Sarah plus een deur Kristel Loots: ’n resensie

  • 0

Boekomslag: Jonathan Ball; agtergrondprent ter illustrasie: Jill Wellington op Pixabay

Titel: Sarah plus een
Skrywer: Kristel Loots
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795803109

........
Dinge het glad nie glad verloop by Sarah se destydse matriekafskeid nie. Maar sal dinge darem vlot op die reünie? Lesers sal dalk net behaaglik agteroor leun as hulle die boek toeklap.
.........

Dis so verfrissend as die hoofkarakter in ’n boek ’n slag meer as 70 somers agter die rug het. Soveel senior vroue (ons gebruik liefs nie die woord “oumens” of “bejaarde” nie!) sal met Sarah kan identifiseer eerder as met die foutlose, volmaakte, bloedjong, amper skandalig beeldskone blondines wat links en regs hormoonontploffings in liefdesverhale by mans veroorsaak.

........
Sarah is ’n beleë 70-plus-weduwee wat iewers vir haar ’n metgesel vir die 55ste (ja sowaar!) matriekreünie wat op haar grootworddorp plaasvind, moet uitkrap. Veral om haar verlore skoolliefde van meer as ’n halfeeu gelede te wys dat sy darem nie heeltemal oor die muur is nie. Sy oorweeg selfs botoks uit haar neseiertjie vir haar ou oudag.
........

Sarah is ’n beleë 70-plus-weduwee wat iewers vir haar ’n metgesel vir die 55ste (ja sowaar!) matriekreünie wat op haar grootworddorp plaasvind, moet uitkrap. Veral om haar verlore skoolliefde van meer as ’n halfeeu gelede te wys dat sy darem nie heeltemal oor die muur is nie. Sy oorweeg selfs botoks uit haar neseiertjie vir haar ou oudag.

Ouer vroue, wat die grootste persentasie van lesers uitmaak, sal alwetend glimlag oor die swaartekrag wat aan jou lyf kom hang, die brille en pille, die kwinte en kwale. Been there, done that. As jy nie daaroor kan huil nie, dan lag jy maar daaroor.

Sarah, wat net soos Rudie van Rensburg se nimlike Hans van Kraaienburg-karakter op haar eie voorwaardes oud word, is glad nie van plan om te konformeer nie. Haar bloedrooi hare kom uit ’n boksie, en sy dra onpaar oorbelle en funky tekkies. Sy gesels met haar sterwende potplante “soos enige normale mens”.

Sy is lief vir haar sepies en ry graag Uber.

Sy het nie veel krag vir die ouer garde se vervelige kniebroeke wat al amper nasionale kleredrag vir pensioenarisse geword het nie.

Haar kleinseun, Siegfried, is die groot liefde in haar lewe. Sy is sy oopkop, spitsvondige en vrolike vertroueling. Hy eet haar uit die huis uit en het selfs ’n sleutel vir haar woonplek. Elke tiener behoort so ’n ouma te hê.

Sarah is skoon oorstuur oor die matriekreünie en oor wie presies sy daar gaan raakloop. Daarom moet haar Plus 1 uit die boonste rakke wees. Die knieknakker wat haar hart meer as ’n halfeeu gelede flenters getrap het, moet besef sy sit nie in sak en as oor hom nie.

Sy het dringend ’n metgesel nodig, nie “’n plesiertier om per uur te huur nie”. Sy is darem ver van “’n skarlakenvrou af wat buite die stad gestenig moet word”.

Heel onskuldig. Maar hierdie goeie voornemens kry dan ’n hele paar draaie en swaaie en ongevraagde kommentaar.

Lede van die Handige Handjies-groep waaraan sy behoort, is nie juis ondersteunend nie.

Opmerkings soos: “Onthou, Tinder is nie rent-an-ouma nie” en “Seks op sestig is erg genoeg, maar seks op sewentig is bloot banaal” word haar kant toe geslinger.

En dan: “Tinder vra ’n fooi maar dis darem nie so ’n groot skande as om ’n gigolo te betaal nie.”

Op die ou einde kom sy soort van reg, maar dan is dit te veel om te hanteer. Al het sy, soos sy tong-in-die-kies skryf, “net ’n rekwisiet in ’n tux nodig”.

Kristel skerts heerlik met die ouderdom. Sy skryf: “In hierdie stadium is jy nie meer so gepla oor verslanking nie, dis diabetes wat jou tot versigtigheid maan.”

En Huis Huysamen word sommer “Huis Uitasem”.

Die ouderdom, besluit sy, is die groot gelykmaker.

Dis ook maar genade dat mens se oë swakker word, want dan sien jy nie die verval aan jou eie lyf en dié van jou tydgenote raak nie.

Sarah se enigste claim to fame is dat haar pa in ’n stadium burgemeester was en dat sy op haar dag ’n gesogte Trust Bank-meisie was. Nie daar om te tik nie, maar met die uitsluitlike doel om mooi te lyk.

Die internet is ietwat van ’n teleurstelling want al wat die  Loer-en-Koer-klub oplewer is mans wat lieg oor hul ouderdom (sestig) en volgens haar soos “bankrot boere” lyk. Dit terwyl sy ’n Silver Fox à la Richard Gere soek.

Daar is veel meer diepte in die verhaal as wat jy aanvanklik verwag. Geraamtes wat in die kas rammel, ratel en raas, familie- en skoonfamiliedramas, verwikkelde verhoudings en dekades lange wrokke.

Waarvan ek veral hou, is die lighartige verhouding met haar kleinseun en die gemaklikheid wat die humor en onvoorwaardelike aanvaarding en liefde vir mekaar tussen hulle bring. Sy verstaan hom en ondersteun hom omdat hy nie sy pa se rugbydrome bewaarheid het nie.

Dit benadruk die belangrike rol wat grootouers in ’n kind se lewe speel.

Siegfried is egter soos ’n kommandowurm as hy koekies eet. Helaas, winkelkoekies.

Dan trap hy haar kamma uit met: “Opreggeteelde oumas sloof hulle af voor ’n warm stoof om vir hul kleinkinders koekies volgens ’n familieresep te bak.”

Sy sit nie winkelkoekies voor nie. Want sy is nie ’n “bak-en-brou”-ouma nie.

Hy sê: “Ouma, ek kan nie al my crap hier op jou kom dump nie. Jy is oud. Jy moenie staan en doodgaan nie. Not cool.”

Ek het dit geniet om die lank vergete woorde en uitdrukkings uit die sestigerjare weer raak te lees, soos “by die tafel vir die squares”, “hy smaak haar”, “tjaaf” en “aster”. Wanneer laas het jy dit gehoor as jy in daardie era grootgeword het?

Soos te verwagte is siektes en operasies die onderwerpe wat die geesdriftigste besprekings uitlok by die reünie, waar die onderwysers en oudleerlinge ewe oud lyk. Dis die ene niere, kliere, galblaas, prostaat, hartversaking, ingroeitoonnaels, ’n seer rug, rumatiek, alles wat vervang kan word, en skanderings. Nou nie juis glansryk nie.

Om op jou oudag hartkloppings vir ’n lid van die manlike spesie te kry word verwar met sooibrand en bloeddrukprobleme.

Die drama in die storie bereik op verskeie vlakke ’n hoogtepunt tydens die gewraakte reünie. Dis asof alles tegelyk gebeur. It never rains but it pours.

........
Dis ’n storie van kalwerliefde, ontnugtering, verlies, misverstande, nostalgie en deernis.
........

Dis ’n storie van kalwerliefde, ontnugtering, verlies, misverstande, nostalgie en deernis.

Dinge het glad nie glad verloop by Sarah se destydse matriekafskeid nie. Maar sal dinge darem vlot op die reünie? Lesers sal dalk net behaaglik agteroor leun as hulle die boek toeklap.

En mag ek dit sê? Sarah laat my baie aan die skrywer self dink wat ek net twee keer in lewende lywe ontmoet het maar goed deur haar boeke leer ken het.

Die vrou met die vlamrooi hare, wysheid, humorsin en empatie.

Lees ook:

Eende van dieselfde dam

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top