Tien vrae: Juliana Coetzer oor Bloedvreemd

  • 2

bloedvreemd300Skrywers oor hulle nuwe boeke: Juliana Coetzee oor Bloedvreemd

  1. Hallo Juliana. Bloedvreemd is 'n boek oor jou nageslag, oor jou voorgeslag, en oor jou. Is hier enige fiksie, of is hierdie storie die waarheid?

Die boek is heeltemal die waarheid. Ek wonder of ek enigiets kan skryf wat nie die waarheid is nie. Baie opmerkings word gemaak oor my eerlikheid en dan dink ek altyd: Is dit dan nie die enigste manier nie?

  1. Daar word soms beweer dat die skrywer oor iets moet skryf wat hy ken, maar ook dat hy afstand moet hê van sy onderwerp. Hoe het jy daardie nodige afstand gekry - wat veroorsaak het dat jy nie vasgeval het in sentiment of oordadige beskrywings nie?

Die afstand was moontlik slegs omdat ek die boek eers 14 jaar nadat Anneke siek geword het, geskryf het. My verwerking van die trauma was reeds in ‘n groot mate afgehandel, alhoewel ek nie seker is of dit ooit heeltemal moontlik is nie. Het ek onmiddellik na sy siek geword het, geskryf, sou dit heeltemal anders gelyk het. Dan sou dit dalk een emosionele warboel gewees het. Dit was vir my belangrik dat dit nie ‘n treurmare of weemoedige boek moet wees nie. Ek wou ‘n boodskap van hoop gee en ook wys dat ons nie slagoffers van die situasie is nie. Ek het ook nie die boek geskryf as terapie nie. My hart sou gebreek het.

So, ek glo die boek is ‘n eerlike weergawe van hoe ons leef en as mense is. Ek glo nie aan ‘n paradoksale lewe nie. Dis nie óf die een, óf die ander nie. Dis alles – die seer en die vrolikheid, lig en donker, die mooi en die lelik. Dis wat ek in die boek ook probeer weergee het en hoekom die ligte oomblikke en die komiese belangrik was om balans te bring. Dit moes nie ‘n somber boek wees nie.

  1. Jou dogter is ernstig siek. Ek moet die vraag vra wat almal sal wil vra as hulle hierdie boek gelees het: Hoe gaan dit nou met haar?

Dankie dat jy vra. Ek waardeer die mense se belangstelling in haar. Anneke se lewe is ‘n afdraande pad en dit het nie ‘n stop nie. Ons weet nie waar dit gaan eindig nie. Op dié stadium is sy besig om haar verstand te verloor, so haar verstaan en kommunikasievermoë is ernstig aangetas. Sy kry ongeveer elke tweede week ‘n siklus epileptiese aanvalle wat haar ongeveer vir vier dae laat slaap en wanneer sy dan opstaan, sien ons hoe sy nog minder in staat is om haar verstand te gebruik.

Maar haar innerlike krag is nog net so sterk as toe sy siek geword het. Sy beur haarself baie keer uit die bed en dan staan en kyk ek in absolute verwondering. Ek sê dit ook in die boek. Hierdie krag, en haar naam, is al wat sy oor het van die mens wat sy was.

  1. Jy het 'n boek geskryf wat talle mense se lewens raak. Hoe het die skryf van hierdie boek, en sy publikasie, jóú lewe geraak?

Elke dag wat ek geskryf het, het ek met die vreesmonster langs my geskryf. Ek het die heeltyd gedink dis nie goed genoeg nie, dus het ek oor en oor geskryf tot ek tevrede was. Ek moes deur my vrese skryf, en die rede vir die eerlikheid in die boek is juis om die vrees vir die oordeel van ander te oorkom. Ek moes daardie spesifieke vrees in die oë kyk en vir myself sê ek sal hanteer wat ander met die inligting maak. Ek is heeltemal verstom deur die reaksie! Dat die boek so goed ontvang word, is vir my die grootste verrassing. Ek voel ook ‘n bietjie verleë, want ek het ‘n onvermoë om belangrik te voel en skielik is daar mense wat my spesiaal behandel.

Die weird ding is, ek is eintlik ‘n privaat mens. Ek maak myself vir min mense oop, alhoewel dit nie so in die boek lyk nie, nè?

Ek het op my verjaardag hierdie jaar, die 13de Maart, die oggend 10-uur in die bed gaan klim en myself bitter jammer gekry omdat ‘n paar uitgewers die manuskrip afgekeur het. Ek wou net nie meer sukkel nie, alhoewel Madri Victor en die redigeerder, Mandi Botha, absolute vertroue in die manuskrip gehad het. Twaalfuur het Madri en Mandi my van die Woordfees af gebel met die nuus dat Ingeborg Pelser van Jonathan Ball-uitgewers die boek wil uitgee. Sy was so opgewonde daaroor dat dit binne drie maande op die rak was.

Ek is ontsettend dankbaar dat ‘n droom waar geword het.

  1. Jy het ook twee seuns. Sonder om namens hulle te praat, hoe het jou dogter se siekte hulle lewens beïnvloed, uit jou oogpunt gesien?

Stephan is 28 en Juan 26. Die boek is aan hulle opgedra. Hulle was aan situasies blootgestel wat min ander kinders van hulle ouderdom ooit hoef te ervaar. Vroeg in hul tienerjare het hulle al anders oor geloof en die lewe begin dink en sekere “waarhede” bevraagteken, wat ander mense eers heelwat later doen, indien ooit. Hulle was vroeg in hulle lewe al meer volwasse as kinders van hul ouderdom.

Hulle het ‘n deernis vir mense ontwikkel en is in staat om na ander se probleme te luister, alhoewel hulle nie ‘n onnodige geklaery kan hanteer nie. Albei het ‘n renons in mense wat nie kan luister nie.

Maar aan die ander kant is hulle sinies oor trou en kinders hê. Ek dink nie hulle het die illusie oor die lewe wat hulle ma as jong meisie gehad het nie.

julianacoetzer650

Juliana Coetzee (foto: Jonathan Ball)

  1. Daar is onverwagse geheime oor jou verlede wat ook in die boek beskryf word. Is jy bly oor die kennis wat jy opgedoen het, of vra jy ooit "sê maar ek het nooit uitgevind nie”?

Ek is bly die waarheid het uitgekom, want dit het almal wat in die geheim vasgevang was, bevry. Ek het altyd aangevoel iets is nie reg nie, maar nooit geweet wat dit is nie. Op die ou end het ek my eie sanity begin betwyfel en gedink iets is met my verkeerd. Die openbaring van die geheim het my genees en ‘n paar ander mense ook. As dit nooit uitgekom het nie, sou ek tien teen een nou nog geworstel het met myself en ander mense sou met die geheim graf toe gegaan het.

  1. Jou boek het my as ma gekonfronteer met hoe liniêr ons almal oor tyd dink (daar is 'n begin, 'n skoolloopbaan, opleiding, verhoudings, ens, in jou kind se lewe) en hoe logies dit vir 'n ouer is om aan te neem dat jou kind sekere mylpale sal bereik. Dink jy dat jou boek op 'n manier handel oor die verlies van 'n droom, of hoe sou jy dit beskryf?

Presies dit wat jy sê. Elke ouer het drome vir sy kind, maak nie saak of dit onrealisties is nie. Ek moes elkeen van daardie drome laat gaan. Maar wat dit moeilik gemaak het, is dat Anneke se situasie nie alle drome op een slag vernietig het nie. Die agteruitgang was geleidelik en oor soveel jare dat ons slegs terugskouend kon sien wat sy nie meer kon doen nie en die mens wat sy nie meer is nie. Ek het onlangs ‘n foto van ‘n pa met sy dogter op haar troudag gesien en so jammer gevoel vir Fanus wat nooit die voorreg sal hê om haar die kerk in te bring nie.

Die verlies aan potensiaal is die ergste en ons moes staan en kyk hoe dit al hoe meer onder ons vingers wegglip. En dis ‘n aanhoudende verlies. Ek wonder baie dae wat van Anneke gaan oorbly.

  1. Het jy nog altyd geweet dat jy wil skryf, of het alles wat in jou lewe gebeur het, jou net in daardie rigting gestuur?

Ek wou altyd skryf. My standerd 9-onderwyser het eendag vir my ‘n hoë punt vir ‘n opstel gegee en daardie dag het ek geweet ek wil skryf.

  1. Skryf jy aan nog iets anders (as daar tyd is), of is hierdie die boek wat jy gepubliseer wou sien en beoog jy om hiermee te volstaan?

Ek wil bitter graag nog skryf. ‘n Tyd gelede het ek gedink ek gaan sommer iets skryf, soos “Verstaan jouself”, want dis ‘n onderwerp wat ek ken. Maar toe onthou ek hoe Anneke die naweek toe sy siek geword het, van die supertube gaan afgly het ten spyte daarvan dat sy daarvoor bang was en siek gevoel het. Toe ek haar vra hoekom sy dit doen, het sy gesê: “Omdat ek nie ‘n bang mens wil wees nie.” Toe vra ek myself die ander dag: Wat sal my die bangste maak om te skryf? En die antwoord is: fiksie. Ek is bang om iets te skryf wat nie my waarheid is nie. Dit gaan dalk tyd vat, maar dis my volgende projek.

  1. Kry jy kans om te lees, en wat lees jy self graag?

Ek is ‘n verbete leser, veral wanneer ek skryf. Dis asof die boeke my na ‘n plek verplaas waar alles van alle tye wat ooit gesê of gedink is, steeds voortleef en waar daar nie grense aan kreatiwiteit en uitdrukking is nie.

My gunstelingskrywer is Anthony Doerr. Ek lees graag boeke van Margaret Atwood, JM Coetzee, Marita van der Vyver en Ingrid Winterbach. Herman Hesse se Siddhartha het ‘n belangrike plek in my boekrak. My seuns het my bekendgestel aan Cormac McCarthy wat my geweldig frustreer en inspireer. Dan moet ek bely, ek is ook gek oor distopiese verhale soos Hunger Games en Divergent.

 

  • 2

Kommentaar

  • Naòmi Morgan

    Hierdie onderhoud is aangrypend op n menslike vlak, en spreek op 'n eerlike en intelligente wyse soveel van die vrae aan waarmee skrywers worstel. Die skryfster wonder wat van Anneke gaan oorbly, maar die antwoord is reeds in druk: hierdie boek. Groter liefde het geen moeder nie.

  • Martie Vorster

    Ek lees nou jou boek vir die tweede keer en sukkel om dit neer te sit. Ek hou van mense se lewensverhale, meer waarheid as fiksie. Dit laat jou besef elkeen van ons het ’n storie – party s’n net meer ingekleur met inspirasie, hoop en ons geloof. My trauma was my egskeiding na 21 jaar, maar is nou weer gelukkig getroud. Was so wonderlik om jou lewenspad en trauma met ons te deel. Ons kinders is vir ons kosbaar en ons sal eerder hulle pyn wil vat. Ons probeer maar deur genade om die beste ma te wees en in die proses moet ons nie onsself of man verloor nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top