Jo Prins het enkele weke gelede ’n “Boekevat” op Boeke24 geplaas waarin hy beskryf het wat hy as redakteur van ’n koerant se boekeblad van resensies verwag. Ek dink ek en hy is dit daaroor met mekaar eens. Toe ek nog ’n mombakkies gedra het, het ek ’n uiteensetting geplaas van die oorwegings wat ek had wanneer ek punte vir resensies toegeken het. Dit was:
– Het die resensie ’n inleiding wat jou dadelik aangryp en laat voel hierdie resensie móét ek lees?
– Het die resensie ’n betoog wat uit die inleiding volg?
– Loop die betoog uit op ’n afsluitingsparagraaf waarin alles in ’n evaluering/taksering byeenkom?
– Het die resensent ’n herkenbare styl wat die resensie op ’n unieke vlak plaas?
– Dui die resensent die raamwerk aan waarbinne hy/sy die boek onder bespreking takseer?
– As daar ’n betoog is, hou dit tred met die raamwerk en die verwysingsveld van ander skrywers en werke wat deur die resensent betrek word?
– Oortuig die betoog?
– Reageer die resensent werklik op die boek?
– Slaag die resensent daarin om te reageer sonder om die hele verhaal te vertel?
– Het ek die resensie enduit gelees sonder om verveeld te raak?
– As die resensie ’n akademiese inslag het, maar in ’n algemene publikasie verskyn, is daar ’n poging om die vakgebied toeganklik te maak vir die oningewyde en/of onbelangstellende leser?
Ek wil dit oor die volgende klompie episodes as vertrekpunt gebruik, beginnende by die inleiding. Meer Johannes van der Walt as Wildeman van die Kalahari. Die brakkie het nog baie blaf.
Eers ’n paar algemene gedagtes.
Die inleiding van ’n resensie, of intro, soos dit in joernalistieke sfere genoem word, is ’n wonderbaarlike ding. Dit kan bekoor, dit kan verveel, dit kan die stempel van die kritikus se gesag met een slag bevestig of vernietig. Dit is die paragraaf of sin waarmee die resensent sy lesers oortuig dat hulle absoluut, maar ab-so-luut, die res van die resensie moet lees.
Die lesers se oorwegings kan uiteraard baie persoonlik wees. Dalk wil hulle weet wat hierdie spesifieke resensent van die boek dink. Dalk stel hulle meer belang in die skrywer, of die temas wat hy/sy ondersoek.
As skrywer van boeke en resensies hoop ek dat ’n groot persentasie van die resensielesers op soek is na daardie uniekheid wat ’n boek behoort te hê – om iets nuuts te sê waaraan niemand nog ooit gedink het nie. Boeke sonder uniekheid beland op die groot hoop van vergetelheid. Resensies wat geen uniekheid kan identifiseer nie, word selde onthou – en dikwels nooit volledig deurgelees nie. “The world is a hellish place,” het Tom Waits gesê, “and bad writing is destroying the quality of our suffering.” Helaas is daar onder Afrikaanse boekresensies besonder goeie voorbeelde van bad writing.
Trisa Hugo resenseer As klippe kon praat, deur Connie Luyt (Rapport Boeke)
Hugo dring dieper die roman in as wat ander resensente gedoen het, maar haar intro werk nie. Gaan dit oor haar jeugherinneringe, haar eie lewensfeer, of oor die egtheid van die omgewingsbeskrywing in die roman? Uit haar resensies weet mens dat persoonlike aanklank een van Trisa Hugo se sterkste meetinstrumente is. Dit is meer effektief as dit deursyfer in die liggaam van die resensie. Dit is verwarrend om in die inleiding oor die eie geskiedenis te skryf en dan by die roman uit te kom, des te meer omdat die eie geskiedenis nie verder figureer nie. Die resensie bevat wel ’n gedagte (rondom ’n aanhaling van Anne Lamott oor hoe die liefde vir ’n kind mens se lewe raak) wat ’n baie beter aanknopingspunt vir die intro sou gewees het.
Jonathan Amid resenseer Vlindervreter, deur Melanie Grobler en Christiaan Diedericks (Boeke24)
Resensie of essay? Die dinge wat Amid in sy eerste vier paragrawe sê, sou die spil van ’n essay kon wees; as intro vir ’n resensie is dit ’n ontsporing wat mens dwing om soveel subteks te dekodeer dat jy gou belangstelling in die boek verloor.
Surene Esterhuizen resenseer As klippe kon praat, deur Connie Luyt (Boeke24)
Esterhuizen sê dadelik dat die boek haar ontroer het, en hoekom. Alles wat hierna volg, sal in hierdie teken staan. Die leser sal ook gou besef dat dit nie oor literêre gehalte gaan nie, maar oor die emosionele lading. Esterhuizen se bespreking is kort, en sou nóg korter kon gewees het.
Louise Viljoen resenseer Die onsigbare, deur PJO Jonker (Rapport Boeke)
Deur die jare het Louise Viljoen ’n eie resensiestyl onwikkel; hierdie keer val sy anders in. Die effek is positief. Sy gee ’n teken van die leeswerk wat sy rondom die roman onder bespreking gedoen het, en lig dadelik die sentrale tema uit. Haar oorgang na die tweede paragraaf is naatloos en die res van die resensie van superieure gehalte.
Willie Burger resenseer Onrus op Steynshoop deur Ingrid Winterbach (LitNet)
Briljante intro waarin Burger sy vorige besprekings van Winterbach se werk in berekening bring, aandui dat hy in vervoering is oor die nuwe boek, en dan die oorgang maak na die uitlê van sy reaksie. As ek nog punte toegeken het vir resensies, sou hierdie resensie 10/10 gekry het. Ek sal in die toekoms terugkeer na hierdie resensie; nou is dit genoeg om te sê dat ons baie jare laas ’n bespreking gesien het wat in al sy onderdele só sterk bou aan die resensent se argumentasie. ’n Resensie wat jou oë oopmaak vir die groter visie; maar dis die intro wat die eerste vreugde bring. Joy soos CS Lewis dit definieer: “an unsatisfied desire which is itself more desirable than any other satisfaction”. Die vreugde duur hierna voort, en die intro kondig die joy so subliem aan.
Lindie Koorts skryf oor Jopie Fourie: ’n besinning deur Albert Blake (Rapport Boeke)
’n Eienaardige manier om ’n resensie te begin – met ’n opmerking wat normaalweg gedoem sou gewees het om as voetnoot gebruik te word. Hier is ’n historikus wat reageer op die sentrale probleemstelling van die boek. Koorts begin nie om dowe neute daarmee nie. Sy moes haar gebruiklike akademiese styl versaak om vir die koerant oor hierdie boek te skryf. Haar hele aanpak en betoog word daardeur gerig. ’n Mens kan aanneem dat Jopie Fourie se dood nie meer so ’n brandende kwessie is as wat dit in 1914 was nie, en in Koorts se intro posisioneer sy haarself ten opsigte van die hele debat oor Fourie se dood. In die res van die resensie lê sy haar standpunt uit, en reageer op die boek self; vir die koerantleser is daardie intro genoeg om te weet waaroor alles handel, en of jy as leser genoeg in die onderwerp belangstel om verder te lees.
Alwyn Roux bespreek Miniatuur deur Johann de Lange (Boeke24)
Eendag sal iemand ’n behoorlike studie maak van die beoefening van die kwatryn deur ’n lang lyn Afrikaanse digters. Johann de Lange sal een van die prominente figure in daardie lyn wees. Alwyn Roux se resensie van Miniatuur gee ’n ruim aanduiding van die bundel se inhoud, maar het ’n intro wat só onopgewonde is dat mens na die tweede paragraaf besef dat hy dié intro maar net sowel kon gelaat het. Daardie tweede paragraaf is die éintlike intro.
Stefaans Coetzee skryf oor Donker water, deur Martin Steyn (Boeke24)
’n Intro wat onmiddellik jou aandag trek: “Moenie iets eet voordat jy Donker water lees nie.” Wat meer het mens nodig?
Anschen Conradie skryf oor Die maniese muskietmoles, deur De Wet Hugo en Stephen Wallace (Boeke24)
Kinder- en jeugfiksie word vir ’n baie spesifieke groep mense gepubliseer: ouers van kinders wat nog jonk genoeg is om elke aand ’n storie vertel te kry. Resensies soos hierdie is ook aan hulle gerig. Dáárom is Anschen Conradie se intro absoluut in die kol. Dit interesseer ouers omdat daar ’n gedeelde probleem is.
Ilza Roggeband resenseer Benru se boomskok, deur Felicia Snyman-Du Toit en Luan Serfontein (Boeke24)
Dit deug nie altyd om ’n resensie met ’n groot veralgemening in te lei nie. Hier is egter ’n klein bommetjie ingebou: “Tieners raak al hoe meer ingelig as gevolg van alles waaraan hulle blootgestel word – van tegnologie tot ’n ooraanbod van reekse en rolprente, en dan het ons nog nie eens video’s op TikTok en YouTube en stories op Instagram bygereken nie.” Watter woorde is so bedrieglik eenvoudig soos Saqlain Mushtaq se doosra? Drie van hulle: as gevolg van. Het Roggeband weens gebruik, het mens geweet hier kom ’n geklaery. Het sy danksy gebruik, het jy geweet sy is by voorbaat positief ingestem. Maar nou gebruik sy as gevolg van, totaal neutraal. Nou is ons nuuskierig: Hoe gaan sy die kloutjie by die oortjie kry? Gaan sy gevoelens vir die boek ontwikkel?
Willemien Aukema skryf oor Heks, deur Dibi Breytenbach (Boeke24)
Een woord lê nie lekker nie en mens lees met huiwering: “In haar jongste roman, Heks, verken Dibi Breytenbach die amorfe gestalte van waarheid en leuens.” Hoekom sou waarheid en leuens ’n vormlose gestalte hê? Dis abstrakte dinge; hulle is per definisie vormloos. Is gestalte die juiste woord wat Aukema moes gebruik het? Semantiese onsekerheid skaad ’n belowende intro. Kyk jy na die manier waarop Aukema verder riff met leiding, verkenning en variasies daarvan, besef jy dat sy stylsensitief is; amorfe gestalte was ’n glips.
Anschen Conradie bespreek ’n Vrou staan op, deur Ilse Verster (Boeke24)
Dit is altyd nuttig om Elmore Leonard se stylwenke oor clichés te onthou: Sien hulle raak in jou werk, probeer hulle kreatief omvorm in iets nuuts, en as jy nie kan nie, vermy hulle. Conradie lei die resensie in met “Dis so prentjie-perfek in die sprokiesverhale.” In die daaropvolgende klompie paragrawe is daar verskeie ander geykte beelde voordat Conradie op koers kom en uiteindelik eindig met ’n betekenisvolle dog dubbelsinnige opmerking. Wat ek baie van die resensie geniet het, is die manier waarop Conradie beelde uit die bosveldsfeer gebruik het om dinge toe te lig. Maar die intro met sy voosgebruikte inhoud het my baie amper gestuit.
Riette Rust skryf oor Heks, deur Dibi Breytenbach (Rapport Boeke)
’n Goeie resensie wat skitterend kon gewees het as dit ’n behoorlike intro gehad het. Rust se resensie wemel van invalshoeke – sy het só interessant op Heks gereageer dat sy enige daarvan sou kon gekies het en steeds dieselfde argumentasie sou kon deurgevoer het. Die mees voor die hand liggende een is die “oorlog tussen man en vrou”-tema, wat al van Aristofanes se tyd verskeie kere aangepak is deur mense so divers as James Thurber, DH Lawrence, Susan Faludi, David Mamet en Camille Paglia. Ek het groot agting vir Rust se joernalistieke werk, veral dié wat sy ’n tydjie gelede vir Sarie gelewer het. Miskien help dit om ’n klompie van daardie intro’s te gaan herlees. Joernaliste se styl verander deur die jare, maar mens verloor nie die vernuf wat tydskrifwerk by jou ontwikkel het nie.
Jonathan Amid skryf oor Heks, deur Dibi Breytenbach (LitNet)
Hierdie is seker die omvattendste bespreking van Dibi Breytenbach se jongste roman, en Amid klim behoorlik in deur vyf aanhalings deur groot en gevierde skrywers vooraf te plaas. Sy intro is egter nie op dieselfde vlak as sy groter betoog nie. Dit is té kasueel om te begin met “Sewe puik misdaadromans later is Dibi Breytenbach reg om haar Heks met die wêreld te deel.” Sy tweede sin, aangepas, sou hom al die gesag en aandag gegee het om die lang lees en konsentreer wat voorlê te dra. Dit is ’n bielie van ’n resensie, en hier is sy intro: “Is ons plaaslike lesers, ons troebel literêre poeletjie, gereed vir Heks?”
Neil Cochrane resenseer Kuborg, deur Martina Klopper (Boeke24)
Dis ’n wetenswaardige feit waarmee Cochrane sy resensie open, maar dis ’n bietjie ordinêr vir ’n bundel wat hy aanprys as ’n “verfrissende bydrae tot die digterlike verwoording van die tegnologies gedrewe wêreld”.
Clari Niemand skryf oor Sel ses, deur Stefaans Coetzee, in samewerking met Annerle Barnard (Boeke24)
’n Lekker intro, val met die deur in die huis. Jy lees asof projektiel-aangedrewe verder. (Dis eers by paragraaf sewe dat jy snap dat sy eintlik tot dusver haar eie lewe as skans teen die inhoud van die boek voorgehou het, en daarna gaan sy lig daarmee om, weer ontstig deur iets anders, nl die publikasie se taalversorging. Asof sy die tronk nie in haar gemoed wil laat kom nes maak nie. Ja, die ou lewe is maar onvolmaak.)
Francois Bekker resenseer Hans hou bruilof, deur Rudie van Rensburg (Boeke24)
Bekker gryp, heel gepas, terug na die eerste Hans-roman vir sy inleidingsin. Nou voel ek soos ’n verraaier om vir hom te sê sy afsluiting sou ’n epogmakende intro gewees het: “Hans se manewales is puur Viagra vir die gemoed.”
Anschen Conradie skryf oor Maalkolk en Breekpunt deur Marie Lotz (LitNet)
Skryf mens anders vir LitNet as vir koerante? Sekerlik. Jy hoef net te kyk na die uiteenlopende maniere waarop Conradie hierdie en die resensie van Ilse Verster se boek (hier bo) inlei. Ek kan egter nie sê dat hierdie een uniek is nie – uit die aard van haar betoog sou dit ’n baie sterker intro gewees het as sy verwys het na die probleme wat misdaadskrywers ondervind met die letter van die wet.
Mens kan nie té gereeld daarmee wegkom nie, maar Erla Diedericks benut die relatiewe vryheid van die internet om ’n intro te skryf wat niemand kan ignoreer nie. Daarna het die betoog ’n amper logiese verloop voordat sy die resensie met ’n knaller afsluit. Hierdie benadering sal nie vir alle boeke en resensies werk nie, maar nou ja, tronkverhale skep vir die resensent sekere vryhede.
Magdel Vorster is hierdie resensentegeslag se Erné Potgieter en Marina le Roux. Haar uitsprake oor kinder- en jeuglektuur dra gesag. Sy kon ’n bietjie geskaaf het aan hierdie resensie. Die saak wat sy in die intro aansny, is ’n bygedagte. Die ware intro sit in die begin van die derde paragraaf: “Elizbè van der Colff se stories lees soos ’n outydse suiglekkerballetjie waaraan jy suig.”
Sommige boeke kom tot die resensent se redding deur binne ’n paar sinne presies saam te vat wat die boek vir die resensent en leser te sê het. Sien jy dit raak, is die skryf van die resensie taamlik maklik. Jean Oosthuizen het dit vir hierdie boek geïdentifiseer, en lei sy bespreking sekuur daarmee in.
’n Volgende keer sal ek kyk na die betoog wat resensente in hul besprekings inbou. Maar terwyl die laaste resensie hier bo handel oor ’n boek met godsdienstige strekking, net ’n afsluitingsgedagte aan die hand van iets wat HL Mencken geskryf het. ’n Resensent is nóg pedagoog nóg prediker, sê hy. As ’n resensent mense wil bekeer om boeklesers te word, gaan die moeite verniet wees. Nielesers wat maklik tot die edel gewoonte bekeer word, word gou verlei na ’n volgende tydvermorsing. Volgens Mencken is hul gedagtes intrinsiek flentergat en parasities. “Kritiek is in wese nie te onderskei van skeptisisme nie. ’n Kritikus wat absoluut in enigiets glo, is gebonde aan daardie iets op dieselfde manier waarop ’n Christen gebonde is aan die Freudiaanse gemors in die Boek Openbaring. In daardie mate is hy in elk geval onvry en onintelligent, en dus ’n slegte kritikus.”


Kommentaar
Die campaign om die bepunting terug te bring begin vandag. 🙂
9/10
As daar punte was, was dit 10/10.
Hoe pedanties is dit alles tog nie.
Nee, o hel, Pieter, net nie dit nie! Ek kry net swart sterretjies!
As als onder die son, van flieks en boeke tot AirBnB's en restaurante en wat nog geresenseer en beoordeel en bepunt en be-ster kan word, waarom op die aarde mag dieselfde nie met resensies nie? As leser staan dit my vry om met enige mening saam te stem en insgelyks van enige mening te verskil, te besluit of ek die resensent, van wat ook al, se oordeel kan vertrou, of nie, en op grond waarvan, of waarvan nie. En of ek dit hoegenaamd wil lees. Het ek nie plesier aan die lees nie, kan ek kan ewe goed verbyhou. Soveel te lees, so min tyd.