Die kind se naam is Anneke deur Juliana Coetzer: ’n resensie

  • 1

Die kind se naam is Anneke
Juliana Coetzer
Human & Rousseau, 2021
ISBN: 9781868428151

Ek onthou nou nog hoe ek in 2015 gevoel het tydens en na die lees van Juliana Coetzer se debuut, Bloedvreemd. My ma het dit daardie Desember langs my bed gelos. Toe ek klaar gelees het, het ons seker ’n week aaneen in die huis rondgedwaal, gehuil, gelag en gespook met ons eie gedagtes. Dit het ongetwyfeld ’n geweldige impak op ons albei gehad. Ons het vir weke, maande en jare daarna nog vir mekaar gesê: “Ek wonder hoe dit nou met hulle gaan.”

Bloedvreemd vertel die storie van Anneke as ’n gesonde kind wat op sewejarige ouderdom die lang stryd sou begin met die waterpokkievirus wat in haar brein beland. ’n Seldsame sindroom, Landau-Kleffner, wat die groei van die brein aftakel, is later by haar gediagnoseer as gevolg van dié virus.  

In die voorwoord van haar nuwe boek, Die kind se naam se naam is Anneke, vertel Coetzer dat sy steeds briewe kry van lesers wat verneem na Anneke en die res van die gesin se welstand. Haar hoop is dat hierdie opvolgboek daardie vrae sal beantwoord. 

Die boek is in die eerste plek presies dit – ’n verhaal geskryf deur ’n ma wat jou vertel van die nagevolge van haar dogter se siekte, en wat hulle daaglikse bestaan meer onlangs  inhou. ’n Doodgewone gesin se pad met ’n siek dogter en suster. Dis die storie van Anneke – “Anneke is nie net ’n naam nie. Dis ’n storie. Soos Stellenbosch. Hillbrow. Ma. ’n Storie wat met ons almal s’n oorvleuel en gestalte aan ons vorming gee.” 

’n Mens weet uiteindelik nie werklik waarvoor jy jouself inlaat met die lees van hierdie boek nie. In verskeie opsigte is dit selfs meer intiem as Bloedvreemd

Dis ’n boek oor die aanhoudende verlies, versugtinge en vraagstukke. Ook die soeke na vrede – vir haar ma en haar gesin, maar ook vir Anneke self. Anneke wat nie meer duidelik kan praat nie, of nie kan verstaan as ander praat nie. Juis daarom voel die boek soos ’n soort ode aan Anneke. Coetzer vat haar eie kind se verliese, frustrasies en kwesbaarheid saam op ’n manier wat bewys dat niemand anders ’n boek soos dié kan en moet skryf nie. 

Oor 253 bladsye en 21 hoofstukke heen nooi sy jou na die binnekamer van haar gesin soos sy ons vertel van die laaste paar jaar van hulle lewe saam met Anneke, wie sy is en nie is nie, en wie sy ook nie kan wees nie weens die sindroom. Sy skryf: “Ons lê ter ruste wat nie met die oog gesien kan word nie. Nie die persoon nie, maar die persoonlikheid. Onontginde potensiaal. Net die naam bly oor.”

Coetzer is ’n voortreflike skrywer met ’n uiters verfynde introspeksievermoë, en besonderse talent om te observeer en verwoord. Om die waarheid te sê, sy skryf in ’n trant wat jou byna in ’n beswyming plaas, asof dit ’n gesprek is wat jy nie wil misloop nie. Telkens ook met ’n goeie skeut humor.  Sy bedek geen waarheid en loop nie onnodige draaie nie. Sy skryf uit haar hart uit. En duidelik nie om simpatie te ontlok nie, net gewoon om te vertel, neer te skryf, uit te skryf – sonder skroom. 

Sy plaas gereeld en gepas paragrawe met meer konteks, of ’n terugflits na ’n spesifieke oomblik in haar of Anneke se lewe. Dit hou die boek gefokus. Die kronologiese volgorde van hul lewe ontvou sy slim; jy kry die nodige agtergrondkennis van toe Anneke klein was. Lees egter steeds Bloedvreemd as jy nog nie het niep; dis ’n boek met ander interessante en belangrike stories oor hul lewe, asook onafhanklike temas en insigte.

Die boek is sinvol verpak in drie dele wat ook spasie skep vir belangrike (ek wil argumenteer selfs lewensbelangrike) temas soos geloof, spiritualiteit, die dood, vriendskappe, liefde, verhuising en selfs verhoudings met troeteldiere.  Sy het deurentyd ’n bewustheid van die groter stryd van die mensdom, en rig ’n lig op die onkunde en vrese van die mense en vreemdelinge met wie hulle paaie kruis – of dit nou by die werk, in ’n SASSA-ry, in ’n winkel of die hospitaal is. Dit voel of sy die spieël ophou vir ons almal se tekortkominge en doodmenslikheid. 

Die belangrike woord in hierdie boek is deernis. Coetzer se deernis vir haar kind en geliefdes, en ander se deernis, of die tekort daaraan, vir Anneke en haar gesin. Ook Coetzer se deernis vir dié wat met hulle paaie kruis en nie weet hoe om te reageer op ongemaklike realiteite van ’n gestremde persoon nie. Was ons nie almal al in so situasie nie? Sy vat dit weer goed saam as sy skryf: “Wanneer mens se liefde uitgedaag word, wanneer jy jouself dwing om met deernis op te tree ten spyte van die moeilike omstandighede, begin jy jouself op ’n ander manier raaksien.”

Die boek is ’n rare leeservaring en voorreg wat ons as lesers te beurt val. Ek kan nie anders as om dankbaar te wees dat sy haar skryftalent ingespan het en die moed in haarself gevind het om ’n opvolg te skryf nie. 

Dis nie nodig om te kan vereenselwig, verstaan of om iemand te ken wat deur ’n soortgelyke ervaring gaan om die boek te waardeer of te baat by die lees daarvan nie. Dis juis dat ons nuwe blootstelling kan kry tot die lewe, die aard van menswees, en hoe ons mekaar sien en hanteer. Of jou kinders gesond is of nie, of jy ooit kinders het, en of jy nou in Suid-Afrika, Italië, Holland of waar ook al woon.

Laastens, om die skrywer te eggo: “In elk geval is ek ontdaan van die menigvuldige antwoorde wat mens in jou voortvarendheid oor die lewe en sy kinkels het. Die lewe verdien baie meer respek as halsoorkop verklarings en slim opsommings. Of ongeleefde aanhalings uit ander mense se repertoire.”

Die kind se naam is Anneke word uitgegee deur Human & Rossouw en kos R295.

Lees ook:

Tien vrae: Juliana Coetzer oor Bloedvreemd

Boekresensie: Bloedvreemd deur Juliana Coetzer

Oorkant jou deur Juliana Coetzer: ’n lesersindruk

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top