
Foto: Izak de Vries
Pleks.
Pleks ek het verlede jaar geweet dit sou ons laaste kuiertjie wees. Ons kuiers en drukkies was meestal by skrywersfeeste, soos Pniël se Adam Small Fees en Wellington se Tuin van Digters; plus een kosbare huiskuier saam met haar en die Mengelmoesdigters – hierdie eertydse studente wat haar sielsgenote geraak het.
Die Tuin van Digters het my nog altyd geïnspireer; daar waar intieme ruimtes spontaan vriendskappe tussen digters en gewone mense moontlik maak.
Tuin van Digters, waar Diana Ferrus (pas 70) in 2023 vereer is vir haar lewenslange bydrae tot Afrikaans. Sy het haar lewe daaraan gewy om Afrikaans oop te skryf en gereeld sou sy haar stem deur haar gedigte dik maak.
Sy wou lewenslank vir letterkundiges, studente én die gewone mens bemagtig om te skryf, om die taal te omarm. Om eerlik en rou uit die máág te skryf.
Sy het dit dikwels gedoen in haar rol as mentor van digkunsstudente, vele daarvan tydens kursusse by die Breytenbachsentrum in Wellington. “Sy’t my laat voel ek en my werk word vir die eerste keer raakgesien; my gedigte het meriete,” het vele studente vertel.
Lady Di, soos sy liefderik by die Breytenbachsentrum genoem is, het haar studente geleer om hul daaglikse omgewings oop te skryf. Daarom het Gouda se Sophia Oliphant die groot getal motorongelukke in haar omgewing as kommentaar oopgedig; Theresa Carstens skryf gesellig, as ’t ware: ghellieblik (ghellieblik is die groot blik met gate binne, dan sit die mense mos kole daarbinne om hitte te kry. As ek sê sy skryf ghellieblik, praat ek van mense wat hul onmiddellike omgewing oopskryf, soos daardie gesellige staan rondom die blik met kole ’n soort digvorm is), plus haar aftree- en lewensreise; en onderwyseres Naidene Lottering verwoord skoliere se skrikwekkende ervarings op die Kaapse Vlakte.
“Mens moet skryf uit ’n plek van egtheid,” het Lady Di vir ons geleer. “As jy dit nie diep binne jou voel nie, sal jy dit nie bedoel nie. Kyk altyd eers waar jy nou (in jou lewe) is, sodat jy uit jou hart uit kan skryf.”
Dan ook haar lewensideaal: “Ons moet skryf namens mense wat nie die woorde het om hulself uit te druk nie. Veral diegene teen wie onreg gepleeg is.”
Diana Ferrus het sonder pleks’e geleef, want sy het namens haar ouers, familie en voorsate geskryf, gedig en gesing. Sy het namens die VOC-slawe en die verguisde Sara Baartman gepraat. En só het sy lewensbelangrike monumente nagelaat.
Terug na die Tuin van Digters, waar Frazer Barry en sy span haar gedigte in 2023 in liedvorm aangebied het. “Dis nie moeilik om haar gedigte te toonset nie. Daar is reeds baie liriek daarin,” het Barry gesê. En bygevoeg: “Diana is die moeder van sóveel kinders, want sy maak dit vir gewone mense moontlik om toegang tot poësie te kry.”
Diana was gelukkig daardie dag. Sy het gehou van die manier waarop Frazer en sy orkes haar gedigte getoonset en uitgevoer het. “Ek voel vanaand soos ’n miljoenêr. Ek belowe julle ek gaan nooit weer Lotto speel nie.”
Op daardie dag het Pieter Odendaal haar spontaan van die verhoog af as “ma” aangespreek – daardie “ma” wat sê: “Die een wat sorg.” Toe ek vir Diana vra hoe sy hierdie woord beleef het, het sy haar hand op haar hart gedruk en verklaar hoe baie dit vir haar beteken.
........
Pleks ek kon dig, dan sou ek vandag vir Lady Di ’n gedig wou skryf.
........
Pleks ek kon dig, dan sou ek vandag vir Lady Di ’n gedig wou skryf. Gelukkig het haar Mengelmoesvriendinne betyds hul gedigte vir haar geskryf; gedigte vir hulle ma. Gelukkig was hulle die daders wat op haar 70ste verjaardag uit alle rigtings na haar huis gery het om teekoppies te was en eetgoed aan te dra. Só kon hul Lady Di haar verjaardag stylvol en spanningvry geniet.
........
Noudat pleks niks gaan verander nie, kan ek haar eer deur haar breë glimlag te onthou; die vrou wat mense naby haar toelaat. Die akademikus wat menslik gebly het; die digter wat ook ’n aktivis was.
.........
Noudat pleks niks gaan verander nie, kan ek haar eer deur haar breë glimlag te onthou; die vrou wat mense naby haar toelaat. Die akademikus wat menslik gebly het; die digter wat ook ’n aktivis was.
“Kan mens dan op so ’n beskaafde manier ’n aktivis wees?” wou ek by haar weet in die tyd van urine- en poefgooiery by universiteite se eksamenlokale. Lady Di het na haar Mengelmoessusters gedraai en ’n bespreking hieroor uitgelok. Want sy het haar eertydse digkunsleerlinge so naby haar toegelaat dat hulle steeds een keer per maand gekuier en gekoukus het, lank nadat hul formele digkursus voltooi is. Dié susters het mekaar geken en vertrou, in mekaar se vreugdes gedeel en mekaar ondersteun. Tydens Covid 19-inperkings het hulle vir mekaar skryfuitdagings gestuur en mekaar só gehelp oorleef.
Diana het nie met pleks’e geleef nie, daarvan getuig haar suksesse: haar gedigte en navorsing, haar studente en familie, die akademiese projekte waarby sy betrokke was. Asook haar rol in die terugkeer van Sara Baartman – daardie uitgebuite vrou wat as stemlose karikatuur in ’n vreemde land gesterf het.
........
As Diana deur pleks oorheers was, sou sy nooit ’n deurslaggewende rol gespeel het in die ontwaking van haar oudstudente nie.
.........
As Diana deur pleks oorheers was, sou sy nooit ’n deurslaggewende rol gespeel het in die ontwaking van haar oudstudente nie. So is vroue soos Merle Danhouse en Gaireyah Fredericks geïnspireer om verder te studeer; hul M-grade te verwerf. “As dit nie vir Diana was nie, was ek vandag nog net ’n mamma, ’n tietie agter ’n besem,” vertel Gaireyah graag. Gaireyah Fredericks, wat in 2025 die Eugène Marais-prys plus die UJ-prys vir literatuur met haar debuutbundel ingeoes het.
Pleks ek het meer keer vir Diana ’n kort boodskap gestuur. Hierdie kort vroutjie met diepte en insig, omgee en opstaan namens mense wat dit nie vir hulself kon doen nie; Diana wat namens haar voorgeslag gepraat het, omdat hulle woorde daarvoor ontbreek het.
Sy het somtyds hard gepraat namens hulle. Maar meestal was haar menswees sag. Haar weerloosheid ook.
Gelukkig was Diana Ferrus nie ’n pleks-mens nie. Anders sou Sara Baartman nooit huis toe gekom het nie.
Vandag wonder ek: Wie het hierdie kosbare mens se gees huis toe geneem? Rus Diana nou op haar en Sara Baartman se geliefde vlaktes, waar die gras groen onder die groot eikeboom groei, waar lawende koeltes keer dat die son sal steek?
Diana, mag jy rus vind daar waar proteas pronk in geel en wit. Ek glo die rivier het ook vir jou ’n verwelkomingslied gesing. Ek glo jy is in vrede huis toe geneem, want jy het vir vreeslik baie van ons glimlagte, bemagtiging en vredigheid gebring.
Lees ook:
Lady Di, die Cape Flats Book Festival het die jaar iets gekort

