The wealth ladder deur Nick Maggiulli: ’n resensie

  • 0

Titel: The wealth ladder: proven strategies for every step of your financial life
Skrywer: Nick Maggiulli
Uitgewer: Cornerstone Press
ISBN: 9781529945904

Solank mense wil geld maak, sal daar wees-slim-en-word-ryk-boeke verskyn. Daar is geen tekort daaraan op die boekwinkels se rakke nie. Indien jy jou finansiële kennis wil verbreed, is daar meer as genoeg leesstof deur kenners beskikbaar. Dit is maklik om deesdae ’n studie te maak van hoe suksesvolle ghoeroes reken jy jou geld optimaal vir jou behoort te laat werk.

Maar dis een ding om netjies verpakte beginsels in teorie te bestudeer en heeltemal ’n ander ding om dit in praktyk toe te pas. ’n Mens lees tog hierdie tipe boeke omdat jy werklik hoop jy kan ’n paar wenke kry wat uiteindelik daartoe sal lei dat jy finansieel beter daaraan toe is. Jy wil nie net ’n motiveringspraatjie in boekvorm kry nie, jy verwag resultate.

Ek het pas Nick Maggiulli se boek, getiteld The wealth ladder: proven strategies for every step of your financial life, gelees. Dit word deur Cornerstone Press, wat deel van Penguin Random House vorm, uitgegee en beslaan 234 bladsye. Daar is drie afdelings, naamlik “Understanding the wealth ladder”, “Making the climb” en “Finding your summit”.

Deel 1 behandel die begrippe spandeer, verdien en belê. Deel 2 verduidelik ses vlakke van rykdom, wat elkeen ’n eie strategie vra. Deel 3 fokus op wat die ware doel en betekenis van geld is en of dit mens kan help om nie net finansieel sterker te wees nie, maar ook om ’n beter lewe te lei. Met ander woorde, kan geld geluk koop?

Hier is ’n opsomming van die ses vlakke, wat wissel van die lae-inkomsteklas (<$10k) tot die superrykes ($100M+):

[...] certain facets of our lives are amplified by how much wealth we have. In Level 1, we saw how bad luck was amplified due to the lack of wealth. In Level 2, our career choices were amplified. And in Levels 5-6, our personal relationships were amplified. (163)

In Level 1 it’s safety. In Level 2 it’s education. In Level 3 it’s investing. In Level 4 it’s starting a business. In Level 5 it’s scaling a business. And in Level 6 it’s protecting your wealth. (214)

Die boek vra vrae soos: Are you stuck financially? Has your strategy for getting richer stopped working? Is your lack of money taking a toll on your life?

Maggiulli reken die meeste finansiële strategieë misluk omdat dit nie by mense se veranderende finansiële omstandighede aanpas nie. Volgens hom is The wealth ladder nie ’n “get-rich-quick-scheme” of ’n “one-size-fits-all”-oplossing vir geldelike probleme nie. Dit bied wel ’n vars manier om na geld te kyk inaggenome dat mens die regte strategieë op die regte tyd volg. “Enter The Wealth Ladder. It breaks wealth into six different levels, each demanding its own strategy.” Die boek beloof: “You’ll learn how to handle your spending, income, investments and more, with tailored advice for every stage. The result? A clear path upwards.”

Scott Galloway, die skrywer van The algebra of wealth, reken: “Different stages in life require different ways of thinking about money. I learned that by trial and error. All you need to do is read Nick Maggiulli’s excellent book.”

Goed en wel. Maar is die boek slegs ’n herverpakking van wat enigiemand met gesonde verstand vir homself kan uitredeneer of in soveel ander soortgelyke boeke uitgestippel word?

Ek het die boek verfrissend en eerlik beleef, omdat dit oor soveel meer handel as net hoe om geld te maak. Dit gaan ook oor hoe om te weet genoeg is genoeg. Natuurlik moet dit lekker wees om finansiële rykdom te hê, maar die pad daarheen is vol slaggate en dit kom dikwels teen ’n prys. ’n Mens moet jou dus afvra of jy tevrede is met die rykdom wat jy tans het en of jy die volgende vlak(ke) wil najaag. Sal meer geld werklik jou lewe verbeter? Of is die prys wat jy betaal in byvoorbeeld tyd, energie en verhoudings, net té groot? Volgens die skrywer is daar meer aan rykdom as bloot hoeveel geld en bates jy het. William Vanderbilt, eens die rykste man ter wêreld, het glo laat val dat dié titel vir hom niks meer as angstigheid gebring het nie.

Die lesse in hierdie boek kan ook op ander gebiede in jou lewe toegepas word, soos hoe om die regte besluite vir jou loopbaan te neem en bemarkbare vaardighede te verkry.

Ek beveel The wealth ladder aan as ’n nugtere beskouing oor rykdom wat elke persoon behoort te lees. Dit is leersaam en interessant en laat ’n mens na rykdom kyk op ’n holistiese, inklusiewe wyse. Daar is veralgemenings, maar die doel heilig die middele. Dit steun ook baie op die idees en suksesse van ander, maar dit gee vir my ’n breër perspektief. Die data is deeglik nagevors en hoewel van toepassing op ’n Amerikaanse mark, sal Suid-Afrikaners steeds baat vind by die lesse.

Maggiulli is die hoofbedryfsbeampte en datawetenskaplike by Ritholtz Wealth Management.

Koop jou eksemplaar van The wealth ladder by toonaangewende boekwinkels.

Lees ook:

’n Lesersindruk: Wicked smart deur Douglas Kruger

Word ryk, bly ryk deur PJ en Geo Botha, ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top