
’n Poel in die Witterivier, Bainskloof. (Voorsien deur die skrywer)
Climate change is leading to global increases in extreme events, such as drought, that threaten the persistence of freshwater biodiversity. Identification and management of drought refuges, areas that promote resistance and resilience to drought, will be critical for preserving and recovering aquatic biodiversity in the face of climate change and increasing human water use. (Walters, Clancy, Archdeacon, Yu, Rogosch en Reiger 2024)
Inleiding
Sommige plekke in die natuur bly steeds in die besoeker se geheue vasgevang lank nadat die omgewing reeds verlaat is. Natuurtonele soos ’n bergstroom, ’n skaduryke poel tussen sandsteenrotse omring met rooi Kaapse disas, of die geluid van ’n waterval wat oor ’n rotslys na benede stort, kan geïnternaliseer word en deel vorm van baie natuurliefhebbers se persoonlike lewenservarings. Sulke belewenisse omvat veel meer as blote geografiese punte op ’n topografiese kaart. Dit word gekoester as geheuebeelde van herinneringe en emosies, verweefd met vriendskap, vryheid en ontdekking tydens ’n besondere tydperk.
Vir my hou die Witterivier in Bainskloof sulke herinneringe in. Gedurende ons studentejare was die pragtige natuurlike poele tussen die Eerste en Tweede Tol langs die Bainskloofpas gunstelingplekke om in te swem en die besondere berglandskap te geniet. Hierdie besoeke was deel van ’n tydperk van jeugdige avontuur en ons as entoesiastiese bergklimmers het die rivier veral benut om vir eers die stres van studies en eksamendruk op die agtergrond te skuif. Destyds het ek nie werklik kennis geneem van die ekologiese betekenis van hierdie poele, of aan die moontlikheid dat hul voortbestaan afhanklik kon wees van prosesse en toestande wat nie onmiddellik vir ons sigbaar was nie.
Bainskloof hou egter ook ongelukkig donkerder herinneringe in. Gedurende dieselfde tydperk in die sewentigerjare het die verskriklike en onnatuurlike moord op ’n jong paartjie en hul hond by die murasie bekend as Die Spookhuis, naby Junction Pool teen die hange van die Bainskloofpas, ’n tragiese skadu oor ’n andersins manjifieke natuurlike omgewing gewerp. Die teenstelling tussen hierdie herinneringe is opvallend: ’n landskap wat onthou word vir sy terapeutiese waarde vanuit ’n vroeëre lewensfase, het ook met diepe menslike trauma geassosieerd geraak. Die rivier en sy omgewing het nie hul wesenlike fisiese karakter verander nie, maar die betekenis wat aan die landskap geheg word, het meer kompleks geword.
Hierdie skynbare teenstrydigheid bied ’n vertrekpunt om oor ons verhouding met riviere na te dink. Riviere word dikwels gewaardeer vir die voordele soos ontspanning, estetiese genot, ’n gevoel van verbondenheid en geleenthede om met die natuur in aanraking te kom. Riviere se betekenis strek egter veel verder as subjektiewe menslike ervarings, soos Walters ea (2024) in die aanhaling hierbo dit baie duidelik stel.
Riviere is dus nie bloot standhoudende of nie-standhoudende kanale met vloeiende water nie, maar lewende stelsels met belangrike ekologiese funksies en kulturele betekenisse wat voortdurend gerespekteer behoort te word.
Die doel van hierdie artikel is om kortliks te verduidelik waarom sommige rivierpoele in nie-standhoudende riviere waterhoudend is, waarom dit ekologies belangrik is en hoe die poele se waterkapasiteit gemonitor kan word. Standhoudende poele word hier operasioneel gedefinieer as rivierpoele wat water behou nadat die stroomvloei van ’n rivier opgehou het. Sommige standhoudende poele behou op ’n permanente basis water gedurende die volle droë seisoen, of selfs langer, terwyl ander tydens langdurige droogtes heeltemal opdroog.
Nie-standhoudende riviere
Klassifikasie: Die gemiddelde seisoenale vloeipatroon oor ’n periode van tyd (met ander woorde die hidrologiese regime) is die belangrikste kenmerk op grond waarvan riviere geklassifiseer word (Ollis, Ewart-Smith, Day, Job, Macfarlane, Snaddon, Sieben, Dini en Mbona 2015).
Die vloeipatrone van nie-standhoudende riviere is besonder dinamies van aard en word gekenmerk deur veral drie belangrike wisselende hidrologiese toestande of fases, naamlik stroomvloei, poelvorming en die ontstaan van droë rivierlope. Veranderinge in stroomvloei kan wissel in terme van tyd en ruimte. Verlies aan oppervlakwater ontstaan wanneer die oppervlakstroom periodiek ophou vloei. Op hierdie wyse word die oppervlakwater in hierdie riviere tot geïsoleerde poelvorming (persistent pools) ingeperk (Avenant, Seaman, Barker en Dollar 2010).
Die twee erkende primêre stroomvloeikategorieë vir riviere (Ollis ea 2015) is standhoudend (vloei meestal gereeld en voortdurend) en nie-standhoudend (vloei nie voortdurend deur die jaar nie, terwyl geïsoleerde poele kan oorbly wanneer die stroomvloei ophou). Laasgenoemde kategorie word verder verdeel in seisoenaal (water vloei vir lang periodes gedurende die reënseisoen, maar nie gedurende die res van die jaar nie), asook onderbroke of afwisselende vloei (intermittent), wat beteken dat water vloei vir ’n relatief kort periode van minder as die duur van een seisoen, met intervalle wat wissel van minder as ’n jaar tot meer as een jaar (Ollis ea 2015).
Seaman, Watson, Avenant, Joubert, King, Barker, Esterhuyse, Graham, Kemp, Le Roux, Prucha, Redelinghuys, Rossouw, Rowntree, Sokolic, Van Rensburg, Van der Waal, Van Tol en Vos (2016:359) verwys na ’n vroeëre klassifikasie van Rossouw, waarvolgens nie-standhoudende riviere in drie onderafdelings verdeel word, naamlik semi-permanent / seisoenaal: Vloei vind plaas meestal deur die loop van die jaar, met onderbrekings vir ’n paar weke of maande tydens die droë seisoen; kortstondige vloei (ephemeral): Die rivierbedding is meer dikwels droog as nat en slegs kortstondige vloei vind plaas na goeie reënval, terwyl poele gevorm word nadat die reën ophou; en episodiese vloei, wat na woestynriviere verwys. Na ’n episodiese vloed is die rivierlope meestal altyd weer droog en dit vloei slegs vir ’n paar uur (of dae) na afloop van ’n swaar donderstorm, en droog daarna weer op.
’n Relatief groot persentasie van Suid-Afrika se riviere word as nie-standhoudend geklassifiseer, asook meer as 50% van die riviernetwerke wêreldwyd (Bourke, Shanafield, Hedley, Chapman en Dogramaci 2023). Die hoofoorsaak hiervan is die hoogs veranderlike en onvoorspelbare klimaatstoestande wat oor die betrokke landstreke voorkom. Soares, Costa, Francke, Mohr, Schwanghart en Medeiros (2026) sluit hierby aan en noem dat die voorkoms van riviere met kenmerkende onderbroke stroomvloeipatrone aan die toeneem is in rivierdreineringsnetwerke wêreldwyd.
Alhoewel onderbroke stroomvloei altyd in die verlede op ’n natuurlike wyse voorgekom het, beïnvloed veranderinge in grondgebruik en die tipe grondbedekking deesdae ook die afvloei. Veranderinge in temperatuur, neerslag, menslike waterbehoeftes en opdamming veroorsaak dat die kenmerkende stroomvloei van riviere steeds meer en meer onderbroke / afwisselend van aard word.
Standhoudende poele
Die voortbestaan van standhoudende poele (veral in nie-standhoudende riviere) kan nie bloot as vanselfsprekend aanvaar word nie. Hulle is afhanklik van ’n kombinasie van hidrologiese, geologiese en klimaatstoestande, terwyl wateronttrekking, besoedeling, veranderinge in grondwatertoevoer en ander menslike faktore die potensiaal kan benadeel om waterlewe gedurende droë tydperke te onderhou. Standhoudende poele is dus nie noodwendig ook permanente poele nie.
Sommige ekoloë verwys ook na riviergesondheid of die akwatiese kwaliteit van die rivier. Bourke ea (2023) beklemtoon dat standhoudende rivierpoele wat goeie kwaliteit water bevat en wat in nie-standhoudende riviere voorkom, ’n diverse gemeenskap flora en fauna onderhou en dat die waterkwaliteit daarvan beduidend kan wissel. Permanente poele verskaf ’n belangrike natuurlike korridor vir die migrasie van lewende organismes. Hierdie poele is natuurlik ook sensitief vir veranderende klimaatstoestande en menslike aktiwiteit.
Bourke ea (2023) bespreek die verskillende faktore of meganismes wat poelvorming, die waterbalans en die volhoubaarheid van die poele bevorder. Dit sluit in: (1) poele wat in laagliggende topografie ontstaan (perched water) en wat hoofsaaklik afhanklik van reënval en oppervlakwater is, omdat dit ontkoppel is van grondwaterstelsels weens ondeurdringbare lae (byvoorbeeld rots of klei) wat verhoed dat dieperliggende grondwater na die poel deursypel. Die volhoubaarheid van hierdie poele hang af van die waterdiepte van die poel en die beperking van blootstelling aan sonlig sodat verdamping beperk word. (2) Die watervlak van poele word aangevul deur alluviale grondwater wat gestoor word in die ongekonsolideerde alluviale sedimente (sand, gruis) in rivierbeddings en -walle na afloop van vloede. Hierdie alluviale grondwater kan vrylik horisontaal deur die alluvium na die poel beweeg en dien sodoende as ’n ondergrondse reservoir. Die volhoubaarheid van hierdie faktor word bepaal deur die bergingskapasiteit en sedimentdeurlaatbaarheid van die alluvium. (3) Dieperliggende grondwater dring deur na die oppervlakpoele gedurende die droë seisoene. Die sensitiwiteit van die poele vir die onttrekking van grondwater (susceptibility to groundwater abstraction) word bepaal deur die omvang van die grondwaterbron (Bourke ea 2023).

’n Poel in die Olifantsrivierbergreeks, Citrusdal. (Voorsien deur die skrywer)
Monitering
Afstandwaarneming: Maswanganye, Dube, Jovanovic, Kapangaziwiri en Mazvimavi (2024), verbonde aan die Instituut vir Waterstudies, UWK ondersoek die effektiwiteit van afstandwaarneming (remote sensing) as ’n tegniek om die monitering van die veerkragtigheid van poele in nie-standhoudende riviere te monitor. Afstandwaarneming deur middel van Sentinel-2 Modified Normalised Difference Water Index (MNDWI) en Sentinel-1 Synthetic Aperture Radar (SAR) bied aanvullende inligting tot die monitering van rivierpoele. Die navorsers rapporteer ongeveer 90% algehele akkuraatheid in die klassifikasie van hidrologiese fases by die Molototsi-rivier, sowel as tyd- en ruimtelike verskille in stroomvloei en poelvorming deur middel van satellietwaarneming. Die aanwesigheid van wolke het Sentinel-2 se temporele resolusie egter beïnvloed en word as ’n belangrike beperking van die studie uitgewys, terwyl die monitering van kleiner poele en kort sporadiese stroomvloei ook problematies is.
’n Resente studie op hierdie navorsingsterrein is onlangs deur Soares ea (2026) gepubliseer. ’n Afstandwaarnemings- en modelleringsbenadering is ontwikkel om die tyd- en ruimtelike dinamika van die nie-standhoudende Umbuzeiro-rivier in Brasilië se semi-ariede landstreek te monitor. 12 hommeltuigopnames is gebruik om verskillende sektore in die rivier volgens waterinhoud te klassifiseer, terwyl terselfdertyd ook landskapeienskappe, reënvaldata en satelliet-afgeleide indekse geïntegreer is om die wisselvalligheid in vloeipatrone te voorspel. Al die modelle het ’n akkuraatheid van ongeveer 80% behaal, met die MNDWI wat die beste resultate gelewer het met die assessering van die ruimtelike en temporale klassifikasie van die rivier as “nat”, “droog”, “in ’n oorgangstadium” en “nie-meetbaar”. Die bevindinge toon die potensiaal van die integrasie van hommeltuigwaarnemings, satellietbeelde en omgewingsveranderlikes om tydelike poele en veranderende watertoestande in nie-standhoudende riviere te monitor. Die doeltreffendheid van hierdie benadering kan egter wissel na gelang van plaaslike hidrologiese en omgewingstoestande.
Tayer, Beesley, Stewart-Koster, Bond, Douglas, Rossi, McGregor en Marshall (2026) ontwikkel ’n model wat gebaseer is op die waarneming van 29 standhoudende poele geleë binne ’n 100 km strook van die nie-standhoudende Gilbert-rivier in Australië. Die observasies is gedoen deur beskikbare satellietbeelde met reënval- en stroomvloeidata te integreer en die data oor ’n periode van 37 jaar (1986 tot 2023) te ontleed. Die volgende veranderlikes is ingesluit: wisseling van die getal poele in die rivierbedding, variasies in fisiese grootte, fragmentasie en veerkragtigheid van die poele, asook die verband tussen hierdie eienskappe en hidro-meteorologiese toestande. Die getal standhoudende poele het toegeneem tydens die waarnemingsperiode, alhoewel geen individuele poel as permanent waterhoudend geklassifiseer kon word nie, “no individual pool remained permanently inundated throughout the record”.
Poele in nie-standhoudende riviere wat in ariede en semi-ariede streke geleë is (soos dele van die Wes-Kaap), word selde deur tradisionele hidrologiese meetstasies gemonitor (Seaton, Dube en Mazvimavi 2020). Die navorsers gebruik beskikbare satellietdata met ’n matige ruimtelike resolusie (Sentinel-2 en Landsat 8) wat doeltreffend aangewend kan word om veranderinge in die oppervlaktes van waterpoele oor tydsverloop te dokumenteer. Die ondersoek is uitgevoer op vier riviere in die Wes-Kaap, naamlik die Nuwejaars-, Breede-, Touws- en Tankwarivier.
Seaton, Dube en Mazvimavi (2020) kom tot die gevolgtrekking dat satellietafstandwaarneming met ’n matige ruimtelike resolusie ’n betroubare en kostedoeltreffende alternatief vir tradisionele metings bied. Hierdie benadering kan suksesvol gebruik word om die waterbeskikbaarheid in afgeleë of voorheen swak gemoniteerde nie-standhoudende rivierstelsels te evalueer en voortaan meer doeltreffend te monitor. Die proses kan sodoende bydra tot meer doeltreffende waterhulpbronbestuur in streke waar water skaars is.

’n Poel in die Eersterivier. (Voorsien deur die skrywer)
In situ-metings (direkte waarnemings / field studies) Maswanganye ea (2022) en sy navorsingsgroep fokus op die Touwsrivier in die Klein-Karoo. Hulle maak gebruik van ’n omvattende hidrologie-waterbalansmodel waar in situ-data (weerstoestande, deurlopende waterpeilmetings en boorgatdata) gekombineer word met beskikbare afstandwaarnemingsdatastelle, soos MODIS se potensiële evapotranspirasiemetings en Climate Hazards InfraRed Precipitation with Stations (CHIRPS) se reënvalmetings.
Die belangrikste bevindings was soos volg (Maswanganye ea 2022):
- Stroomvloei is die belangrikste faktor wat ’n rol speel in die waterbergingskapasiteit van die betrokke poele, terwyl direkte reënval ’n kleiner bydrae lewer met betrekking tot die voorkoming van uitdroging van die poele.
- Die hoofoorsaak van waterverliese is verdamping, veral gedurende die somermaande.
- Beweging van poelwater na grondwater vind plaas wanneer die poele vol is en die watervlak ’n diepte van ongeveer 1,1 m oorskry. Daarteenoor vind grondwatervloei (omgekeerd) na die poele toe plaas wanneer die watervlak laer is.
- Indien die grootste of hoofpoel in die steekproef poele (naamlik die Wolverfontein 2-poel) deur ’n vloed volledig gevul word, bly die waterinhoud selfs tot 258 dae behoue, sonder enige daaropvolgende invloei van oppervlakwater.
- Weens die langdurige waterretensievermoë toon hierdie poele eienskappe van ’n semi-permanente aard. Op grond van historiese klimaatdata, kumulatief oor ’n tydperk van 30 jaar versprei, is die waarskynlikheid dat hulle heeltemal sal opdroog slegs ongeveer 10%.
- Afstandwaarnemings (Sentinel-2, MODIS en CHIRPS) het nuttige basiese inligting verskaf oor die ruimtelike verspreiding, veranderinge in oppervlaktes en algemene neigings van die poele.
- Satellietgebaseerde maandelikse data-analise van die waterverlies en -stroomvloei kon egter nie die hoë-resolusiebesonderhede van in situ-monitering volledig ewenaar nie. “[H]owever, it does not provide detailed information or an understanding of the pool dynamics at the water balance level.” Dit word hoofsaaklik toegeskryf aan onder andere die komplekse aard van die wisselwerking tussen grond- en poelwater.
- In situ-waarnemings blyk uitstekende hulpmiddels vir waterhulpbronbestuurders en natuurbewaarders te wees. Betroubare inligting in verband met die presiese tydsduur voordat die poele opdroog, asook die meganismes wat verantwoordelik is vir waterverliese, is veral nuttig om insig te bevorder oor die wyse waarop menslike aktiwiteit, soos die bou van damme hoër stroomop, asook klimaatsveranderinge, die vloeiregime van riviere kan verander en akwatiese toevlugsoorde in ariede omgewings bedreig (Maswanganye ea 2022).
Day, Malan, Malijani en Abegunde (2019) doen ’n literatuuroorsig van die aard en stand van die waterkwaliteit van nie-standhoudende riviere, met die klem op die bestuur van Suid-Afrikaanse rivierstelsels.
Op grond van in situ-waarnemings blyk dit dat die chemiese samestelling van poelwater oor die algemeen weerspieël word deur die geologie van opvanggebiede, behalwe in stelsels wat deur besoedeling beïnvloed word. Die soutgehalte van die poelwater wissel sowel ruimtelik as met tydsverloop. Die grondwater se fisiese en chemiese eienskappe lewer ’n belangrike bydrae tot die basis-vloeitoevoer van poelvorming en bevorder die veerkragtigheid van die poele (Day ea 2019).
Gedurende die uitdrogingsfase vind hoër vlakke van verdamping plaas, met die gevolglike verhoging in die konsentrasie van oplosbare stowwe, die ontwikkeling van termiese stratifikasie (die ligging van warmer waterlae met betrekking tot kouer waterlae) en suurstoftekorte (hipoksie) wat in poele voorkom (Day ea 2019).
Gedurende die herbenattingsfase kan ’n skielike invloei en toename van voedingstowwe, erosie en wegspoeling van sediment plaasvind, asook hoë ladings organiese materiaal in die water beland.
Weens hierdie natuurlike veranderlikheid, die beperkte algemene voorspelbaarheid en die invloed van omgewing-spesifieke faktore, word die volgende riglyne vir die bestuur van nie-standhoudende riviere deur Day ea (2019) aanbeveel:
- Evalueer elke rivier individueel en neem die unieke eienskappe van die betrokke rivierstelsel in ag.
- Vestig ’n deeglike begrip van die grondwaterregime en die chemiese samestelling daarvan.
- Beheer afvalwater doeltreffend deur streng standaarde vir beide grondwater en oppervlakwater toe te pas.
- Vul die natuurlike stroomvloei aan wanneer nodig, veral gedurende spesifieke tye van die jaar.
- Vestig beskermende buffergebiede om die rivier en die ekologiese funksionering te beskerm.
Samevatting
Standhoudende poele in nie-standhoudende riviere beskik oor besondere ekologiese waarde.
Nie-standhoudende riviere kom op veel meer neer as waterlope wat periodiek opdroog. Die geïsoleerde poele wat daarin voorkom, kan lewensbelangrike toevlugsoorde vir akwatiese organismes bied indien die oppervlakvloei ophou, en hul voortbestaan is afhanklik van ’n delikate wisselwerking tussen reënval, stroomvloei, grondwater, geologie en verdamping. Klimaatsveranderinge, wateronttrekking, besoedeling en menslike aktiwiteit plaas toenemende druk op hierdie kwesbare ekosisteme.
Satellietwaarneming, hommeltuie en in situ-waarneming lewer waardevolle aanvullende inligting om die verspreiding, waterbeskikbaarheid en veerkragtigheid van rivierpoele te monitor. Hierdie kennis is noodsaaklik vir doeltreffende waterhulpbronbestuur en die bewaring van akwatiese biodiversiteit.
Die kernboodskap kom daarop neer dat ’n rivierpoel wat tydens die droë seisoen water behou, nie bloot ’n oorblyfsel van ’n rivier is nie, maar ’n kritieke toevlugsoord vir lewe. Om hierdie poele ten volle te verstaan, te monitor en te beskerm, is ’n belangrike faktor in die volhoubare bestuur van riviere in ’n veranderende klimaat.
Eindnotas
Die skrywer van hierdie artikel maak geensins aanspraak daarop om ’n kenner van geomorfologie, ekologie of rivier-hidrologie te wees nie en die motivering vir die artikel spruit hoofsaaklik uit belangstelling in relevante omgewingskwessies en ervaring as bergklimmer. Daar is ook op ’n selektiewe wyse met verbandhoudende gepubliseerde navorsing te werk gegaan, wat natuurlik as ’n beperking beskou kan word. Die doel met die artikel was gevolglik nie om ’n formele, sistematiese literatuuroorsig saam te stel nie, maar hoofsaaklik om enkele portuur-geëvalueerde studies, wat die problematiek van poele in nie-standhoudende riviere deeglik illustreer, te bespreek om sodoende bewusmaking te bevorder.
Vir die doeleindes van hierdie artikel is KI hoofsaaklik gebruik vir vertalingsdoeleindes, basiese taalkundige versorging en parafrasering. Google Scholar en die US Biblioteek se databasisse is gebruik om toepaslike publikasies vir oorweging en seleksie te identifiseer.
Die interimriglyne van die US (beskikbaar by https://libguides.sun.ac.za/c.php?g=1497969&p=11205267) in verband met die gebruik van KI in navorsing is so ver moontlik nagevolg.
Bibliografie
Avenant, M, M Seaman, CH Barker en E Dollar. 2010. Southern African non-perennial rivers: proposing a new prototype methodology for assessing environmental water requirements. Research Gate, International Flood Pulsed Wetlands Symposium. https://www.researchgate.net/publication/263532095_Southern_African_non-perennial_rivers_proposing_a_new_prototype_methodology_for_assessing_environmental_water_requirements (1 Oktober 2026 geraadpleeg).
Bourke, SA, M Shanafield, P Hedley, S Chapman en S Dogramaci. 2023. A hydrological framework for persistent pools along non-perennial rivers. Hydrology and Earth System Sciences, 27:809–36. https://doi.org/10.5194/hess-27-809-2023, 202. https://hess.copernicus.org/articles/27/809/2023/ (5 Oktober 2026 geraadpleeg).
Day, JA, HL Malan, E Malijani en AP Abegunde. 2019. Water quality in non-perennial rivers. Water SA, 45(3):487. http://dx.doi.org.ez.sun.ac.za/10.17159/wsa/2019.v45.i3.6746. https://go-gale-com.ez.sun.ac.za/ps/retrieve.do?tabID=T002&resultListType=RESULT_LIST&searchResultsType=SingleTab&retrievalId=598a97ae-82f2-46ee-9a72-428d99810872&hitCount=24>mSearchId=8c4dd5f2-2549-4a1e-9ea1-44c5f6b5d5e6&searchType=AdvancedSearchForm¤tPosition=4&docId=GALE%7CA625795788&docType=Article&sort=Relevance&contentSegment=ZONE-MOD1&prodId=AONE&pageNum=1&contentSet=GALE%7CA625795788&searchId=R1&userGroupName=27uos&inPS=true (13 Oktober 2026 geraadpleeg).
Maswanganye, SE, T Dube, N Jovanovic, E Kapangaziwiri en D Mazvimavi. 2022. Using the water balance approach to understand pool dynamics along non-perennial rivers in the semi-arid areas of South Africa. Journal of Hydrology: Regional Studies, 44:101244. https://doi.org/10.1016/j.ejrh.2022.101244. https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S2214581822002579 (14 Oktober 2026 geraadpleeg).
Maswanganye, SE, T Dube, N Jovanovic, E Kapangaziwiri en D Mazvimavi. 2024. Assessment of the spatiotemporal dynamics of the hydrological state of non-perennial river systems and identification of flow-contributing areas. Water SA, 50(1):32–44. https://doi.org/10.17159/WSA/2024.V50.I1.4046. https://scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S1816-79502024000100003 (5 Oktober 2026 geraadpleeg).
Ollis, DJ, JL Ewart-Smith, JA Day, NM Job, DM Macfarlane, CD Snaddon, EJJ Sieben, JA Dini en N Mbona. 2015. The development of a classification system for inland aquatic ecosystems in South Africa. Water SA, 41(5):727–45. https://doi.org/10.4314/WSA.V41I5.16. https://scielo.org.za/scielo.php?pid=S1816-79502015000500012&script=sci_arttext&utm_source=chatgpt.com (10 Oktober 2026 geraadpleeg).
Seaman, M, M Watson, M Avenant, A Joubert, J King, C Barker, S Esterhuyse, D Graham, M Kemp, P le Roux, B Prucha, N Redelinghuys, L Rossouw, K Rowntree, F Sokolic, L van Rensburg, B van der Waal, J van Tol en T Vos. 2016. DRIFT-ARID: Application of a method for environmental water requirements (EWRs) in a non-perennial river (Mokolo River) in South Africa. Water SA, 42(3):362–82. https://doi.org/10.4314/wsa.v42i3.02. https://www.ajol.info/index.php/wsa/article/view/141184. https://acrobat.adobe.com/id/urn:aaid:sc:EU:33bc1278-355e-4e04-afaf-22efef6d97d6?viewer%21megaVerb=group-discover (12 Oktober 2026 geraadpleeg).
Seaton, D, T Dube en D Mazvimavi. 2020. Use of multi-temporal satellite data for monitoring pool surface areas occurring in non-perennial rivers in semi-arid environments of the Western Cape, South Africa. Journal of Photogrammetry and Remote Sensing, 167:375–84. https://doi.org/10.1016/j.isprsjprs.2020.07.018. https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S0924271620302057 (13 Oktober 2026 geraadpleeg).
Soares, NS, CAG Costa, T Francke, C Mohr, W Schwanghart en PHA Medeiros. 2026. River intermittency: mapping and upscaling of water occurrence using unmanned aerial vehicle, Random Forest and remote sensing landscape attributes. Hydrology and Earth System Science, 30:849–75. https://doi.org/10.5194/hess-30-849-2026. https://hess.copernicus.org/articles/30/849/2026/hess-30-849-2026.html?utm_source=chatgpt.com (11 Oktober 2026 geraadpleeg).
Tayer, TC, LS Beesley, B Stewart-Koster, N Bond, MM Douglas, MJ Rossi, GB McGregor en JC Marshall. 2026. Mapping resilience: A framework for analysing surface-water dynamics and persistent pools in non-perennial rivers using remote sensing, rainfall and river discharge data. Journal of Hydrology, 666:134750. https://doi.org/10.1016/j.jhydrol.2025.134750 (13 Oktober 2026 geraadpleeg).
Walters, AW, N Clancy, TP Archdeacon, S Yu, JS Rogosch en E Reiger. 2024. Refuge identification as a climate adaptation strategy to promote fish persistence during drought. Fish and Fisheries, 25(6):997–1008. https://doi.org/10.1111/faf.12860. https://pubs.usgs.gov/publication/70269385 (13 Oktober 2026 geraadpleeg).

