
https://www.jonathanball.co.za/product/die-keiser-se-duim/
Die keiser se duim
Chris Karsten
Human & Rousseau
ISBN: 9780798184847
........
Chris Karsten se Abel-trilogie toon hoe die makabere geen probleem vir hom inhou nie. In Die verdwyning van Billy Katz kom dit reeds in die eerste paar bladsye voor; in Die keiser se duim besef die leser mettertyd dat grieselige besonderhede nie verskuil gaan bly nie.
........
Chris Karsten se Abel-trilogie toon hoe die makabere geen probleem vir hom inhou nie. In Die verdwyning van Billy Katz kom dit reeds in die eerste paar bladsye voor; in Die keiser se duim besef die leser mettertyd dat grieselige besonderhede nie verskuil gaan bly nie.
Ons ontmoet heel aan die begin vir Kacsa, wie se bynaam die Eend is vanweë sy waggelstappie. Hierdie waggelstappie lees mens ook in Die verdwyning van Billy Katz raak in die persoon van Rakker. Albei dié tragiese figure staan hul pa’s in traumatiese omstandighede aan die dood af. Kacsa en sy tweelingsussie Lili, weet aanvanklik nie wat van hul pa geword het nie, maar dit is die knoop van hierdie verhaal: hoe en waarom Kacsa se pa dood is. Kacsa neem die reg in eie hande en besluit om sy pa se dood te wreek, iets wat hom nie net tronk toe stuur nie, maar die verloop van die verhaal bepaal.
’n Belangrike feit omtrent Kacsa en sy gesin is dat hulle Romane is. Sigeuners (Engels gypsy) is klaarblyklik soos die Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog, ’n ongewenste groep mense. Gelukkig besluit die prokureur Gábor Mészáros om Kacsa te help, wat dit vir hom moontlik maak om te oorleef asook om sy geliefde Mamsie geldelik te ondersteun. Wat ’n mens verder nog omtrent ’n eend moet onthou, is dat enige gevoelens soos water van sy rug afrol, ’n aspek wat Mészáros tot die uiterste benut deur hom te gebied om van “ongewenstes” ontslae te raak.
Intussen het twee Suid-Afrikaners ook hulle opwagting in Hongarye gemaak, waar die verhaal hoofsaaklik afspeel. Jasper Lubbe en sy neef Faan het hier spoorloos verdwyn en dit is hoe die speurders Lou Pepler en Ella Neser by die verhaal betrek word: om uit te vind wat van hulle geword het. Ella was in elk geval op pad Brugge toe op uitnodiging van Harry Grimbeek, ’n man wat ’n donker skaduwee oor Ella se verhouding met Lou gooi. Laasgenoemde speel ’n belangrike rol in Die verdwyning van Billy Katz, maar daar is genoeg besonderhede in Die keiser se duim oor Lou dat ’n mens besef wat ’n kardinale rol hy in Ella se lewe speel. Dit lui byvoorbeeld op bl 53: “[Hulle] was elkeen in eie hart huiwerig of hulle gereed was om persoonlike vryhede op te offer vir ’n verhouding waarin hy so swaar van tong is met woorde soos liefde en trou.”
Dan is daar nog die keiser se duim wat, soos op Facebook, iemand se goed- of afkeuring van ’n saak te kenne gee – behalwe dat ons op bl 99 agterkom dat die stand van hierdie duim ook ’n mens se lewe of dood kan bepaal. Die skrywer fop jou deur binne die konteks van die gladiatorgevegte van die vroeë Romeine daarna te verwys. Eintlik is hierdie duim die enigste oorblywende bewegende ledemaat van doktor Zoltán Farkas, ’n baie invloedryke en “magtige” mens. In my verbeelding is Farkas so 'n verskrompelde figuur soos Steven Hawking was, behalwe dat Farkas se duim beweeg. Met hierdie duim word die lot van “goeie” en “slegte” mense bepaal.
Karsten het ’n verdere element tersluiks dog meesterlik in al hierdie gebeure verweef: die Tweede Wêreldoorlog. Op bl 13 kom mens op ’n foto af wat ek aanvanklik gesien het as die vergete leerskoene1 van die Romane, waaroor daar op die eerste bladsye geskryf word. Die foto kom weer en weer tussen die hoofstukke voor, sodat die leser dit vanuit verskillende perspektiewe beskou, tot jy op bl 307 lees: “Op die Pest-oewer van die Donau se promenade in Boedapest, nie ver van die Hongaarse parlementsgebou nie, staan 60 pare uitgetrapte, oudmodiese skoene van die soort wat in die 1940’s gedra is ... hierdie skoene is van yster en in beton geset as gedenkteken van die baie Jode van Boedapest se ghetto wat in die winter van 1944/45 op die walle van die Donau geskiet en deur die ysige water weggevoer is.”2
Op ’n stadium besluit Neser om by Pepler in Hongarye aan te sluit om te kyk of sy kan help. Pepler het egter ook spoorloos verdwyn ... op ’n sogenaamde varkplaas. ’n Mens sou kon sê dat Ella en Harry (of Ella en Pepler) se gesprekke bloot agtergrondgeraas is, maar hier gebeur talle dinge op simboliese vlak: die varkagtige “Farkas” met toegang tot ’n varkplaas, want wat anders was die destydse konsentrasiekampe soos by Auschwitz, Belzec, Chelmno, Jasenovac, Madjanek, Maly Trostenets, Sobibór en Treblinka dan? Op die varkplaas is die Bacsiks, tweelingbroers wat toesig hou (een met ’n geweer): Seun 1 en Seun 2 ... die SS. Dit is vir Kacsa moontlik om mense in ’n paneelwa weg te ry (nie ’n stoomtrein uit 1944/45 nie) en in ’n krematorium te slinger, waarna hy hulle gebeentes fynmaal en weggooi. Die reuk van brandende vleis en die dood ontgaan hom geheel en al. Van hier beskou: ’n Nazi in die kleine.
Teen die tyd dat ek die boek klaar gelees het, het ek so ontnugter daarvan afgekom soos enige Jood wat ’n geliefde aan die konsentrasiekampe moes afstaan. My hart was seer en ek is kwaad dat Ella nie méér omtrent die saak gedoen het nie. Farkas het ironies genoeg net een hand oor, en kyk wat hy nie alles daarmee uitgerig het nie.
Hongare is vir hul skaakspel bekend, en Kacsa speel gereeld skaak. Hy wat eens bloot ’n pion was, word ineens die koningin. Hy is die een wat sy duim gebruik. Hy is die een wat seker maak Farkas se liggaam skiet ten slotte die hemelruim te binne soos 'n simboliese Hirosjima.
As jy egter nog nooit deur Yad Vashem gestap het nie, of nie van al daardie gruweldade weet nie, sal hierdie simboliek jou ontgaan. Dan is hierdie boek miskien net ’n spanningsverhaal oor ’n paar mense wat verdwyn.
Karsten het met hierdie boek iets reggekry wat sommige digters doen: Om jou iets te laat voel, sonder om vir jou te sê jou hart moet seer wees. As ek te veel hierop uitbrei, gaan ek te veel van die intrige weggee, maar ek kan net sê: daar is een karakter in hierdie boek wat so oorgedra word, dat mens diep by daardie karakter betrokke raak. Dis 'n kuns!
1 Dis ironies dat die ondersoek in Die verdwyning van Billy Katz by ’n stel afgekapte voete begin.
2 Direkte vertaling van hierdie teks: https://www.yadvashem.org/articles/general/shoes-on-the-danube-promenade.html.
Lees ook:
The essence of success deur Greg Mills en Emanuele Pirro: ’n resensie
Not another samoosa run! by Nadia Cassim: a reader’s impression

