Word ryk, bly ryk deur PJ en Geo Botha, ’n resensie

  • 0

Titel: Word ryk, bly ryk
Skrywers: PJ en Geo Botha
ISBN: 9781776390946
Uitgewer: LAPA

PJ en Geo Botha is albei onafhanklike finansiële adviseurs by Bovest Wealth Management, ’n suksesvolle welvaartbestuursmaatskappy wat hulle vader, Riaan Botha, gestig het. PJ is ’n analitiese denker; die tegniese en praktiese aspekte van finansies fassineer hom. Geo is weer ’n strategiese dromer en stel in die sielkunde agter besluitneming belang. Die broers is ook mede-aanbieders en -vervaardigers van die kykNET-program Welvaartskeppers. Hulle help graag vir Jan Alleman om in uitdagende omstandighede geld te genereer en te laat vermeerder.

Ek het PJ en Geo se boek getiteld Word ryk, bly ryk: Hoe om welvaart te skep en bestuur leersaam en insiggewend gevind. Dit bied toeganklike en waardevolle raad en wenke wat die leser met gerustheid ter harte kan neem en toepas – ’n belangrike oorweging vir my, want wanneer ek die moeite doen om ’n boek oor finansies te lees, wil ek die inhoud verstaan en die beginsels prakties kan uitvoer, en wel ... h’m (kug-kug) ... geld maak, of ten minste die paar rand wat ek het, so goed moontlik bestuur. Ek voel dat ek goeie, kundige en navolgenswaardige advies gekry het in hierdie boek.

Word ryk, bly ryk is in 2023 deur LAPA Uitgewers gepubliseer en beslaan 174 bladsye. Dit wemel van voorbeelde sowel as strategieë en wenke om beheer oor jou eie finansiële toekoms te neem. Drie afdelings, naamlik “Welvaatskepping: Hoe om geld te maak en te verdien”, “Welvaartbestuur: Hoe om geld wat jy gemaak het, te laat groei”, en “Welvaartoordrag: Hoe om jou welvaart te geniet en na te laat vir die volgende generasie”, sowel as vrae en opdragte, moedig lesers aan om oor hulle finansiële welvaart te besin. Die skrywers steun in die laaste afdeling op die kundigheid van die ouer Botha, wat ook die boek Welvaartskeppers: Strategieë wat jou lewe kan verander geskryf het.

Ek het Word ryk, bly ryk ’n baie praktiese boek gevind. Dit is gevul met suksesstories, oftewel gevallestudies van welvaartskeppers soos, onder meer, Whitey Basson, voormalige hoof van Shoprite, Raymond Ackerman, voormalige hoof van Pick n Pay, Hannes Strydom, stigter en hoof van die Pharma Valu-apteekgroep, en Koos Bekker, voorsitter van Naspers en stigter van M-Net  en MTN. Hulle kombineer hulle ondersoek na suksesvolle mense met hulle eie insigte as adviseurs om die verskillende fases van die welvaartsiklus te bestudeer.

Die Botha-broers moedig lesers aan om hierdie lesersvriendelike gids hulle eie te maak, strategieë te identifiseer waarby hulle aanklank vind, en dan beheer te neem oor hulle finansies. Hulle kommunikeer in ’n gemaklike geselstrant, verduidelik uitdagende finansiële begrippe moeiteloos, en gee sinvolle en kundige raad. ’n Pluspunt is natuurlik dat hulle die kweek van goeie finansiële gewoontes aanmoedig en lesers ontmoedig om gourykwordskemas en -slenters te glo. Die boek leer die leser ook meer oor byvoorbeeld skuld, versekering, aftrede, trusts, belasting en boedelbeplanning. Ek sou graag ’n meer volledige bespreking oor beleggings wou gehad het. Daar word wel ’n kort, interessante hoofstuk daaraan gewy, maar as leek sou ek graag méér praktiese voorbeelde en indringende wenke rakende verskillende beleggingsvoertuie wou hê en hoe om daarin te belê. 

’n Soortgelyke publikasie is Daniel Strauss van die beleggingsgroep Stocks & Strauss se Dink soos ’n miljardêr (Tafelberg Uitgewers), wat die leser aanmoedig om ’n gesonde sakemodel met waardes te hê om die op-en-af ekonomie te klop. Dit bied ook aan die leser metodes, konsepte en denkwyses as kragtige gereedskap om van die wêreld ’n beter plek te maak.

Ek beveel  PJ en Geo se boek sonder voorbehoud heelhartig aan vir leke én kundiges in die finansiële wêreld. Die boek is by toonaangewende boekwinkels en aanlyn beskikbaar, en verkoop teen ongeveer R250.

Lees ook:

Your ultimate personal finance guide by Johan Gouws: a review

The spirit of leadership by Reuel J Khoza, a review

Life lessons: How to fail and win by Alan Knott-Craig: a reader’s impression

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top