Die drie weduwees deur Irma Venter: ’n resensie

  • 0

Boekomslag: Jonathan Ball

Titel: Die drie weduwees
Skrywer: Irma Venter
Uitgewer: Tafelberg, 2025
Prys: R350,00
ISBN: 9780624091486
Epub ISBN: 978062409149

Ami Prinsloo wat as joernalis by Nuus360 werk, het geweet sy gaan eendag moet afskeid neem van Paul de Jager, die afgetrede polisiegeneraal met wie sy ’n noue band het. Maar wat sy nie verwag het nie, is sy laaste opdrag aan haar: Sy moet saam met sy drie eksvroue na ’n stokou onopgeloste saak kyk – ’n 15-jarige seun van die Moot in Pretoria het op pad kafee toe met net R20 in sy sak spoorloos verdwyn, maar ten spyte van vele herbesoeke aan die saak en die buurt, is daar bittermin leidrade.

En al wat eintlik maar in die ondersoek na vore kom, is die wit paneelwa wat daardie dag in die straat opgemerk is. Ami ontmoet Ebbie Gouws se ma, Ester, en broer, Kerneels, en haar simpatie met hulle word afgewissel met wantroue en onsekerheid oor die egtheid van hul seer.

Maar dan verdwyn daar nog ’n kind in die buurt – meer as twee dekades later – en die wit paneelwa was op sy eie manier ’n dwaalspoor wat later groter leidrade ontknoop.

Met hierdie nuutste boek in die krimi-reeks waarin Ami weer die hoofkarakter is, bring Irma Venter ’n uiters bevredigende en verfynde vierde deel in haar reeks, wat begin het met Minder as niks, gevolg deur Die verkeerde vrou en toe Al wat tel, tot 'n einde. Die eerste drie boeke het ondersoek ingestel na identiteit, skuld, oorlewing en die kompleksiteit van menslike verhoudings – en die vierde bou voort op dieselfde temas, maar met ’n dieper, donkerder emosionele kern en ’n besonder knap verweefde struktuur.

Dit ontgin ook die band tussen vroue wat in diens van die liefde staan en ’n doodswens moet volbring. As mens die titel as kompas gebruik, wentel die storie om drie weduwees, maar dit gaan eintlik oor ses vroue: Ebbie se ma, wat na al die jare nog nie moed verloor het nie; Paul de Jager se drie weduwees, Mac, Ilse en Kareemah; Paul se suster, Delia, wat agter die waarheid van sy selfdood wil kom; en Ami, wat die fyn goue draadjie is wat hulle almal aanmekaar verweef.

Irma is bekend vir haar vermoë om spanning met ’n karaktergedrewe storielyn te balanseer, en in hierdie roman bereik dit ’n nuwe hoogtepunt.

Die drie weduwees volg die vroue wat almal, op verskillende wyses, deur verlies, verraad en trauma gevorm is. Hoewel elkeen uit haar eie wêreld en verlede kom, word hul lewens op ’n wyse saamgetrek wat tegelyk onafwendbaar én ontstellend is. Die roman sluit tematies aan by die voorafgaande boeke se ondersoek na hoe die verlede nooit werklik begrawe bly nie – ’n motief wat sy telkens met fyn presisie uitbou.

........
Die drie weduwees volg die vroue wat almal, op verskillende wyses, deur verlies, verraad en trauma gevorm is. Hoewel elkeen uit haar eie wêreld en verlede kom, word hul lewens op ’n wyse saamgetrek wat tegelyk onafwendbaar én ontstellend is. Die roman sluit tematies aan by die voorafgaande boeke se ondersoek na hoe die verlede nooit werklik begrawe bly nie – ’n motief wat sy telkens met fyn presisie uitbou.
........

Irma is ook nie onbekend om ’n meervlakkige vertelstyl in te span nie. Die wisseling tussen hede en verlede voel in hierdie boek selfs meer organies. Sy skryf die twee tydlyne soos twee parallelle riviere wat stadig bymekaar begin invloei – aanvanklik losstaande, maar uiteindelik onafskeidbaar in die uiteinde van die storie. Hiermee herinner sy ook aan die tegniese vernuf waarmee sy van haar ander boeke aangepak het, waar die onthulling eers reg aan die einde in sy volle plofbaarheid die leser tref.

Een van die roman se sterkste eienskappe is haar taalgebruik: Die woorde is helder, goed gekies en nooit oortollig of eenvoudig nie. Elke woord staan ’n waardige ruimte vol. Sy kies woorde met chirurgiese presisie om emosie, atmosfeer en spanning gelyktydig oor te dra. Maar dis ook haar vars beskrywings van dinge wat my opval.

Ek dink veral aan frases soos: “Howe maak haar depressief. Dis asof die lug daar binne nooit ordentlik sirkuleer nie en mens die verwyte, verlies en woede van almal rondom jou inasem [...]”, of die beskrywing van Alzheimers: “Hy het gehoop vir stil-in-sy-slaap en toe kry hy als-wat-verdwyn”; “Sy kan die hartseer, swaar en donker teen haar voel bots”; “Die naam tref Delphine soos nat koerantpapier – klewerig en uit die bloute.”

Wanneer sy rou emosie beskryf, doen sy dit sonder sentimentele oorlading. Wanneer sy spanning opbou, gebruik sy ritme en stiltes net so vaardig soos beskrywende detail. Dit is taalgebruik wat nie net dien as draer van die storie nie, maar as deel van die storie se hartklop.

Wat die intrige betref, is die roman tipies Irma Venter: strak, verrassend en sonder onnodige ompaaie. Elke onthulling is verdiend; elke draai in die storie gevoelsmatig én logies gegrond. Die finale verweef van die vroue se stories is besonders effektief en bring ’n bevredigende, dog hartseer afronding.

Die drie weduwees bevestig Irma Venter as een van die mees tegnies bekwame en emosioneel intelligente stemme in kontemporêre Afrikaanse krimi-fiksie.

........
Die drie weduwees bevestig Irma Venter as een van die mees tegnies bekwame en emosioneel intelligente stemme in kontemporêre Afrikaanse krimi-fiksie.
........

Ami ontwikkel en groei: Die skaduwee wat haar verlede oor haar lewe gegooi het, word stadig ligter; haar verpletterde drome van Olimpiese swemdae en die moord op haar suster, Leen, staan nie meer sentraal in die boek nie. Dis eerder nuwe horisonne en belofte van waarlik oorbegin wat hier die onderliggende storie is.

Irma het ’n ATKV-Woordveertjie ontvang in die spanningslektuur-kategorie – een van die vinnig-groeiendste en gewildste genres in Afrikaans – vir Die verkeerde vrou. Die beoordelaars het gesê:

Ami Prinsloo as hoofkarakter is uiters geloofwaardig en verteenwoordig etiese ouskool joernalistieke waardes, wat die leser nog meer van haar laat hou. Dis verfrissend om kriminele gebeure vanuit ’n joernalis se oogpunt te ervaar. Uiteenlopende gebeure word met mekaar verbind vir ’n boeiende verhaal wat teen ’n vinnige tempo afspeel.

Venter trek al die drade van die vele kinkels in die verhaal aan die einde vernuftig bymekaar.

Dis dalk nou nog meer van toepassing as met die vorige boek. Die drie weduwees is ’n waardige voortsetting van die reeks, en dalk selfs die beste deel tot dusver.

Soos ek in my resensie oor haar vorige boek gesê het, haar lewensverhaal, wat in vorige boeke deur middel van terugflitse geopenbaar word, gee dalk agtergrond oor Ami, maar die lees van die eerste drie boeke is geensins ’n voorvereiste hier nie. Hoewel ek tog dink die leesgenot sou verviervoudig word, sou jy jou hande op die vorige drie kon lê.

Lees ook:

Al wat tel deur Irma Venter: ’n resensie

Boekevat met Deborah: Die drie weduwees deur Irma Venter en Nobody’s girl deur Virginia Giuffre

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top