
Die helfte is jou nie vertel nie deur Thérèse Bartman (Naledi, 2025)
Titel: Die helfte is jou nie vertel nie
Skrywer: Thérèse Bartman
Uitgewer: Naledi (Augustus 2025)
ISBN: 9781067234669
Die titel van Thérèse Bartman se digbundel Die helfte is jou nie vertel nie laat lesers wonder: Is daar werklik nog veel te sê oor onderwerpe soos die tragiek van slawerny en konsentrasiekampe, jeugdige slagoffers van bendes, verlies as geliefdes elders ’n heenkome vind en intiem persoonlike ervaring van bejaarde ouers se aftakeling en heengaan? Is die helfte werklik nog nie vertel nie?
By kennismaking met Die helfte is jou nie vertel nie sal lesers dadelik agterkom dat dié ’n bundel met ’n verskil is. By 11 van die 29 gedigte verskyn ’n QR-kode, maklik skandeerbaar met ’n selfoon, wat die leser verander in ‘n toehoorder wat kan luister na voordrag van die gedigte, met agtergrondmusiek wat bydra tot die atmosfeer van die gedig. Voeg daarby die wasagtige papier waardeur ’n foto van die oorblyfsels van ’n konsentrasiekampdraadhok sigbaar is, en die geometriese patroon wat lyk na doringdraad en twee bladsye aan die einde van die bundel in beslag neem, en lesers sal besef dat die bundel meer as net ’n passiewe leeservaring verg. Foto’s ter toeligting van gedigte, kontekstualiserende inligting voor sommige gedigte, en onderskrifte prikkel die nuuskierigheid. Hierdie buitengewone kenmerke is egter nie net aardighede nie, en doen nie afbreuk aan die teks, wat steeds sentraal staan, nie.
Die bundel is in drie dele verdeel: Die eerste deel betrek historiese persone en gebeurtenisse, die tweede handel grootliks oor die tragiek van verspilde jong lewens, en deel drie sluit onder andere gedigte oor verlies van familielede en oor verganklikheid in.
Die openingsgedig, “Stamboom I” (3), wat handel oor die slaaf Angela van Bengale, verskaf ’n sleutel tot die res van die bundel. Die gebruik van die apostrooftegniek (om die afwesige direk aan te spreek) dui daarop dat dié stylfiguur in opvolgende gedigte gaan voorkom, wat telkens bydra tot helder beelding waarmee die afwesige opgeroep word en wat ’n gevoel van intimiteit skep. Temas soos die dood (die dood van kinders, sielsgenoot Groote Catrijn wat aan builepes sterf, slavin Zara wat haarself ophang), emosionele verwonding, moeisame skrywerskap en herhaling (“sout” en “wond”), en verwysing na “voëls” wat ’n herhalende motief word (byvoorbeeld in “Demensie”, 47), kom voor. Die beeld van ’n “speekselspoor” wat lei na ’n “webstamboom” dui op soeke na identiteit deur naspeuring van ’n voorsaat uit ’n verre verlede. Verwysing na ’n “praatvers” (wat sowel ervare lesers as ongeletterdes in staat stel om te luister met behulp van die skanderingskode) en “ink” (wat ook die titel van die volgende gedig na “Stamboom I”, 6–7, is), dui op ’n ars poëtikale element wat in verdere gedigte manifesteer. Ook weerloosheid en wreedheid teenoor magteloses figureer.
Die slotstrofe verknoop die verlede aan die hede, wat betekenisverruiming tot gevolg het. Die digter pleit vanuit eie leefwêreld by “Maaij Ansiela” (’n vertederende aanspreekvorm vir Angela):
“leer my leef met ’n wond wat nooit genees,
En seën my onbeholpe digtertong.” (4)
........
Die digter se huiwering om die verloklike digterstem te volg is ’n besinning oor eie digterskap.
........
In “Ink” (6) ervaar die digter ’n stem, dié van ’n onbekende boervrou, wat die digter aanspoor om ondeurdringbare doringveld (metafories vir digterlike struikelblokke en tyd reeds lank verby) te oorkom. Herhaling (“Hup! Hup! Hooookaaaaaiii, komkomkomkom”, treffend in die klankbaan) plaas klem op die roepende innerlike digterstem. Die intimiteit van digterskap word uitgelig deur die strofe wat die insident ophaal waar ’n boervrou vir die avonturier James Chapman ink gemaak het van onder andere haar eie borsmelk. Dié strofe sluit af met “en daar was ink” wat resoneer met ’n frase in die Christelike skeppingsverhaal, “[E]n daar was lig” (Genesis 1:3). Hierdie ooreenkoms beklemtoon die fundamentele belang van digterlike skeppingdrif. Ink versinnebeeld ’n hunkering na digterskap. Aansluitend daarby is die fonetiese transkribering van die woord “ink”, wat verder klem plaas op die digter se skeppingsdrif. Die digter se huiwering om die verloklike digterstem te volg is ’n besinning oor eie digterskap. Die slotreël in die volgende gedig, “Erflating” (8), “vir ink vir my droë digterspen” resoneer ars poëtikale verkenning.
“Klagkleed” (10) is ’n aangrypende gedig waarin Herbert Kitchener, wat tydens die Suid-Afrikaanse oorlog (1899–1902) ‘n rol gespeel het in die verskroeide-aarde-beleid en konsentrasiekampe wat duisende wit en swart lewens geëis het, direk aangespreek word. ’n Foto van ’n marmerbeeld van Kitchener in die Sint Paulus-katedraal in Londen is by die gedig geplaas. Die woord “geboë” in die openingsvers, wat die Mariabeeld by haar gestorwe seun beskryf, wys vooruit na die tragiek van kindersterftes wat in die res van die gedig aan bod kom, en weer meeklink in “Grafsteen” (17) wat handel oor die tweejarige swart dogtertjie, Dorkas, se verweerde, ru grafsteen. In “Klagkleed” dra die kontras tussen die enkelwoordversreëls waarin Kitchener se opdragte weerklink en enkelwoorde wat in intensiteit toeneem en die lyding en dood van kampkinders eggo, by tot die treffende uitdrukkingskrag van die gedig. Die jukstaponering van enkelwoorde (dié aan die oorlog se bokant en dié met “drade asem en klank” vasgewerk aan die bloederige “onderkant”) gee aanleiding tot buitengewone tipografie, en naaldwerkterme wat kulmineer in die slotreëls waar die steke waarmee Kitchener se “klagkleed” gemaak is, metafories is vir sy wete van duisende sterftes:
“Ons weet
Jy het geweet
Meer as dertig duisend steke maak jou klagkleed” (11).
Gedigte in die bundel weerspieël fasette van vrouwees: “Hoor” (14) is ’n beskrywing van die onversetlikheid van ’n vrou; haar tong is nie meer teer van troos en wiegeliedere vir haar kind, wie se lewe “in ’n babagraf” ten einde loop nie, maar word “onder ’n bloederige (ver)hemelte”, soos klip. Dié vrou was opgesluit in ’n “hok” wat as waarskuwing moes dien oor die wrede straf vir diegene wat hul teen owerhede in konsentrasiekampe verset. In teenstelling blyk die sagte verwondering van ’n vrou wat haar kleinkind ervaar uit “Stamboom II” (49). Die delikate papierpoppies wat deur die Brasiliaanse kunstenaar Lucas Lopes geskep is, het as inspirasie gedien vir laasgenoemde gedig (wat gerus deur lesers bekyk kan word op die internet).
“Hoekom” (18–19) handel oor die verloop van die Suid-Afrikaanse Oorlog en lê deur herhaling klem op hongersnood. Dié gedig is uitsonderlik en eksperimenteel, omdat dit in kletsrymstyl geskryf is – aandoenlik én genotvol – en voortreflik voorgedra via die skanderingskode. Die slotwoorde “dis ver van al” resoneer met die bundeltitel “die helfte is jou nie vertel nie”, maar kan ook suggereer dat daar nog vele wyses van vertelling na vore kan kom.
Deel twee betrek die tragiese en onnodige afsterwe van kinders en jeugdiges. Marcelino, in die gelyknamige gedig (26–27), wek empatie omdat hy ten spyte van reuse maatskaplike uitdagings oor ambisie beskik om geleerdheid te kry wat sy (en sy ouma se) se lewensomstandighede kan verbeter. Die wending (Marcelino laat vaar sy skoolopleiding en sluit aan by ’n bekende bendegroep) skok die leser, maar kweek ook begrip vir omstandighede op die Kaapse Vlakte waar bendebetrokkenheid meer voordelig is as boekgeleerdheid. Deur insluiting van “In memoriam I” (24), “’n weeklaag vir Tala en Rotana Farea” wat in Oktober 2018 selfdood gepleeg het en vasgebind aan mekaar in die Hudson-rivier in die VSA verdrink het, word ’n universele blik gewerp op wanhopige hulpkrete en droewe sterftes van jongmense.
Die literêre tegniek van ekfrasis is ter sprake in “Pigment” (36) (in deel 3), waar ’n kunswerk in poëtiese vorm beskryf word. Die versreël “lê die gesplete slagtande van ’n anusmond bloot” lyk na vervreemdingstegniek met die doel om te skok, maar lesers wat ’n internetsoektog loods na Head 1 deur die kunstenaar Francis Bacon sal duidelik die ooreenkoms sien en die “vrotvlesige vel waaruit ’n krieweling van maaiers kom”, vir hulself kan voorstel. “Pigment” dui op die skilderygesig wat weens die ontbindingsproses swart verkleur en sluit aan by die donker voorplat van die bundel. “Pigment” is ’n surrealistiese gruwelgedig wat in die laaste reël meer blyk te wees as poëtiese voorstelling van die visuele en nadoodse aftakeling beskryf word as “verraad”, so skreiend dat woorde dit nie kan beskryf nie. Die gedig sluit aan by die bundel se deurlopende doodstema.
In teenstelling met die weersinwekkende “Head 1”-gesig blyk weemoed uit die gedigte “Toe is jy weg” (42) en “Die ander kant” (44) wat die gevoel van verlies van kinders wat emigreer, verken; “Kanker” (45), waar ’n stroomversnelling metafories is vir die dood wat ’n sielsgenoot wegneem; en “Beroerte” (46), waar beelde van afgeskilferde bloekoms, warm wind, uitgebleikte werf, ’n verlate huis en droogte ’n vakuum na ’n beroerte versinnebeeld. Tog is daar die versugting dat daar ’n sfeer anderkant bewussyn bestaan waar “sy” (die moeder) reën kan ruik en bewus is van “skaamsoet turksvye” wat haar aangebied word. “Demensie” (47) spreek van vertedering. Die spreker in die gedig glo haar ma word nog getroos deur beelde in die onderbewuste wat nie afhanklik is van taalvermoë nie. Die beelde van snelbewegende swaels wat vertroosting bied, word ondersteun deur direkte aanspreking van die spreker se moeder, alliterasie en herhaling:
“[…] jou oë sien die swawels,
wat swiep-swiep
sweepswiep onder die stoepdak in
en ek sien hoe jy hul troos onthou”.
Die volgende gedig (sonder titel) (48) betrek ’n frase uit die Onse Vader-gebed waarmee gesuggereer word dat ’n hemelse staat opgesluit lê in aardse skoonheid.
........
Die bundel verleen stem aan ontmagtigdes en diegene wie se lewens nooit wasdom bereik het nie. Dis egter die wyse waarop dit gedoen word wat die bundel as ’n juweel laat uitstaan met die klanksnitte se atmosfeerskeppende musiek, die grafiese materiaal, en taal wat soms die tekstuur van warm heuning het en dan weer pynlik steek soos lemmetjiesdraad wat ’n konsentrasiekamp afkamp.
........
Waar die openingsgedig “Stamboom I” (3) ’n verpersoonlikte terugblik op die verlede is, is die slotgedig, “Stamboom II” (49), ’n gepaste afsluiting wat die toekoms assosieer met “wuiwende takke”, “donsveervoëltjies”, ’n blink omlynde “sekelmaan”. “Silwer vliegtuie tussen kontinente” suggereer dat geliefdes nie van mekaar sal vervreem nie, al word hul deur afstand geskei. Die somber kleure van die voorplat (’n kunswerk deur Alta Botha, getiteld charcoal/houtskool, 2017), “speekselgrys” (3), “grys” (3) “donker” (6, 8 en 42), “pigment” (36), “grys” (37), “vaal” (38) en “swart” (43 en 45) in die gedigte maak ten slotte plek vir “indigo” (bloupers) in die laaste gedig.
Alhoewel Die helfte is jou nie vertel nie nypende eietydse vraagstukke betrek, is die taalgebruik van die gedigte liries, beeldend, klankryk en toeganklik. Die digter hanteer woordekonomie meesterlik – in elke gedig word die maksimum effek bereik met die minimum woorde. Die temas en die gedigte waarin dit vergestalting vind, roer hartsnare of krap ou wonde oop, wat lesers opnuut laat besin oor onregte teenoor kinders, al was dit meer as 100 jaar gelede. Dit mag daartoe lei dat lesers (nogmaals) geruk word deur die tragiek van eietydse skending van kinderregte en kindersterftes.
Die bundel verleen stem aan ontmagtigdes en diegene wie se lewens nooit wasdom bereik het nie. Dis egter die wyse waarop dit gedoen word wat die bundel as ’n juweel laat uitstaan met die klanksnitte se atmosfeerskeppende musiek, die grafiese materiaal, en taal wat soms die tekstuur van warm heuning het en dan weer pynlik steek soos lemmetjiesdraad wat ’n konsentrasiekamp afkamp.
Met die uitsondering van ’n spelfout (“assessering”, 26, het vier s’e, nie drie nie) en ’n oorbodige “die” in “Grafsteen” (17), is die bundel keurig afgerond. Nuwe publikasies word maklik as “vernuwend” of “oorspronklik” bestempel. Die helfte is jou nog nie vertel nie is egter werklik ’n kreatiewe, verfrissende toevoeging tot Afrikaanse poësie, een wat lesers tot kritiese nadenke stem oor die lot van diegene wat nie deur ’n hardvogtige samelewing beskerm word nie. Die titel van die bundel dui nie slegs op die vele verhale wat nog wag om vertel te word nie, maar ook op die nodigheid daarvan dat lesers moet bly ag slaan op die gebeure en temas wat uit die bundel blyk.
Lees ook:
Gevarieerdheid en inklusiwiteit laat Merang vonkel: ’n lesersindruk
Heil die Leser! Die huwelik tussen woord en beeld: vier ekfrastiese bundels

