Oorkant jou deur Juliana Coetzer: ’n resensie

  • 3

Oorkant jou
Juliana Coetzer
Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781868428151

In die gedig “Die kranksinnige”, skryf SJ Pretorius: “In hierdie sel / agter die grense / van die vel / en die hoë / vensters van die oë / is twee mense / die een is gek / die ander, ek ...”

Alhoewel die woorde “kranksinnig” en “gek” vandag by sommige mense as pejoratief of neerhalend beskou word, sal vele mense tog met die gemoedsuiting en sentiment skuilend agter hulle kan identifiseer.

In haar tweede boek, Oorkant jou, neem die psigoterapeut Juliana Coetzer jou as’t ware in haar spreekkamer in waar jy die leser, oorkant haar, met haar pasiënte plek inneem. Soos ’n mens spookskrywers kry, word jy ’n spookpasiënt.

Hoe heerlik is hierdie terapie nie, juis omdat elke persoon wat haar pad kruis en waaroor sy skryf vir iedereen van ons, sonder om prekerig te wees, ’n les inhou. Pedanties is dit allermins, daarvoor is haar skryfstyl gans te warmhartig.

Jy voel haar empatie, daar is geen oordeel nie. As daar wel ’n ligte trilling van skok deur haar gaan, wys sy dit nie aan haar kliënte nie.

Sy vra haarself liewer af wat sy daardeur kan leer en wat sy op die persoon projekteer. Coetzer hou ’n spieël op waarin jy deur ander mense se foute en terugslae jou eie gevoelsoordrag op die verskillende argetipes wat hulle verteenwoordig, kan analiseer.

In haar debuut, Bloedvreemd, wat in 2015 ook by Jonathan Ball verskyn het, het sy haar reeds as ’n puik skrywer en storieverteller gevestig. In daardie boek het sy ons in haar vertroue geneem met die soet en suur van haar en haar familie se lewe met hul gestremde kind, Anneke.

Die uitgewer, Ingeborg Pelser (destyds by Jonathan Ball), het ’n goeie neus vir ’n verhaal diep uit die hart, en sy was reg, want Bloedvreemd was ’n blitsverkoper. Daar is iets plat-op-die-aarde, maar intens intelligent en teer omtrent Coetzer as mens, en dit word weerkaats in haar werk.

’n Mens wonder uit pure stuitigheid of dit die mense is soos sy wat in Namakwaland grootgeword het wat so lekker welwillend kan wees. Dit is mos plattelanders daai wat sonder fiemies ’n slang met een hand kan vang terwyl hulle ’n baba se doek omruil.

Tyd vir fieterjasies en tierlantyntjie is daar gewis nie. In ’n onderhoud op LitNet met Naomi Meyer vertel sy: “My ouers was Namakwalanders en sout-van-die-aarde goeie mense. My pa was ’n motorwerktuigkundige en my ma ’n verpleër.”

“Milady, I rest my case,” soos Gerrie Nel in die hof gesê het. Oorkant jou is ook aan haar ouers opgedra.

As sy skryf, is dit haar eiesoortige stem wat uit elke bladsy weergalm: ’n bietjie ghnarrabossie, soel bergwind, Olifantsrivier, rooi sandheuwels, sonbesie en vygies, almal wat metafories hier en daar wapper.

Hierdie resensent moes glimlag toe een van die karakters die woord “ewenwel” (nietemin) gebruik. Dit is ’n woord so tipies van daardie geweste. Mag die ou Afrikaanse streektaal van ons land asseblief nooit uitsterf nie.

Voordat daar na van die gevallestudies gekyk word, moet een netelige saak uit die weg geruim word. Daar is sekere verontwaardigdes wat glo Coetzer oortree heilige morele grense wat die privaatheid tussen haar en haar pasiënte betref.

Mense, asseblief. Hierdie is outobiografiese fiksie, of soos die Engelse sê faction. Dit is ’n mengelmoes van waarheid en fantasie, niemand se waardigheid word aangetas nie en geen geheime gesprek of kwaal kan op net een mens gepen word nie.

Voor in die boek staan daar: “In hierdie boek is waarheid en verdigsel gekombineer sodat niemand herkenbaar is nie. Karakters en inhoud is aangepas, verander en gefabriseer. Onderwerpe is met groot omsigtigheid benader om vertroulikheid te verseker. Stories is na willekeur verander, maar waar die werklikheid behou is, is toestemming verkry. Elkeen van die betrokkenes het die hoop uitgespreek dat ander uit hul ervarings sal leer. Dit sal sin gee aan moeilike tye. Hulle is die helde van die boek.”

As Coetzer met haar debuut Bloedvreemd haar skrywersenjin se toere opgejaag het (ge-rev het!), is sy nou met Oorkant jou op die hoofweg in volle vaart. Daar is 284 bladsye en sewentien hoofstukke.

Verskeie dramatis personae en figurante flits in en uit die stories, elke een met ’n besonderse verhaal. Nee, die woord “besonders” klink na ’n cliché, en niks hier is geyk nie.

’n Mens wil nie die hele boksemdais nou weggee nie, maar daar is mense hier wat die leser se hart gaan laat seerkry, maar ook vinniger gaan laat klop met woede. Van die goed wat uitkom is skokkend, selfs al dink jy jou eerste naam moes eintlik blasé gewees het.

Daar is die dominee met ’n groot geheim, die jong vrou uit die kinderhuis wat enigiets sal doen solank sy net nooit weer arm hoef te wees nie, ’n snobis wat dink sy kan selfs haar terapeut omkoop, maar as jy nie na haar deuntjie dans nie, dans die poppe.

Die vrou wat nie kon huil oor haar man se dood nie is erg, hierdie verhaal gaan jou nie onaangeraak laat nie. Verder is daar ’n kliënt wat op sy terapeut verlief raak (ja, dit gebeur, en ook vice versa), die oudskoolhoof wie se humeur sy loopbaan kan kelder en dan is daar die liewe nagblom, Venicia.

In die begin wonder ’n mens wat hierdie eenkantmens en sekswerker se rol nou eintlik in die boek is, omdat sy nie ’n kliënt is nie, maar soos die tafereel ontvou kom jy agter haar patos is by tye die gom wat die blaaie vashou.

As jy die boek deurgelees het en al is ’n mens nie gelowig nie, kom die psalmdigter se woorde by jou op: “Wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?”

Inderdaad, dit bly ’n ope vraag, op vele vlakke.

Hierdie boek het verskyn op die regte tyd, veral nou, terwyl die jaar tot ’n einde kom en sommige van ons terugkyk op ons lewens. Die woorde van Marthe Muller van die South African Women In Dialogue is gepas: “May we all be guided to heal where we have hurt.”

Juistement.

Foto van Juliana Coetzer: Naomi Bruwer

  • 3

Kommentaar

  • Deborah Steinmair

    Dis 'n lieflike resensie. Lategan is so deeglik en fynbesnaard en beskik oor die woorde om 'n mens te laat sien.

  • Wat 'n pragtige resensie oor 'n ewe mooi boek. Ek het die boek net so baie geniet.Juliana slaag gewis daarin om met 'n aardsheid, eie aan haar herkoms, te vertel van die minder gelukkiges.

  • Ilse Zietsman

    Dadelik nota gemaak om die boek te gaan soek sodra ek terug by die huis is. Kan nie wag om te lees nie. Dit waaroor die boek handel en die resensie self, het my aangegryp.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top