Die gestaltes wat in ons aanwesig is. Wording van ’n bleek Afrikaan deur Frik de Beer: ’n lesersindruk

  • 0

Die gestaltes wat in ons aanwesig is. Wording van ’n bleek Afrikaan deur Frik de Beer (Turksvy Uitgewers, 2024)

Titel: Die gestaltes wat in ons aanwesig is. Wording van ’n bleek Afrikaan
Skrywer: Frik de Beer
ISBN: 9780796149558
Uitgewer: Turksvy Uitgewers

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Biografieë, outobiografieë, dagboeke, briewe, onderhoude, reisverhale en memoires is al jare lank met ons en Hennie Aucamp het vir ons bewys hoe belangrik hierdie egodokumente binne die literatuur en ons geskiedenis is. Die term egodokument is in die jare 50 deur die Nederlandse geskiedkundige, Jacob Presser, geskep. In ’n poging om sin te maak van ons lewe en geskiedenis deur persoonlike belewenisse en mense se verstaan daarvan, kan ons die geskiedenis probeer verstaan en ons plek in die wêreld kontekstualiseer. Daarom kan ons vandag met baie beter begrip die Holocaust en apartheid verstaan. Egodokumente is uiteraard subjektief, wat die leser met ’n ander oog laat lees, aangesien die geskiedenis op ’n ander manier herskep word.

Daar is uiteraard verskille binne die verskillende tipes dokumente. Waar outobiografieë byvoorbeeld meer fokus op die lewe en tyd van die outobiograaf, is die memoir meer gefokus op die binnelewe van die skrywer se herinnering, sy emosionele wêreld en intieme detail.

........
Die titel van hierdie memoir is ontleen aan een van Afrikaans se grootste intellektuele van vroeër, NP van Wyk Louw. Hiermee betrek De Beer dadelik die verlede, oop gesprek, lojale verset, liberale nasionalisme, geregtigheid, dinge wat deurgaans in die boek genoem en bespreek word.
........

So ’n memoir het onlangs verskyn uit die pen van Frik de Beer, afgetrede professor in Ontwikkelingstudies by Unisa. Talle artikels en boeke het uit sy pen verskyn, so skryf kom al as tweede natuur. Nou het hy sy ervaring in skryf gebruik en tydens Covid met hierdie memoir begin. Die leser reis saam met die skrywer se persepsie van gebeure vanaf sy bewuswording as mens, deur sy onderskeiding van reg en onreg, deur die geskiedenis van ons land tot by sy dankbaarheid vir waar hy nou is.

Die titel van hierdie memoir is ontleen aan een van Afrikaans se grootste intellektuele van vroeër, NP van Wyk Louw. Hiermee betrek De Beer dadelik die verlede, oop gesprek, lojale verset, liberale nasionalisme, geregtigheid, dinge wat deurgaans in die boek genoem en bespreek word. En natuurlik ons medepligtigheid aan apartheid – dinge waaroor Van Wyk Louw en De Beer nie kon stilbly nie en ook nie sal stilbly nie. Saam met hierdie woorde van Van Wyk Louw, haal De Beer ook die volgende aan: “Die geskiedenis treur nie oor ’n volk wat ondergegaan het nie.” Hiermee los De Beer ’n soort bestaansangs by die leser – wie is my volk en wat het ons tot hier gebring? Wat het van ons geword?

Hierdie lekkerlees-memoir is in vier dele verdeel: die genealogie van sy voorgeslagte, die onskuld van sy – en ons – jeug, ontwaking en skuld. Hy vertel reeds in die proloog hoe die idee van die boek ontstaan het. Hy huiwer nie om die goed en sleg van die voorgeslagte te vertel nie, want dit is die waarheid. Die waarheid oor sy eie aandadigheid aan dinge en die onkunde wat baie van ons wat sy ouderdom is, beleef het, word nie ondermyn nie. Dit is hoe hy dit ervaar en beleef het, reg of nie reg nie. Onderhoude met familie was nie altyd maklik of verhelderend nie, maar nodig. En jou familie is ook jy. So waarom swyg?

........
Omdat dit uit vandag se perspektief geskryf is, dinge grotendeels verwerk is en afsluiting oor sekere dinge verkry is, is dit die postkoloniale perspektief wat opval: Ons het nie tóé geweet nie en die nawete is verdoemend. En wat het ons nie gedoen nie!
........

Omdat dit ’n memoir is, maak die boek nie aanspraak op volledigheid nie – ons kry wat hy onthou, hoe hy dit onthou en hoe hy dit beleef het. Ons deel sy binnereis saam met sy familie van toe en sy familie van nou. Dit gaan hier nie soseer om die gemeenskap nie, maar oor die individu se lewe, hoewel die gemeenskap uiteraard die individu se identiteit help vorm het. Omdat dit uit vandag se perspektief geskryf is, dinge grotendeels verwerk is en afsluiting oor sekere dinge verkry is, is dit die postkoloniale perspektief wat opval: Ons het nie tóé geweet nie en die nawete is verdoemend. En wat het ons nie gedoen nie!

Die verandering in veral die denkwêreld van die skrywer is opvallend – dit word duidelik in “Vraagtekens/Ontwaking?” uitgespel. Dit is veral in dele drie en vier waar die leser ’n medereisiger word, omdat alles so ontstellend bekend is. En hoeveel van ons het nie ’n soortgelyke pad geloop van onwete, ondenke, onmens, totdat ons oë uiteindelik begin sien het nie!

Die boek lees lekker, veral omdat dit nooit aanspraak maak op een persoon se lewe en belewenisse nie, maar op almal wat hierdie tyd ervaar het, se lewens en denke. Of dan gebrek daaraan. Hierdie boek maak jou opnuut bewus van wie jy vandag is, wie ons vandag is – en wie is die ons?

Hierdie leser was saam onskuldig én skuldig, kwaad en skaam, opstandig en tevrede. Dit het dinge oopgeboor wat verskuil was en weer eens selfkonfrontasie gebring.

Ek sluit af met Abigail McCarthy se woorde: “Every memoir reminds us of the faraway and long ago, of loss and change, of persons beyond recall.”

Die boek kan bestel word by frederikdebeer1@gmail.com of www.turksvypublikasies.co.za.

 

Lees ook:

In my vel deur Azille Coetzee: ’n skrywer wat haarself blootlê sodat ons onsself kan sien

Wit, witter, wittes

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top