Die Lasarus-effek: ID du Plessis (1900–1981)

  • 0

Jannie Pretorius lees graag oor die verlede en gebruik KI om ou foto’s ’n nuwe lewe te gee. Klik op die kleurfoto’s om te vergroot.

“Rietfontein” van ID du Plessis was die eerste gedig wat jare gelede aan my begin kleef het. Dit is volledig opgeneem in ons Afrikaanse handboek in matriek – in 1981. Daar was vir my iets magies, dramaties en boeiend aan dié ballade:

By Rietfontein se leidam, as die reier staan en droom,
En gepluimde peerboomtakke bloeisels sprinkel in die stroom,
Word op maan-bepoeierde nagte nog  ’n sombere tafereel
Van haat en lus en liefde deur gestorwenes afgespeel.

Ek was daarom opgewonde toe ’n onderwysstudent ’n aantal jare gelede vir my sê sy gaan “Rietfontein” met ’n veelrassige groep leerders in haar Afrikaans Addisionele Taal-klas behandel. Sommige lesse wat ek moet assesseer, is maar redelik eentonig, maar hierdie een sou ’n verkwikkende en merkwaardige uitsondering wees.

Sy het begin deur Gerald Clark se toonsetting van die ballade op haar klein CD-speler vir die leerders voor te speel. Dié lieflike toonsetting is ook op YouTube:

Daarna het sy die gedig voorgelees en bespreek. Netjies, met insiggewende vrae aan die leerders. Toe sy tevrede is dat dit deeglik behandel is, deel sy ’n werkkaart uit. Leerders begin dit in stilte voltooi.

Een van hulle steek na ’n rukkie haar hand op: “Juffrou, sal jy asseblief die liedjie weer vir ons speel?”

Sy druk “play”.

Toe gebeur ’n wonderwerk in die Afrikaanse letterkunde, een wat vir ewig in my herinneringe sal voortleef: Die Afrikaans Addisionele Taal-leerders begin saggies saamsing terwyl hulle die werkkaart voltooi.

Deur my trane skryf ek op haar kritvorm: “100%”.

Daardie les kón nie beter aangebied gewees het nie.

(Só lyk die oorspronklike foto’s.)

Foto’s met goedgunstige toestemming van Morné van Rooyen, uit sy insiggewende artikel oor ID du Plessis (kyk die bronnelys).

Bronne

Du Plessis, ID. 1963. Versamelde ballades. (2de druk.) Kaapstad, Bloemfontein, Johannesburg: Nasionale Boekhandel Beperk.

Van Rooyen, M. 2018. 25 Junie 1900 | I.D. du Plessis gebore. https://morneweb.wordpress.com/2018/06/24/25-junie-1900-i-d-du-plessis-gebore (31 Oktober 2025 geraadpleeg).

Lees en kyk ook:

Die Lasarus-effek: Eugène Marais (1871–1936)

Die Lasarus-effek: CJ Langenhoven (1873–1932)

Die Lasarus-effek: Emily Hobhouse

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top