Boekresensie: Bloedvreemd deur Juliana Coetzer

  • 1

bloedvreemdcover

Titel: Bloedvreemd
Skrywer: Juliana Coetzer
Uitgewer: Jonathan Ball Uitgewers
ISBN: 9781868426928

Soms kom ’n mens ’n boek teë wat jou feitlik onmiddellik laat vermoed dat dit een van die uitstaan-leeservarings gaan wees tussen die versameling van alles wat jy al in jou lewe onder oë gehad het. Bloedvreemd is só ’n boek.

Hierin vertel Juliana Coetzer, ’n psigoterapeut, die pynlike verhaal van hul dogter, Anneke, wat op die ouderdom van sewe ’n uiters seldsame virus opdoen en die aanvanklike akute fase daarvan byna nie oorleef nie. Anneke met haar sterk persoonlikheid is egter ’n klein vegter van formaat, en sy leef voort. Maar die virus bly aanwesig in haar, laat breinskade en bly ontketen ’n aftakelingsproses in haar liggaam aangevuur deur epileptiese toevalle waarteen medikasie en spesiale diëte op die lang duur net nie effektief blyk te wees nie.

Coetzer se vertelling vind eerstens en hoofsaaklik plaas vanuit die perspektief van die ma van ’n baie siek kind wat konstante terugslae beleef. ’n Ma wat eenvoudig nie kan of wil aanvaar dat die kind wat hulle gehad en geken het, geleidelik al hoe meer agteruitgaan nie. ’n Ma wat alles in die stryd werp teen die onbekende virus wat hul dogter en elke ander lid van hul gesin van vyf se lewens totaal begin omverwerp en verander. ’n Ma wat bloot vertel van die daaglikse stryd wat geleidelik vererger en al hoe meer vreesaanjaend en onseker word.

’n Ma wat ook oor niks rondom die siekte en hul belewing daarvan doekies omdraai nie. Vir my is Coetzer se reguit aanbieding een van die sterkste punte van die boek – sy opper nie superieure uitsprake wat die leser laat voel dat sy te veel, of enigsins, staatmaak op haar beroepskennis nie. Sy vertel wat húlle daagliks ervaar, ondervind, teen moet baklei en oplossings voor moet probeer vind. En sy laat geen steen onaangeroer om te soek na lig aan die einde van die magdom tonnels nie. Dis eintlik eers later dat ’n mens weer onthou en besef dat sy ’n opgeleide en praktiserende psigoterapeut is.

En kyk, sy kán vertel, en goed beskryf. Dikwels met humor wat niemand ontsien nie. Die leser raak blitsvinnig meegevoer en verstrengel in die omstandighede van Anneke en die Coetzer-gesin. Jy hoop vurig saam dat daar beterskap sal kom; ’n wonderwerk sal geskied.

Ongeveer halfpad deur die boek begin ek te dink dat ek graag per e-pos ’n versoek aan Juliana Coetzer sou wou rig. Iets soos: Hou my en die ander lesers ná die lees van die boek asseblief op hoogte van Anneke se vordering sowel as jul eie.

Coetzer se vertellerstem is vars en dit bly deurentyd bewonderenswaardig so, ten spyte van herhalende gebeure wat weer en weer beskryf word – beskryf móét word, want dis integraal deel van die onderbou van die verhaal wat weergegee word.

Geskoei binne haar taalvaardigheid begin die gebeure later meer soos ’n roman lees, met allerlei ander raaiselagtighede wat ook sterk na vore tree en nuwe vrae en bykomende afwagting skep.

Later kan die leser eintlik nie anders nie as om tot die slotsom te kom dat feite inderdaad soms vreemder is as fiksie. Kan al hierdie dinge met een kind gebeur? Met een familie – en bowenal, met een vrou? Waar pas sy, húlle, in die groter opset in? Waar gaan hierdie verhaal eindig? Is daar ’n einde?

Het ek steeds die behoefte om te wil weet hoe dit vorentoe met Anneke, die skrywer en die res van die gesin gaan? Gaan lees maar self en vorm jou eie opinie daaroor.

Bloedvreemd is nie ’n sprokie nie. Ook nie ’n gruwelverhaal nie. Dis ’n eerlike vertelling waaruit elkeen wat dit lees, soveel kan haal as wat hulle sal kan absorbeer. Dit gryp ’n mens aan en verander jou beskouing oor dinge wat jy gedink het jy reeds onder die knie het. Of asseblief tog net nooit mee gekonfronteer wil word nie.

Hierdie boek is ’n besonder sinvolle toevoeging tot traumaliteratuur.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top