Persverklaring: Annemarié van Niekerk wen enorme Nederlandse prys

  • 1

...
Dié prys is ’n Nederlandse literêre prys wat deur die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde toegeken word aan ’n werk van uitstaande gehalte wat uitblink in sosiale verbintenis en literêre vernuwing.
...

Annemarié van Niekerk is pas aangekondig as die wenner van die Henriëtte Roland Holstprys vir “Betrokken Letterkunde” vir haar boek Om het hart terug te brengen, gepubliseer deur Atlas Contact.

Onder ’n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika, die Afrikaanse verwerking van Om het hart terug te brengen, het pas by Tafelberg verskyn.

Annemarié kom in Julie na Suid-Afrika om die boek plaaslik te bemark.

Dié prys is ’n Nederlandse literêre prys wat deur die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde toegeken word aan ’n werk van uitstaande gehalte wat uitblink in sosiale verbintenis en literêre vernuwing, in die gees van die digter Henriette Roland Holst-van der Schalk. Die prys is in 1957 deur uitgewer De Arbeiderspers ingestel. Aanvanklik is ’n prys elke jaar toegeken, vanaf 1980 elke twee jaar en sedert 1984 elke drie jaar. Die prys bestaan uit ’n sertifikaat en ’n bedrag van €2 500. Lees die volledige persverklaring hier.

Meer oor die boek:

Onder ’n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika

Annemarié van Niekerk woon in Den Haag, maar keer terug Suid-Afrika toe vir die begrafnis van haar liewe vriend Ruben, wat saam met sy ma op hul plaas in die Oos-Kaap vermoor is.

Dié reis lei haar terug na ander reise: van haar grootwordjare in die destydse Port Elizabeth in ’n liefdevolle, maar streng Nasionale huishouding, na Umtata, waar sy by UNITRA gaan klasgee en verstrengel raak in ’n verhouding met Denzel, ’n swart skrywerskollega. Iets wat lei na jarelange ernstige konflik met haar pa. Dan na Hillbrow, en later na Yeoville, waar sy en Denzel – teen die wet – saamwoon en aktief is in skrywerskringe. Tot geweld ook hul verhouding binnedring. Die laaste reis is ’n terugkeer na die moord op Ruben en sy ma, en na die moordenaars se lewens, in ’n strewe na verstaan.

Van Niekerk vervleg haar eie storie onthutsend eerlik met ’n verkenning van die groot kwessies in ons land: geweld teen vroue, skuld en onmag, aandadigheid en keuse. Onder ’n bloedrooi hemel is ’n diep ontroerende persoonlike reis – van geweld na genade – meesterlik vertel.

“Dié boek het my aan die hart geruk.” –  Marita van der Vyver

“Huilmooi.” – Deborah Steinmair

“Briljant.” – Melt Myburgh

“’n Aangrypende verhaal vertel met finesse, empatie en verbysterende moed.” – Antjie Krog

Onder ’n bloedrooi hemel het tegelykertyd in Afrikaans en Nederlands tot stand gekom, en is in 2021 in Nederlands as Om het hart terug te brengen gepubliseer deur Atlas Contact. Dit is reeds in tweede druk. Die Nederlandse weergawe is aangepas en verwerk vir die Suid-Afrikaanse leser. Die “terugvertaling” na Afrikaans is deur Daniel Hugo behartig in noue samewerking met Annemarié.

Oor die skrywer:

Annemarié van Niekerk is ’n boekresensent by Trouw, een van Nederland se drie topkoerante. Sy doen ook vryskutwerk vir Suid-Afrikaanse media en uitgewerye. Sy is die samesteller van drie bundels, medeskrywer van My mother’s mother’s mother: South African women’s writing from 17th century Dutch to contemporary Afrikaans  en skrywer van Om het hart terug te brengen, die Nederlandse weergawe van haar memoir wat met groot lof in die Nederlandse en Belgiese pers ontvang is.

Publikasiedatum: 05 Junie 2023
Prys: R350,00*
Kategorie: Outobiografie
ISBN: 9780624093596

Digitale-uitgawes
Publikasiedatum: 05 June 2023
Prys R280,00*
Epub ISBN: 9780624093602

* Prys onderhewig aan verandering

Lees ook:

Annemarié van Niekerk se reis na SA se moorddadige hart

Om het hart terug te brengen door Annemarié van Niekerk: Het hart op de goede plaats

Adriaan van Dis gesels met ’n memoirskrywer en vertaler oor die binnelewe van liefde en geweld in Suid-Afrika

Een reis van geweld naar genade

Persbericht: Henriette Roland Holstprijs voor geëngageerde literatuur 2023 voor Annemarié van Niekerk

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top