
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Die drie weduwees
Skrywer: Irma Venter
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 978-0-624-09148-6
Daar is boeke wat met ’n knal begin en dan is daar boeke wat stilweg hul tentakels om jou draai, bladsy vir bladsy, vraag vir vraag. Die drie weduwees behoort beslis tot laasgenoemde.
’n Dooie man met ’n lewende invloed
Dit is seldsaam dat ’n afgestorwe karakter só lewendig tot ’n verhaal bydra. Wat hom uniek maak, is die patroon van sy huwelike: Elke keer trou hy met die vrou wat hom bystaan tydens ’n ondersoek. Was hy werklik lief vir hulle, of was daar ’n ander dryfveer? ’n Gedagte waaroor ek steeds wonder.
Drie weduwees, een waarheid
Die titel, Die drie weduwees, het my dadelik laat dink aan die magiese drie, ’n getal wat dikwels spanning en betekenis dra. Madelein Rust se Drie moorde in die Baai en Sidney Gilroy se drielingtieners in Roulette. Drie weduwees stap weerskante van Ami Prinsloo, joernalis. Elkeen dra ’n waarheid, maar nie noodwendig dié waarheid nie.
Hoewel Die drie weduwees die vierde in die Ami Prinsloo-reeks is, kan dit alleenstaande gelees word. Ek geniet dit dat Venter in hierdie reeks ’n joernalis kies om misdade op te los – des te meer omdat sy self ’n joernalis is.
Die karakters is werklik en afgerond. Dit is harde werk om soveel karakters so eg te skep. In ’n onderhoud met Naomi Meyer (2022) sê Venter tereg: “Ek kry my misdaad, dan vertrou ek my karakters om die saak op te los.” Dit wys. Sy laat haar karakters toe om hul eie leidrade te volg – ’n proses wat vir baie skrywers ’n dilemma sou wees.
Ami is die interessante hoofkarakter; iemand wat elke leser móét leer ken. Stout maar slim. Voëltjie maar leeu. Niks gaan by haar verby nie, ook nie die blywende vraagteken rondom Paul se selfdood nie.
Wanneer die verlede nie stilbly nie
Paul se versoek rus swaar op Ami se skouers. Ek het my afgevra wat die arme kind nog kan doen wat nie reeds gedoen is nie. Die skrywer ontbloot haar arsenaal bewyse stadig en doelbewus. Tot die einde dryf vermoedens tussen verskeie verdagtes rond.
Die kaart voor in die boek is ’n besondere bate, ’n gids om by te bly soos wat die inwoners se geheime ontbloot word. En maggies – ek sou weghardloop as daardie Triumph in die straat afkom, skuldig of te nie.
My enigste skeptisisme was Ami se gemaklike beweging per motorfiets tussen Pretoria en Johannesburg, selfs laatnag. As jy daardie snelweë ken, dra elke rit amper net soveel spanning by soos die verhaal self.
Die drie weduwees is ’n sterk misdaadverhaal met knap spanningsbou en uitstekende karakterisering. Baie geluk, Irma Venter, met ’n besonder goedgeskrewe boek.



Kommentaar
Goeie resensie, dit maak my nuuskierig ... soos dit hoort.