Ysterhoudende geotermiese fonteinwater

  • 2

Foto 1. Ysterhoudende fonteinwater. (Foto: Izak de Vries)

 

The fact of the Caledon waters being ferruginous and at the same time thermal is undoubtedly of vast importance, and should forcibly indicate their use in chlorosis and other forms of anaemia, in convalescence from acute diseases, in neurasthenia, and that very troublesome class of affections, which for the want of a better name, we call myalgia. (Daniell 1897:7)

Die Overbergse dorp Caledon en die omliggende gebiede is alombekend vir landbou- en boerderyaktiwiteite, veral wat graanproduksie en veeteelt betref. Sedert die vroegste tye word die dorp ook hoog aangeskryf vir sy geotermiese warmwaterbron teen die “bronbult” soos destyds daarna verwys is. Hierdie gewilde warmwaterbron vorm deesdae deel van die Caledon Hotel, Spa en Casino, die eerste amptelike casino in die geskiedenis van die Wes-Kaap. Die geskiedenis van hierdie warmwaterbron strek so ver terug as 1694 toe die ontdekking daarvan in die Kaapse Dagregister aangeteken is. Dit het aanvanklik as die “warme bad aan de Zwarteberg” bekendgestaan (Brand 1998:1). Die interessante geskiedenis en toerismepotensiaal van (onder andere) die Caledonse warmwaterbron word volledig bespreek in ’n magisterverhandeling deur Van Wyk (2013).

Gedurende 1996 is aanbeveel dat die warmwaterbrongebied tot ’n nasionale bewaringsarea verklaar moet word op grond van ’n histories-argeologiese opname (De Vos 1996).

Die feit dat die water ysterdraend en terselfdertyd termies van aard is, is van besondere belang, soos die geneesheer Daniell (in die aanhaling hier bo) reeds in 1897 beklemtoon het. Spa beteken immers “gesondheid deur water” of salus per aquam in Latyn (Antonelli, Donelli, Veronesi, Vitale en Pasquarella 2021).

’n Ander (internasionale) voorbeeld van ysterhoudende warmfonteine is die Blood Pond in Japan. ʼn Bekende salf word van die ysteruitsaksel gemaak.

Wat kan die oorsake van hierdie twee eienskappe van die water wees?

Foto 2. Bronbult in die vroeë 20ste eeu. (Foto: Caledon Museum)

Roesbruin water

’n Besonder opvallende eienskap van die termiese water van die Caledonse warmwaterbron is die oranje-roesbruin kleur daarvan (foto 3). Dit staan in direkte kontras met die helder warm water van bronne soos byvoorbeeld The Baths by Citrusdal, Goudini en Montagu in die Wes-Kaap, maar stem ooreen met die bruin kleur van die waterbronne by Calitzdorp en Warmwaterberg naby Barrydale.

Foto 3. Ysterhoudende warmbronwater, Caledon Spa. (Foto: die skrywer)

Geologie

Aan die begin van die 20ste eeu noem Daniell (1902) dat die geomorfologie van Swartberg sterk herinner aan vroeëre vulkaniese aktiwiteit, maar terselfdertyd ook dat die berg bestaan uit ’n soliede massa ysterhoudende rots wat as ’n neerslag gevorm is deur die warm bronwater oor eeue heen. Die Swartberg is geleë op die aansluitingslyn tussen skalie en sandsteen wat onderskeidelik uit die Siluriese en Devoniese epogte dateer. Warmwaterfonteine kom dikwels voor naby die aansluitingslyne van twee verskillende geologiese formasies. Dit is dus heeltemal moontlik dat die Caledonse fonteine ’n aanduiding is van intense vulkaniese aktiwiteit, gepaardgaande skeuring van die aardoppervlak en die ontstaan van breuklyne.

Volgens die bekende eertydse Suid-Afrikaanse geoloog Lester King (1967) beweeg reënwater deur poreuse of deurlaatbare vulkaniese as wat vasgevang is tussen ondeurlaatbare lae gestolde lawa. Op hierdie wyse kom die water in aanraking met diepliggende verhitte en gesmelte rotslae, waarna dit terugbeweeg na die grondoppervlak en na vore kom as warm fonteine. Gedurende hierdie ondergrondse “reise” van die verhitte water word verskeie chemiese bestanddele in die water opgelos wat terselfdertyd medisinale voordele kan inhou. Die skagte of kele (throats) van warmwaterfonteine word normaalweg geïsoleer van mekaar weens die afskeiding van silika by die fonteinopeninge. Die karakter van aanliggende fonteine kan dus baie van mekaar verskil wat hittegraad en mineraliteit betref.

Vulkaniese aktiwiteit kom nie vry algemeen voor in die geologie van die Wes-Kaap nie. Dit is byvoorbeeld bekend dat die oorsprong van die warm water by Citrusdal ’n standhoudende artesiese bron (foto 4) is wat beskut en diep tussen die geologiese formasies van die omringende Koue Bokkeveldbergreekse geleë is. Die Koue Bokkeveldbergreeks dien as die opvanggebied van reënwater. Die water beweeg deur sandsteenformasies tot dieptes waar dit deur die omringende rotse verhit word. Die water word onderdeur die Olifantsrivier se loop geforseer en kom te voorskyn in die kloof by die oord as ’n warm termiese fontein (The Baths 2020). 

Foto 4. Ingang na die warmwaterfontein se “oog” by Citrusdal. (Foto: die skrywer)

Wat die Caledonse warm fonteinwater betref, verwys Brand (1998) en Van Wyk (2013) na die geoloog Leslie Kent se waarnemings in die vyftiger- en sestigerjare dat reënwater en afloopwater deur middel van verskuiwings in die Babilonstoren-, Steenboks- sowel as die Swartberg inbeweeg en tot groot dieptes afdaal, verhit word en daarna weer op beweeg langs verskuiwingsplete. Die warm ondergrondse water presenteer daarna as sewe nabygeleë fonteine op die grondoppervlak teen die hange van die Swartberg.

Die fonteinwater word op die grondoppervlak  “gepyp”, met ander woorde dit word herlei deur middel van natuurlike drukking tot by die eerste swembad bo teen die heuwel. Daarna loop dit met ’n oop voor (Van Wyk 2013) na die swembaddens laer af teen die heuwel. Uiteindelik word die water vir besproeiingsdoeleindes op die terrein aangewend.

Ysterkarbonaat

Die swart rotsformasies waarna Daniell (1902) verwys, is steeds met die blote oog sigbaar (foto 5) in die onmiddellike omgewing van die fontein.

Foto 5. Eksemplaar ysterkarbonaatrots. (Foto: die skrywer)

Volgens Le Roux (2022) is bostaande eksemplaar van die Swartberggesteentes ’n voorbeeld van ysterkarbonaatklip wat as sideriet bekendstaan. Die rots bevat benewens yster ook verskeie ander minerale, soos magnesium en silika.  Die geel gedeeltes dui op roesvorming waar blootstelling aan water en suurstof ’n chemiese reaksie tot gevolg gehad het. Die gesteentes ontstaan as gevolg van hhidrotermiese neerslag vanuit ’n warm oplossing, gewoonlik op ’n koeler brongesteente soos kalk. Volgens Brand (1998:2) bestaan die swart rots van die Swartberg uit “chalsedoniese en opaalagtige silika, tesame met oksides van yster en mangaan. ’n Neerslag is veroorsaak deur oksidasie van die opgeloste stowwe in die water, asook deur afkoeling van die water by blootstelling aan atmosferiese toestande.”

Lötter (2022) wys daarop dat ysterkarbonaaterts nie noodwendig alleen nodig is vir verkleuring van geotermiese water nie, omdat die meeste sedimente ysteroksides bevat wat ook die water bruin sal kleur. Boorgatwater in die Wes-Kaap (veral in die graniete) lyk baie helder wanneer dit uit ’n boorgat gepomp word, maar verkleur mettertyd nadat dit in ’n opgaartenk of dam gestaan het. Die boere verwys daarna as dat “die yster uitsak”. Spesiale filters is beskikbaar om hierdie afsaksels te verwyder.

Warm onderaardse water wat aan ysterkarbonate en ysteroksides blootgestel word, bevat hoë konsentrasies ystersoute. Die hoof- en mees waardevolle komponent is ysterkarbonaat (Daniell 1940) wat in die water as ysterbikarbonaat (CHFeO) teenwoordig is. In hierdie formaat word die yster maklik deur die menslike fisiologiese sisteem geabsorbeer.

Die bruin ysterhoudende termiese water vloei teen ’n koers van meer as een miljoen liter water per dag uit die Caledonse fontein en bevat benewens yster as ’n aktiewe komponent ook minerale soos kalsium, magnesium, kalium, natrium en silika in die vorm van sulfate, bikarbonate en chlorides.

Ten slotte

Gesaghebbende antwoorde op die vraag of die Caledonse ysterhoudende geotermiese water wel ’n positiewe, beduidende en langdurende effek het op pasiënte met byvoorbeeld gediagnoseerde ystertekorte, rumatiek, jigagtige artritis, chroniesemoegheidsindroom asook spier- en ligamentpyne (volgens die medikus Daniell se aansprake destyds), verg egter ’n afsonderlike en omvattende literatuurstudie van portuurgeëvalueerde navorsing wat in erkende akademiese vaktydskrifte gepubliseer is.

In hierdie verband wys Antonelli ea (2021) daarop dat mediese hidrologie ’n lank bestaande en goed gedokumenteerde tradisie toon in verband met die kliniese gebruik en gesondheidstoepassings van natuurlike warmbronwater en -modder vir voorkomende, terapeutiese en rehabilitasiedoeleindes.

Hierteenoor sê Van Wyk (2013) dat daar oor die afgelope paar dekades ’n merkbare beweging weg was van die medisinale klem op termiese fonteinwater en mediese hidrologie na die rol wat warmbronne in die welweeskultuur speel, veral wat die daarstelling van gesonde ontspanningsmetodes en die verligting van stres betref.

Ten spyte van die verskillende beklemtonings, ontwikkelings en gesigspunte bly die kernfaktor (termiese fonteinwater, hetsy ysterhoudend of nie) steeds ’n besonder relevante en interessante natuurlike verskynsel.

Eindnota

Marlon Sauls, opvoedkundige beampte, Caledon Museum, word bedank vir sy vriendelike hulp om waardevolle inligting in verband met die Caledonse warmwaterfonteine beskikbaar te stel.

Johan van Zyl (grondkundige) word bedank vir die lees van en kritiese kommentaar oor die inhoud van die teks voor publikasie.

Bibliografie

Antonelli, M, D Donelli, L Veronesi, M Vitale en C Pasquarella. 2021. Clinical efficacy of medical hydrology: an umbrella review. International Journal of Biometeorology, 65:1597–1614.

Brand, M. 1998. Het warme bad. ’n Samevatting uit die geskiedenis van sewe warmwaterfonteine en ’n klein plasie wat gelei het tot die ontstaan van ’n dorp, 1694–1997. Caledon: Caledon Venster Drukkery.

Daniell, GWB. 1897. The mineral waters of Caledon. Referaat vir die Mediese Kongres, en bygewerk. Kaapstad: Cape Times Printing Works. [Sien ook Journal of Balneology and Climatology waarin hy hieroor gepubliseer het.]

—. 1902. The climate and mineral water of Caledon, South Africa. Londen: JSB & D Ltd.

—. 1940. The mineral waters of Caledon. South African Medical Journal, 23:437–43.

De Vos, HN. 1996. The warmbaths of Caledon. A historical-archaeological phase 1 survey. Navorsingsentrum vir Historiese Argeologie. Stellenbosch Museum.

King, LC. 1967. South African scenery. A textbook of geomorphology. Edinburgh: Oliver & Boyd.

Le Roux, S. 2022. Privaatpraktykgeoloog. Persoonlike kommunikasie, Stellenbosch, 24 Mei 2022.

Lötter, C. 2022. Geofisikus en geohidroloog in privaat praktyk. Persoonlike kommunikasie, Stellenbosch, 26 Mei 2022.

The Baths. 2020. Amptelike dokumentasie, Citrusdal, 5 Oktober 2020.

Van Wyk, D. 2013. The social history of three Western Cape thermal mineral springs resorts and their influence on the development of the health and wellness tourism industry in South Africa. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Van Zyl, JL. Grondkundige. Persoonlike kommunikasie, Stellenbosch, 2 Junie 2022.

Lees ook:

Van organiese afval tot energie: enkele opmerkings

Navorsing oor water en infrastruktuur: die Rozendal-reservoir by Stellenbosch

KI en stamselle of Karoo-skaaptjoppies? Enkele opmerkings oor kunsmatige vleisproduksie

  • 2

Kommentaar

  • Helize van Vuuren

    Geliefde swemplek vir dorpsmense, oud en jonk, in die neëntienvyftigs en -sestigs. Nou vervreem van die gemeenskap deur Mammon en sy dobbelaars.
    Twee outeurs wat seker tog hier byhoort, is Lady Anne Barnard uit haar baaiery daar, en 1795 rond, en die Nederlandse reisiger, Teenstra, wat daar in die negentiende eeu genees is van sy siektes. Amusant geskryf oor sy ervarings by en in die Bad en oor ontluikende Afrikaans onder dr. Con de Villiers se Boeregemeenskap daar rond (Van Riebeeck-vereniging-publikasie, heruitgegee ’n paar jaar gelede).

  • Charl Cilliers

    Nogmaals 'n interessante artikel. Egter moeilik om te evalueer as jy nie 'n kundige is nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top