
Titel: The essence of success
Skrywers: Greg Mills en Emanuele Pirro
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781776392551
Ek het Greg Mills en Emanuele Pirro se boek, getiteld The essence of success: insights on leadership and strategy from sport, business, war and politics (Penguin Books, 2025), interessant, verrykend en leersaam gevind. Dit som vir my die idioom, “woorde wek, maar voorbeelde strek”, perfek op. Die skrywers poog om die wese, die kritiese kernbestanddele, van sukses op te som en vra onder meer: “Is dit aangebore of kan dit aangeleer word?”
The essence of success beslaan 355 bladsye en vyf afdelings, naamlik “Part one: no easy answers – doing the hard yards”, “Part two: leadership and building a team”, “Part three: innovating and adapting to change”, “Part four: getting strategy right”, “Part five: timing and attention to detail” en “Part six: think things through to the finish”. Daar is ook ’n eindhoofstuk met ’n samevattende gevolgtrekking, en die netjiese indeks is handig.
Die indrukwekkende lys agterin, met die name van diverse invloedryke verskilmakers en uitskieters met wie daar onderhoude gevoer is, het my oë laat rek. Dis g’n wonder nie dat Andrés Pastrana Arango, voormalige president van Colombië, die volgende gesê het: “I wish I could have read this book when I became president. It would have made my job much easier. It is an essential guide to personal improvement, while reminding us of the enduring qualities that lead to greatness in all disciplines.”
The essence of success is, in ’n wêreld waar middelmatigheid dikwels as die norm aanvaar word en morele verantwoordelikheid as swakheid beskou word, soos ’n spreekwoordelike vars briesie. Dit kombineer die dissipline, dryfkrag en skerpsinnigheid wat noodsaaklik is om in ’n uiters mededingende, hedendaagse wêreld te funksioneer én sukses te behaal met verantwoordbaarheid teenoor en respek vir alle rolspelers. Soos blitsverkoperskrywer, James Holland, op die voorblad opmerk: “This is a fabulous book combining the analytical eye of the strategist with the grounded, human insight of the practitioner.”
Sukses hang nie van die briljantheid, visie of dominansie van een persoon af nie, maar behels komponente wat dikwels in die agtergrond gebeur, naamlik waagmoed, dapperheid, veerkragtigheid, spanwerk, beplanning, voorbereiding, ensovoorts. Dit vra vir ware leierskap deur iemand met integriteit, emosionele intelligensie, die vermoë om te inspireer en ander op te lig. ’n Bevoegde persoon wat deur praktiese benadering lei en ’n voorbeeld stel.
The essence of success is ’n reuseversameling wyshede en bevat ’n magdom inspirerende voorbeelde en interessante suksesstories van deurwinterde leiers op die gebied van besigheid, oorlog, politiek en sport. Ware sukses is sóveel meer as roem, rykdom en die vermagting van die buitengewone. Seretse Khama Ian Khama, voormalige president van Botswana, som die boek só op: “[T]rue success transcends wealth or fame – it’s about building resilience, purpose and community. The book distils this core into actionable principles, offering a rare combination of macro-level wisdom and micro-level practices.”
Vir my is die kernboodskap van The essence of success: Mense kom altyd eerste, bo mag, roem en rykdom. Leiers wat dít besef, hou die sleutels van sukses in hulle hande. Of soos John Donne gesê het: “No man is an island.” Belê in selfverbetering, maar altyd met die doel om die gemeenskap op te hef. Fokus, neem verantwoordelikheid, beplan, pas aan, doen.
Ek het die boek verrykend gevind. Dit het vir seker my algemene kennis oor invloedryke rolspelers se strategieë in besigheid, oorlog, politiek en sport verruim. Die vertellinge en anekdotes is interessant en leersaam. Sal ek die boek aanbeveel? Ja. ’n Mens haal nie sommer ’n boek van ’n rak af waarin soveel diggeweefde onderhoude, vertellinge, stories, analise en gevallestudies die eienskappe, insig en prestasies van suksesvolle persone ondersoek nie.
Dit is egter belangrik, dink ek, dat die leser in gedagte hou dat sukses ook persoonlik is en nie noodwendig in rand en sent of deur telborde uitgestippel kan word nie. Sukses kan ook op ander terreine behalwe besigheid, oorlog, politiek en sport bereik word.
The essence of success is nie ’n vinnige lees nie. Die uitleg is meestal aaneenlopende paragrawe sonder veel visuele pouses, buiten hoof- en onderskrifte. Dit is egter een van daardie boeke wat die leser van tyd tot tyd van die rak gaan afhaal om weer te lees, want die beginsels daarin vervat is universeel, relevant en opvoedkundig.
Lees ook:
Frederik van Zyl Slabbert: Soekende profeet by Albert Grundlingh: a review

