Die kind se naam is Anneke: ’n onderhoud met Juliana Coetzer

  • 0

Die kind se naam is Anneke
Juliana Coetzer
Human & Rousseau, 2021
ISBN: 9781868428151

Juliana Coetzer praat met Naomi Meyer oor Juliana se boek Die kind se naam is Anneke

Juliana, dit was vir my verskriklik moeilik om Die kind se naam is Anneke te lees. Jy verwoord dit so goed in die boek: "’n Mens se hart breek op ’n ander manier oor ’n kind. Dis nie soos ’n glas wat breek nie. Dis die inmekaartuimeling van die hele fabriek." Vir enigeen wat nie jou en Anneke se storie ken nie, kan jy in een of twee sinne vertel wat gebeur het? (Of wat steeds aan die gebeur is?)

........

Toe Anneke sewe jaar oud was, het die waterpokkiesvirus in haar brein ingegaan. In 1997 was kinders nog nie ingeënt teen waterpokkies nie. Sy het die virus oorleef, maar daarna het haar brein stelselmatig agteruitgegaan.

..........

Toe Anneke sewe jaar oud was, het die waterpokkiesvirus in haar brein ingegaan. In 1997 was kinders nog nie ingeënt teen waterpokkies nie. Sy het die virus oorleef, maar daarna het haar brein stelselmatig agteruitgegaan. ’n Opgewonde, slim, gelukkige kind het verander in iemand wat onbeheerste epilepsie kry, intellektueel gestrem raak, wie se persoonlikheid verander met psigotiese episodes en woede-uitbarstings. Anneke is nou 30 en het ’n vorm van demensie.

Het die afgelope tyd se virus- en inperkingstyd jou nie verlam en jou skryfwerk laat stagneer nie? Hoe het jy dit reggekry om te skryf wat jy ervaar?

..........

Ek keer altyd na stilte terug en dit is die spasie waarbinne ek dink, mediteer en skryf.

..........

Die stilte het ’n vakuum geskep waarbinne ek optimaal gefunksioneer het. Ek keer altyd na stilte terug en dit is die spasie waarbinne ek dink, mediteer en skryf. Ek is dankbaar dat die manuskrip my ’n fokus in die grendeltyd gegee het. Ek is terdeë daarvan bewus dat mense op alle vlakke swaargekry het gedurende die inperkingstyd, maar miskien omdat die lewe my al so rondgegooi het, het ek baie meer aanvaardend en aanpasbaar geword. Ek het ’n baie sterk detachment ervaar van die gebeure aangaande Anneke terwyl ek geskryf het. Ek weet nie waaraan ek dit kan toeskryf nie – miskien die meditasie, miskien omdat ek wou klaarmaak met die storie. Die emosies was dalk al deurgewerk.

Ek lees Die kind se naam is Anneke met ’n wete van wat gebeur het of wat gaan gebeur – hierdie storie kan nie ’n gelukkige einde hê nie. Hoe kies jy ’n beginpunt hiervoor? Toe hierdie boek gebore is, waar het jy geweet om te begin?

Ek het ná Bloedvreemd se verskyning in 2015 honderde briewe van mense gekry wat uitvra oor Anneke en besorg wil weet hoe dit nou met haar gaan. En met ons as gesin. Dit het gevoel soos die regte ding om te doen om mense se vrae te beantwoord. Die deernis wat sy van almal ontvang, beteken so baie. Ek het geweet mense is aan haar kant, en daarom was dit maklik om te begin by die verdere intellektuele agteruitgang, maar ook te vertel van die verlies van ’n morele kompas wat eie aan haar was vandat sy haar verstand gekry het. Ek het dus geweet ek kan sonder vrees vertel dat Anneke begin het om ons geld te vat, my in die openbaar geslaan het en dat ek haar in ’n winkel gelos het, onder andere. Die hele prentjie. So lyk ons lewe. Ek kan tog nie meer voorgee dat ons ’n perfekte lewe het nie.

Soms wens ek dat ek nie nodig gehad het om boeke oor Anneke te skryf nie. As sy gesond was, het ek in ’n ander realiteit geleef. Tog voel dit dat ek deur my skrywe ’n rede vir haar lewe kan gee.

..........

Soms wens ek dat ek nie nodig gehad het om boeke oor Anneke te skryf nie. As sy gesond was, het ek in ’n ander realiteit geleef. Tog voel dit dat ek deur my skrywe ’n rede vir haar lewe kan gee.

...........

Jou boek bevat die wonderlikste aanhalings ... "Welkom in die land van onvervulde begeertes. Die lewe verdien baie meer respek as halsoorkop verklarings en slim opsommings. Of ongeleefde aanhalings uit ander mense se repertoire." En: "’n Mens se kinders verlaat die huis en raak vreemd. Ons is lankal gewoond daaraan. Vreemdwording is nie meer vir ons ongewoon nie. Ons laat vele Annekes agter." Hoe lank skryf jy al? En wou jy nog altyd ’n boek of boeke skryf?

Dis vreemd, maar ek kan my nog nie ’n skrywer noem nie. Dit voel vir my soos ’n titel wat hoort by mense na wie ek opkyk en wie se boeke op my rakke pryk. In my kop sal ek seker soos ’n skrywer voel wanneer ek ’n roman voltooi het. (Ek werk daaraan.)

My lewe het in ’n groot mate gegaan oor die binnewerkinge van die mens – om gedagtes, emosies en gedrag te verstaan. Ek het nie ’n ryk verbeelding nie, wat die sterkste voertuig van ’n skrywer is, maar ek glo daar is iets te sê vir ervarings wat in wysheid getransformeer het. Die aanhalings in Die kind se naam is Anneke is geleefde insigte uit persoonlike ervarings.

Ek wou altyd skryf, maar het voor Bloedvreemd, nonsens geskryf. Nou skryf ek ’n bietjie meer ernstig, maar ek wil eintlik góéd skryf. Ek is nog ’n student en leer elke dag. Mense soos Ingrid Winterbach inspireer my – sy is my taalghoeroe. En Marita van der Vyver met haar produksievermoë. Ek dink nie ons besef hoe gelukkig is ons om hierdie mense as ons mentors te hê nie.

Ek het begin skryf by wat ek ken – ’n siek kind. Nou is dit genoeg. Dis tyd om die vreemde in te vaar. Ek gaan nou skryf oor mense en situasies wat ek in my gedagtes nuut skep. Dit maak my geweldig bang. Maar ’n nuwe soort vertroue moet ontwikkel word.

.........

Ek het begin skryf by wat ek ken – ’n siek kind. Nou is dit genoeg. Dis tyd om die vreemde in te vaar.

...........

Ek het nog nooit hieroor gedink nie: Die vryheid van gestremdheid. Jy hoef nie deur die samelewing beoordeel te word nie. Die dag as mense begin sien sy is gestremd, word sy toegelaat om te wees wie sy is. Ek het aan nog iets gedink: die noodsaak van groei, die dwingelandy van die samelewing. Het jy die film Inside out gesien? Waar die verbeeldingsmaat agterbly en nie saam met die kind verder reis nie? Hoe belangrik dit is, maar ook: hoe die samelewing dit van almal verwag en vereis? Wat is jou gedagtes?

Ek lees die ander dag van ’n ma wat met haar woelige outistiese seun in ’n supermark probeer inkopies doen en ’n man kliphard hoor sê: “Die kind het ’n pak slae nodig.” Dis ongelukkig waar dat ’n gestremde persoon ook geoordeel word volgens die samelewing se reëls volgens wat aanvaarbaar is totdat hulle die situasie verstaan. Maar dan weer is baie gestremde persone nie bewus van die oordeel nie. En dit maak hulle vry. Anneke het geen idee wat mense van haar dink as sy oor die lengte van ’n supermark vir my skree “Ma is ’n monster!” nie. Dis ek wat op daardie oomblik die oordeel voel. Ek het ook eers vry gevoel toe ek minder bekommerd was oor die aanvaarding en verwerping van ander. Ek dink die meeste mense wat haar situasie verstaan, laat haar toe om te wees wie sy is. Maar nie almal kyk met deernis nie. Is dalk net te dankbaar dit is nie hulle lewe nie. (Ek neem hulle nie kwalik nie.)

..........

Mense wat werklik deur hul ervarings gegroei het, het ’n sterker binnekrag. ’n Vertroue dat hulle die lewe met sy kinkels kan hanteer. Vir my is dit seker die opvallendste teken van groei.

............

Hoe meet mens groei? Ek moes my dringendheid om te “groei” uiteindelik ook onder ’n sterk vergrootglas plaas en besef dit is maar net weer deel van die behoefte om perfek te wees. Ek is nou 62 en weet uiteindelik dat mens nie so ernstig oor die lewe hoef te wees nie en dat dit ’n gawe is as jy deur jou eie lyding compassion teenoor jouself en ander ontwikkel. Mense wat werklik deur hul ervarings gegroei het, het ’n sterker binnekrag. ’n Vertroue dat hulle die lewe met sy kinkels kan hanteer. Vir my is dit seker die opvallendste teken van groei. Dit en minder van ’n selfgerigtheid. Ek voel ontsettend aangetrokke tot mense wat ’n balans tussen kwesbaarheid en binnekrag projekteer. Iemand wat niks meer hoef te bewys nie.

Dit breek my om van die sneeu in Switserland en haar epilepsie daar te lees. En ook: om haar dagboekinskrywings te lees, hoe sy agteruitgaan in spelling en in denke. Sien jy nog vir klein Anneke in haar skrywes?

Anneke het op 30 nog dieselfde netjiese handskrif wat sy in graad 1 gehad het, maar deesdae verstaan ons net hier en daar ’n woord. Fisiek is sy nog die kind voor sy siek geword het. Die dik bos hare, grysgroen oë en fyn hande, maar intellektueel en emosioneel is sy ’n kleuter. Maar ’n kleuter sonder potensiaal. In die verlede wanneer die epilepsie vir ’n tyd redelik onder beheer gekom het, kon ons nog glimpse van die gesonde Anneke sien. Die speelsheid, iets van die intelligensie, nuuskierigheid. Maar nie meer nie. En tog sal sy my dophou wanneer ek die tuimeldroër verstel en dit ’n dag daarna self aanskakel en weet hoe om dit te stel. Sy het ’n praktiese brein, soos haar pa, en het steeds ’n geringe mate daarvan. Ons sê baie keer sy sou nes hy gewees het. Sy eet graag die soort kos wat hy eet en het baie van sy gewoontes. Sy is sterk. Haar krag het nooit verdwyn nie. Sy sal ná ’n reeks epileptiese toevalle vir ’n paar dae slaap en dan op ’n dag haarself uit die bed dwing. Asof sy bang is sy mis uit op die lewe.

Haar geluk is buite jou beheer.  Hoe moeilik dat ons almal s’n buite ons beheer is. Maar dis méér as geluk wat jy nodig het om te beheer. Wat is die nodigste om elke dag in Anneke se lewe te bestuur?

.........

My geluk was buite my beheer toe ek gedink het die lewe en al sy inwoners moet my gelukkig maak. Nou dink ek anders. Ek kon nie meer wag vir Anneke om gesond te word voor ek gelukkig is nie.

...........

My geluk was buite my beheer toe ek gedink het die lewe en al sy inwoners moet my gelukkig maak. Nou dink ek anders. Ek kon nie meer wag vir Anneke om gesond te word voor ek gelukkig is nie. Ek probeer nie heilig klink nie en ek weet ek sê dit met die witbrood onder die arm: Ek het ’n huis en elke dag kos op die tafel, maar ek voel darem ons is deur die storm.

Daar is basiese dinge in Anneke se lewe wat bestuur moet word, soos die medikasie – die effek daarvan en die regte balans te vind, haar hardkoppigheid, die epilepsie en woede–uitbarstings. Maar die grootste dringende verantwoordelikheid is haar permanente versorging veral vir eendag wanneer ons nie meer daar is om haar op te pas nie. Ons het self na haar omgesien tot verlede jaar en sedert Junie is sy in ’n huis vir gestremdes, maar dit is slegs tydelik. Haar naam is op ’n waglys by ’n tehuis waar sy permanent sal woon. Dit is van altyd af ons beleid dat haar broers nie verantwoordelikheid vir haar versorging moet neem nie. Hulle het genoeg opgeoffer. Ek voel, op ’n manier, ons ook. Dit is nou tyd dat ons ook die lewe kan geniet sonder om die hele tyd oor Anneke bekommerd te wees.

Hoe verskillend is dit om ’n dogtertjie se ma en seuns se ma te wees? Weet mens wat mens se drome is as mens se kinders nog so klein is, en dat mens verskillend dink oor die toekoms van die verskillende geslagte? Is dit gedagtes wat jy nog koester, of waaroor jy nog dink?

Ek is ontsettend dankbaar oor my seuns en is in ’n groot mate ’n seun-ma. Terwyl my man die kos gemaak het toe hulle klein was, het ek met hulle krieket gespeel en voel meer soos hulle vriend as hulle ma. Ma-wees is maklik met hulle. My drome vir hulle is seker wat ek vir elke mens het: dat hulle mense met integriteit sal wees wat die lewe geniet.

En tog het ek altyd begeer om ’n dogter te hê. Ek hou van mooi klere, skoene en handsakke – ek wou die lekkerte daarvan met haar deel, saam met haar reis en by haar lewe betrokke wees. Ek wou my verhouding wat ek en my ma gehad het, deur my verhouding met my dogter herstel. My droom vir haar is seker ’n bietjie feministies van aard. Ek wou hê sy moet haar merk maak. Haar kleim afsteek. Selfstandig en onafhanklik wees. Omdat sy van kleins af haar vrese in die oë kon kyk en gepoog het om dit te oorwin, het ek geglo dit is hoe sy as volwassene ook sal wees. En dit het my opgewonde gemaak. Ek wonder baie keer hoe haar lewe sou gewees het as sy gesond was. Maar ek laat myself nie toe om te lank daaroor te tob nie.

Gelukkig het ek lekker skoondogters en nou gee ek my juwele vir hulle en is opgewonde om te sien hoe sterk hulle is en hulle merk in hulle onderskeie beroepe maak. Ek kan met hulle kuier. Hulle laat my in hulle lewens toe en gee nie om dat ek my seuns adore nie. Daaroor is ek dankbaar.

Hierdie boek gaan oor die dood en die lewe se parallelle paaie. “Kou jy ys?” vra ’n tandarts jou op ’n stadium. “Nee, maar dis die beste metafoor vir my lewe wat ek nog ooit gehoor het.” Die geestelike vrae wat mens vra – sien jy kans om sommige daarvan te deel, of te vertel van mense wat oor jou pad gekom en hulle ervarings met jou bespreek het?

Trauma laat ’n mens dink. En dis goed. Vir die eerste keer het ek vrae gevra oor “die waarheid” waarmee ons geïndoktrineer was. Ek het begin veg vir my keuse om my kind se gesondheid te behou teen ’n oënskynlik apatiese God van wie ek altyd geglo het dat hy, soos ’n pa, my belange op sy hart dra en my veilig hou. Ek skryf in die boek dat toe ek geen hulp kry nie, moes ek van my knieë opstaan en leer om myself te vertrou. Dit het ’n interne proses tot gevolg gehad. Binnetoe. Ek het my motiewe ondersoek, my emosies begin verstaan, beheer oor my lewe gevat. En in die proses afskeid geneem van ’n eksterne geloofslewe en die antwoorde binne myself gesoek – my eie waarheid.

Ek het vriende wat anders dink en dis reg, want mense se realiteite verskil. ’n Kliënt het my ’n belangrike les geleer. Sy het gesê: “The God of my mind is not the God of your mind.” Ons is albei reg. Die oordeel is weg.

Woorde uit jou boek, in ’n tydperk van ’n wêreldwye pandemie: "Dit is onvermydelik dat mens ook sal vra: Why do good things happen to bad people? Ons kon nooit ’n antwoord kry nie. Ons het gebid, gemediteer, gevas en gesoek. Later het ons vir lief geneem met: Shit happens. ’n Virus is nie kieskeurig nie. Hy doen wat hy wil, met wie hy wil. Dit is wat dit is." Hoe dink jy in die algemeen oor siekte, oor lewe en dood, met jou kind en haar nalatenskap op jou?

Een oggend, ’n paar weke gelede, het ek in die bed bly lê, wou nie opstaan nie. My energie was gedaan. En toe gee ek vir myself terapie: Juliana, dit is oukei. Jy mag nou maar lê. Jy het darem al die lewe in al sy gedaantes ervaar en verdien om te rus. Wanneer jy nou genoeg jammer vir jouself gevoel het, staan jy op en gaan aan. En toe vra ek myself wat is hierdie ding wat my altyd weer laat opstaan en aangaan.

.........

Midde van nimmereindige verlies en in die teenwoordigheid van vernietiging het ek ’n liefde vir die lewe die sterkste ervaar. 

...........

Behalwe dat ek moes leer om te kies om te bly lewe te midde van die realiteit van verlies, is daar ’n ander wete wat nooit verdwyn nie: Ek het die lewe lief. En daaroor is ek ’n bietjie verwonderd: Midde van nimmereindige verlies en in die teenwoordigheid van vernietiging het ek ’n liefde vir die lewe die sterkste ervaar. Soos wat ek die liefde vir my kind op sy sterkste gevoel het toe sy dit volgens menslike “standaarde” nie verdien het nie. Nou weet ek, in hierdie lewe kry jy die hele pakkie. Verlies en dood is deel van die pakkie. Soos plesier en geluk. En die beste wat ek vir myself kan doen, is om ’n menigte, wye verskeidenheid van ervarings te hê. Ek het vrede gemaak met swaarkry, want daar is ook wonderlike oomblikke wanneer ek uit my maag lag en in verwondering staan. Ek het al dae verwens en omgewens, was moeg gewees, maar het ook al gedans dat my knieë pyn en uitbundig van geluk was.

Miskien is dit Anneke se nalatenskap aan my – aanvaarding van die lewe in al sy fasette.

Lees ook:

Die kind se naam is Anneke deur Juliana Coetzer: ’n resensie

Oorkant jou deur Juliana Coetzer: ’n resensie

Tien vrae: Juliana Coetzer oor Bloedvreemd

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top