Oorkant jou
Juliana Coetzer
Jonathan Ball-uitgewers
ISBN: 9781868428151
Skrywers oor hulle nuwe boeke. Juliana Coetzer gesels met Naomi Meyer oor Juliana se boek Oorkant jou.
Juliana, baie geluk met die publikasie van Oorkant jou. Wat is die tema van die boek en hoekom het jy die boek geskryf?
Die tema is mense en hul stories en die rimpeleffek daarvan in hul eie lewens, maar ook in dié van mense wat interaksie met hulle het. Soos die interaksie tussen die kliënt en die psigoterapeut. As psigoterapeut het my pad gekruis met dié van mense wat aan situasies blootgestel is waaroor niemand praat nie. Wanneer hulle wel begin praat, bring die besef dat daar ander mense is wat aan dieselfde omstandighede onderwerp is, ’n groot verligting. ’n Gevoel dat hulle ten minste nie alleen is nie. Genesing het dikwels tot gevolg dat mense hulle stories wíl vertel – om ’n getuie te hê en ook om ander in soortgelyke situasies te help of ten minste hoop te gee. ’n Geval van; “Ons was daar en hier is ons nou. Leer deur ons persoonlike ervaring.”
Baie van die hoofelemente van die stories wat in die boek beskryf word, het ek in my kantoor aangehoor. Sommige van hierdie stories wou my nie verlaat nie; dit het nes geskrop in my gewete. ’n Soort aanmaning dat wat met hulle gebeur het, nie vergeefs mag wees nie. Van my kliënte het gevra: Vertel my storie. Vertel sodat ander daaruit kan leer. So is die boek gebore.
Jy het as psigoterapeut betrokke joernalistiek bedryf. Jy het nie intieme tonele afgekyk nie (soos mense byvoorbeeld op die sosiale media doen); jy was dáár. Hulle het hul stukke lewens met jou gedeel. Hoe het jy die kwessie van vertroulikheid hanteer?
Dit is belangrik dat die leser die vrywaring op die eerste bladsy van die boek lees. “In hierdie boek is waarheid en verdigsel gekombineer sodat niemand herkenbaar is nie. Karakters en inhoud is aangepas, verander en gefabriseer. Onderwerpe is met groot omsigtigheid benader om vertroulikheid te verseker. Stories is na willekeur verander, maar waar die werklikheid behou is, is toestemming verkry.”
Daar is hooftemas in die boek. Dit is die feitelike deel. Maar die storie rondom die tema is fiksie. Karakters is inmekaar gevleg en nuut geskep. Geen storie is die volle waarheid nie. Die boek is ’n gelykop mengsel van fiksie en niefiksie – faction soos dit in Engels genoem word.
Vertroulikheid was vir my van kardinale belang. Ek sou nooit my kliënte of my beroep skade wou veroorsaak nie. Mense het my vertrou met die geheime wat hulle dra én om die storie openbaar te maak. Elke persoon wie se storie na aan die waarheid geskryf is, is in besonderhede met hom/haar bespreek. Ons het lang ure saam deurgebring om seker te maak dat niemand herkenbaar is of skade ly nie. Hierdie mense wil hulle storie vertel hê, nie ter wille van sensasie nie, maar sodat ander daaruit kan leer.
Wanneer ek ’n bepaalde onderwerp wou aanspreek, soos byvoorbeeld ’n vrou wat nie glo sy verdien ’n beter lewe nie, het ek ’n fiktiewe verhaal geskep waarin dit ’n tema is. Maar dit verwys na geen spesifieke geval nie.
By ’n paar mense uit my verre verlede wat nie bereikbaar was nie, het ek slegs skerwe van hul stories gebruik en in fragmente tussen karakters versprei en vermeng dat ek verbaas sal wees as hulle iets van hulself herken. Hier het ek spesifiek met groot omsigtigheid te werk gegaan.
Die enigste deel wat heeltemal die waarheid is, is my prosesse en wat in my gemoed gebeur tydens my interaksie met kliënte.
Wat sou gebeur as jou kliënte hulself in die stories herken? Jy het wel baie diskreet met die feite omgegaan, maar ek moet vra. Of wil mense van geweet wees, dink jy?
Die mense wat hulself sal herken, is diegene wie se stories na aan die waarheid geskryf is, maar dit is ook hulle wat betrokke was tydens die skryf van Oorkant jou. Onthou die stories is universeel en ek weet daar is baie mense in soortgelyke situasies, maar wat te skaam is om daaroor te praat. Dit sal goed wees as die leser met sommige kliënte of stories identifiseer, want dalk is daar ’n boodskap wat gehoor moet word.
Wil mense van geweet wees, soos Tiemie in Siener in die suburbs? Ja, seker. Wat ek by die mense van Oorkant jou ervaar, is ’n behoefte om gehóór te word, relevant te voel en ernstig opgeneem te word. Mense wat sê: “Ek het ’n storie en as jy dit lees en daardeur geraak word, was my ervaring nie verniet nie.”
Ek is bewus daarvan dat lesers kan spekuleer oor die identiteite van sekere karakters. Dit is nie my motief om geheime te ontbloot sodat die wêreld daarvan kan kennis neem nie, maar om mense ’n stem te gee.
’n Verhaal uit die binnekamer. Maar dis baie meer as een verhaal. Hoe sou jy die boek beskryf?
In die stories is die terapeut die gemeenskaplike faktor wat die ruimte skep (word) waarbinne mense hulself ontbloot met die doel om van hul stories bevry te word.
In die boek skryf ek die terapeutiese proses is meer as slim woorde, beginsels en tegnieke – die kliënt se binnewêreld word betree ter wille van sy groei en ontwikkeling. Omdat my eie persoonlike groei en ontwikkeling vir my belangrik is, kan ek nie onaangeraak bly nie. In die eerste hoofstuk vertel ek hoe ’n kliënt my, in slegs een sin, bewus gemaak het van my motiewe en dit bevraagteken het; my op die spoor van my eie identiteit gestuur het, sonder dat sy daarvan bewus was.
Ons tree as spieëls van mekaar op en leer van mekaar. Wat natuurlik nie kan gebeur as ons nie bereid is om onsself nederig te maak en van die ego-trone af te klim nie.
“’n Verhaal uit die binnekamer” dien as metafoor om die kelder van die psige te beskryf wat iemand bereid is om te besoek sodat heling kan plaasvind. Maar dit vertel ook van die binnekamers in huise waar geheime veilig bewaar word teen die oordeel van ander, asook die binnekamers waar gruweldade plaasvind en mense hulself en die oortreder beskerm deur nie te praat nie. Die boek nooi die leser ook in die terapeut se binnekamer in sodat hy ’n waarnemer word van die effek wat die kliënt se stories op hom het.
Wat ek met Oorkant jou poog, is om empatie te kweek vir alle mense. Vir my is dit die hooftema. Dit is nie ’n speurverhaal om die skuldige te vind en aan te kla nie, maar om begrip en deernis teenoor alle mense te ontwikkel. Elke mens kom van êrens af, het ’n agtergrond wat hom gevorm het. Ek hoop lesers sal dit in die lees van die boek ervaar.
Oorkant wie? Wie is die “jou” in die titel?
Ek het eers gedink aan Oorkant my, maar dan is dit eendimensioneel. Ek sit immers ook oorkant iemand. Dit probeer sê dat almal oorkant iemand is, dat ons betrokke is by mekaar se stories en daardeur geraak word, selfs onbewustelik. Die “jou” in die titel is ook die een wat die boek optel om te lees, dit maak hom deel van die storie, deel van mense se lewe sodat hy nie ’n objektiewe waarnemer is nie. Hy moet kan voel en empatie ontwikkel, ook teenoor die mense in sy lewe wat oorkant hóm staan.
Mens lees soms hoe ’n terapeut die kliënt se storie ervaar, en nie so dikwels van die mens as psigoterapeut nie, of die psigoterapeut as mens nie. Was dit vir jou terapeuties om hieroor te skryf?
Ek probeer niks anders wees as net ’n mens nie en dit ervaar ek ook by die meeste ander terapeute wat ek ken. Dit is die mense oorkant ons wat ons anders waarneem en soms op ’n troon plaas. Miskien dink hulle omdat ons met ander se psiges te doen het, is ons agtermekaar, of dan “uitgesorteer”. Na die verskyning van Bloedvreemd was ek oorval van nuwe kliënte en ek glo dis omdat ek geen geheim van my menslikheid gemaak het nie. Mense wil hulself kan wees en dit is moontlik slegs as hulle nie oorkant ’n supermens sit nie. Maar wat die kliënt nie weet nie, is die effek wat hy en sy storie op die terapeut het. Ek het nie daaroor geskryf terwille van terapeutiese waarde nie, maar noudat ek daaraan dink, was dit dalk nodig om van sommige ervarings ontslae te raak.
Jou boek laat mens voel. Pynlike ongemak, humor in situasies waar mens nie veronderstel is om te lag nie. Hoe luister ’n psigoterapeut met ’n neutrale gesigsuitdrukking na iets?
As die boek mense laat voel, is dit goed. Humor speel ’n belangrike rol in die boek om die onderwerpe ligter te maak.
Neutraal is nie altyd vir my moontlik nie. Ek vloek saam, lag kliphard en steek nie my verbasing weg nie. Soms verberg ek my gesig agter my hande om skok en afgryse in my eie privaatheid te voel. “Dit is verskriklik” is woorde wat ek myself dikwels hoor sê. Wanneer volwassenes my vertel hoe hulle as kinders mishandel of aan trauma blootgestel is, kan ek, tot my skaamte, trane in my oë kry. Dit is hoekom ek nie met jong kinders kan werk nie, dit raak my te diep.
Maar daar is tye wanneer ek op my tande moet byt omdat dit onvanpas sou wees om te lag of verbasing te wys.
Jou boek tree vir my op ’n manier in gesprek met Cees van der Waal se Winelands, wealth and work, in die besonder die hoofstuk waarin Lou-Marié Kruger skryf oor die stadige geweld van armoede. Kan jy oor die proses van jou terapie gesels? Of oor die neerskryf daarvan?
Êrens in die boek skryf ek: “Ek as terapeut en ek as mens staan nie onafhanklik van mekaar nie. As ek nie groei en ontwikkel nie, kan die terapeut nie grootword nie.” Ek het my lewe lank kennis nagejaag: nog ’n teorie onder die knie, nog ’n kursus, nog boeke, nog ’n sertifikaat. En dit is goed, want kennis is belangrik. Maar die laaste sewe jaar is ek vry van die gejaag na meer. Ek glo ek is ’n baie beter terapeut sedert ek besluit het om net real te wees en nie meer perfek nie. Vandat ek aandag begin gee het daaraan om mense met deernis te behandel en ek daarop fokus, het geen kliënt meer nodig om homself te verdedig nie. Hy kan die skanse laat sak en homself wees. Ek voel ek is dáár, deel van sy proses en nie in my kop besig om ’n lêer te soek wat ’n teorie of verduideliking probeer staaf nie of aannames maak nie. Kennis is nou ’n hulpmiddel wat ek gebruik om die kliënt veilig te laat voel en insig te gee, die taal te verskaf om homself te verstaan.
Dit was juis my bedoeling toe ek die boek geskryf het – om mense deel te maak, dáár te bring, te laat voel en empatie te ontwikkel. Ons oordeel so gou sonder dat ons al die feite ken of onsself in iemand se situasie indink.
Die vorige slag wat ek op LitNet met jou gesels het, was oor Bloedvreemd. Ek vra jou natuurlik waar jy tyd gekry het, want ek weet dat jou dogter siek is en baie sorg vereis. Wanneer het jy tyd gekry om hierdie boek te skryf?
Wanneer ek terugdink aan die afgelope agtien maande, is dit soos ’n waas. Ek wonder soms self hoe ek die manuskrip klaargekry het. Dit is asof my geheue daaroor êrens vassteek en ek dit nie kan bereik nie. Ja, my praktyk is baie besig en die ure lank en ek is Anneke se chauffeur, verpleër en slaansak. Maar as ek voel om te kla, onthou ek die vrouens wat vyfuur die taxi werk toe neem en saans seweuur in ’n huis instap waar kinders vir kos wag en huiswerk en strykwerk gedoen moet word. Ek is bevoorreg om ’n wederhelf te hê wat my in die kombuis met ’n glas wyn en ’n bord kos inwag wanneer die laaste kliënt saans die kantoor verlaat en niks daarvan sê dat hy naweke net my rug sien wanneer ek skryf nie.
Maar dit weet ek nou van my: vir skryf móét daar net eenvoudig tyd ingeruim word. En nie om een of ander vername filosofiese rede nie, eenvoudig net omdat dit my op die pad van emosionele welstand hou. Skryf hou my gefokus op die projek en pen my gedagtes vas sodat daar nie ’n gaping is vir onnodige dramas nie. My innerlike twyfel is in die agtergrond. Skryf daag my uit om dieper te dink en nuut te skep. En tyd word gemeet in terme van “hierdie oomblik”. Ek voel soos ’n beter mens wanneer ek skryf. Daarom is ek eintlik altyd besig in my kop met woorde en sinne.
Jou boek is opgedra aan jou ouers. Vertel my van hulle?
My ouers was Namakwalanders en sout-van-die-aarde-, goeie mense. My pa was ’n motorwerktuigkundige en my ma ’n verpleër. Hulle was 40 toe ek in hulle lewens gekom het. My broer is 11 jaar ouer as ek, so ek het eintlik alleen grootgeword. My pa se liefde vir my was geen geheim nie.
My ouers was diensbare mense wat baie gedoen het vir hul medemens sonder om enigiets terug te verwag.
Twaalf jaar gelede, toe ek 46 was, het ek uitgevind ek is as baba aangeneem. Baie dinge het sin gemaak. Maar toe is my pa al oorlede en ses maande daarna het my ma gesterf. Hulle het my nooit vertel nie, om my te beskerm.
Ek worstel met jammerte omdat ek nooit kon wys hoe dankbaar ek is vir al die geleenthede wat hulle my gebied het nie. As ek geweet het ek is aangeneem, kon ek ten minste dankie gesê het en nie net alles as vanselfsprekend aanvaar het nie.
Dit is hoekom die boek aan hulle opgedra is. Dis my manier om dankie te sê en erkenning te gee vir die invloed wat hulle op my gehad het.
Vertel my wie jy was nou nadat Bloedvreemd verskyn het tot pas, met die verskyning van Oorkant jou.
Beslis vryer. Nadat Anneke se storie uit my geskryf is, het ek ’n wonderlike verligting ervaar. Ek voel sterker en het minder vrese. Bloedvreemd het my gedwing om my vrese vir mislukking en die reaksie van mense in die oë te kyk. Dit was ’n goeie proses.
Miskien het dit niks met skryf te doen nie, of dalk help die een die ander een aan, maar as ek sou verander het, is dit ook omdat ek ingestel is daarop om aan myself te werk. Ek is genadiglik by die storm en drang verby en verkies harmonie in my lewe. In ons huis word gelag en geleef. Ek hou minder en minder van drama en kies ’n ongekompliseerde, maar buitengewone lewe.
Bloedvreemd was ’n topverkoper en ek was verbaas. Ek het ’n argeloosheid ten opsigte van sukses en laat my nie toe om veel daaroor te voel nie. Maar let wel, dit is nie ’n goeie eienskap nie en het niks met nederigheid te doen nie. Eerder ’n geaardheid wat die volgende ervaring in die visier het.
My vrae aan jou is baie persoonlik. Jou boeke is persoonlik. Jy nooi mense in jou binneste binnekamer in. Is dit wat jy doen?
Ja, dit is nogals vreemd, want eintlik is ek ’n privaat mens. Ek hou nie daarvan om mense te bemoei met my probleme nie en is ’n baie beter luisteraar as verteller. My man sê altyd ek weet alles van almal, maar niemand weet iets van my nie. Ek is baie gemaklik om in die publiek op te tree wanneer dit oor my vakgebied gaan, maar oor my persoonlik is dit ’n ander saak. Toe gaan publiseer ek twee boeke en maak my hart en binnekamer oop. Dit maak eintlik nie sin nie. Heeltemal paradoksaal. Dieselfde geld vir die humor in die boeke – ook dit is nie heeltemal hoe ek is nie.
Ek glo die heel meeste in die waarheid en aanvaar dit maklik; niks is vir my te erg nie.
Die persoon wat Bloedvreemd ook geproeflees het, het die opmerking gemaak dat dit ’n interessante genre is waarin ek skryf, waar daar so eerlik oor gedagtes en emosies omgegaan word. Dit is beslis makliker om daaroor te skryf as om daaroor te praat, alhoewel dit tog makliker raak. Ek moes ’n baie lang pad loop om te leer vertrou, maar die spin-off daarvan is dat ek in die proses ’n oop verhouding met myself ontwikkel het.
Het mense gedink hierdie boek is ’n opvolg van Bloedvreemd – ’n “hoe-gaan-dit-nou-met-Anneke?”-storie? En durf ek vra: Hóé gaan dit met Anneke?
Anneke word so twee keer genoem in die boek, maar dit is nie ’n opvolg nie. Mense vra dikwels hoe dit nou met haar gaan en ek waardeer werklik die belangstelling. Dit gaan oor die algemeen dieselfde. Daar is tye wat sy baie epileptiese aanvalle kry en dan vir ’n paar weke daarna is sy rustiger. Haar brein het mos eintlik nodig om ’n aanval te kry. Die psigose is die groot probleem. Daar is ’n stem in haar kop wat haar voorsê en soms so hard met haar baklei dat sy nie kan slaap nie. Hy het ’n naam: Sa. Hy vertel haar sy hoef nie pille te drink nie en dat sy geld uit my beursie mag vat. Die psigose is die gevolg van haar breintoestand en word onder bedwang gehou met medikasie, maar niks maak Sa se stem stil nie. Haar verstaan is baie swak en haar taalgebruik ook. Gelukkig lyk dit nou asof dit nie vererger nie.
Het jy die fliek Boyhood gesien? Elke gebeurtenis in mense se lewens is nie noodwendig aardskuddend nie; daar is nie altyd ’n uitkoms bekend nie; soms moet mens net staan en kyk. En soms gebéúr dinge net. Hoe ervaar jy dit, van buite gesien, met betrekking tot jou kliënte se lewens? En jou eie – jou lewe as ma van jou kind, vrou van jou man, ens?
Ek het ongelukkig nie die fliek gesien nie, maar weet waaroor dit gaan. Die grootste verandering wat ek moes aanbring, was om nie onmiddellik met ’n reddingspoging in te gryp in mense se lewens nie. Om letterlik op my hande te sit en nie ’n telefoon nader te trek nie. Dit was belangrik om te leer dat ’n mens wel soms net kan staan en kyk. Dat jy moet toelaat dat iemand rock-bottom slaan sodat hy met sy werklikheid gekonfronteer kan word. Dit raak vir my makliker omdat ek nou weet dat ingryp nie altyd die antwoord is nie. Dat ek nie die verantwoordelikheid van iemand kan wegneem om sy eie gevegte te veg nie, maar hom eerder moet aanmoedig om sy kragte te ontdek. Ek het deesdae vertroue dat die mens genoeg geleentheid kry om dit te doen. Maar dit kom ook maar met die opbou van vertroue dat jy as terapeut jou eie oordeel kan vertrou, want daar is tog tye wanneer daar ingegryp moet word om beheer te bring.
’n Sterk onderstroom binne my is om die lewe vir ander goed te maak. Dit is ’n te groot verantwoordelikheid. Ek wil ook nie daarvan ontslae raak nie, maar deesdae doen ek dit omdat ek wil, nie omdat ek moet nie. Nou het ek ’n keuse.
Dit is egter moeilik om afstand te behou as dit oor my gesin gaan. Ek is baie beskermend ingestel teenoor my man en kinders en klim maklik op ’n vliegtuig om dinge te gaan uitsorteer. Om dán net te staan en kyk, is dan ’n perd van ’n ander kleur.
En tog kan jou eie gesin jou dankbaar wees: jy deel persoonlik diskreet min oor hulle mee, praat nie namens hulle nie en is baie versigtig oor jou gesin – jy hou jou man en kinders uit die verhaal. Dis gesprekke uit jóú binnekamer. Stem jy saam?
Ja, ek dink hulle was genoeg blootgestel in Bloedvreemd. Die proses in Oorkant jou is baie meer gefokus op die ervarings van die mense wat my pad kruis en die groei binne my. ’n Gesprek uit my professionele binnekamer.
Kruisbestuiwing is seker onvermydelik. Ek skryf in die boek hoe ’n ervaring van my een seun my gehelp het ten opsigte van die aanvaarding van ’n kliënt se situasie. En toe ek, ná ek ’n blik gekry het op die kwesbaarheid van mense wat in parke en onder brûe slaap, die opmerking maak: “There is safety in numbers”, het my ander seun geantwoord: “Ek dink nie 10 miljoen Jode sal met ma saamstem nie.” Dit is so – ons vryf af op mekaar. Al word ons op die agtergrond gehou.
Die grootste trefkrag van jou boek is hoe betrokke jy die leser laat raak by jou kliënte. En baie kere breek stories stomp af – wat het gewórd van x, y en z? Die probleem is, nou voel mens saam met jou vir al die mense wat in jou spreekkamer beland. Wat maak mens?
As dit empatie ontlok, het die boek in sy doel geslaag.
Daardie stories wat stomp afbreek, bring ’n soort onafgehandeldheid na vore wat my eerstens oor my vermoëns laat twyfel. Ek wonder altyd of dit my skuld is en of ek iets verkeerd gedoen het dat die mense net wegbly of nie met terapie wil voortgaan nie. Dit is ook frustrerend, omdat daar nie ’n afsluiting kan plaasvind nie – dit voel onaf. Maar dan is daar ook kliënte met wie behoorlik afgesluit is en waar hulle weggaan ’n gevoel van verlies bring. Veral wanneer jy baie vir die kliënt omgee en sy belange op jou hart dra. Ek dink baie keer aan mense wat my pad gekruis het. Ek wonder hoe dit met hulle gaan en ek wens ek kan weet of hulle oukei is. Na sommige van hulle verlang ek selfs. Maar ek voel ook gelukkig dat party konneksies net tydelik is en daar ’n tyd is om weg te gaan sodat daar weer plek is vir ’n ander een.
As die leser saam met my voel, beteken dit hy is ook dáár en deel van die een oorkant my se proses. Deernis is iets wat ontwikkel wanneer ’n mens jou toelaat om te voel. As die leser met onafgehandelde gevoelens gelaat word en gefrustreerd is omdat hy meer van die kliënt wil weet, sê ek dankie jy gee om. In vandag se lewe is dit iets wat min mense werklik doen. Ons is te haastig om om te gee.
Wat is die sin van die lewe?
Elke mens sal seker ’n ander antwoord hierop gee. Ek weet nie eens of vandag se antwoord môre dieselfde sal wees nie. Vir my hét die lewe sin, want ek maak dit vir my sinvol. Ja, natuurlik is alles nie maanskyn nie, en die dinge wat ander ontstel, krap my ook om, maar eerlikwaar, ek is gelukkig. Ek het die lewe lief. Toe die waarheid oor my herkoms uitgekom het, het ek gesê dit maak nie saak wie se baarmoeder my in die lewe gebring het nie. Solank ek net hier kan wees.
Miskien beantwoord ek nie die vraag nie. Ek tob nie veel daaroor nie, want ek weet dit is nie die lewe se verantwoordelikheid om sin aan my bestaan te gee nie. Ek moet dit self doen en ek voel ek slaag daarin.
Kommentaar
Goed gesê Juliana ... ek vind ‘n harte-aanklank met die inhoud van jou boek ... geluk en vrede is in ons self ... is ons nie geseënd nie.
'n Wonderlike boek. Wou dit nie neersit nie. Baie dankie!