In die huis waar Amalia grootword, is rook ’n sonde. Amper net so erg soos om nie in ’n wit trourok voor die preekstoel te staan nie, of om jou naaste se os of esel te begeer.
Die Van der Merwes maak ’n duidelike onderskeid tussen dié wat rook en dié wat dit nie doen nie. Die een is eende van hulle dam, die ander word nie naby die water toegelaat nie.
Wat natuurlik verklaar waarom Amalia toe so halsoorkop verlief raak op Jack. Dis toe Jack Amalia die eerste keer in sy arms neem en sy die pakkie sigarette in sy bosak teen haar wang voel dat sy finaal voor die versoeking val. Sy adem Jack se geur in, die rokersreuk aan sy klere, in sy nek, die smaak van sy mond. Dis die geur van ’n roker, dis die geur van ’n man.
Om te sien hoe Jack sy sigarette hanteer is om na ’n movie met ’n streng ouderdomsbeperking te kyk. Hoe hy net die regte sigaret uit die pakkie kies, sag en tergend tydsaam daaroor streel, die voue om sy mond sag en soet, loom gedagtes in sy oë. Hoe hy die sigaret ’n oomblik lank met sy lippe liefkoos, die aansteker aanhits, en dan daardie eerste teug van genot … Sy oë versluier, ’n simfonie van sensualiteit wat Amalia laat ril van begeerte. Eintlik wil sy op sy skoot spring, arms om sy nek gooi, bene om sy lyf slaan – maar sy weet niks kom tussen ’n man en sy sigaret nie en sy hou haar in.
“Daar sal nooit weer vir my ’n liefde soos hierdie wees nie,” konfronteer sy haar pa en ma wat neusoptrekkerig aan Jack ruik.
Op ’n skoon somersdag trou Amalia met Jack. In ’n spierwitte trourok, nogal. “Ook maar net-net, as jy my vra,” brom haar pa terwyl hy sy vrou uit haar floutes probeer lawe en onderskraag. Jack wag tot na die seremonie om op te steek, maar die onthaal gaan min of meer in ’n rookwolk verby. En Amalia is gelukkiger as ooit voorheen in haar rooklose lewe.
Net jammer dat geen huwelik gevrywaar is van die sewejaarjeuk nie. Dat vuil asbakke die hele huis vol later hul bekoring verloor, dat selfs rokersoene nie meer dieselfde verlammende uitwerking op jou lyf het nie.
“Jy is nou nes daardie ou ma van jou,” verwyt Jack toe Amalia haar streng rokerswette begin uitvaardig. “As jy so aangaan, sal ek later nie meer in my eie huis kan rook nie.”
Dit gebeur nie oornag nie, maar dit gebeur. Dat Jack later na die buitenste duisternis verban word om daar sy longe te gaan verniel. Maar Amalia, liefdevolle vrou wat sy is, sorg darem dat daar vir hom ’n gemaklike stoel op die stoep is.
En toe trek die nuwe buurvrou in. Een wat in ’n uitgerafelde denimkortbroek in die tuin werk. Blond soos die môredou, om die cliché van rou vroulike verleidelikheid verder te voer. Van ’n man is daar geen teken nie, van kinders om haar besig te hou sodat sy minder in die tuin kan kom, nog minder.
Amalia sit in die sitkamer en televisie kyk toe sy die gegiggel hoor, die stemmetjie skerp soos ’n outydse skeermeslemmetjie en Jack se basstem wat agterna brom. Hulle staan by die muur, Jack en die buurvrou, elkeen darem nog in sy of haar eie grondgebied. Maar dis die twee vuurvonkies naby mekaar in die donker wat die aarde onder Amalia laat bewe. Die buurvrou rook!
Kyk, van die samehorigheid tussen rokers hoef niemand haar te vertel nie. Daarvoor is sy al te veel uit die kring van die rokers en die stokers gestoot. Hulle staan sáám, hulle stem saam, want hulle rook saam. Roetswart harte klop met dieselfde verwoestende ritme.
Skielik is Jack nie meer so dikbek om saans buite te gaan rook nie.
“Waaroor gesels jy en die buurvrou so lekker?” wil Amalia weet.
“Ag sommer … oor die weer en so.”
Maar praatjies oor die weer kan nie so amusant wees dat Jack en die buurvrou so lekker daaroor sal lag nie.
Dis toe Amalia die buurvrou die aand hier onder haar neus op die stoep hoor lag dat sy behoorlik strip. Sy storm uit. Dit ís darem nog haar huis hierdie. As daar buurskaplik gekuier gaan word, sal sý die tee maak. En sommer ook haar vinger daarin steek vir ekstra geur.
“Ek het net ’n sigaretjie by Jack kom bedel,” verduidelik die voorbarige vroumens. Jack is dadelik by met ’n aansteker toe sy die sigaret tussen haar lippe laat glip. Hy wat nie daarin glo om sy sigarette uit te deel nie. “Want ek loop altyd leeg wanneer ek nie naby ’n kafee is nie.”
Dit word ’n gewoonte, Jack en Buurvrou en hul verpestelike sigarette. Amalia sien hulle gereeld saam rook, maar sy hoor hulle nie meer so baie saamlag nie. Dis asof daar ’n vreemde rusteloosheid in Jack roer.
“Die werk stuur my vir ’n maand oorsee,” kom vertel hy. “Amerika toe.” Amalia skrik. ’n Maand is lank. En Amerika is ver.
“Ons kan mekaar skype,” soek sy gerusstelling vir haar ongemak. “Jy kan maar rook terwyl ons gesels,” stel sy voor. “Dit sal my nie pla nie.”
Miskien moes hulle dit lankal gedoen het. Tegnologie ingespan het om nader aan mekaar te wees sodat hulle nie so ver van mekaar af dryf nie.
“Ons kan nie. Die konferensie word in die Rocky Mountains gehou. Daar is glad nie ’n selfoonsein of wi-fi nie.”
Sommer al op die derde dag wat hy weg is, tref die eensaamheid en verlange na haar man vir Amalia. “Ek haat sy rokery,” vertel sy vir die vier mure om haar. “Maar ek is lief vir die bliksem.”
Sy sien nou die verkeerdheid van haar weë in. Is sy mal? Wat probeer sy doen? Haar man in ’n ander vrou se arms indryf? Hoe kan sy hom soos ’n hond by die deur uitjaag om buite te gaan rook? In wind en weer, somer of winter?
Selfs – sy skaam haar – die enkele kere wanneer Jack nog na haar lyf vra. Daar word nooit meer na die tyd gecuddle nie. “Na aksie, satisfaksie,” het Jack graag vroeër genotvol gesê wanneer hy agteroorlê en na sy pakkie sigarette langs hom op die bedkassie tas. Nou moet hy uit sodra hy weer reëlmatig asemhaal.
Dis tóé dat die gloeilampie bo haar kop aanskakel. Sy weet wat sy moet doen en sy moet dit gou doen. Sy moet die kuns binne weke bemeester, haar longe oefening gee sodat sy soos ’n pro sal rook teen die tyd dat sy Jack op die lughawe gaan haal. ’n Huwelik vra opofferings. Sy sal seker so vyf tot tien jaar minder leef, maar wat is die lewe tog werd sonder Jack?
Dis net dat dit nie so maklik is om te leer rook nie. Orals op die internet is daar raad om op te hou, maar nie andersom nie. Wat sy nodig het, is iemand om haar touwys te maak, maar oor haar dooie liggaam sal sy die buurvrou vra om dit te doen. Die winter hou die vrekselse vrou blykbaar uit die tuin, want daar is nie ’n roering buite nie. Sit heel moontlik ook vingeralleen in haar huis, net so eensaam soos Amalia. Ook sonder kind of kraai soos sy.
Gelukkig kan jy nie my man bykom nie, wil Amalia vir haar sê. Want hy is oseane ver van jou af verwyderd. In die boendoes, in die Rocky Mountains, in Denver, in Colorado, in die VSA. Waar hy nie gekontak kan word nie.
Miskien kan hulle al drie saam rook wanneer Jack terug is. Oor die weer gesels en lag. Hoewel sy Jack lanklaas hoor lag het.
Voor die maand om is, weet Amalia waarom rook van die duiwel is en dat mens kortasem van benoudheid kan raak wanneer jou kop en lyf na ’n sigaret vra en daar nie een binne ’n armlengte van jou af is nie. Sy verstaan nou Jack se verslawing; hulle sal nou sielsgenote wees.
En toe kom Jack onverwags met Uber van die lughawe af daar aangesit. Hy groet nie. “Daar is iets wat ek vir jou moet sê,” kondig hy aan die oomblik toe hy sy tasse neersmyt.
“Ek het vir jou gelieg. Ek was nie weg vir werk nie, maar dit was beter vir my om nie met jou kontak te hê nie. Ek moes dinge vir myself uitklaar. Afgesonder. Op my eie.”
Amalia sak in die naaste stoel neer.
“Ek is jammer, Amalia, ek het nie langer kans gesien vir die lewe wat ons gelei het nie. Ek was ’n gevangene, ’n slaaf, ek moes net wegbreek uit die groef waarin ek beland het.”
Jack neem haar hande in syne. “Ek het dit reggekry, Amalia. Daar het vir my ’n nuwe wêreld oopgegaan. Dinge sal nooit weer dieselfde wees nie.”
Amalia voel-voel na haar sigarette. As hy haar net nog ’n kans wil gee …
Maar Jack staan regop, gooi sy arms oop. “Ek is vry, na ’n maand se terapie, uiteindelik heeltemal vry.” Hy lag. “Ek het ophou rook, Amalia!” spog hy triomfantelik. “Vir altyd.”
Lees ’n kort onderhoud met Kristel Loots oor "Eende van dieselfde dam" hier:
Korona-kortverhaalfees: Kristel Loots oor "Eende van dieselfde dam"
Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:


Kommentaar
'n Ironiese einde wat, alhoewel jy as leser iets met die buurvrou te wagte is, jy dit tog in 'n mate verwag!
Heerlike vermaak Kristel, ek het lekker gelees.
Dankie, Kristel! Uit die boonste rakke, soos gewoonlik!
Heerlike storie!
Ek het dit baie geniet om te lees. Verrassende einde...
Die ironie van die lewe (én liefde), nè? My laat terugdink aan hoekom ék opgehou rook het na amper dertig jaar... Goeie storie.