Daar is allerlei kategorieë waarin Suid-Afrika/ners die voorste of die vrotste ter wêreld is. Die Springbokke is byvoorbeeld nou al sedert 2 November 2019 die wêreldrugbykampioen. Dricus du Plessis is nou al vir meer as ’n jaar in sy gewigsafdeling die onoorwonne gemengdegevegskuns-wêreldkampioen. Die Ndlovu-jeugkoor en die Stellenbosse Universiteitskoor was al per geleentheid die afgelope jare die beste ter wêreld in hul kategorieë. Die groep waaronder die grootste gaping tussen ryk en arm voorkom, is swart Suid-Afrikaners, hoofsaaklik weens die wetgewing wat aanvaar is om die ekonomiese onreg van die apartheidsbedeling reg te stel.
Dan is daar ook die kategorieë waarin Suid-Afrika nie-amptelik aanspraakmakers vir die voorste of vrotste ter wêreld moet wees – een van die gewelddadigste lande ter wêreld; een van die grootste onderpresteerders ter wêreld. Maar beslis ook een van die lande met die droogste humor ter wêreld. En, les bes, my persoonlike gunsteling: Een van die mees ironiese lande ter wêreld.

Landuit, want jy wil mos deur Zirk van den Berg (Tafelberg, Februarie 2025)
Vat nou byvoorbeeld die volgende stukkie pikante ironie: In dieselfde maand waarin president Donald Trump van die VSA amptelik vlugtelingstatus aan Afrikaners aanbied, publiseer Zirk van den Berg sy Landuit want jy wil mos, waarin die v-woord ook hier en daar voorkom. Hoewel, nodeloos om te sê, hoe die huidige Amerikaanse president in sy uitvoerende bevel van 7 Februarie 2025 met die v-woord omgegaan het, en hoe Zirk dit doen, verskil nogal beduidend van mekaar.
........
In dieselfde maand waarin president Donald Trump van die VSA amptelik vlugtelingstatus aan Afrikaners aanbied, publiseer Zirk van den Berg sy Landuit want jy wil mos, waarin die v-woord ook hier en daar voorkom. Hoewel, nodeloos om te sê, hoe die huidige Amerikaanse president in sy uitvoerende bevel van 7 Februarie 2025 met die v-woord omgegaan het, en hoe Zirk dit doen, verskil nogal beduidend van mekaar.
........
Dis miskien ’n ander ironiese gelukkie vir Zirk se boek dat die soms woedende debat wat sedert Trump se bevel en die besoeke van verteenwoordigers van, onderskeidelik, die Solidariteit-beweging en, meer onlangs, die Demokratiese Alliansie aan die VSA in SA woed, die tydigheid en lesenswaardigheid van sy boek aansienlik verhoog het. (Dit mag selfs nog meer so wees as ons president uiteindelik eendag daarin slaag om sý Amerikaanse afvaardiging saam te stel en uiteindelik in die VSA te kry, maar wie weet wanneer dit nou eendag gaan gebeur?)
***
My belangstelling in Zirk se boek is deur twee sake geprikkel. Die eerste is my en my gesin se ervaring van ons eie amperse emigrasie na Australië, toe ons vir sowat drie jaar vanaf vroeg 2009 tot einde 2011 in Melbourne gewoon het, en wat gevolg het op blootstelling aan soortgelyke faktore as dit wat Zirk en sy gesin in Augustus 1998 na Nieu-Seeland laat vertrek het.
Die tweede saak wat my Zirk se boek onmiddellik met die verskyning daarvan laat aanskaf en lees het, is die intense verlies wat ek ervaar weens die verlies van geliefde skoolvriende wat die land verlaat het, verlies wat in sommige gevalle 15 of 20 jaar later nog nie behoorlik verwerk is nie. En wat bes moontlik ook nóóit behoorlik verwerk sal word nie. ’n Besliste geval van waar die tyd nié alle wonde genees nie.
***
Soos Zirk se besluit om sy gesin teen sy vrou se wil met eenrigtingkaartjies landuit te neem was, so ook myne in 2008. Een van die belangrikste faktore wat my halsoorkop die besluit laat neem het, was die xenofobiese aanvalle van Mei 2008 waarin 67 mense die lewe gelaat het, en waarvan die verbrande lyk van ’n Mosambiekse man die opsommende beeld geword het. Die xenofobiese geweld het destyds sowat ’n maand lank gewoed voor dit bedaar het, eerder as wat dit onder beheer gebring is. My stiefdogter was destyds pas 12, en my seun twee en ’n half jaar oud. Die geweld het veral in informele swart nedersettings teen mense van elders uit Afrika gewoed, en die aaklige en hoogs problematiese gedagte wat by my opgekom het, was: Terwyl die illegitieme PW Botha-administrasie in die 1980’s die orde sou herstel het, kon die demokratiese verkose Mbeki-administrasie dit ná ’n maand skaars regkry – en dit terwyl die geweldplegers nomineel uit sy eie steunbasis gekom het. Bowendien het dele van die media aangevoer dat wit vrywilligers ook gehelp het om met allerlei humanitêre inisiatiewe in geweldgeteisterde woongebiede die gemoedere te kalmeer.
........
Ek skryf hier op geheue af, maar die één herinnering waarvan ek veral seker is, is dat om aan die hand van ou raskategorieë in ’n demokratiese Suid-Afrika ná die donker dekade ’80 van my jeug te wou-wou dink, nié is waar ek in my gemoed wou wees nie.
........
Ek skryf hier op geheue af, maar die één herinnering waarvan ek veral seker is, is dat om aan die hand van ou raskategorieë in ’n demokratiese Suid-Afrika ná die donker dekade ’80 van my jeug te wou-wou dink, nié is waar ek in my gemoed wou wees nie. Die skok was amper so groot soos die besef in 1999 ná die destydse algemene verkiesing dat dit meer van ’n rassesensus as ’n verkiesing was; om maar te swyg van die aakligheid daarvan toe die destydse adjunkpresident Mbeki met sy berugte tweenasiestoespraak van Mei 1998 eensklaps ’n streep deur die destydse president Mandela se versoeningspolitiek getrek het, en ons almal teruggedompel het in die raskategorieë waaraan ons so graag wou ontsnap terwyl ons probeer regmaak wat weens daardie kategorieë skeefgeloop het.
So het dit dan gekom dat ek ná my terugkeer van ’n akademiese kongres in Melbourne in Julie 2008 die aand by die huis ingestap en met skokkende arrogansie my gesin ingelig het dat ons Melbourne toe gaan verhuis. Die letsels van ’n besluit wat ek by nabaat te midde van buitengewone angs oor ons toekoms geneem het, sal met ons vier gesinslede en vele van ons geliefdes bly tot in lengtes van dae. Miskien is een van die redes waarom ek Zirk se boek ook wou lees om notas met hom te vergelyk oor ons eie destydse afskeid, vertrek, buitelandse staning en uiteindelike terugkeer. En dalk veral oor die ontsettende, allesverterende verlange waarmee ek self in daardie drie jaar gesit het – verlange wat so erg was dat ek uiteindelik eers ná ons terugkeer en gelukkige vestiging in die Vrystaat die omvang daarvan aan myself kon erken en mettertyd verwerk, verál danksy die pryslose geskenk van ’n nuwe gemeenskap wat ons in die Vrystaat ontvang het, en wat ons metterjare verander het van inkommers na Vrystaters wat die Vrystaat baie moeilik vir ’n ander woonplek sal verruil.
Dit is nie wat met Zirk en sy gesin gebeur het nie. Anders as ons, het hulle aangebly en – geoordeel op Landuit – tog op ’n manier tuisgekom, sonder dat minstens hy en sy vrou ooit volledig uit Suid-Afrika weggegaan het.
Dit wat in die vorige paragraaf staan, is bloot my eie vertolking van Landuit. Ander lesers mag dit anders lees, en Zirk mag dit natuurlik anders bedoel het.
........
[A]s daar een ding is wat die boek uitmuntend regkry, is dit om vir die voornemende (Suid-) Afrikaanse landsverlater te wys wat op hulle wag, en wat die kostes beloop – veral psigies – soos géén handleiding oor die saak dit kan doen nie.
........
Hierdie opstel is ook beslis nie ’n resensie van Landuit nie, afgesien daarvan om op rekord te plaas dat ek die boek in een sitting vasgenael en aangegryp en uiteindelik diep ontroerd gelees het – en dat ek dit voortaan sal aanbeveel vir elke enkele persoon wat ek ken wat die land wil verlaat, want as daar een ding is wat die boek uitmuntend regkry, is dit om vir die voornemende (Suid-) Afrikaanse landsverlater te wys wat op hulle wag, en wat die kostes beloop – veral psigies – soos géén handleiding oor die saak dit kan doen nie.
Hierdie opstel gaan eerder oor die vraag wat Landuit vir die leser te sê het oor universeel menslike temas wat in Suid-Afrika en die Afrikaanse taalwêreld sedert 1994 ’n baie spesifieke tekstuur en gewig verkry het – gemeenskap, ontheemding en tuiste.
***
In die tweede helfte van 2008, met ons gesin in psigies moordende voorbereiding op die vertrek na Melbourne, is ek deur drie dinge georiënteer op waarmee ons mee besig was, en op wat op ons gewag het. In volgorde was dit die lees van ’n vakartikel oor die ervaringe van Suid-Afrikaanse emigrante in Australië; my twintigjaarmatriekreünie; en die taak wat ek deur my vrou opgelê is om ons bejaarde Jack Russell-tefie na die veearts te neem om uitgesit te word.
Een snerpend koue Saterdagmiddag gedurende Desember 2001 in Lyon, Frankryk – waar ek studeer het – kry ek kajuitkoors en vaar die strate in. My voete neem my na die nabygeleë tak van ’n mitiese winkel waarvan my skoolvriend, N, ons in standerd agt in Verwoerdburg vertel het ná hulle gesin se terugkeer van “oorsee”. Londen, om presies te wees. Die Virgin Megastore.
In die Virgin Megastore van Lyon koop ek daardie middag ná vyf, toe dit buite al sterk donker is, Modern Talking se Greatest Hits. Vir die ou wat een van die eerste U2- en The Smiths-aanhangers in die hoërskool was, sou dit wat daardie Saterdagmiddag in Desember 2001 in die Virgin Megastore met my gebeur het, op hoërskool ondenkbaar wees. Modern Talking was vir die “meisies”. Dit was goedkoop, sentimentele, elektroniese pop, die een liedjie ná die ander resepmatig voortgebring.
Verlange het my dit laat doen. Verlange na die plek en die mense wat ek nie gou genoeg ná skool kon agterlaat nie. Verlange wat daardie winter so erg geword het, dat ek toe al begin droom het van ons twintigjaarreünie, sewe jaar later.
Wat toe wel in Augustus 2008 plaasvind by ons hoërskool. Waar ons in die vierkant gebraai en in die saal langsaan gesokkie het. Ja, ook op Modern Talking. Waar wyle S vir my onder die skemerhemel gesê het: “Hierdie plek het my leer hoop.” Waar dié van ons wat nog halftwaalf die aand oor was, spontaan die vierkant begin opruim het om dit te laat soos ons dit gekry het, en, soos die skool versoek het, die kuier om middernag af te sluit.
Die volgende oggend ry ons deur die stil strate van die eertydse Verwoerdburg, nou Centurion. “Gisteraand was ek weer in Suid-Afrika,” sê ek vir my vrou.
Vir iemand van my geslag en my herkoms is om so iets te sê gelade. Jy moet die stelling onmiddellik kwalifiseer, duidelik maak aan watter kant van die geskiedenis jy probeer staan. Ek dink wat ek toe probeer sê het, is dat ek die vorige aand weer terug was in die onskuldige deel van my gekontamineerde jeug, die deel wat bekend was sonder dat dit besmet was. Die deel wat ek daardie oggend besef het, nou slegs nog tussen my en my skoolmaats bestaan. ’n Ander land waarna ons nie kan of wil teruggaan nie, maar waarna ons ook altyd sal verlang.
Toe breek dit. En ek huil die volgende drie dae. Later sou ek hoor ek was nie die enigste reünieganger met wie dit gebeur het nie.
***
Dit was, dink ek, ’n week of wat voor ons ons huis einde November 2008 vir ’n huurder moes ontruim dat ek met Maxie na die veearts toe is.
Met my ouers se egskeiding toe ek agt was, in 1978, het Bambi en Grietjie by my pa in Natal agterbly. My ma het ons na Verwoerdburg verhuis, na haar een broer, waar ons ’n paar maande sou woon voor sy werk gekry en ons meenthuis gekoop het, einde 1978.
Daar is ’n foto van ’n tyd voor ons verhuising in die lente van 1975 na Natal waar ek houtgerus oor Grietjie gedrapeer lê en aan my tietiebottel suig, die moederlike boerboelteef wat haar dit laat welgeval.
Al het ek en my suster elke tweede vakansie ná die egskeiding by my pa gaan kuier, kan ek niks uit daardie tyd van Bambi en Grietjie onthou nie; níks nie. Ek wou ook nooit ’n hond hê nie. Dit was net nie iets wat in my vroeë volwasse lewe by my opgekom het nie.
Toe ek en my toekomstige vrou in Maart 2003 ná my terugkeer van my studieverblyf uit Frankryk huis opgesit het, was Maxie deel van die pakket. ’n Emosioneel afhanklike, neurotiese hondjie wat my vrou eendag by ’n ou in Soutrivier of daar rond gekoop het.
Vir een of ander rede het Maxie my begin opsoek en my aangeneem. Maar ek kon nie sover kom om dieselfde met haar te doen nie. Om die waarheid te sê, het sy my grensloos geïrriteer.
Tot ek haar daardie Novemberoggend in 2008 op die operasietafel van die veearts in Waterkloof neergelê het. Terwyl die veearts die inspuiting volgemaak het, het sy my vreedsaam en vol vertroue aangekyk.
Maxie se as staan nou nog in ons sitkamer, en as ek daardie oggend onthou – ook terwyl ek hierdie woorde skryf – wel die trane en die skuldgevoelens weer op. Maar dan probeer ek my troos dat Maxie al hoogs bejaard was, en dat ons ons skuldgevoelens probeer sus het met die stelling dat sy nooit die nege maande van kwarantyn sou oorleef het nie wat die Australiërs destyds gestel het as voorwaarde vir troeteldiere wat saam die land verlaat.
***
Die reünie en die verlies en die verlange en die rou; die oggend met Maxie – dit is dinge wat in ’n mate vir my geraam en verstaanbaar gemaak is deur die vakartikel oor die ervaring van Suid-Afrikaners wat na Australië geëmigreer het. Dit was een oggend in die nou vergane Beeld dat ek die eerste maal daaroor gelees het, dalk ook in Augustusmaand van 2008. Die vakartikel heet “Predictors of psychological distress in South African immigrants to Australia”. Dit het verskyn in volume 38(1), 2008 van die South African Journal of Psychology, en is geskryf deur twee oud-Suid-Afrikaners wat na Australië geëmigreer het, naamlik Nigar G Khawaja en Lesleyanne Mason, destyds albei verbonde aan die School of Psychology & Counselling, Queensland University of Technology, Brisbane.
Al wat ek destyds van die berig in Beeld en later die vakartikel self oorgehou het, was dat alles daarop dui dat hoewel Suid-Afrikaners professioneel makliker as emigrante uit nie-Westerse kulture in Australië aanpas, dit hulle emosioneel veel langer neem. Omdat hulle rou.
Dit is aan hierdie artikel wat ek teruggedink het by die lees van Landuit. Die artikel, blyk dit toe, is nog al die jare deel van die data wat ek van een rekenaar na ’n oorgedra het, nes die boeke en CD’s wat ek oor die jare deur ontelbare woonplekke saamgeneem het, tot ons gesin in Oktober 2012 die huis betrek het waar ons nou al so lank tuis en gelukkig is, hier in Bloemfontein.
Ná die lees van Landuit en Trump se uitvoerende bevel en die buitelandse afvaardigings en die twis oor die v-woord, was die herlees van Khawaja en Mason se artikel ’n openbaring. Asof hulle in die akademiese register dit eggo wat Zirk in die letterkundige register boekstaaf. Was hulle destydse navorsing en publikasie van die artikel deel van hulle eie rouwerk? Soos Landuit ook ’n soort rouwerk is – of minstens die agterna boekstawing, baie jare later, ’n kwárteeu later, van al die trane en verlies en uiteindelik ’n soort berusting.
Ondanks die feit dat Khawaja en Mason se artikel duidelik is oor die voorlopigheid van hulle bevindinge, toekomstige navorsingsmoontlikhede en verdere hipoteses om te ondersoek, wat die leser soos met ’n pakkende TV-reeks met die verwagting laat dat ’n opvolg dalk kom, ondanks dit alles was ’n internetsoektog oor verdere publikasies deur Khawaja en Mason vrugteloos. Khawaja, merk ek, het talle en talle artikels sedert 2008 gepubliseer – nooit weer saam met Mason nie, nooit weer oor Suid-Afrikaanse emigrante nie; merendeels oor vlugtelinggemeenskappe in Australië.
***
Khawaja en Mason skryf in hulle openingsparagraaf:
For some people, such as immigrants, the move is voluntary. They are pulled to another country with the goal of personal and economic improvement. On the other hand, refugees move involuntarily (Berry, 1988; Ghanem, 2003; Tran, 1993). They feel uprooted and pushed out of their homeland due to the fear of persecution. (225)
Zirk op die vyfde, sesde en sewende blaaie van sy teks:
[Ek] bevind [...] my met ’n jong gesin in die Kaapse voorstad Mowbray, en nagmerries begin my ry. Ek kon net lekker slaap as ek op ’n Saterdag- of Sondagmiddag indut, redelik seker dat ons almal nog veilig sal wees wanneer ek wakker word. In die nag was dit maar woes. Een van die nagmerries wat ek gereeld gehad het, het só gegaan: Ek en my vrou en ons twee kinders – ’n kleuter en ’n baba – is op ’n smal sekelstrand, omring deur loodregte kranse. Die gety kom in en daar is nie wegkomkans nie [...].
Die simboliek is nie subtiel nie.
Dan word ek in ’n angssweet wakker en is momenteel verlig dat die nagmerrie verby is. Totdat ek besef waar ek is. Dan spits ek my ore in ’n huis vol bang en kyk venster se kant toe, of daar nie ’n inbreker is nie.
Of dalk skiet my buurman weer wild en wakker in die straat rond [...].
Die ding wat my van Jock bekommer het, is waar sy koeëls opeindig. Ek was bang dis in my seun se nek, en vir die res van sy lewe moet ek hom in ’n rolstoel rondstoot, terwyl ek weet ek kon hom veiliger gehou het. Oor my babadogter het ek gedink dalk word sy iewers in haar jong lewe nie net verkrag nie, maar as gevolg daarvan opgesaal met vigs. Hoe sal ek haar in die oë kan kyk terwyl ek weet ek kon meer gedoen het om haar te beskerm?
Dis die gedagtes wat my geteister het. Buiten oor hulle veiligheid, was ek ook bekommerd oor die kinders se skoolopvoeding en mediese sorg. As die staat dit vorentoe nie na wense kon voorsien nie, het ek nie geld vir privaatskole en mediese sorg nie. As ek nie kinders gehad het nie, was ek seker nou nog in Suid-Afrika. (13–5)
Soos reeds hierbo gemeld, verskyn Zirk se boek in dieselfde maand as Trump se uitvoerende bevel, wat tot ’n heftige debat in die (Suid-) Afrikaanse media oor die begrip vlugteling lei.
Khawaja en Mason skryf dat die onderskeid tussen immigrant en vlugteling hoofsaaklik berus op die verskil in die mate van vrye keuse wat mense in die twee kategorieë uitoefen: “The immigrant is said to move voluntarily, while the refugee is said to be forced to move involuntarily because of a perceived danger.” (226)
Dog, wys hulle uit, met verwysing na EF Kunz se invloedryke “kinetiese model van migrasie”, moet daar onderskei word tussen sogenaamde stoot- en trekfaktore in die besluit van landsverlating: Vertrek jy omdat jy aangetrokke is tot ’n ander land, of vertrek jy omdat jy nie meer kan huishou met jou eie land nie? Dit spreek bykans vanself dat die immigrant eerder danksy trekfaktore vertrek, terwyl die vlugteling eerder weens stootfaktore vertrek.
Daarby stop Kunz egter nie. Ofskoon ons in Suid-Afrika die term emigrasie vir landsverlaters gebruik, en ofskoon dit die afgelope weke tot groot ontsteltenis in die debat oor Trump se bevel en daaropvolgende buitelandse afvaardigings gelei het, veral wanneer Afrikaners wat Suid-Afrika die afgelope 30 jaar (en meer) verlaat het as vlugtelinge beskryf is, is dit presies hoe Kunz die saak sien:
Kunz (1973) identifies two subtypes of refugees being forced out of their country of origin under slightly different circumstances. These are the anticipatory refugee and the acute refugee, both of which are acknowledged as being reluctant immigrants. The anticipatory refugee is one who leaves his or her country of origin before the deterioration of the military or before the political situation prevents his or her orderly departure. As such he or she is “pushed” out of his or her country of origin rather than “pulled” by the attractiveness of the new country. The individual then arrives in the country of choice prepared, knowing the language, usually having some money, and being informed about the ways in which he or she can re-enter the work force. Kunz (1973) explains further that, if the changes in the individual’s country of origin are resisted, it is not uncommon for the loss of liberty or danger to life to be preceded by economic restrictions to either the entire country or to sections of it. Because these individuals plan and prepare their departure over time, albeit under duress, Kunz (1973) points out that it is easy to mistake the anticipatory refugee for a voluntary immigrant seeking better opportunities.
The acute refugee contrasts strongly with the anticipatory refugee in that he or she tends to flee in masses or in bursts of individual groups with their primary purpose being to reach safety in a neighbouring or nearby country that agrees to grant them asylum (Kunz, 1973). (225–6, my beklemtonings)
Die toekomsscenario’s wat Zirk in die aangehaalde gedeelte hom voorgestel het, lees soos ’n handboekvoorbeeld van Kunz se antisipatoriese vlugteling. Dit is presies die hipotese wat Khawaja en Mason voorstel, en wat dan tot hulle ondersoek lei:
Considering the reasons provided by South Africans for their immigration, the question arises as to whether South African immigrants might be similar to Kunz’s definition of the anticipatory refugee. If they feel as though they have been “pushed” out of South Africa, their immigration could be to some extent considered to be involuntary. If this is the case, it could be possible that they experience psychological stress similar to that of the anticipatory refugee, different and more intense compared to the experiences of a voluntary immigrant. (226)
Om hulle saak te bou, op bykans forensiese wyse, begin Khawaja en Mason deur uit te wys dat terwyl dit algemeen aanvaar word dat
[...] immigrants experience psychological distress on arrival at their new country [...] [r]esearch indicates that the psychological distress is exacerbated if the immigration is considered to be involuntary, arriving in his or her new country with negative perceptions and a lack of enthusiasm (Berry, Poortinga, Seagul & Dasen, 2002). (228)
In Zirk se geval was die eintlike een wat in hul nuwe land aangekom het met “negative perceptions and a lack of enthusiasm” sy vrou, Elsabé, van wie hy ’n aantal e-posse aan vriende in Suid-Afrika uit die eerste jare ná hul vestiging in Nieu-Seeland saam met sy eie in die boek insluit; wat hy as “in werklikheid ’n medeskrywer van hierdie boek” (25) beskryf, en wat volgens hom veel meer gewortel as hy in Suid-Afrika was, die land nie wou verlaat nie en uiteindelik volgens sy skatting sowat 10 jaar geneem het om die skuif te verwerk. Hier haal hy aan uit ’n e-pos wat sy skaars ’n maand ná hulle aankoms in Nieu-Seeland skryf aan Marté, eggenote van Zirk se boesemvriend, die joernalis, skrywer en digter, André le Roux. Elsabé skryf:
Verder is daar ’n Chinese laundromat-eienaar wat my beskermengel is. Toe ek die eerste keer daar gaan wasgoed was het, was ek so oorweldig deur als dat ek skaars geweet het hoe om die masjien te werk. Verder was ek verskriklik ontsteld toe ek besef dat ek my nuwe winterslaken in die verkeerde wasmasjien gegooi het. Terwyl ek handewringend met trane in my oë na die masjien gestaar het, het hy vir my ’n lappie gebring om my hande mee af te droog. (31)
***
Wanneer ’n mens ’n onwillige immigrant is, doen jy dinge wat jy nooit andersins in jou eie land sou doen nie. So laat ek my byvoorbeeld tydens ons gesin se verblyf in Melbourne een wintersaand deur ’n ander Afrikaner saamnooi na ’n byeenkoms van die Melbournse Suid-Afrikaanse Sakeklub. Die spreker van die aand weet te vertelle dat wanneer jy op daardie vliegtuig in Suid-Afrika klim, “laat jy jou hele netwerk agter”. Ofskoon hy die term netwerk waarskynlik in die eng sakesin van die woord gebruik het, is dit ewe waar dat jy ook jou hele netwerk van mense met wie jy betekenisvolle verhoudinge het, agterlaat; jou lewe tot dan.
Jy bou natuurlik mettertyd en moeisaam ’n nuwe netwerk in jou nuwe land op, maar aanvanklik is jy en jou gesin op mekaar aangewese op ’n skaal wat die meeste mense selde in hulle lewens beleef. Dit plaas die gesin onder onmenslike druk, met een van twee voorspelbare gevolge – verbrokkeling of verdieping van die verhoudinge in die gesin. Laasgenoemde is onder meer die verhaal wat Zirk vertel, te midde van ontsaglike materiële en veral psigiese ontberinge, waarvan die verskriklike verlange na hul Suid-Afrikaanse vriende een van die ergste dinge is, en waaroor hy en Elsabé nie noodwendig met mekaar praat nie omdat hulle mekaar probeer beskerm. In hul kliniese taal som Khawaja en Mason dit soos volg op:
A range of psychosocial factors, such as loss and grief, decreased self-esteem, and lack of social network and support systems are associated with an immigrant’s psychological distress. It is accepted that with all transitions there is an element of loss associated with what has been left behind (Parkes, 1993). The difficulties in the adjustment process of a reluctant immigrant are exacerbated if this individual is also experiencing grief for what has been left behind. The greater the grief, the more likely the immigrant is to experience psychological distress (Bhugra, 2004). This loss which is being grieved might include his or her country of origin, and all its associations, his or her social support, and his or her standing within the community relating to his or her self-esteem (Bhugra, 2004). In the process of immigration, immigrants terminate their ties with their occupation, role, routine, and social network. Consequently, they experience low self-esteem, identity confusion, and social loneliness [...]. (228)
Net minder as ’n jaar ná hul verhuising na Nieu-Seeland, steeds sonder ’n vaste werk en ná hoeveel mislukte werksaansoeke, op die vooraand van nóg ’n werksonderhoud, skryf Zirk in ’n e-pos aan André:
Cormac McCarthy skryf iewers “failed enterprises divide lives forever into the before and after”. Ek hoop vir ’n wonderwerk sodat hierdie nie die skeidslyn sal wees nie. Maar dit sal vat dat (1) ek ’n goeie werk kan kry en (2) Elsabé besluit dis maar beter om hier te bly. Aan 1 kan ek nog iets probeer doen. Nommer 2 is buite my begrip, om van my beheer nie eens te praat nie.
Ek is kwaad en verslae, en weier steeds om te glo dat daar geen oplossing is nie. Miskien kry ek môre werk. Miskien besluit Elsie oor die volgende paar maande sy sal tog kan oorleef buite SA. Of dalk besluit ek ons sal tog kan oorleef in SA.
God weet, ek weet nie. (164–5)
Op ’n ander plek, oor dieselfde tema, skryf Zirk:
Een van die eerste goed wat jy agterkom as jy hier werk soek, is dat jy Nieu-Seelandse ervaring moet hê om een te kry. En jy kan dit net opdoen deur eers ’n werk te kry [...]. Nogal ’n dilemma.
Die ander ding is dat jou geskiedenis meteens sonder betekenis is. Of jy sê jy het by Sanlam gewerk of Apie se Polisdienste, is net eenders. Sasol of Joe’s Garage beteken ewe min. Tensy jy by Deloitte of diesulkes gewerk het, moet jy jou CV aanpas om konteks te probeer gee [...]. (36–7)
Dit herinner my aan ’n man wat ons tydens ons verblyf in Melbourne ontmoet het kort nadat hy en sy heelwat ouer vriendin daar aangekom het. Toe hulle die aand by ons opdaag, dra hy ’n spoggerige leerbaadjie en bypassende blink skerppuntskoene, vol planne oor die besigheid wat hy gaan open. Later sou ek verneem dat hy rakke in ’n supermark pak, en toe ek hom weer sien, het hy gewig opgetel en sy glans verloor – soos Zirk oor en oor in sy boek uitwys, móét jy eenvoudig bly glo dinge gaan uitwerk, maar hoe langer dit neem, hoe moeiliker word dit.
Om onder druk te verkeer het ’n manier om dit wat vaagweg teenwoordig is, bewustelik te manifesteer, in skerper reliëf te werp. In rustige, stabiele omstandighede kan jy byvoorbeeld die tradisionele geslagsrolle waarmee jy grootgeword het, ’n bietjie anders saam met jou lewensmaat inkleur. Maar onder uiterste druk weeg argetipes swáár. Khawaja en Mason:
Women tend to adjust to the transition [of immigration] in a slow manner, thus becoming vulnerable to higher levels of distress than men (Beiser & Hou, 2001). It has been suggested that this is frequently because women tend to remain home based initially, and therefore isolated. In the host country, the usual support offered by friends and family is not available, all of which impacts on the psychological well-being of the individual. However, men tend to find work as soon as possible, start interacting with members of the host country, and begin to gain an understanding of the host country fairly quickly (Fisher, 1990; Sluzki, 1986).
Zirk skryf:
Dis seker deesdae aanvegbaar om jou op mans en vrouens se tradisionele rolle te beroep, maar in minstens een aspek lyk dit vir my toepaslik in my en Elsabé se situasie. Tradisioneel was dit meer die man se rol om te voorsien vir die gesin en hulle te beskerm. Dis iets wat ek myns insiens beter in Nieu-Seeland kan doen as in Suid-Afrika. Die vrou se tradisionele rol het weer te doen met emosionele koestering, die bou van ondersteunende netwerke, om kinders te konnekteer met mense en plekke. Dis iets wat Elsabé beter in Suid-Afrika kan doen as in Nieu-Seeland. Dit bied een verklaring vir die tweespalt tussen ons. Of dalk is ek nou belaglik om ’n meer universele dimensie aan ons persoonlike geskil toe te dig.
25 Oktober 1998
My arme vrou is glad nie lus vir hierdie land nie. Sy vra my soms minder en soms absoluut ernstig dat ons nou teruggaan. As ons gou spring, is ons meubels nog daar en hoef ons dit nie heen en weer te karwei ten duurste nie [...]. Faktore wat my met paniek kan vervul as ek nie maar oë toeknyp nie. Dalk is sy reg. Dalk moet ons terug of moes ons nooit gekom het nie.
Al verlang ek my vrek, dink ek steeds dit was die regte ding. Ek het ’n skreiende aggressie in die lug gevoel daar in die Kaap wat ek nie hier voel nie. Al waar ek in SA so veilig gevoel het as hier, was as ek soms in ’n hotel geslaap het. Hier word mense net deur hulle kennisse vermoor. En ek ken natuurlik nog maar min mense!
Anyway, die lewe is ook nie als nie.
Dis Elsabé se houding. Ek dink aan die kindertjies. Maar nou is hulle van volk en vaderland ontneem [...] bla bla bla [...].
Dieselfde gesprekke oor en oor [...]. (59–60)
Hierbo is reeds gemeld dat Landuit onder meer ’n rouwerk is. Khawaja en Mason is baie spesifiek daaroor dat die Suid-Afrikaners wat deel van die navorsing vir hul artikel was, beslis meer verdriet (grief) ervaar het as immigrante van ander lande; selfs meer as emigrante van nie-Westerse lande. Dít skryf hulle toe aan die feit dat die landsverlatende – landsverlate? – Suid-Afrikaners as antisipatoriese vlugtelinge teensinnige immigrante is, mense wat verskeur tussen betreklike geluk en stootfaktore soos geweld, misdaad en ander faktore in SA die land met ’n swaar hart verlaat. ’n Mens sou kon sê die verdriet word verhewig deur die feit dat terwyl hulle werklikheid van betreklike geluk ’n faktor is wat hulle in SA sou laat bly, die virtuele werklikheid van iets wat jou en jou geliefdes mag oorkom soms genoeg is om hulle te laat vertrek – en hulle omgekeerd in hul gasheerland in ’n ánder virtuele werklikheid dompel, verwoord deur die vraag: Maar sê nou ons het nooit weggegaan nie?
Khawaja en Mason, nogmaals in hulle kliniese, saaklike akademiese opsomming van die ontsaglike psigiese pyn waardeur oud-Suid-Afrikaners dikwels worstel:
The grief reported by the participants in this research refers to the loss of something or someone that used to be available but which is now missing (Parkes, 1993). Anecdotal reports suggest that the South Africans were largely happy with their life in South Africa, but found the experience of violence and criminal activity very difficult to tolerate. Lawlessness and the perceived breakdown of infrastructure further reportedly exacerbated their need to leave. In addition to this, job opportunities were perceived as being compromised, further encouraging South Africans to immigrate. These are all criteria that fit Kunz’s (1973) description of the anticipatory refugee, thus defining them as reluctant involuntary immigrants. As reluctant immigrants, South Africans are likely to be experiencing an increased sense of loss as result of their immigration being involuntary and looking to the future not in anticipation but with regret and sadness. The grief reported on the Grief and Migration Scale is possibly the result of leaving South Africa reluctantly and, as Parkes (1993) describes, it is that emotion that is experienced when someone or something is missing. It refers to the pain that is experienced when the familiar places or individuals to whom one might have turned in times of crisis are no longer there. (240, my beklemtonings)
Hier is Zirk aan die woord oor sy verdriet oor sy verlies van dit wat agtergelaat is:
Ondanks my meer nomadiese familiegeskiedenis, moet ek bely dat ek vir ’n paar jaar nie eens ’n foto van Tafelberg kon sien sonder dat my binneste ruk nie [...].
Die ding van Tafelberg wat my so ontroer, het lank aangehou. Eenkeer toe ek in die Kaap is, in 2019 as ek reg onthou, kyk ek op na Tafelberg en dink: “Dis ’n mooi berg.” Dit was ’n estetiese waarneming, maar nie meer emosioneel nie. Dis toe dat ek geweet het dat ek Suid-Afrika uiteindelik verlaat het, meer as twintig jaar nadat ek en my gesin met die vliegtuig Nieu-Seeland toe gekom het. Of ek al in Nieu-Seeland aangekom het, is ’n ander vraag. Ek voel my ontuis in twee lande. (59)
Meer as 20 jaar om die verlies te verwerk. Meer as 20 jaar om die land ook psigies te verlaat. En jou desondanks dan in ’n tussenstaat van ontuisheid in albei lande te voel.
***
In die gevolgtrekking van hulle artikel bevind Khawaja en Mason:
According to the authors’ knowledge, grief has not been explored systematically in research on immigrants. However, this research has clearly shown that grief does significantly contribute to the distress that immigrants experience. (242)
Landuit want jy wil mos bevestig hierdie gevolgtrekking. Afgesien van die feit dat Zirk en Elsabé albei verdriet ervaar vir die redes wat Khawaja en Mason bespreek, val dit ook op dat hulle albei ’n intense verlies aan en verlange na gemeenskap ervaar. Die feit dat Elsabé volgens Zirk baie minder nomadies as hy is of grootgeword het, baie meer gewortel in haar plek en haar land van herkoms, maak dit skynbaar geen verskil aan die intensiteit van hul verlange na gemeenskap nie. Jy sou miskien kon sê die verskil tussen hulle is dat sy dit in die groter sosiale verband opsoek waaraan sy gewoond was, terwyl hy dit doen in die kleiner sosiale verband waaraan hy gewoond was – ’n mens kry ook die indruk dat Elsabé bloot meer sosiaal as haar skugter, teruggetrokke man is. In sý geval sentreer dit op besonder roerende wyse rondom sy boesemvriendskap met André, en relativeer die diep vriendskapsband tussen hulle ’n gevolgtrekking van die karakter Adriaan in Karel Schoeman se groot roman oor landsverlating en diegene wat agterbly, nadat Adriaan saam met Bernard ’n besoek aan dié se bejaarde, verswakte vader in die ouetehuis aflê:
Lank sit hulle so langs mekaar met die ritmiese uitwaaiering van die ruitwissers as enigste beweging, enigste geluid. Dan sien Adriaan dat Bernard se hande om die stuurwiel vasgeklem is sodat die kneukels wit uitstaan en dat sy skouers ruk in ’n geluidlose gesnik. Na ’n tydjie sit hy sy hand op Bernard s’n waar dit die stuurwiel omklem en bedek dit en hou dit vas; en in stilte sit hy so en kyk voor hom uit na die reëndruppels op die glad wat deur die ritmiese beweging van die ruitwissers weggevee word. “Ek het jou lief,” sou hy vir Bernard wil sê, en hom in sy arms neem en vashou, maar saam met hierdie wete kom ook die besef dat dit nie moontlik is nie. ’n Man sê nie sulke woorde vir ’n ander man nie, nie in Afrikaans nie [...]. (214–5, my beklemtoning)
Zirk, daarenteen, teenoor André, in een van vele sulke voorbeelde in Landuit:
Ek het eintlik ’n moerse lot te sê, maar dis sommer onbenullighede. Soos dat hulle Mrs Ball’s chutney in die Foodtown hier onder verkoop, kompleet met Afrikaanse label. Maar dan ook mentgeur ertjies in blikke, wat vir my vreemd is.
Ek verlang vir jou. Dat ons daardie selfde gesprek van die afgelope tien jaar oor kan hê. (30)
Daar is kennelik meer as een manier vir ’n man om vir ’n ander man in Afrikaans te sê dat jy vir hom lief is. Ek dink byvoorbeeld aan my vriend, H, wat nou al meer as 10 jaar in Nieu-Seeland woon. H het Bosveldse wortels en van hom kan ek sê wat ’n ander skrywersvriend eens gesê het oor nog een van Zirk se seldsame vriende toe laasgenoemde Nieu-Seeland toe is, naamlik Ryk Hattingh: “Hy sal mos nie oorleef as hy nie ’n doringboom kan sien nie.”
Ek en H het ons twintigjaarreünie saam met ’n paar ander maats gereël, die een waarvan ek al sewe jaar tevore in daardie donker, koue wintersnag in Lyon begin droom het. Ons vriendskap het hervat en verdiep vanaf 2007, toe omstandighede daartoe gelei het dat ek vir die eerste keer in meer as 10 jaar weer in Pretoria kon woon, in die “ou Ooste” – daar waar my een buurvrou, ’n sielkundige, vir my gesê het: “Johann, jou probleem is dat al woon jy in Pretoria, sal jy steeds na Pretoria verlang.” (En selfs al het omstandighede dit vandag toegelaat, sou ek nie meer in Verwoerdburg kon gaan woon nie. Dit bestaan nie meer op ’n kaart nie, en ook nie in die werklikheid nie.)
........
Tussen my en H lê ’n kloof van verdriet. Ek glo nie dit sal ooit kan weggaan nie, omdat dít vermoedelik slegs sou kon gebeur as ons weer in dieselfde land woon. En daarvoor het daar reeds te veel stof oor die Vrystaatse vlaktes gewaai.
........
My vriendskap met H is een van die dinge wat my deurgedra het toe ek vir daardie drie jaar in Australië, tussen 2009 en 2011, in onerkende verlange verdrink het. Ons gesprek het met ons gesin se terugkeer na SA in 2012 eenvoudig voortgegaan waar dit die vorige keer opgehou het, nes Zirk sy en André se gesprekke tydens Zirk se Suid-Afrikaanse besoeke beskryf.
Toe, in September 2012, enkele maande ná nog ’n wonderlike weersiens aan huis van H se moeder waar sy agter ons hoërskool gewoon het en ons heerlik onder die lapa gebraai en goedkoop whisky geniet en 80’s-musiek geluister het, toe kom die SMS dat omstandighede hom landuit neem. Nieu-Seeland toe.
Tussen my en H lê ’n kloof van verdriet. Ek glo nie dit sal ooit kan weggaan nie, omdat dít vermoedelik slegs sou kon gebeur as ons weer in dieselfde land woon. En daarvoor het daar reeds te veel stof oor die Vrystaatse vlaktes gewaai.
***
Mense sal ondenkbare offers vir hulle kinders bring. Sonder enige waarborge dat dit noodwendig ’n goeie ding is in die sin dat die offer wat gebring word, die kinders beter af laat. Die tipiese voorbeeld hiervan is mense in ’n sielsongelukkige huwelik wat uithou “ter wille van die kinders” – en dis dikwels die vrou wat uithou, soos die immigrantevrou uithou en aanhou. Mense wat die land verlaat ter wille van hulle kinders – en onthou dat Zirk in ’n aanhaling hierbo skryf dat as dit nie vir sy kinders was nie, hy seker nooit die land sou verlaat het nie – kan per definisie nie vooraf weet wat hulle hul kinders ook ontneem nie, soos bande met grootouers, of, in die geval van die Afrikaanse landsverlater, met die Afrikaanse taal. Zirk, wie se wese is om (in Afrikaans) te skryf, skryf byvoorbeeld dat sy kinders nie sy boeke in Afrikaans kan lees nie.
Naby die einde van Landuit haal hy aan uit ’n werkstuk wat hulle dogter, Anna, op universiteit geskryf het “oor hoe die migrasie ons gesin en haar in die besonder geaffekteer het” (230). Vir my as leser was om dit te lees eenvoudig verpletterend:
My gesin was en is steeds redelik geïsoleer van die gemeenskap. My ouers het min vriende gehad en nie kultureel by die Kiwi’s ingepas nie.
Ek het grootgeword sonder veel kontak met my uitgebreide familie, buiten vir twee kuiers in Suid-Afrika toe ek ’n kind was. My begrip van familie en ons geskiedenis is dié van ons vier alleen. Ek weet nie hoe dit vir mense moet wees wat sterk bande met hulle uitgebreide familie of voorsate het nie, want uit my oogpunt het ek net drie familielede. Ons gesin se siening van wat dit is om ’n familie te wees, het besonder sterk bande tussen ons geskep, en swak bande met die res van die familie.
Ek weet nie veel van hulle nie, grootliks omdat ek nie tyd saam met hulle deurgebring het nie, maar ook omdat dit vir my ouers pynlik was om oor die breër familie te praat. Die ongelooflike verlies waarmee hulle te kampe gehad het, en waarmee hulle steeds sukkel, het gelei tot ’n onderverdeling tussen “Ons Gesinslewe” hier in Nieu-Seeland en “Die Lewe Wat Ons Agtergelaat Het”.
Ek kom nou eers agter dat my ouers steeds ’n diepe verbintenis met hulle voor-Nieu-Seelandse lewens het – ek het eenvoudig nooit enige idee hiervan gehad nie, omdat dit stil gehou is. Ek sal nooit die omvang van die trauma ken wat my ouers ervaar het om Suid-Afrika te verlaat nie, maar ek weet dat ek nog altyd bewus was dat dit daar is. Hulle wou dit self hanteer en my en my broer beskerm teen hulle swaarkry en verlies, en hulle het dus probeer om nie te praat oor “Die Lewe Wat Ons Agtergelaat Het” nie. Ondanks hierdie poging kon ek die pyn in die atmosfeer voel en het op ’n manier geweet dat dit ’n wond was wat nooit sou heel nie, en wat ek liefs nie moet ophaal nie. My ouers moes ons lewens so kompartementaliseer, want dit was te moeilik wanneer “Die Lewe Wat Ons Agtergelaat Het” te naby aan “Ons Gesinslewe” kom – die kloof was te groot om op ’n aanvaarbare manier te integreer.
Ek voel ’n soort tweedehandse skuld, want ek weet ek en my broer is die redes vir die migrasie. Ek voel ook die pyn van migrasie tweedehands. My ervaring van migrasie is my ouers se rou; die verlies aan ’n tuiste [...]. (232–3)
***
Een van die dinge wat meer as 30 jaar ná die vorige Suid-Afrikaanse politieke bedeling al hoe duideliker geword het, is dat die betreklike veiligheid wat die Afrikaners en hulle kinders in veral die dekades ’70 en ’80 van die twintigste eeu geniet het, gekom het teen die prys van ’n staat wat die geweld élders heen verplaas het. Met sy onlangse verkiesing tot leier van die Vryheidsfront Plus, het Corné Mulder in ’n onderhoud met Rapport bespiegel dat as sý pa, Connie, pleks van PW Botha in 1978 tot eerste minister verkies is, die land se geskiedenis heel anders sou verloop het, omdat Corné van oordeel is dat sy pa nie die land sou verander het in die sekurokrasie wat PW het nie – die sekurokrasie wat aan Afrikaners soos ek en Zirk in ons jeug betreklike veiligheid teen die prys van die verplasing van die geweld élders gebied het. Daardie “elders” was die res van ons landgenote.
........
Vir Afrikaners van ons geslag bly die nasleep van die vorige politieke bedeling dat ons in ons eie land gekonfronteer word met die vraag of ons moet bly en of ons moet gaan. Weens die abnormale normaliteit van ons jeug, wil-wil ek dink dat dit abnormaal is dat énige mens voor so ’n keuse te staan moet kom.
........
Vir Afrikaners van ons geslag bly die nasleep van die vorige politieke bedeling dat ons in ons eie land gekonfronteer word met die vraag of ons moet bly en of ons moet gaan. Weens die abnormale normaliteit van ons jeug, wil-wil ek dink dat dit abnormaal is dat énige mens voor so ’n keuse te staan moet kom. Maar geoordeel aan hoe ontsaglik gewelddadig die moderniteit met sy imperialisme, kolonialisme en rassisme is, is dit ’n ope vraag of ons geslag Afrikaners ons nie bloot nou in dieselfde situasie bevind as soveel ander mense die afgelope eeue in die moderniteit nie. Al hoort dit nie so nie, want ’n mens is immers wie jy is nie net deur ander mense nie, maar ook deur jóú mense en jóú plek – al bestaan dit nog net in jou herinneringe, soos Zirk se Suid-Afrika of my Verwoerdburg.
***
Aan die einde van Landuit skryf Zirk meer as ’n kwarteeu nadat hulle Suid-Afrika verlaat het:
Om terug te trek Suid-Afrika toe is lankal nie meer ’n opsie nie. Die kinders is Kiwi’s en gelukkig (soos in “happy”) hier. Bernard [hulle seun] sê baiemaal hoe gelukkig (soos in “lucky”) ons is om hier te woon. Anna is selfs mal oor die nat weer. En Elsabé het noodgedwonge haar lot hier aanvaar en doen sinvolle en verrykende goed met haar lewe. Ek kla oor my beroep, maar met my gesin en my skryfwerk is my grootste drome bewaarheid. Ek is deeglik bewus dat dit nie iets is wat baie mense beskore is nie.
Ek is tevrede om in Nieu-Seeland te wees. As ek egter die horlosie kon terugdraai en met alles wat ek nou weet weer moes besluit om landuit te gaan of nie [...]. Dan het ek dalk anders besluit. (235)
***
Op my 41ste verjaardag het ek naby middernag Melbourne-tyd ’n aanlyn onderhoud gevoer vir ’n dosentepos aan die Universiteit van die Vrystaat (UV). Toe ek kort daarna hoor ek word die pos aangebied, het ek vir die eerste keer besef hoe verskriklik my verlange na Suid-Afrika was. Voor ons Australië toe is, het ek in Julie 2008 aan ’n vriend wat toe al haas 10 jaar in Australië gewoon het, gevra of hy ooit na Suid-Afrika terugverlang. Ná ’n lang stilte was sy antwoord: “Jy kan dit nie bekostig nie.”
Toe ek die pos aan die UV gekry het, kon ek dit vir die eerste keer bekostig om terug te verlang.
Ons het uiteindelik met meer as 40 kilogram se handbagasie oor meer as 40 uur en verskeie vlugte uit Melbourne teruggevlieg na Johannesburg. Ons het op Oujaarsaand 2011 uit Melbourne vertrek, en op Nuwejaarsaand 2012 in Johannesburg geland, waarna ons na my ma se meenthuis in ’n aftreeoord in Centurion is.
........
Ondanks die enorme uitputting van die vlug, is ek op 2 Januarie die oggend kort ná vieruur gewek deur die eerste lig, die getjirp van die mossies en die swaar geur van die natgedoude gras.
........
Ondanks die enorme uitputting van die vlug, is ek op 2 Januarie die oggend kort ná vieruur gewek deur die eerste lig, die getjirp van die mossies en die swaar geur van die natgedoude gras.
My vrou het ook wakkergeword, en ek wou ten alle koste gaan stap. Ons tog het ons verby my hoërskool geneem en ’n ent verder op in Christopherweg sien ek ’n huis met ’n elektriese heining en pragtige, hoë donkergroen struike en bome, eie aan die subtropiese klimaat van wat eens Verwoerdburg was. Terwyl ek voor ons verblyf in Australië veel te sê had oor hoë heinings, het ek tot stilstand gekom en vir my vrou gesê: “Nou eers verstaan ek dat as ’n mens in ’n stukkie paradys woon, beskerm en omhein jy dit soos nodig.”
Ons is twee dae later vort, suid, onderweg na my vrou se grootwordwêreld in die Overberg, wat nog ongeskonde bestaan, en waar ons gesin steeds jaarliks vakansie hou in die asbeshut wat my oorlede skoonpa meer as 60 jaar gelede as “tydelike struktuur” opgerig het.
Die aand sou ons oorslaap by vriende op ’n plot ’n entjie buite Bloemfontein, dieselfde vriende by wie ek kort ná die ontmoeting van my toekomstige vrou in 2001 oorgeslaap en op ’n koppie vir die eerste keer in my lewe gedink het dat dit die vrou is met wie ek graag ’n kind wil hê – ’n gedagte wat vir my ewe onwerklik was as om ’n hond te hê. Tot sy in my lewe gekom het.
Teen sterk skemer daardie aand het ons ’n spoorwegoorgang bereik. Voor ons, in die ligte van die motor, was die grondpad sigbaar, nes dié waarmee my pa as kind 90 kilometer daarvandaan op Jagersfontein grootgeword het. Onder die verdonkerde vlieswolke was die lug helder, geskakeerd vanaf blou tot pers, tot oranje net bo die kim. En toe het ek geweet ek is uiteindelik by die huis.

Foto: Rika-Alet Rossouw, 5 Januarie 2012
Ek het na my vrou gedraai en gesê: “Nou weet ek, ek is uiteindelik weer by die huis. Sal jy die beeld voor ons asseblief afneem?”
Die foto hang steeds geraam in my kantoor.
Lees ook:
Wat sê Bettina? Ope brief aan Afrikaner-vlugtelinge op pad na Daddy Trump toe
Die AfriSol-afvaardiging na Washington: Politieke spel of etniese verteenwoordiging?
Straight shot: Tembeka Ngcukaitobi about the Expropriation Act
Kommentaar
Wat 'n aangrypende, weldeurdagte opstel.
Baie lank gelede het 'n kollega wat 'n tyd in die buiteland gebly het, met haar terugkoms vir my gesê: Die opoffering is te groot. Jy sal nooit elders gelukkig wees nie. Jou kinders sal wel gelukkig wees in die nuwe land, maar jy sal altyd hunker. My twee seuns het daardie hunkering, die een in Amerika en die ander in Ierland. Hulle praat net anders daaroor.
Ek wonder dikwels hoe ons voorsate daaroor gevoel het. Almal van ons is tog 'n afstammeling van iemand wat 300 jaar gelede 'n broer, suster, pa, ma, plaas of dorp agtergelaat het. Dalk treur net die eerste geslag. (Ek treur sommer nou vir hulle part ook!)
"Modern Talking was vir die “meisies”. Dit was goedkoop, sentimentele, elektroniese pop, die een liedjie ná die ander resepmatig voortgebring."
Wat van Sonja Herold vir 'n bietjie Grens-nostalgie? Daar is niks soos "Jantjie Kom Huistoe", of "Waterblommetjies" om die hartsnare te laat kitaarspeel nie!
Die artikel raak so skrams daaraan, maar ’n goeie term vir wat ’n emigrant beleef is “ambiguous loss”. Die term is deur die Amerikaanse gesinsterapeut Pauline Boss geskep om die verlies te beskryf aan iets wat nie heeltemal weg is nie, bv. ’n eks-man of -vrou. Hulle is nie dood nie, hulle is nog daar iewers en dit is teoreties moontlik om weer by hulle te wees. Anders as om te rou vir ’n afgestorwene, byvoorbeeld, is die verlies nie onafwendbaar of onomkeerbaar nie, wat dit ekstra moeilik maak om berusting te vind. Só is dit met ’n emigrant – alles wat jy verlaat het, is nog daar. Dit maak dat die wond rou bly.