
Hemel en aarde en ons deur Zirk van den Berg (Queillerie, 2024)
Titel: Hemel en aarde en ons
Skrywer: Zirk van den Berg
Uitgewer: Queillerie (Maart, 2024)
ISBN: 9780795802683
Epub ISBN: 9780795802690
Verbeel ek my of is daar dusver gans te min ophef gemaak oor hierdie elfde boek deur Zirk van den Berg, ’n roman oor, onder andere, “opdrifsels” en “gestaltes”?
Vergeet ’n oomblik van resensies; ek dink spesifiek hier aan die tasbare opgewondenheid, die buzz, onder lesers soos onlangs die geval met romans soos Eben Venter se Decima, SJ Naudé se Van vaders en vlugtelinge en Etienne van Heerden se Gebeente, elk onlangs op die kortlys vir die KykNET-Rapport-prys vir fiksie. Nie een van hierdie romans sou as “maklike” leesstof getakseer word nie – tog het jy sommer vinnig die idee gekry dat kritici en gewone lesers ’n opgewondenheid oor hierdie bruisende, beleë verhale het.
Hoekom het Hemel en aarde en ons dan onder die spreekwoordelike dryfsand beland? Dit terwyl dit in soveel opsigte ’n voortreflike, buitengewoon aangrypende roman is wat die leser van meet af boei?
Op die flapteks word die roman opgesom as ’n “veelvlakkige whodunit met ’n konseptuele kinkel, ’n verkenning van identiteit, bewussyn, verwording en vergetelheid”. Jy kan my in ’n wip vang met ’n stuk prosa wat met ’n groot mate van spel, suggestie en subteks te werk gaan om sy eie fondasies en ratwerk stuk-stuk uit te pluis en wat indringend vrae vra oor die aard van stories en hoe die samelewing self in stand gehou word deur die groter en meer intieme stories wat ons vertel, oor onsself, oor ander en oor die wêreld waarin ons ons bevind.
Die whodunit – met ’n stel raaisels wat opgelos moet word en die skuldige wat uiteindelik beslissend uitgewys moet word – is nie op sigself die mees boeiende of vernuwende van subgenres nie, maar die prentjie verhelder aansienlik wanneer ’n skrywer die moed en durf aan die dag lê om die kategorie te verbreed: Die whodunit, die trajek van duisterheid en onsekerheid na helderheid, klarigheid en uitsluitsel, na ondubbelsinnige antwoorde, word met ’n “konseptuele kinkel” moontlik na ’n ander bestemming geneem. Die ondersoek, steeds met die onderbou van die naspeur van ’n moord, ’n skuldige, die vraagstuk van reg en geregtigheid, word dan onlosmaaklik vervleg met die “verkenning van identiteit, bewussyn, verwording en vergetelheid”.
........
Die whodunit, die trajek van duisterheid en onsekerheid na helderheid, klarigheid en uitsluitsel, na ondubbelsinnige antwoorde, word met ’n “konseptuele kinkel” moontlik na ’n ander bestemming geneem.
........
Dis maklik om vas te steek by identiteit: Is daar ’n roman onder die son wat nie op een of ander vlak te make het met ten minste die hoofkarakters se identiteit, presies wie en wat hulle is, wil wees en waarskynlik nog gaan word nie? Die gegewe van die verbeelding van ’n enkele karakter se fisiese en geestelike/intellektuele reis, nooit volledig afgesonder of sonder samehang met die reis of vlakke van konflik wat ander soortgelyke of verskillende karakters ervaar nie, kan die verbeelding eindeloos aangryp soos die vertelling bepaald die leser se indruk van die karakters rig.
Wanneer die romanmatige “onthulling” van identiteit hand aan hand gaan met die uitspeel van die whodunit, het ons dan te make met ’n roman wat opsetlik vraagstukke van reg, geregtigheid, skuld en boetedoening koppel aan vrae oor menswees, oor intimiteit, oor geweld, oor trauma en verlies. Met so ’n veelvlakkigheid word ons gekonfronteer met lae van betekenis, ook ambivalensie, ook dubbelsinnigheid, ook verskeie paradokse veral, waar die hele idee van klassifikasie, begrensing, inperking, van buite en binne, opsetlik bevraagteken en ondermyn word.
So ook kan identiteit en bewussyn nie van mekaar geskei word nie, en word die amperse vloekwoorde van “verwording” en “vergetelheid” intiem gekoppel aan ’n komplekse en uitdagende illustrasie van die mens se dualistiese aard. Verwording – aftakeling, agteruitgang, verval – het bepaald resonansie wat betref die individu se “sleg raak” of verval, asook die groter, breër sosiale konteks van wat met die samelewing op daardie oomblik of in daardie tydgleuf gebeur of aan die gebeur is.
Die verwording en aftakeling sluit gewis ook nie die aftakelingsproses van die geheue en die bewuswording van hierdie akute en langdurige aftakeling uit nie. Is daar iets soos ’n vervaldatum of afsnypunt rakende skuld en verantwoordelikheid? Hoeveel skuld moet iemand dra vir dit wat hulle nie doen nie, eerder as bloot vir dit wat hulle wel doen of gedoen het? Is die vergetelheid ’n soort kollektiewe straf wat vir ons almal beskore is? Dan die vraag van die “konseptuele kinkel” – een wat uit verskeie hoeke benader kan word maar wat wel die wakker leser stewig beloon.
Kolmanskop, ’n dekade voor die Eerste Wêreldoorlog: Op hierdie plek, op hierdie tydstip, voor die oorlogswolke dig begin saampak, is daar ontsaglike rykdom gekonsentreer rondom die ontdekking van diamante. Onmiddellik, met die voorafkennis wat die venster op die voorplat aan die leser bied om tot in die verte te kyk na ’n huis op die vlakte met ’n stel spore sigbaar, vra die leser hom of haar reeds af: Waar is die “ons” hier? Elke ons veronderstel ook dan ’n hulle, en ’n ek moontlik dan ’n jy.
Binne die raam van die venster is daar een venster onder en twee bo, en die twee boonste vensters blyk dan ongeveer saam een derde van die totale vensteroppervlak op te neem. Die woord “hemel” is bo, “aarde” is naby ongeveer die middel van die voorplat, en die “en ons” is dan net so geplaas om simbolies binne die onderste vensterraam te pas.
Die “ons”, die mense of ten minste sekeres van hulle, is dan soos die edelgesteentes onder lae van die aarde of sediment – die sediment van die geheue en die verloop van tyd, begrawe. Hoe lyk die “hemel” in ’n tydsgewrig van geweldige vooruitgang, vernuwing, ambisie, winsbejag? Dis dalk makliker om die hel van verwording en vergetelheid in te sien. En watter dryfvere werk in op die mense, die “ons” hier ter sprake, om hul voete op die aarde te hou en nie van hul menslikheid en deernis af te sien nie?
Soos ons reeds weet, is Van den Berg soms lief daarvoor om met perspektief te speel, om die leser uit te daag met ’n afwisseling in perspektief en vertellers wat sake verhelder, vertroebel of dikwels kompliseer. Soos die vensterraam op die voorplat suggereer is daar ’n wisselwerking hier tussen binne en buite, afstand en nabyheid, intimiteit en vervreemding, mededinging en mededeelsaamheid en menslikheid, die nou en die toe en die toe en die nou, tussen belewenis, verbeelding en die geheue oor tyd.
Spanning, immers, tussen dit wat die raam insluit en dit wat net buite die raam lê. ’n Ganse landskap van ander stories, van ander invalshoeke, van ander mense, van ander tye. Aankoms en vertrek, troebelheid en verheldering. Vrae sonder antwoorde.
........
Iewers moet die narratiewe masjien dit uitlig wat individue eerder nie wil verklap of wil sien nie, dit wat diep binne of diep begrawe sit. Die kinkels. Die afdraaipaaie. Die sluimerende onheil en gevaar.
........
Sentraal staan die aankoms van ’n vroulike dokter op die dorp en die bedryf van ’n x-straalmasjien, die eerste in die Suidelike Halfrond, deur die dokter self op die myn. Dit hoofsaaklik, let wel hoofsaaklik, om diamantdiewe vas te trek. Staan jy vir ’n oomblik terug, besef jy gou dat die skrywer hier vroeg reeds besonder vindingryk te werk gaan om die x-straalmasjien simbolies aan te wend om verskillende ambisies, belangstellings, vrese, konflikte en vraagstukke te help belig. Iewers moet die narratiewe masjien dit uitlig wat individue eerder nie wil verklap of wil sien nie, dit wat diep binne of diep begrawe sit. Die kinkels. Die afdraaipaaie. Die sluimerende onheil en gevaar. Daar mag dalk vooruitgang in die mediese wetenskap en tegnologie wees, maar die mens bly altyd bloot die mens … Die volgehoue spel tussen oppervlak en dieptes, dit wat ooglopend of voor die hand liggend is en dit wat moeilik is om te peil en te verstaan, wat afspeel op Duits-Suidwes-Afrika voor dit Namibië word.
Mynbaas Hans-Peter Kranz, die ene invloed, mag en ambisie, is die teks se ooglopende antagonis en boosaard, en die een wat dokter Alexandra Stackelberg ontbied om die röntgenmasjien te gebruik. Kranz se bombastiese houding en selfvertroue ken skynbaar geen einde nie – hoewel hy met Mathilde getroud is, vind hy dokter Stackelberg meer as net effens begeerlik. Stackelberg het op haar beurt om verstaanbare redes ’n weersin en groot wrewel in mans soos Kranz, en is ’n sterk, magnetiese skoonheid wat deurmekaar raak met die Landespolizei se Dirk Wiegand. Wiegand is ’n enigmatiese, geheimsinnige geregsdienaar wie se betrokkenheid – of eerder onbetrokkenheid – by die myndorp se stygende intriges en konflikte deurgaans met ’n groot skeut ambivalensie belig word. Hoe pas die mynvoorman Andreas Blucher en sy mooie nooi Emilie in die prentjie? En wat van Paul Landsberg, die uitvinder, die avontuursoeker …?
Soos in die onlangse Siegfried Bock-trilogie wat ook in Suidwes-Afrika afspeel, ondersoek Van den berg op sonderlinge wyse hoe plot, karakter en ruimtes inmekaarsteek. Nes die wye doek van die windverwaaide, sanderige landskap deur uiteenlopende karakters binnegedring word, word Hemel en aarde en ons se vertelling telkens onderbreek: In ’n vertelling so keurig en formeel-intelligent saamgestel uit onthullende of verbloemde fragmente en opdrifsels, uit korreltjies betekenis wat kantel, illustreer Van den Berg die suggestiewe “geweld” van onthou en die stryd om te vergeet.
........
Hierdie is ’n boekstawing van mymeringe, van letterlik tot verhaal kom, van flitse en flardes, van die “uitdoof van die flikkerende vlammetjie”. Uiteindelik word hierdie melankoliese verhoudingsroman ’n heel ander soort spanningsverhaal en, inderdaad, whodunit.
........
Om verwyder te wees van jouself en jou storie, deur meer as bloot die ouderdom en die verloop van tyd, word hier beliggaam. Hierdie is ’n boekstawing van mymeringe, van letterlik tot verhaal kom, van flitse en flardes, van die “uitdoof van die flikkerende vlammetjie”. Uiteindelik word hierdie melankoliese verhoudingsroman ’n heel ander soort spanningsverhaal en, inderdaad, whodunit.
Van den Berg is iemand wat dit uitmuntend regkry om die essensies van menswees vas te vang – die ellende en die ekstase, wat ons wen en verloor deur die ondermaanse te bewandel, wat ons bewapen en verwond, soms een en dieselfde ding – en dit verhaaltegnies opdis deur kaleidoskopies tussen die intieme, die onthutsende, morbiede en diep menslike te pendel. Sy palet is een met vele, vele kleurkombinasies.
Op Kolmanskop was daar eenmaal lewe, en volop daarvan. Hoe gee mens gestalte aan ’n spookdorp voor dit daar spook? ’n Klein gemeenskap, vol intrige, vol geheime, vol van die daaglikse sleur, elke mens met sy eie unieke storie maar wat tog nie so uniek is nie. Daar is konflik wat op vele vlakke en terreine broei, ook weg van die myn, en psigiese oorlogvoering wat afspeel jare voor die oorlog self uitbreek.
Hierdie roman as x-straalmasjien, een wat tot in die diepste dieptes van die menslike gees en siel en hart en verstand kan kyk, lewer ook getuienis van die mens as onpeilbaar duistere wese wat hom nie altyd laat diagnoseer nie. Watter karakters bou hul spreekwoordelike huisie op die spreekwoordelike sand?
Dokter Stackelberg wat praat van “hemel en aarde en ons” (180): Die skrywer kry dit reg om, soos Cormac McCarthy in The road en Michael Ondaatje se The English patient, ’n eenselwigheid en herhalende tekstuur te vermy wanneer daar wydlopend en met hope intensiteit oor die ongenaakbaarheid van die landskap en soms die menslike aard, oor eensaamheid, alleenheid, die verwyderde, verlatenheid en isolasie geskryf word.
Hierdie is ook skryfwerk wat jy intens voel en beleef. Die ruimte van hart tot hart wat so roerend onder die loep geneem word. Dis eintlik ’n aaklige en baie ooglopende vergelyking, maar Van den Berg se prosa, sy paragrawe en sinne, het werklik die gestroopte helderheid van diamante. Blaai gerus deur die boek en sit jou vinger op feitlik enige plek op enige bladsy, en daar sal jy ’n paragraaf raaklees wat op sy eie werk en uitstaan sowel as om ryke aanklank te vind met die res van die prosa en vertelling.
........
Ambisieus en waagmoedig is dit gewis om twee ek-vertellers om die beurt in te span: die een maklik sigbaar, die ander wat intree en bykomend saamgesels en sake kompliseer. ’n Buitewaarnemer of nie?
........
Daar is twee verhaallyne, afwisselend dog aanvullend, een wat voortstu en een wat hinkend in flitse rondspring, wat die doen en late van die groepie hoofkarakters toelig. Ambisieus en waagmoedig is dit gewis om twee ek-vertellers om die beurt in te span: die een maklik sigbaar, die ander wat intree en bykomend saamgesels en sake kompliseer. ’n Buitewaarnemer of nie?
Daar is waaisand wat fondasies vreet; ’n verhaal wat homself gedurig konstrueer en dekonstrueer, met die leser wat saam lae van betekenis skep. Die vertelling jaag hoegenaamd nie af op ’n slot wat eintlik onafwendbaar is dog steeds diep ontroer nie: Wie is uiteindelik skuldig of onskuldig? Op hierdie dorp, in hierdie man’s world, is die druk op vroue veel groter as wat die naakte oog kan gewaar. Die tafereel, vol terugflitse, die kers wat sommige hoeke beter belig as ander, bly een vir herbesin en herkou.
Moes die skrywer dalk meer gedoen het met die konflik en spanning tussen die inheemse bevolking en die Europeërs? Sou dit te veel aandag weg van die koherente en onderhoudende sentrale verhoudings en konflikte opgeneem het? Sonder om pretbederwer te speel is dit formeel prikkelend en ’n aangename uitdaging om te volg en te verklaar wie wanneer aan die woord is en die “sleutels” en “getuienis” te bestudeer. Die verhaal is dalk op die oppervlak een persoon se stotterende pogings om die verlede te orden, vas te pen, verteerbaar en dalk verdedigbaar te maak, om dit oop te vlek vir ’n soort ontwykende gemoedsrus, maar die toetrede van allerlei skuldgevoelens, ambivalensie, onsekerhede en (steeds) begeertes maak van die geheue ’n huis met vele wonings: die geheue as spookdorp, herinnering as die myn van diamante in die sandduine, daardie opdrifsels, die flotsam en jetsam, wat uitspoel op die strand, ’n strand sonder begin en einde …
Emilie se wiskundige aanleg, Mathilda as ’n skilder uit eie reg, en Alexandra as dokter bied ’n korrektief teen ambisieuse en avontuurlustige dog soms rigiede mans. Ek bederf nie hier die vraag van hoe Van den Berg hierdie veelkantige karakters se ambisies en begeertes laat ineenstrengel nie, maar dit slaag die toets van geloofwaardigheid sonder om hoogdrama en vermaaklikheidswaarde in te boet.
........
Die leeservaring is intens en stel ’n aantal eise, maar die leser se belegging word ryklik beloon.
........
Meer as een karakter bevind hulle op moedverloor se vlakte; tog is die roman nie deurgaans (slegs) kloustrofobies of terneerdrukkend nie, en is daar oorgenoeg plek vir die karakters en die leser om asem te haal, om te besin en om verskillende drade bymekaar te bring.
Die leeservaring is intens en stel ’n aantal eise, maar die leser se belegging word ryklik beloon. Daar is ’n diepe sensualiteit wat hier broei, veral met ’n verhouding soos die een tussen Dirk en Alexandra. Hoe leer ons om ander te vertrou en in ons binnekamers toe te laat? Begaafde skrywers soos Zirk van den Berg belig voetpaadjies waar ons kan stap om meer te leer oor menslikheid, intimiteit, aanvaarding en genade; dit te midde van grootse verlies, verslaentheid en, ja, verwording.
Dalk is die lees van Hemel en aarde en ons vergelykbaar met die Möbius-band: Wanneer jy vorentoe probeer gaan, trek jy kant toe. Wanneer jy binnetoe wil gaan, is jy weer buite. Die les vir die leser, soos vir die karakters, is om oor te gee, van beheer of pogings tot beheer af te sien. Met Zirk van den Berg is daar altyd veel meer op die horison en in die vertes verskuil as wat jy vermoed.
Hemel en aarde en ons is een van die mooiste skatte in Van den Berg se nooit volprese oeuvre.
Lees ook:
Kommentaar
Uitstekende resensie. Baie dankie..