Korona-kortverhaalfees: Kristel Loots oor "Eende van dieselfde dam"

  • 0

Kristel, Afrikaanse humor lyk vir mense maklik om te skryf wanneer hulle verhale lees, maar ek weet die teenoorgestelde is waar. Hoe benader jy humor in jou skryfwerk, en is daar sekere reëls waarvolgens jy Afrikaans ontgin?

Humor het baie gesigte, en die trefkrag daarvan is onvervangbaar én onverklaarbaar. Wat vir die een skreeusnaaks is, is vir ’n ander bloot simpel. Die humor in my stories is selde uitgedink en word gewoonlik lukraak en spontaan deur die muse afgevuur. Ek dink nie dis iets waaraan ’n mens kan werk nie. Om te probeer snaaks wees, stuur maklik af op ’n tert-in-die-gesig-klug. Die magic van skryfwerk is dat ’n mens jouself soms tot lekkerlag, of trane, kan skryf. Komedie en tragedie loop hand aan hand.

Jy is bekend as ’n liefdesromanskrywer, en literêre snobs trek hul neuse dikwels vir dié genre op. Hoe voel jy daaroor?

Daar word ’n trappe-van-vergelyking-onderskeid getref tussen ’n romanseskrywer (’n kuns op sy eie) waar die lakens gelig word en dit hoofsaaklik gaan oor die liefde, die volle liefde en niks anders as die liefde nie, en ’n liefdesromanskrywer – die etiket om my nek.

In ’n liefdesroman word daar ook gesoen en gedoen, maar die karakters kom darem soms op vir lug om te werk of te kerk. Dit vertel dikwels wat gebeur wanneer die wittebrood verby is en die sewejaarjeuk, of erger, om die hoek loer. Daar is kinders, ’n hond met vlooie en ’n skoonma, en niemand is meer beeldskoon met albasterblou slaappop-oë of kuiltjies in die ken nie.

Maar “body issues” kan selfs in die postfeministiese era ’n lewe heeltemal beduiwel. Vlees-en-bloed-vroue is vet of vervelig of verveeld, en mans loop rond. Soms. Die rou werklikheid van ’n onvolmaakte lewe met die soeke na ’n warm lyf om teen lepel te lê steeds brandend in jou.

Ek skryf ook graag met groot guitigheid Afrikaanse chicklit wat met Bridget Jones en haar per-ongeluk-“bloemer” wêreldwyd nuwe lewe gekry het. ’n Hele paar subgenres het daaruit ontstaan, selfs ’n “Bridget Jones goes to church”-tendens.

Liefde (én misdaad, spanning, moord en doodslag) verkoop, maar ek “doen” nie bloed en derms en maaiers wat op lyke krioel nie. Daarom skryf ek eerder vroue- of gesinsverhale. Met liefdesverhaalondertone. Want in elke storie wat onder die son vertel word, skuil daar tog verborge aspekte van ’n liefdesverhaal. Selfs in ’n cowboyboekie, waar die held in die verhaal teen die gelukkige einde eers sy perd terugkry, dan sy hond en uiteindelik sy vrou. Eers dán kan hy tydens die slottoneel die horison tegemoet galop.

Ek skryf wat ek skryf wat ek skryf, maar ek het ’n sterk vermoede Die Groot Afrikaanse Roman gaan nie deur hierdie tien vingers op ’n sleutelbord gepleeg word nie. En dis oukei so!

Sonja Loots, wie se skryfwerk in “ernstige” hogere literêre kringe met reg ten hemele aangeprys word, is jou dogter. Sonja se sukses is natuurlik te danke aan jou briljante gene. Ek is nuuskierig om te weet wat julle tweetjies vir mekaar oor julle werk en skryfsake in die algemeen te sê het.

My gene bloos ’n bietjie en hoop hulle word nie as doodgewoon uitgevang nie. En dan is daar Sonja … Die ekstra lang sub A-sinne, die grootmens-Afrikaans (pure afshow, het die familie gesê), die goue sterretjies, later jare die beskrywing van ’n spinnekop wat sy web span, die woorde hoeka ragfyn soos spinnedrade verweef. Wat my met ontroering, verstomming en verwondering laat stilstaan het. Miskien moet ek net noem dat Sonja eintlik voor my begin skryf en publiseer het. En dit so lekker laat lyk het dat ek ook probeer het.

Ek het groot respek en bewondering vir my meisiekind se skryfwerk en dink heimlik “de helft is nog niet verteld”. Maar nee, ons speel nie op dieselfde stoepie met ons skryfwerk nie, wuif net vir mekaar “from afar” en wys soms ’n duimpie in die lug.

Hoe het die idee van “Eende van dieselfde dam” by jou tuisgekom?

Daar was ’n dag toe die buurvrou met haar Delillalyf ’n sigaret kom bedel het by die een wat ek liefgehad het. Die twee rokers het hand om die blaas eenkant toe gaan staan, daar waar dit donker was. Hy, dapper ridder van die dag, het die aansteker beman, buurvrou het haar hande om syne gevou om te keer dat die wind nie sou wegwaai wat begin vlamvat het nie. En ver vooroor gebuk om die sigaret aan te steek, so ver dat jy net cleavage sien. En die cleavage was destyds nog ’n mooi cleavage. Dis dan dat mens begin dink jy moet maar weer begin rook, al hoes en proes jy ook hoe onstigtelik waar jy jou ook al bevind. Want jy wil een van die eende van daai dam wees, sien?

 

Lees Kristel Loots se kortverhaal, “Eende van dieselfde dam”, hier:

Eende van dieselfde dam

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top