
Diana Ferrus (foto deur Izak de Vries)
Laas wiek praat ek en Merle oorie liesvolgorde ennie highlights wat os yt os bundel, Wanneer grense bloei, saam Diana Ferrus gepublish et. Os beslyt oppie parts vannie geskiedenis vannie Mengelmoesdigters wat os wil deel. Diana sterk an innie hospitaal ennie report dai Donderdag voorie festival is belowend. “Sy doen goed,” sê die report. “Sy sterk baie mooi an.” Merle en ek is up virrie challenge en staan stek, want os wil Diana mos proud maak. Os wil hê die nuus moet na haa travel dat haa students het haa plek volgestaan en sy moet wiet: Sy’t hulle goed grootgemaak.
Die Vrydag voo vyf frantically skarrel os op WhatsApp en probeer onsself oorreed dis fake news. “Mense kan daa’m skandalige dinge doen as hulle tyd het,” ve’erg ek my. Maar die post op Diana Ferrus se official Facebook page confirm die confusion. Die nuus is real. Daar issie baie prate oppie groep vêre nie. Ek post: “Diana has passed. Our mom is gone.” Merle comforts everyone in a very short voicenote en os amal try maak sense vannit als internally – individually.
My hys is vol mense en ek kannie dadelik react nie. Ek vetel hulle van my loss soes wat mens maa doen as jou gesig skielik van nowhere begin hang en amal sê wat mens maa sê as djy hoo vani dood. “Innalielaahi wa ienalielayhie raaji’oen.” (From God we come and verily to God we shall return.) Ek correct hulle nie van haa religion nie. Ek deal nou ees met dié, want ek moet die intensityt wat ek in my keel elke kee af force assit wil yt, control. Eventually by seven o’clock raak my hys lieg.
Ek sien amal af en loep straight vi my kame. Ek wil ophou sluk. Ek wil voel! Alles bloei yt in warm stroeme oo my wange. “Diana moes nog smile en brag oo hoe kwai os was. Sy moes nog dié asse inspiration enjoy om gouer an te sterk!” borrel my binneste in nat waves. Die storm reach sy peak en subside net soe abruptly soesit beginnit. Die rien raak mot en my kykers kan wee focus.
“Môre gan djy inne state hystoe kom,” sê my man saggies, terwyl hy na my kyk met sagte oë. “Die Mengelmoes-session; die werkswinkel, ja Allah!” sak my gemoed in response. My mind kannie ’n festival sône Diana envision nie. Sy is dan altyd an tafel. Oppie program is daa dan ’n plek vi haa currently gedek met haa kinneboek. “Merle, os sal môre mekaa moet bystaan,” tik ek op WhatsApp na haa.
Die studente daag op een vi een die next dag by my hys vanaf 7:30 om innie quantum narie festival vevoer te wod. Ek vattie responsibility virrit namens die festival en sorg dat daa aspiring jonk skrywers by die Cape Flats Festival elke jaa kan ytkom ennit enjoy. Taryn, die festival founder en organiser, maak sieker die Paarl-taxi ry elke jaa. Os is dankbaar an haa. Dié jaa is daa een wat virrie eeste kee ’n festival bywoon. Die groepe is normally nie soe groot wat ek saam karwy nie, maa ek sorg usually dattie visit impactful bly. Hulle sit in my baie klein lounge, som staan want daa’sie seats available nie en ontmoet mekaa en maak vrinne.
Quarter past 8 klim os in en os is weg. Vedag isse anne soot dag. Vedag is my binnewese geroer ennit kry kot-kot innerlike emotional fits. My span ken trane. Os laik hyl in os sessies. Os ken ellende. Os kom van daa. Os vattie N1 en ek maakie raasirage span met youthful excitement stil. “Wie van julle ken vi Diana Ferrus?” My usual suspects stiek hulle hanne op en ek begin vetel wie sy is. Wie sy was. Ek vetel hulle van Saartjie, soes wat Diana vi os sieke oorie honnerd kee al vetellit saam haa many travels na many venues. Ek hoo haa en Saartjie se storie biewe in my stem en ek try repeat haa storie wood vi wood. Ek’s proud op myself en gan voort om hulle die history vannie festival oek mie te share. Die festival draw duisene mense met common interest in boeke, poetry enne space om 120 skrywers, predominantly skrywers nes hulle te showcase in een of anne way. Jong swat skrywers moet vestaan watte opportunity dit is en waavoo os soe groos voel omme festival te het waa os majority featured is. Hulle vra questions en innie quantum-klaskame is daa genuine belangstelling. Ek vedydelik oek vi hulle wie Diana was, aside vannie fame en hype en highlight dat haa humbleness haa sal outlive – meaning sy is timeless nou. Ten slotte reiterate ek die importance ennie power van writing en wat Diana vermag het met ’n enkele poem. Ek wil hê hulle moet die responsibility van writing en feeste grasp. Why we do what we do – all of us. Na die lesson lies ek vi hulle “I’ve come to take to take you home” en by sommige reëls briek my stem soes ek Diana envision in al haa glorie met haa arms wat swaai en jou intrek in haa, en Saartjie se encounter – haa magnificence. Haa elegance. Ek yter die laaste reël en my hart pour yt soese perfect lyn inne poem, met al sy kommas en ellipse, ma condense. “Compose jouself, Gaireyah,” whisper my sensibility. Ek stierie container mettie kaas-crackers wat ek vi breakfast ingepakkit vi dié wat dalkie ’n breakfast on hand byrie hys gehad hettie, om solank te geniet. Innie quantum deel os alles en check os op met mekaa se needs continuously.
Ek dink an Athol Williams en wonne of sy hart brand om hie byrie fest te wies. Of hy dink an Diana se passing en hoe instrumental hulle legacies vi my currently vedag is. Ek google Athol se poem, “A new South African story”, wat spesiaal virrie inauguration van ose president geskryf was, en lyste stilletjies die lyne wat elke kee vi my ytstaan, oo en oo. Kinda my mantra assie hope laaglê:
Let’s start a new story, a new South African story
a story not of having more and pressing down, but taking less and lifting up
a story of hope that brings us joy; that gets us to our feet
and makes the sun shine, even in the deepest darkness of the coldest Winter
even in crooked grammar or spoken with twisted words
or commas and capitals that strangle the verbs
Let’s tell this story in hip-hop, poem or prose
foreign or mother tongue
Let’s tell this story
Die Cape Flats Festival is altyd soese metaphorical jaartparty by jou hys. Djy ken meestal vannie familie en wie djy nie kennie, sal opskyf en vi jou ’n seat create, soe jy kan maa jou guards lat sak. Hie issie representation van os mense die norm enne wit gesiggie die minority. Niks daavan gesê negative nie, maa hie voelie students tuis naturally en ek hoefie hulle vi dai deel vannie festival te prepare nie. Anne festivals present soms challenges wat hulle nie altyd kan stomach nie. Soms kanne halfge’iete donut watte tannie anne nervous poet wat nog moet gaan optrie, offer, hulle hele confidence en perception van hulleself soe lelik ve’ongeluk. Hulle menswies soe dislocate, larrit simply ’n cruel reminder raak van waa hulle nou is – inne ane wêril en hoe hulle in hulle baan as bruin moet bly, of eider daisie interpretation sometimes. By die Cape Flats Festival hoo en sien djy eire dai paa lyne in Athol se poem in true existence. Sien djyrie space wat dai poem create in living words en phrases. By dié festival voel my students deel van en in village hands.
Die drive was kot, of soe herrit gevoel toerie navigation dit van Keith se phone announce. Os klim yt en gather onnerie boem naby die entrance. Die driver gaan park solank. Leviete wod afgelê oo gedrag en representation en ek vra hulle om soveel as wat hulle kan sessions by te gan woon. Ek en Keith Oliver Lewis, wat oek deel maak van my groep ennie moderator vi Jadrick Pedro en Ryan Pedro se Unknotting masculinity through poetry-sessie is, travel oek saam ytie Paarl. Isse groot oomblik. Jadrick is oek een van my eerste mentorstudente. Soe vi my is dié ’n full circle. Generations van skrywer-mentorfamilie. Diana vi my. Ek vi Jadrick en Keith, en hulle nou virrie newcomers oppie scene.
Os wattie oppie program is, gaan kry os welcome goodie bags ennie students hulle programs om solank hulle choices te circle. Die courtyard wiemil van mens. Allie ouredomme. Stalls met boeke en skrywers, self-published and mainstream – niemand gedefine above the other. Net ’n moewiese celebration van literature ennie importance van black writers. Ose mense. Ek onthou hoe Diana se vision altyd was dat os festivals self oek in ose areas moet curate. Wel, ek begin maa klein, maa one day ...
My kop pulsate van impulses mettie start van my sessie. My wêril voel soes overload. Die workshop, Skryf met mý toolbox, seem nou baie appropriate. Os moet ose skrywerrykdomme wat os as kennis own, deel. Dais os legacy. Os moet anne uplift en spaces create solat hulle daa’in kan thrive. Athol se poem to tell “a new South African story” hou my hand vas. Ek stiek annie kers ennit brandtie hele sessie om Diana se presence te instil na os haa poem, “I’ve come to take you home”, gelyster het enne minute van silence ge’exercise et. En my students currently hou my spirit functioning.
Na die festival vra ek virrie span om my elkeen ’n paa reëls coming Maandag te stu met hulle impressions vannie fees. Munirah, wat my help die span co-parent, rave oorie atmosphere en high spirits byrie festival en was blown away met my workshop ori tools van writing en hoe die noticing van jou senses jou wêk kan elevate. Mind you, sy’t met allie influence al twie successful poems geskryf. Keith “voel asof die fees met die community in mind beplan word – asof Mitchells Plain se mense selfie show run. Mens word gesien en na gekyk,” skryf hy na my. Rachel is blind en hettie fees heelwat toeganklik gevind, sê sy. Sy vetel hoe sy die verbygangers wat yt ouers en kinders bestaan, gehoor het share excitement about boeke en lies. Sy’t dai absoluut fascinating gevind dat literature soe baie vi dié gemeenskap betieken, despite die aliewage niesberigte van gangs en crime. Hie wassie picture ’n complete flip van dai narrative. Hie was kinnes en oues geskool en ingelig oo boeke, en het hulle die excitement van literature free and naturally getoon. Selle impression wattie skoolhoof mettie opening tienoorie Read to rise literature program expressit. Edmillay, ’n virgin festival goer, het soese stoemtrein in haa voicenote gesound en was overwhelmed met hoeveel sy kon leer en hoeveel sy soema al in haa bestaande wêk gan implement. Maa sy wassie meeste impressed met die respek wat amal aan die legendary digter Diana Ferrus getoon het. Ashné het blindelings by elke sessie wat sy teëgekom het, soese vraat eenvoudig ingestap om te leer wat oek al presented was. Die sessie met Krotoa se geskiedenis, skryf sy, wat sy nie vooraf van gewiet hettie, was haar gunsteling ennie gespeel van tradisionele instrumente ennie history vannit baie leersaam. Duane het virrie eeste kee die storie van Saartjie gehoo. Ek myself was vebaas om dit te leer. Wys net watse wêk is daa nog om te doen. Hy sê aan my met soveel waardering in sy stem dat “Diana het vir ons die deur oopgetrap. Geleenthede vir ons generasie geskep wat in Kaaps skryf. Watte eer. Ek sal elke geleentheid waar ek oor taal en skryf kan leer, nou bywoon.” Zebbie, wat hoofsaaklik net in Afrikaans dig, kon nie annes as om hom inne poem te expressie. Hy stie my die een waa hy Kaaps duld en dit remind my hoe mens niks moet for granted vattie. Taal issie virrie swat skrywer altyd naturally owned nie, soms kossit jou om by ’n literary festival te sien en hoor dat wat djy praat, kan krag dra:
byrie Cape Flats Fest
my panning eyes vangie gloeiende kers
wat brand vir Lady Diana –
’n poet not present, but not forgotten
maak oepie venstes!
skrie my binnebek benoud
lattie woorde koers kan kry oorie Plains
slotte wot ontgrendel en
oorvloedig asem ek verse in
en voel die sinne; hoor die cheers
“Lyste soe ver as wat djy kan ...”
instruct Gaireyah
Kaaps, Kaaps en nog meer Kaaps!
Why not!
give this to my hometown
my brown communities’ in
Lovers Lane, Chicago and Smartietown,
waar boelits vinniger as woorde
in eie dialek spoed kan dra
ja!
gierit vi os
done & dusted
gierit vi os ...
laat die kallit klong opstaan vannie hoeke
hul gatte lig vannie melkkratte
kom gryp boeke vannie rakke
en lies!
en hou op tel nommes soes slakke ...
want vandag voel ek, ek hoort iewers
My alles wat ek bymekaa moes skraap om dié festival te survive, given die current background circumstances, tap my lieg voorie students nog kla is. Na die emotional Mengelmoessessie en my workshop force ek nog om vi Jadrick en Keith by hulle sessie te support en hette paa intense convo’s oor taal en Diana met anne skrywers en creators daana. Os ryl contacts en ek groet politely om asem te skep. Ek sit onne ’n boem se skare en ek realize alles tot nou wat ek in my journey voo gestrive et isse samevatting vannie Cape Flats Festival. Dissie vision. ’n Samevatting van Diana Ferrus se liewe en wêk en wat Athol oek in dai poem saam my probee converse. Dis wat my end goal is. Ek besef verre dat al is ossie altyd an tafel, sal daa ’n bord bly gedek wod vi os wat black literature oppie hart dra. Even namens os, want wat os agte los, issie nettie legacy wat in osse literature create wodtie, maa oek die ideologies wat os journeys vorm en wat os deel.
Lees ook:
Lady Di, die Cape Flats Book Festival het die jaar iets gekort

