Onder ’n bloedrooi hemel deur Annemarié van Niekerk: ’n boekbespreking

  • 1

https://www.nb.co.za/af/view-book?id=9780624093596


Onder ’n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika
: ’n Memoir
Annemarié van Niekerk
Uitgewer: Tafelberg 
ISBN: 9780624093596

“Hierdie is ’n belangrike boek,” word daar verkondig nog voor Annemarié van Niekerk se Onder ’n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika ons oewers tref.

Die teks, wat in 2021 eers in Nederlands uitgegee is as Om het hart terug te brengen en die Henriëtte Roland Holstprys vir “Betrokken Letterkunde” gewen het, is in Junie 2023 eers hier by ons beskikbaar. Daniel Hugo het dit meesterlik terugvertaal in Afrikaans. “Lees dit en sê my wat jy dink,” moedig Erika Oosthuysen, uitgewer van die boek, my aan. Sy glo in die boek, dis duidelik.

“Memoir”, kondig die voorblad aan. “Faction”, skerm die verantwoording. Wat is faction? My verstaan daarvan was nog altyd dat dit ’n soort van ware verhaal oorgedra deur ’n soort van onbetroubare verteller is. “Moord op ’n plaas” skram die agterblad weg van die gelade woord plaasmoord. Dis boonop ’n dikke deurstopper van skuins anderkant 400 bladsye. Ten minste is die foto op die voorblad treffend, besluit ek toe ek uiteindelik gaan sit om te begin lees. My filosofie met alle boeke is dieselfde. Die skrywer verdien my verpligte aandag met die eerste tien bladsye. Staan dit my aan, lees ek verder. Geval dit my nie, voel ek glad nie verplig om verder te lees nie. Hulle moet verdien dat ek verder tyd afstaan.

En hierdie boek, met sy belofte van plaasmoord, het my maag alreeds op ’n Pavloviese knop getrek nog voor ek ’n bladsy gelees het. Dis die mag van politieke retoriek, ook op ons letterkunde. Ons lees immers deur die lens van ons geskiedenis en vorige ervaring. Plaasmoord belowe die verhaal van edele wit mense wat redeloos deur gevoellose, hartelose, barbaarse swart mense om die lewe gebring word as deel van ’n politieke komplot.

...........
Van Niekerk het my ingetrek en meegesleur van die eerste bladsy. En, spoiler alert, sy systap die geykte plaasmoord-narratief met behendige, deernisvolle vernuf. Bloedrooi hemel voel ’n  bietjie soos daai Babushka-poppies. Nes ek dink ek het een laag van die teks ontgin, kom daar ’n volgende en nog een.
...........

Die teks begin op bladsy 15. Ek was alreeds op bladsy 70 voor ek my tien bladsye-reël onthou het. Van Niekerk het my ingetrek en meegesleur van die eerste bladsy. En, spoiler alert, sy systap die geykte plaasmoord-narratief met behendige, deernisvolle vernuf. Bloedrooi hemel voel ’n bietjie soos daai Babushka-poppies. Nes ek dink ek het een laag van die teks ontgin, kom daar ’n volgende en nog een.

Ek was aanvanklik baie skepties oor haar besluit om faction te gebruik. Tog, nadat ek die boek uitasem en met betraande wange neergesit het, besef ek. Dit kon nie anders nie. Hierdie teks sou nie werk as enigiets anders as faction nie.

Deborah Steinmar, in haar bespreking van die teks in Vrye Weekblad, sê: “Daar verskyn sporadies boeke wat die skoonheid en die waansin van ons bestaan saamvat.” Dis presies wat Van Niekerk hier doen. Sy woon ’n geruime tyd reeds in Nederland. Ek vermoed dat sy daarom dalk met groter afstandelikheid na ons land en sy mense kan kyk. Terselfdertyd is daar ook ’n nostalgiese hunkering te bespeur wanneer sy die landskap beskryf, of dit nou Transkei, die Oos-Kaap of die ou Transvaal is.

...........
Sy verweef die persoonlike en die politiese met ’n meesterhand.
...........

Dis ’n teks vol deernis en teenstrydighede. Sy wei haar lewe aan feminisme en die opheffing van vroue, tog fokus die verhaal op haar verhoudinge met drie mans, haar pa, haar vriend en haar minnaar, waarvan twee kompleks en deels negatief is. Nooit skram sy weg van haar eie aandeel in die komplekse verhoudinge nie. Haar herinneringe aan Ruben, die vriend wat saam met sy ma wreedaardig vermoor word, is verstaanbaar meer nostalgies.

Sy verweef die persoonlike en die politiese met ’n meesterhand. Vriende wat verplig word om diensplig te doen, haar verhouding oor die kleurgrens heen, die gestremde en striemende verhoudinge met plaas- en huiswerkers, niks ontglip haar onsentimentele blik nie. Sy posisioneer haar ervaringe binne die groter konteks van die politiek in die land sonder om ooit weg te skram van hoe bevoorreg sy is.

Haar gesprek met die oorlewende Gouwse, ’n familie wat seersekerlik veel meer as hul deel aan hartseer en geweld ervaar het, van bladsy 391 en verder, het ek met ’n knop in die keel en matelose bewondering en selfs verwondering gelees. Hierdie mense kon so maklik in haat en vingerwysery verval het, en tog kies hulle liefde en vergifnis.

...........
Stel jou oop vir ’n teks wat inderdaad die skoonheid en waansin van ons bestaan onder ’n Afrika-son beskryf.
...........

En uiteindelik, of Van Niekerk dit bedoel het of nie, is dit waaroor hierdie memoir gaan. Liefde en geweld, ja, maar ook vergifnis, ’n bereidwilligheid om nie net wit en swart te sien in situasies nie, maar om die ongemaklike grys areas sonder skroom te belig. Vergifnis. Redemption.

Dis inderdaad ’n belangrike boek. Lees dit. Word geruk. Hou die snesies naby, maar bowenal, stel jou oop vir ’n teks wat inderdaad die skoonheid en waansin van ons bestaan onder ’n Afrika-son beskryf.

Lees ook:  

Persverklaring: Annemarié van Niekerk wen enorme Nederlandse prys

Annemarié van Niekerk se reis na SA se moorddadige hart

Kompoun: Ronelda Kamfer en Annemarié van Niekerk práát

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top