Is dit maklik om ’n kinderboek te skryf? Wat moet mens doen as dit jou droom is? En wat leer mens by ’n slypskool wat spesiaal hierop toegespits is?
’n Kinder- en jeugboekskryfkursus is onlangs by die Breytenbach Galery aangebied.
Naomi Meyer het voor die skryfkursus vir Mia Oosthuizen 'n paar vrae gevra gevra oor redes waarom sy die skryfkursus aangebied het.
Mia, hoekom is dit belangrik om hierdie kursus aan te bied? Is dit iets waaroor julle self passievol voel – en waarom?
Kinder- en jeugliteratuur is my passie. Dit is waarom ek hierin gespesialiseer het. Om effektiewe en geloofwaardige hulp te kry in hierdie genres, is egter skaars. Hoeveel keer daag moedelose skrywers nie by my op omdat hulle net nie sukses behaal by ander kursusse nie. Vir my en Anne-Ghrett (Erasmus, van die Breytenbach Galery) is dit ’n absolute skande en dus het ons besluit om kragte saam te span vir ’n intensiewe skryfskool wat jou neem van storie-idee tot afgeronde manuskrip wat jy aan uitgewers kan voorlê. Die uitgewers is ook konstant op soek na nuwe skrywers wat hulle kan publiseer, maar die gemiddelde manuskrip wat op hul tafels beland, is net nie goed (genoeg) nie.
Vir my skakel die skryf van kinder- en jeugboeke ook by ’n groter sisteem van geletterdheid in. Hoe meer boeke en stemme daar is, hoe beter is die kans dat elke kind ’n storie of stem gaan kry waarvan hulle hou. Dit is krities belangrik by die ontwikkeling van lees, leeslus en leessmaak. Hoe meer boeke en hoe meer lesers, hoe beter dien dit geletterdheid, ’n teer punt wat almal maar te goed van weet. Daar is wonderlike organisasies wat die boeke wat op die rakke is, versprei, wat kinders help lees, wat projekte het om geletterdheid aan te spreek. My en Anne-Ghrett se doel binne hierdie sisteem is om meer boeke en stories en skrywers by uitgewers en hierdie organisasies uit te kry.
Wat kan mense verwag as hulle hierdie kursus bywoon? Miskien kan jy in breë trekke vertel wat elke maand gebeur.
Ons werk met kinder- en jeugboeke, so beslis baie pret! Maar ons is ook baie ernstig oor wat ons doen. Die laaste Saterdag van elke maand kom ons by die Breytenbach Galery bymekaar vir ’n kontaksessie. Hier kry jy jou kursusmateriaal en werk ons deur teorie, skryfoefeninge, kreatiwiteitsoefeninge en terugvoer. Skrywers kan vir my vrae vra en van medeskrywers se ervarings leer. Aan die einde van elke kontaksessie gee ek ’n groter opdrag vir die maand. Hierdie opdrag word aan my geë-pos en ek gee deeglike terugvoer voor die volgende kontaksessie. Elke oefening en opdrag werk mee om die storie wat jy wil skryf te vind en stelselmatig aan te werk. Ons eet op elk van daardie Saterdae ook te lekker aan sjefs van Wellington se kos. Die atmosfeer is baie rustig en die idee is om al die angs en vrese rondom skryf aan te spreek en uit die weg te ruim sodat jy die fantastiese proses van skryf vir kinders en tieners kan geniet.
Lees die volledige onderhoud oor die slypskool hier.
Na afloop van die skryfkursus het Naomi Meyer het Mia Oosthuizen gevra of enige van die skrywers wat die geleentheid bygewoon het, iets daaromtrent wou vertel.
Troula Goosen skryf wat die aspek van kinderboekskryf is waarvan sy die meeste geleer het.
Dit was ’n belewenis om saam met Mia en die ander studente die wêreld van kinder- en jeugboeke binne te stap. Die kursusinhoud was nie vir my nuut nie – as gepubliseerde jeugboekskrywer het ek immers al die meeste aspekte van dié avontuur ontdek en beleef. Die kursus het my egter ander insigte gegee wat gemaak het dat ek met vars oë na my eie skryfwerk kyk.
...........
Dit was ’n belewenis om saam met Mia en die ander studente die wêreld van kinder- en jeugboeke binne te stap.
...........
Ook inspirerend was die energie wat Mia uitstraal, haar geesdrif vir die kind en sy boek wat my opnuut laat glo het in die belangrikheid van dit wat ons as jeugboekskrywers doen. Beslis ʼn heerlike inspuiting – ook vir gevestigde skrywers wat nuwe inspirasie nodig het.
Lees ook:
Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool: Deidré Victor se terugvoer