloop. In hierdie geval word kwadebedoelings met suiker versier. As volwassenes kan ons dink aan al daardie lastige aanlyn advertensies en gemors-e-posse wat vir jou kom wysmaak dat jy die een of ander prys gewen het. Jy moet net van jou persoonlike of bankbesonderhede verskaf. Klink dit bekend? Wel, die verbeelding waarmee jy die verhaal van Hansie en Grietjie aan jou kind kan voorlees, berei hom of haar eintlik voor op toekomstige ervarings.
Fantastiese wêrelde nooi kinders en jonglesers (volwassenes ook) om te interpreteer en te onderhandel met die ambivalensie tussen karakters, asook onbekende wêrelde. Daar is dus ’n wisselwerking tussen die fantasie en elke leser se verbeelding.
Praktiese implikasies
Dit is alles goed en wel om oor hierdie abstrakte konsepte en wisselwerking van fantasie en verbeelding te praat, maar wat hou dit prakties vir jonglesers, ouers, onderwysers en kinders in?
’n Insiggewende artikel op The Urban Writers se webtuiste dui daarop dat kinders se beperkte lewenservaring beteken dat stories en fantasieryke verhale noodsaaklik is om nuwe konsepte, idees en sosiale werklikhede te verwerk en te verstaan.
Children lack the same life experiences that adults have. So, a child’s imagination is really important to allow them to adapt to what is happening around them. Children are still learning and growing, so their imagination helps them understand things they have not encountered before. Through their imagination, children can start to come up with ideas and questions about the world around them. The words and illustrations in children’s books will help children learn more about the world and develop cognitively. (The Urban Writers 2024).
Hierdie artikel raak ook ’n baie belangrike aspek aan in kinderboeke wat sedert die 19de eeu ’n bepalende aanduiding was dat ’n teks spesifiek vir kinders geskryf en bedoel is: illustrasies. Die ondersteunende rol wat illustrasies aan ’n verhaal bied, is van onskatbare waarde. Fantasieverhale en die kind se verbeelding word ondersteun deur visuele elemente in die illustrasies, wat ook karakters herkenbaar maak. Dit dien as ’n kognitiewe verwysingsraamwerk waarbinne kinders empatie kan ontwikkel, probleemoplossing kan oefen en selfs hul sin van self kan ontwikkel.
Dit is belangrik om te besef dat verbeelding – die innerlike, kognitiewe denkproses – nie bloot as ’n aangebore vermoë beskou moet word nie. Om te kan verbeel is ’n vaardigheid wat deur blootstelling aan verbeeldingryke tekste aktief gekweek en vertroetel moet word (The Urban Writers 2024).
Dit beteken daardie slaaptydstorie is eintlik nogal belangrik vir kinders om hul verbeeldings aan te wakker. Ouers en onderwysers het daarom ’n hele wêreld van boeke om te gebruik om die opvoedkundige waarde van kinderliteratuur te ontsluit.

Pan Macmillan South Africa
Hier is slegs ’n druppel in die emmer van die opsies daarbuite:
Die meisie met vlerke (2022), Hierdie is nie ’n boek nie (2023), Die boekwinkel tussen die wolke (2021), Oupa Zombie (2020), Moenie die melk vergeet nie (2020) en Net nie ’n hond nie (2023) – almal deur Jaco Jacobs.
Fanie Viljoen het ook uitstekende boeke vir kinders en tieners. Hy het ook ’n bydrae gelewer tot die Tippie-leesreeks wat ’n lekker leerlees-reeks is, gevestig deur José Palmer en Reinette Lombaard. Van sy ander titels is Lara se nare prinseshare (2025), Zombie sokker (2025), die Ouma Mollie-reeks, wat skreeusnaaks is, Ons laaste legendariese somer (2024), wat ’n uitstekende ryloopreis vir ’n jongleser sal wees. ’n Belangrike stel boeke deur Viljoen is Die dag toe die draak kom (2019), wat vir beide dogters en seuns, asook in Afrikaans en Engels beskikbaar is. Hierdie boeke help om die kwessie van mishandeling en misbruik vir kinders verstaanbaar te maak deur die wrede draak die sondebok te maak.

LAPA (Penguin Random House South Africa)
Daar is nog honderde boeke wat kinders van alle ouderdomme se verbeeldings kan aangryp. Die geheim lê daarin om die regte een by die regte leser te kry. Dit is moeilik om aktiewe lesers te kweek in hierdie eeu van tegnologie en skerms, maar nie onmoontlik nie.
Fantasie en verbeelding kweek aktiewe en kognitiewe lesers
Fantasie en verbeelding beïnvloed ’n kind se leeservaring op ’n fundamentele wyse, deurdat ’n kind se kognitiewe prosesse ontwikkel en gevorm word. Kinders leer betekenis gee aan die wêreld om hulle deur verbeeldingservaring mee te maak deur die lees of selfs voorlees van kinderliteratuur. Die belang van fantasie in verhale, beskrywings en illustrasies wat die narratief ondersteun, wakker die kind se vaardigheid van verbeelding aan. Die boek is slegs die sleutel wat die kind se verbeelding ontsluit. En in daardie skatkis van kognitiewe prosesse, probleemoplossing en betekenisgewing word die kind se algehele ontwikkeling as denkende en soms redenerende persoon oopgemaak vir ontdekking.
Fantasie funksioneer as ’n brug tussen werklikheid en moontlikheid, maar fasiliteer ook leer, interpreteer en betekenisgewing. Binne hierdie raamwerk word kinderliteratuur dus verstaan as dinamiese, opvoedkundige en kulturele gereedskap wat die kinders se denke, emosies en morele bewustheid help ontwikkel en vorm.
Daarom: Laat die kinders lees. En lees vír hulle, want ons almal het stories nodig. Ons breine het stories nodig. Hoeveel armer sou ons nie wees sonder ons verbeelding nie?
Bibliografie:
Kadiyan, AR en ID Dagar. 2023. The role of imagination and fantasy in children’s literature. Language in India, 23(10):121–135.
Mahmood, WS. 2020. Fantasy in children’s literature. Journal of Al-Lisan Humanities and Social Sciences, 59(299). https://doi.org/10.33193/JALHSS.59.2020.299 (3 Januarie 2026 geraadpleeg).
The Urban Writers. 2024. Imaginative children’s books help grow a child’s imagination. https://theurbanwriters.com/blogs/publishing/imaginative-childrens-books-grow-a-childs-imagination (3 Januarie 2026 geraadpleeg).
Lees ook:
Ons laaste legendariese somer deur Fanie Viljoen: ’n resensie
Die boekwinkel tussen die wolke deur Jaco Jacobs: ’n boekresensie


Kommentaar
"Daar is nog honderde boeke wat kinders van alle ouderdomme se verbeeldings kan aangryp. Die geheim lê daarin om die regte een by die regte leser te kry. Dit is moeilik om aktiewe lesers te kweek in hierdie eeu van tegnologie en skerms, maar nie onmoontlik nie." Inderdaad. Ironies; bemarking en verspreiding skyn nogal 'n uitdaging te wees, juis in hierdie eeu van inligtingstorting waar 'n enkele goeie boek onder die massa ander, dalk minder geskiktes, kan verdwyn. Maar, laat die kinders lees, dis waaragtig ons hoop en ons doelwit - as ouers, leerkragte, skrywers en uitgewers ook hulle deeltjie doen, nie onmoontlik nie.