Die gestaltes wat in ons aanwesig is deur Frik de Beer: ’n resensie

  • 0

Die gestaltes wat in ons aanwesig is deur Frik de Beer (Turksvy Publikasies, 2024)

Titel: Die gestaltes wat in ons aanwesig is: Wording van ’n bleek Afrikaan
Skrywer: Frik de Beer
Uitgewer: Turksvy Publikasies (2024)
ISBN: 9780796149558

Elke mens word gevorm deur die wêreld waarin hy of sy grootword. Jou direkte omgewing het ’n groot invloed op jou emosionele en intellektuele ontwikkeling – dit is waar jy geleer word om sin te maak van mense, dinge en gebeure. Eers later, wanneer jou wêreld groter word, kan jy begin om jou eerste aangeleerde opvattings – die sogenaamde “gestaltes” in jou – aan te pas, uit te brei of daarteen in te gaan. Hierdie gestaltes heg sonder veel ongemak as dit nie op een of ander manier bevraagteken of teëgespreek word nie. Maar as dit teen nuwe insigte begin skuur en krap, word dit moeilik om onkrities daarna te bly kyk. Dikwels lei dit tot ’n persoonlike en intellektuele soektog, ’n reis met sy eie reperkussies.

Frik de Beer (1954) se Die gestaltes wat in ons aanwesig is is ’n boek waarin so ’n soektog beskryf word – die dinge wat daartoe aanleiding gegee het, die veranderende denke wat dit meegebring het en die intellektuele en persoonlike gevolge daarvan vir hom. Omdat my eie boek, Onder ’n bloedrooi hemel, ook onder andere oor so ’n reis gaan; omdat ek ongeveer dieselfde generasie as De Beer is, ons albei binne konserwatiewe Afrikanergesinne grootgeword het, ons albei jare lank in die akademie gewerk het en ons bevraagtekening van die “gestaltes wat in ons aanwesig is” konflik met ons pa’s veroorsaak het, het sy boek my geïnteresseer.

........
Omdat my eie boek, Onder ’n bloedrooi hemel, ook onder andere oor so ’n reis gaan; omdat ek ongeveer dieselfde generasie as De Beer is, ons albei binne konserwatiewe Afrikanergesinne grootgeword het, ons albei jare lank in die akademie gewerk het en ons bevraagtekening van die “gestaltes wat in ons aanwesig is” konflik met ons pa’s veroorsaak het, het sy boek my geïnteresseer.
........

Die term gestaltes van De Beer se titel word ontleen aan die Dertiger-digter, NP van Wyk Louw. Een van sy digbundels is getiteld Gestaltes en diere en ’n uitspraak van hom is een van die motto’s in De Beer se boek: “Die hele verlede leef in ons: om onsself te ken – en selfs om intelligent nederig te wees – moet ons al die gestaltes ken wat in ons aanwesig is.”

As sommige lesers bang is dat die boek te swaar is, wil ek vroegtydig noem dat dit nie die geval is nie. De Beer skryf onpretensieus en die vertelling behou ’n ligte tred. Met ’n geselsstem, ontdaan van enige akademiese of literêre allure, vertel hy sy storie. Boonop het hy ’n sin vir humor waardeur elke onderwerp wat aangesny word, maklik verteerbaar bly. Die enigste nadeel van die spontaniteit van die vertelling is dat dit soms heen en weer spring tussen verskillende lewensfases waardeur herhalings voorkom en die leser soms nie weet watter lewensfase ter sprake is nie.

Wat het aanleiding gegee tot hierdie boek? Met ’n antwoord hierop spring die vertelling weg. ’n Akademiese kollegavriend van die skrywer, ’n Ier, nooi hom in 2011 uit om ’n lesing te kom gee tydens ’n somerskool in Malta “oor jou wedervaringe van en opposisie teen apartheid” (bl 13). De Beer voldoen huiwerig aan sy vriend se versoek en gaan lewer die lesing.

My gehoor is ’n jong klomp, twintig- en dertigjariges. Hulle kom uit Noord-Afrika en Oos-Europa. Die somerskool vind plaas tydens die noordelike somer; dit is pas voorafgegaan deur die ‘Arabiese lente’ in Noord-Afrika. Die opstand wat in Tunisië begin het, versprei gou oor die Arabiese wêreld, met die doel om die regime tot ’n val te bring. Daar is ’n popelende energie in die lug, ’n goedige skertsery tussen die deelnemers en aanbieders. [...] My kollega is minder genadig met my as die studente. Dit was maar flou en mak – hy het meer verwag. Maar is, was, daar meer om te vertel? (bl 13–4)

Na aanleiding van hierdie vraag wat De Beer aan homself stel, begin sy eie soektog. Was sy opposisie teen apartheid maar te “flou” en te “mak”? Die gestaltes wat in ons aanwesig is is die vertelling van sy bevindinge.

Hy begin met sy lewensverhaal: herkenbare en tipiese Afrikaner-grootwordjare – in sy geval aan die Wesrand, sy studentetyd in Johannesburg, sy ontdekking van die liefde – ’n meisie wat hy op 6-jarige ouderdom ontmoet het en in 1974 weer raakgeloop het, sy huwelik met haar, sy weermagdae, sy ontdekking van nuwe musiek (soos Jacques Brel wie se liedjies hy by ’n klub in Hillbrow leer ken), die geboorte van sy kinders, verdere studie en later sy jare as dosent en professor in die departement Ontwikkelingstudies aan UNISA.

Vervleg met hierdie alledaagse gebeure en professionele lewe, vertel hy hoe sekere dinge wat hy beleef het, boeke wat hy gelees het en gesprekke wat hy met vriende en kollegas gehad het, mettertyd sy oë oopgemaak het vir die groter wêreld waardeur hy skakels begin sien het tussen wêreldgebeure en veral “die onbeduidendheid en kleinheid van ons land in ’n historiese tydruimte” wat vir hom as jongman ’n “rare ontdekking” (bl 14) was. Hoe meer hy gelees en nagedink het, hoe meer het sy idees begin wegdryf van die eng Afrikanernasionalistiese idees waarmee hy tuis, in die skool, op universiteit en in die kerk grootgeword het.

........
Die denkreis waarop hy gaan neem hom na die persoonlike geskiedenis van sy voorouers en die breër verhaal van die land, asook hoe die twee met mekaar vervleg is. Meer spesifiek kyk hy na historiese aspekte wat ’n rol gespeel het in sy eie omgewing – die NG Kerk, Afrikanerorganisasies en die Afrikaanse taal.
........

Die denkreis waarop hy gaan neem hom na die persoonlike geskiedenis van sy voorouers en die breër verhaal van die land, asook hoe die twee met mekaar vervleg is. Meer spesifiek kyk hy na historiese aspekte wat ’n rol gespeel het in sy eie omgewing – die NG Kerk, Afrikanerorganisasies en die Afrikaanse taal. Sy blik hierop word bepaal deur die lewensfase waarin hy op gegewe momente is en volg so die steeds ruimerwordende denkproses wat hy deurmaak. De Beer beskryf dit as sy “eie renaissance” wat “tydsaam, moeilik, [en] met stampe en stote” verloop, maar wel “met ’n meedoënlose voortgang” (bl 71). So byvoorbeeld vertel hy aan die einde van Deel 2 hoe hy al hoe meer boeke gelees het wat hom die land se verhaal vanuit ’n ander hoek laat sien het. So word hy bewus van die dood van Ahmed Timol. Dié stories laat hom “effe ongemaklik” (bl 67) voel. Hy begin wonder of Ahmed (wat ook van Roodepoort af kom) nie dalk familie is van die Saids-broers wat ’n winkel het waar sy ma dikwels kom en altyd vriendelik ontvang word nie. Dit laat hom nadink: “Maar wat dink hulle van ons? Van onse mense, die Afrikaanse polisiemanne wat verdink word van sy dood? [...] Wat dink hulle van ons oor die dood van Timol?” (bl 67).

Dit is vrae waarmee hy alleen worstel, omdat sy familie nie ontvanklik vir gesprekke hieroor sal wees nie: “Natuurlik het ek nie my vrae met Ma of Pa bespreek nie. Wat kon ek anders verwag as ’n afjak?” (bl 67). Aan die begin van Deel 3 – getiteld “Vraagtekens / Die ontwaking?” – word daar teruggekeer na die Timol-saak en ander soortgelyke gevalle en gesuggereer dat die redes wat die staat aangevoer het vir baie van die politieke gevangenes se dood, leuens was, ook die verklaring vir Timol se dood: “Die amptelike rede vir sy dood was dat hy van die tiende verdieping in John Vorster-plein gespring het.” Later is ontdek dat hy uitgestamp is. “Dr. Neil Aggett, nog ’n aktivis, het hom [...] ná sewentig dae van aanhouding self opgehang” (bl 75). Later is bewys dat sy dood die gevolg was van marteling deur die veiligheidspolisie. Ensovoorts.

........
Die skrywer se eie veranderende idees – “volksvreemde” idees – en kritiese vrae oor die geskiedenis en die Afrikaner se rol daarin word afgewissel met uittreksels uit ’n onderhoud wat hy met sy ouma, Hester de Beer, gevoer en opgeneem het – “een van my waardevolste besittings” (bl 14), sê De Beer.
........

Die skrywer se eie veranderende idees – “volksvreemde” idees – en kritiese vrae oor die geskiedenis en die Afrikaner se rol daarin word afgewissel met uittreksels uit ’n onderhoud wat hy met sy ouma, Hester de Beer, gevoer en opgeneem het – “een van my waardevolste besittings” (bl 14), sê De Beer. Die ellende wat die Boere tydens die Anglo-Boereoorlog en daarna moes trotseer, word een van die hoofonderwerpe in hierdie gesprek. So kom verlede en hede en verskillende generasies met mekaar in gesprek en kom die vroeër vasgelegde gestaltes in die skrywer in gesprek met die nuwe gestaltes wat besig is om in hom pos te vat.

Die worsteling tussen die gestaltes is nie een wat vinnig en maklik gevoer word nie. Die skrywer beskryf hoe hy, ten spyte van sy veranderende idees, steeds lank bly vassit binne sommige konserwatiewe konstruksies, soos sy werk by die Militêre Intelligensie (in plek van militêre diensplig), en dat hy later ook lid word van die Rapportryers (die junior vleuel van die Broederbond). Hy rasionaliseer dit aanvanklik deur Van Wyk Louw se idee van “lojale verset” aan te hang: “Die idee van verset binne die perke van die laer” (bl 87).  Geleidelik het sy oë egter “begin oopgaan vir die gevare van so ’n volksfokus” (bl 87), van liberale nasionalisme en lojale verset, en het hy Jeanne Goosen se opmerking: “Moenie hom lees nie, dis nonsens!” (bl 87) begin begryp. Maar hy voeg ook toe: “Al is ek ook hóé in opstand daarteen, verstaan ek ons diepe selfsug en is deel daarvan” (bl 150). Die begrippe verstaan en deel daarvan kom meer dikwels in die boek voor en beklemtoon die wroeging en worsteling van menige verligte Afrikaners tydens apartheid.

Na die referendum van November 1983 toe die skrywer besluit het om nooit weer NP te stem nie, vra sy pa hom eendag:

           “Nou wat dink jy van die nuwe konstitusie?” Ek hoor sommer die skoor in sy stem.

“Dit gaan nie eintlik baie doen aan ons heil nie. Dit sluit swartmense heeltemal uit. Nie dat die nuwe grondwet veel doen om die ...” Ek sien sy kakebeen werk van tandekners.

“So gedink. Jy is ’n politieke lunsriem! Jy is ’n ...” Hy huiwer. Oordink hy dalk die vloek voor dit uitgespreek word oor sy oudste? (bl 156)

Later blyk dit dat sy pa hom daardie dag ook ’n renegaat genoem het. Hy moes die woord in die woordeboek gaan opsoek: “Renegaat” (renegade). “Afvallige, iemand wat sy politieke of ander oortuigings verloën; verraaier, oorloper; manteldraaier: Renegate word verfoei” (bl 162). Dit bring ’n groot verwydering tussen pa en seun.

As sy pa sterf neem De Beer die trommel met sy pa se geskrifte in bewaring. Eers heelwat later durf hy dit aan om daarna te kyk. Dit is meestal familiedokumente en -geskrifte en ’n familiegeskiedenis van 10 geslagte De Beers wat sy pa saamgestel het. Die skrywer is veral onthuts dat sy pa dit geheim gehou het omdat hy waarskynlik die feit dat hul familie ’n hele paar swart en slawe voorouers het, nie bekend wou maak nie. Nadat De Beer alles deurgewerk het, skryf hy ’n lang brief (bl 159–63) aan sy pa – vir my die treffendste gedeelte in die boek. Vroeg in die brief sê hy: “Maar nou ja. Pa se profetiese woorde is toe voltrek. Die verraad is ten volle en nou ook geboekstaaf” (bl 159).

In die brief herroep hy ook ’n middag, veel later, toe hy sy pa weer oor die “renegaat”-episode gekonfronteer het:

“Verfoei jy my?” vra ek. Geen antwoord nie. Wat dryf ’n pa om so iets vir sy seun te sê? Stilte. Kom ons praat daaroor dat ek kan verstaan. Dawerende stilte. Nie ’n oogknip nie. Ek het my halfgedrinkte koppie koffie in die wasbak uitgespoel, my sleutels geneem en die uurlange reis na my veilige hawe en die getuie van my lewe afgelê.

Nou, liewe Pa, jy wat meer as ’n jaar sterwend gelê het aan ’n beroerte; jy wat nie die dierbare swart Dora kon verduur om jou met alles te help nie. Jy wat trane in die oë kry wanneer ek my weeklikse besoek aan jou by die versorgingsoord bring; Jy, Pa, wat elke keer ’n potlood opneem in jou dom hand en elke keer sover kom om te skryf “Ek ...” En niks verder nie.

’n Jaar tevore, toe jy nog kon praat, vra jy: “Bring my rewolwer.” Ek het nie.

Met ’n soengroet,

Jou hensopperseun.

Aan die einde van die boek kom die skrywer indirek terug na die vraag wat hy hom aan die begin afgevra het, naamlik of sy opposisie teen die apartheidsregering – wat hy in die loop van sy introspektiewe reis as rassisties, ondemokraties en diskriminerend beskou – kragtig genoeg was. Hy sê: “Ek het nooit by die ANC of enige strydaksie aangesluit nie, of selfs openlik ondersteun nie.” Ook noem hy dat hy “geen geskrifte” onder sy naam het “waarin apartheid veroordeel word nie” (bl 143). Die rede hiervoor – waarvoor sommige mense, soos sy kollega tydens die Malta-somerskool, hom dalk sou verwyt as “flou en mak” – gee hy aan as: “Ek had ’n vrou, kinders en ’n huisverband om te betaal” (bl 143).

........
“[...] Tog was ons so ingebind in die stelsel, en sekerlik skrikkerig, dat slegs die baie dapperes en die uitgeworpenes uitgesproke was.”
........

Hy voeg toe dat hy vermoed dat sy “verhaal nie besonders is nie” omdat “dit [...] die verhaal van enige jong mens van my generasie [kon] gewees het, mense wat ook geweet het daar skort iets, daar is groot onregte in ons nasionale lewe, in die samelewing. En dat verandering nodig was. Tog was ons so ingebind in die stelsel, en sekerlik skrikkerig, dat slegs die baie dapperes en die uitgeworpenes uitgesproke was” (bl 143).

Teen die einde van die boek erken hy: “Selfs al wou ek soos Koos Kombuis bedank as Afrikaner, en my sodoende verontskuldig van my aandadigheid aan die verlede, kon ek nie, kan ek nie” (bl 151). Keur hy dit goed? Miskien omdat hy voel dat “lojale verset” tog ’n aanvaarbare vorm van verset is? Sy antwoord is duidelik as hy noem dat hy oortuig was deur wat Elsa Joubert aan die einde van haar lewe in haar boek Spertyd sê: “Verset moet nie lojaal wees nie. Verset moet skril, skerp, afbrekend wees” (bl 156).

Dit bring die skrywer natuurlik op ’n ongemaklike terrein, ’n plek waar hy besef dat hy ’n ver en moeilike reis afgelê het, ’n reis waartydens hy hom met al die gestaltes wat in hom is, gekonfronteer het en enorme aanpassings in sy denke gemaak het, aanpassings wat hom in groot en pynlike konflik met sy pa en ander gebring het, as renegaat bestempel het, maar dat hy ter wille van sy gesin nie “skril, skerp, afbrekende” verset kon pleeg nie – ’n situasie waarin baie van sy tydgenote hulle bevind het. Tog was hy nie een van die vele wat met die aanbreek van ’n ANC-regering die land verlaat het asof dit ’n sinkende skip is nie, maar gebly het om saam en hoopvol aan ’n nuwe land te bou.

  • Kontak debeerfc@cornergate.com vir meer inligting oor boekbekendstellings en om die boek te bestel.
Lees ook:

Die gestaltes wat in ons aanwesig is. Wording van ’n bleek Afrikaan deur Frik de Beer: ’n lesersindruk

Onder ’n bloedrooi hemel deur Annemarié van Niekerk: ’n LitNet-Akademies-resensie-essay

Onder ’n bloedrooi hemel deur Annemarié van Niekerk: ’n boekbespreking

Die man wattie kinnes vang: ’n onderhoud met Nathan Trantraal

NP Van Wyk Louw (1906–1970)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top