’n Lesersindruk: Wicked smart deur Douglas Kruger

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Wicked smart, brilliant ways to do just anything better
Skrywer: Douglas Kruger
ISBN: 9781776392483
Uitgewer: Penguin

Ons leef in ’n dol tyd waarin mens skaars kan byhou met die snel pas waarmee alles om ons verander en gebeur. En hoe vinniger ons hol op die hamsterwiel wat ons “die lewe” noem, hoe meer beter ons aanpas of ons raak agter. Sommige is slim genoeg om “nee, dankie” te sê, ’n lappie aarde iewers aan te skaf, hulle af te sny van die malle gejaag en so eenvoudig moontlik te leef. Maar die res hou maar uit en beur voort, want die einde van die maand kom nader en dan moet daar weer gehoes word om jou bas toe te maak, jou maag en kar vol te maak en ’n dak oor jou kop te hê.

Onlangs beland Douglas Kruger se jongste boek, getiteld Wicked smart, op my lessenaar. Die subtitel is nogal ewe Brilliant ways to do just about anything better. Nè? dag ek, en besluit om die blitsverkoperskrywer van onder meer Poverty proof, Is your thinking keeping you poor, Virus proof your small business en How to grow rich van nader te bekyk, want boaan die titel op die voorblad staan: “Over the past decades, there have been amazing breakthroughs in behavioural economics. What if you could gather all the best ones in one place? An entire book packed full of ‘smart-cuts’ [...]?” My gedagtes gaan op loop (pun intended) toe ek die voorbladprent van ’n brein met bene sien hardloop dat die stof so staan. Ek kan nogal vereenselwig daarmee, want my werkslewe gebeur teen ’n tempo wat Bruce Fordyce sou laat skaam kry – uithou, aanhou, gefokus, vinnig ...

Ek glo daaraan dat mens, ten spyte van ’n besige leefstyl, jouself moet verryk en aanhou leer en ontdek. Dat jy maniere moet vind om produktief te wees sonder om te sukkel of die spreekwoordelike wiel te herontwerp. Juis daarom gaan steek ek graag kers op by individue wat hierdie beginsels en vaardighede op die oog af onder die knie het. Hulle wat die pad stap op ’n manier wat moeiteloos lyk, asof sukses na hulle toe aangetrek word. Hulle wat maniere vind om dinge makliker, beter en vinniger te doen. So, wat weet hierdie innoverende (uitgeslape?) slimjanne wat die gewone 9 tot 5-ploeteraar nie weet nie? Wel, volgens Douglas Kruger pas hulle smart-cuts toe. Dus: Hulle het, soos die Engelsman sê, a cat (or two) up their sleeves. En mens kan glo daardie einste “katte” ’n blyplek in jóú mou gee en só die wêreld vir jouself baie makliker maak deur net wicked smart te wees.

Wicked smart beslaan 228 bladsye en is pas deur Penguin Books uitgegee. Hier volg ’n paar van die hoofstuktitels (en ek hou veral van die eerste twee!): “How to get more done by moving slower”; “How to turn procrastination into a productive technique”; “How to improve further when you are already good”; en “How to simplify your existing systems”. Hierdie titels het my laat wonder of die skrywer bloot die geleentheid gesien het om opgewarmde motiveringspraatjies aan liggelowige hoopvolles te smous. Hy hou dus ’n paar vae you can do anything you set your mind to-praatjies voor en lag al die pad bank toe, terwyl sy lesers eintlik niks wyser word nie – behalwe dat hulle vir ’n dag of twee reken waar daar ’n wil is, is daar wraggies ’n weg. Maar dan verdwyn die euforiese newels in die ongenaakbare skerp lig van die werklikheid en hulle bevind hulle maar net weer in dieselfde posisie, naamlik al hygend en strompelend op die hamsterwiel.

Maar toe vang my oog die volgende hoofstuktitels: “How to plan a successful project”; “How to estimate the cost of a project”; “How to win against stronger opponents”; “How to increase your chances of workplace promotion”; “How to overcome the fear of public speaking”; “How to make your ideas come alive”; “How to standardise brilliant behaviour through checklists”; “How to raise a child”; “How to make new things”; “How to solve a complex problem”; “How to focus on money-making activities”; “How to deal with a setback”; “How to ensure that more money doesn’t make you poorer”; en “How to prepare for success”. Hm, het ek gedink, dalk gaan ek tóg iets van waarde leer deur die boek te lees, iets wat ek kan toepas en ’n daadwerklike verskil kan ervaar en meet. Waarom op die ou trant ploeter as ek meer vinniger en makliker kan doen?

Die skrywer beloof:

There are smart-cuts galore in the pages ahead. Each one is a bicycle for your mind. Each one will make you faster, reduce your input and maximise your results. Each one is tailer-made to help you blow right pass the average gorilla.

’n Gedeelte van die lokteks op die agterblad lui:

These insights are gamechangers. They come from trusted sources and work in the real world. Here is a condensation of the best brilliant breakthroughs across a range of spheres, in one easy guide. Whether you are chasing personal goals, leading teams, persuading others or are merely interested in clever ways of living the human experience, you will pick up dozens of ingenious accelerators within the pages of Wicked Smart.

Ek het Wicked smart insiggewend en leersaam gevind. Dit is ’n indrukwekkende versameling beginsels wat ek ter harte sal neem in my persoonlike, sowel as professionele lewe. Van die beginsels, soos “It’s not what you know, it’s who you know”, is eintlik iets wat almal weet, maar soos Kruger sê: “This principle is common knowledge, yet it isn’t always common practice.” Sukses hang dus daarvan af of mens die beginsels, raad en wenke toepas of nie. En dis waar die koring van die kaf geskei word. Gaan dit kopkennis bly, of gaan ek dit toepas? Dit is vir elke leser om te besluit.

As ek slegs een beginsel in Wicked smart kan uitlig wat ek reken ’n verskil in lewe maak, dan is dit: “[U]se breaks to remember, to solve problems or to generate ideas. Optimally, they should include a non-demanding task, like walking.”

Kruger is ’n welbekende en gerekende internasionale spreker. Sy praatjie oor hoe om armoede te oorkom is aanlyn meer as twee miljoen keer gekyk. Vind hier meer oor hom uit.

Lees ook:

Super C: ’n onderhoud met Susan Coetzer

Future-proof yourself by Nikki Bush: A reader impression

Review: Future-proof your child for the 2020s and beyond by Nikki Bush and Graeme Codrington

Word ryk, bly ryk deur PJ en Geo Botha, ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top