
Huisgenoot: Het jy geweet?
ISBN: 9781776077632
Uitgewer: Best Books
Heuningbye kommunikeer deur te dans en deel so inligting oor waar die naaste blomme is. En … al ooit gewonder hoekom die kremetartboom as die boom van die lewe bekend staan?
Interessante feite en studiemateriaal wat al vir jare weekliks visueel in die vorm van foto’s, kort teksbrokkies, grafieke en diagramme gepubliseer word, is onlangs in boekvorm uitgegee. Elke onderwerp word op ’n dubbelblad aangebied en inligting word kleurvol oorgedra deur middel van kort paragrawe, feiteraampies, foto’s en tekeninge met byskrifte, diagramme en rooi “Het jy geweet?”-sirkels met minder bekende, baie interessante feite. Onderwerpe is in veertien afdelings gekategoriseer wat bo-aan bladsye in verskillende kleure aangedui word.
Huisgenoot: Het jy geweet? sal outomaties as ’n hulpbron vir skooltake beskou en geklassifiseer kan word. In die voorwoord word dit ook pertinent gestel dat “die infografika by onderwerpe wat in die skoolkurrikulum gedek word, aansluit”. ’n Onderwyser wat hierdie boek vinnig deurblaai, sou egter, as gevolg van die groepering van onderwerpe, nie onmiddellik saamstem nie. Graad 4-leerders sou wel bykomende inligting vir die KABV-tema, die weer, klimaat en plantegroei, in die afdeling Suid-Afrika se besonderse plantegroei vind, terwyl daar vir graad R se wilde diere-KABV-tema en graad 2 se diere-KABV-tema ekstra inligting in die afdelings Groot Vyf en Spesiale diere is. Vir inligting oor die springbok sou hulle egter na die afdeling Suid-Afrika se nasionale simbole moes blaai. Vir graad 5 NW-take is daar twee bladsye oor fossiele by Lewenswetenskappe en vir graad 6 NW-take is daar twee elektriese stroombane-bladsye by Fisiese wetenskappe ingedeel. Vir die meeste onderwerpe is daar egter nie so ’n duidelike roete tussen die vraag en die antwoord nie.
Huisgenoot: Het jy geweet? is meer as ’n bron. Onderwerpe is nie gegroepeer en in netjiese hoofstukke soos in ’n naslaanwerk of studiehulpbron ingedeel nie. Aan die ander kant is dit ook nie ’n boek wat baie lesers van voor tot agter sal deurlees nie. Dit is ’n boek om deur te blaai en te lees wat jou oog vang, of waarin jy belangstel. Die lekkerte lê, soos met baie kleurvolle publikasies soos hierdie een, onder andere in die lukraak feite wat raakgelees word: ’n Bloukraanvoël wat net so veel soos die gemiddelde huiskat, so 5 kg, weeg, en walvisse wat die grootste geraas van alle diere maak. Hulle kan mekaar 1 600 km ver hoor. ’n Leeu se brul kan maar 8 km ver gehoor word.
Ek sou Huisgenoot: Het jy geweet? veral vir kinders wat nie van fiksie hou nie, in die hand stop; daardie lotjie wat “nie van stories hou nie”. As hulle boonop oor die algemeen traag is om te lees, is hierdie boek met sy kort leesstukkies en baie infografika ideaal. In een van die rooi “Het jy geweet?”-sirkels word byvoorbeeld gewaarsku: “Kraaie onthou mense se gesigte en kan onderskei tussen mense wat vriendelik teenoor hulle was en ander wat hulle moeilikheid gegee het.” Die moontlikheid dat ’n trae leser wel genoeg leesvertroue opbou om by meer uitdagende tekste uit te kom ná blootstelling aan hierdie soort boeke, is groter as wanneer daar aangedring sou word dat die kandidaat dikker tekste lees. Die baba moet onder geen omstandighede met die leesbadwater uitgegooi word nie. Niemand is te oud vir ryklik geïllustreerde tekste nie. Die gevaar bestaan altyd dat leestraes nie-lesers word.
Huisgenoot: Het jy geweet? gaan jong lesers dalk met afdraaipaaie langs meer gee as om hulle onmiddellik na die inligting waarna aanvanklik gesoek is, te neem. En dalk, net dalk, wys dié dansie hulle waar die mooiste blomme is wat uit lees geoes kan word. Die kremetartboom kan derduisende liters water in sy stam stoor om in tye van droogte lewens te red. Nie inligting waarna ek gesoek het nie, maar nou, danksy die aanbieding daarvan, sal ek dit onthou. Net soos die goeie leidraad oor slakke … en rooibostee.

