Jannie Pretorius lees graag oor die verlede en gebruik KI om ou foto’s ’n nuwe lewe te gee. Klik op die kleurfoto om dit te vergroot en sien die video hier onder.

Hoe aangenaam om Topsy Smith, wat ongeveer 200 boeke die lig laat sien het, uiteindelik in die oë te kan kyk en sy vriendelike glimlag te kan ervaar. Hy is natuurlik veral bekend vir sy jeugboeke, in die besonder die Trompie- en Saartjie-reekse, laasgenoemde onder die skuilnaam Bettie Naudé.
Ek het my Trompie-boeke stukkend gelees en in en deur hulle geleef. Ek kan 45 jaar later steeds onthou hoe Trompie eers sy potlode noukeurig wou skerpmaak voor hy (te laat) begin leer, hoe hy effens op sy tone sou kom net voordat hy ’n teenstander planke toe stuur en hoe Blikkies grassprietjies kou as hy nie geld het vir kougom nie. Dan natuurlik ook die slim Dawie en sterk Rooies.
Verder was daar die gewilde TV-reeks (Trompie, teleurstellend, met die hoofkarakter nie soos ek hom in my geestesoog voorgestel het nie) en Anton Goosen se “Trompie en die Boksombende”.
Ek het onlangs vir my kleinseuns die omnibusse gekoop.
Dankie, Topsy, vir die raamwerk waarbinne my seunwees welig kon grootword en gedy.
Wil jy hom sien beweeg? Klik op die knoppie.

(Só lyk die oorspronklike foto.)
Bron:
Badenhorst, D. (s.d.). Topsy Smith (1914–1985). Afrikanergeskiedenis. Beskikbaar by: https://afrikanergeskiedenis.co.za/topsy-smith-1914-1985/ [Geraadpleeg op 17 November 2025].
Lees ook:
Die Lasarus-effek: Solomon Tshekisho (Sol) Plaatje (1876–1932)


