Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid deur Sakkie Spangenberg: ’n resensie

  • 6

Titel: Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid
Skrywer: Sakkie Spangenberg
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781067234270

Min Christene dink na oor die godsdiens wat hulle beoefen. Hulle aanvaar eenvoudig die vanselfsprekendheid van hul godsdienstige oortuigings. Die Christelike godsdiens is, volgens hulle, die enigste ware godsdiens en die Drie-eenheid bestaan van alle ewigheid af.

Met hierdie woorde in hoofstuk 14 van sy jongste boek som Sakkie Spangenberg die denkwêreld van waarskynlik die meeste Christene raak op.

Min Christene dink verder as hulle katkisasieboek na oor die godsdiens wat hulle beoefen.

Terwyl die Verligting, ook bekend as die Era van Rede, gedurende die 17de en 18de eeu oor Europa gespoel het en vanaf die 19de eeu tot ’n afname in godsdienstige invloed gelei het, het sekularisering in Suid-Afrika stadiger plaasgevind. Die godsdiensdebat onder Suid-Afrikaners en die res van Afrika is eintlik nog in sy kinderskoene.

Die Verligting was ’n Europese beweging van geletterde mense wat verklaar het dat bewyse belangriker as geloof is. Hulle wou mense uit hul onkunde bevry.

Die diepgewortelde konserwatiewe Calvinistiese waardes waarmee Afrikaners grootgeword het, het veroorsaak dat baie van hulle steeds glo hul godsdienstige en kulturele erfenis is onveranderlik.

In sy jongste boek, Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid, verduidelik Spangenberg hoe dit wat vir eeue as algemene waarhede rakende die Bybel aanvaar is, in later eeue as onwaarhede uitgewys is.

Die Calvinistiese borrel waarbinne die meeste Afrikaanse mense grootgeword het, het ’n omgewing geskep waarin meer fundamentalistiese geloofsoortuigings kon voortbestaan sonder die uitdagings wat Europese gemeenskappe beleef het.

Die Calvinistiese gemeenskappe in Suid-Afrika het gevolglik ’n mate van kulturele en godsdienstige isolasie gehandhaaf. Spangenberg help lesers om uit hierdie isolasie los te breek met boeke soos Perspektiewe op die Bybel, Jesus van Nasaret, Teologie op die markplein, Bybelstories in perspektief, ander skrywes van hom en nou ook hierdie boek.

Dit was eers kort voor die draai van die eeu toe Suid-Afrika in 1994 ’n demokrasie geword en die Afrikaner sy politieke mag verloor het, dat al hoe meer Afrikaners ook op godsdienstige vlak in groter getalle uit die laer begin wegbreek het.

Spangenberg is ’n emeritusprofessor in Ou Testamentiese studies en het ’n groot invloed gehad op die manier waarop baie Afrikaanse mense oor geloof begin nadink het.

Sy progressiewe en kritiese benadering tot die Bybel en die Christelike geloof het hom veral binne die konteks van Afrikaner-geloofsgemeenskappe die gramskap van die NG Kerk op die hals gehaal.

Soos baie teoloë voor hom, wat later reg bewys is, is hy van dwaalleer aangekla en in sy eie kerk as ketter uitgemaak. Ná ’n tweede klag van leerdwaling ná talle gesprekke met die Ring van Lyttelton, bedank hy in 2004 as gelegitimeerde en as lidmaat van die NG Kerk, maar sit sy werk by Unisa voort as professor in Ou Testamentiese studies tot met sy aftrede in 2016.

Spangenberg moedig sy lesers aan om die Bybel nie as ’n onfeilbare dokument te sien nie, maar eerder as ’n versameling van tekste wat binne spesifieke historiese en kulturele kontekste geskryf is. Hy wys daarop dat die Bybel ’n komplekse en menslike dokument is wat uit verskillende tradisies en tydperke ontstaan het.

Die inspirasie vir sy jongste boek was ’n artikel wat in Beeld verskyn het gedurende die Covid-pandemie. Die artikel deur Barnard Beukman, onder die opskrif “Dink jou eie waarheid uit”, waarsku lesers teen die gevare om hulle eie siening of standpunt as die enigste waarheid voor te hou en net na mense te luister wat artikels lees wat húlle siening ondersteun.

Dit het hom herinner aan ’n soortgelyke artikel wat hy jare gelede in die teologiese tydskrif Themelios raakgelees het. Die vraag waarmee die tydskrif hom besig hou is of die Christelike geloof rasioneel verdedig kan word.

In hierdie boek neem Spangenberg die waarhede rondom die Bybel en die Christelike geloof onder die loep. Hy verduidelik hoedat waarheid met verloop van tyd wel kan verander.

Hy wys onder meer hoe navorsers ontdek het dat die boek Daniël nie ’n profetiese geskrif is nie. In werklikheid is dit ’n apokaliptiese geskrif met geskiedenisfoute. Dit bevat ook nie voorspellings wat met die twintigste en een-en-twintigste eeu verband hou soos wat baie mense dink nie.

Die boek Daniel kan volgens Spangenberg as voorbeeld dien van hoe sommige Christene nie geneë is om nuwere insigte te aanvaar nie. Hulle bly vasklou aan ou waarhede asof hulle lewens daarvan afhang.

Anders as in die natuurwetenskappe, word nuwere hipoteses en nuwere paradigmas in die Bybelwetenskappe nie geredelik deur gelowiges aanvaar nie. Daarom moet jonger navorsers dikwels vir lief neem met kollegas wat bly vasklou aan verouderde oortuigings en standpunte (bl 51).

Spangenberg verduidelik stap vir stap hoe die Christelike belydenisse steeds onlosmaaklik verweef is met die antieke drieverdieping-wêreldbeeld en die antieke mensbeeld.

Met ontdekkings soos dié van Kopernikus en Darwin het alles verander. Dit het gelei tot ’n totale omwenteling wat ’n nuwe mensbeskouing daargestel het. “Met Kopernikus het die aarde sy waardigheid verloor, maar met Darwin het die mens sy waardigheid verloor” (bl 67).

Die kerklike reaksie teen Nikolas Kopernikus en Galileo Galilei se oortuigings kan volgens Spangenberg beskou word as voorbeelde van hoe fundamentalistiese gelowiges gewoonlik op verandering reageer.

Die drieverdieping-heelal en die oortuiging dat mense oor onsterflike siele beskik wat nadoods sal voortleef, strook volgens Spangenberg teen die agtergrond van die kennis waaroor ons vandag beskik nie met die stand van ons kennis nie.

In deel 1 van die boek lê hy die basis vir ’n wyer bespreking oor die waarheid van die Christelike godsdiens.

In die tweede deel van sy boek fokus Spangenberg op die kernaspekte van die Christelike geloof en die belydenisskrifte. Hy wys hoe die Christelike verlossingsverhaal by die sondeval begin, wat een van die belangrikste leerstellings van die geloof is. Daarsonder maak die Christelike godsdiens geen sin nie.

In die daaropvolgende hoofstukke van deel twee word elke onderafdeling van die meesterverhaal krities ontleed. Neem mens die sondeval uit die prentjie, tuimel die hele kaartehuis ineen.

Uit navorsing het dit volgens Spangenberg duidelik geword dat die erfsondeleer ’n uitgediende teologiese konstruk is wat nie só in die Ou Testament staan en ook nie só deur Jesus en sy dissipels verkondig is soos wat dit vandag in die kerk bely word nie.

Min hedendaagse dominees vereenselwig hulle vandag nog ten volle met al die belydenisskrifte. Tog word hulle verplig om ’n legitimasie-eed te onderteken dat hulle dit ten volle onderskryf, anders word hulle nie toegelaat tot die bediening nie.

Spangenberg argumenteer oortuigend dat dit nie wys is om steeds vas te hou aan sulke verouderde Christelike oortuigings en leerstellinge nie.

Dit bots nie alleen met ons wêreldbeeld en ons kennisraamwerk nie, maar plaas mense onder geweldige spanning omdat hulle voel dat daar van hulle verwag word om die moderne kennis te ontken. (bl 163)

In die derde deel van sy boek gee Spangenberg ’n wyer blik oor die Christelike godsdiens en bespreek die ontstaansgeskiedenis van die Bybel.

Christene wat na hulle godsdiens verwys as “die Bybelse godsdiens” koester ’n oorvereenvoudigde beeld van hoe die Christelike godsdiens asook die Christelike Bybel ontstaan het. (bl 207)

Net soos sinodes vandag besluit wie mag met wie trou, was dit sinodes wat destyds besluit het wat moet in die Bybel wees en wat nie, en nie God nie. Daarom is daar ook verskillende Bybels en verskil die katolieke en protestante se Bybels van mekaar.

Die eindelose debatte van die NG Kerk oor homoseksualiteit is ’n goeie voorbeeld van die problematiek rondom die Heilige Gees, weens die teenoorgestelde boodskappe wat die kerk gereeld onder leiding van die Heilige Gees ontvang.

Spangenberg neem dit verder terug en wys daarop hoe die Heilige Gees oor die jare totaal teenoorgestelde boodskappe aan protestante en katolieke teoloë gekommunikeer het, terwyl albei saamstem dat die Heilige Gees hulle lei in die interpretasie van die Bybel.

Die spanning tussen gemeentes van die katolieke kerk en gemeentes van die protestantse kerke het in die sewentiende eeu só toegeneem dat verskeie godsdiensoorloë uitgebreek het. Die twee geloofsgroepe het mekaar vir minstens drie dekades verag en beveg sonder dat die Heilige Gees duidelikheid gegee het wie reg en wie verkeerd is.

In die laaste hoofstuk van sy boek verduidelik Spangenberg waarom dit vir al meer mense moeilik word om die waarhede van die Christelike godsdiens te aanvaar en hul eie te maak.

Die geskiedenis van die Christelike godsdiens is besaai met verhale van mense wat verbrand en vermoor is omdat hulle sekere waarhede van die geloof betwyfel het. (bl 259)

Spangenberg se betoog is nie om gelowiges te probeer ontkeer nie. Hy wys slegs daarop dat alle godsdienste menslike skeppings is. Dit kan gevaarlik wees wanneer dit, soos in die verlede, ’n staatsgodsdiens word wat die mag en vermoë het om sogenaamde afwykendes dood te maak.

Sy pleidooi is vir ’n kritiese studie van die Bybel en die besef dat mens nie die Bybel en die Christelike godsdiens met sy kultuurskatte, soos die pragtige katedrale en mooi kerkmusiek, op die ashoop hoef te gooi nie, solank gelowiges hulle onsinverklikkers aangeskakel hou en besef hulle godsdiens is nie die enigste ware een nie en dat dit nie bo alle ander godsdienste uittroon nie. Kennis van die feite en respek vir mekaar se andersheid is die pilare waarop Spangenberg sy argumente bou.

Lees ook:

As alles niks word: ’n lesersindruk van Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid deur Sakkie Spangenberg

Resensie van Ben du Toit se God Is daar ’n ander antwoord?

Skrywersonderhoud: Ben du Toit oor God Is daar ’n ander antwoord?

’n Lesersindruk van Deur die tonnel van twyfel, Koos Kombuis se jongste boek

Die slegte nuus van die evangelie deur Johan Retief: Sakkie Spangenberg deel sy indrukke

Elders gesien: Sekere goed kan ek eenvoudig nie weggegooi kry nie

Kritiese besinnings oor die Israelse eiendomsaansprake op Palestina

LitNet Akademies Weerdink: Trump, Palestina en Israel

  • 6

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Op skool was daar so een denominasie, ek vermoed dit was die Jollie Vollies se dominee, wat so klompie mannerisms gehad het, en waaroor ons altyd gegiggel het as tieners. Een daarvan was, as hy bid, dan het hy altyd afgesluit met "amen en amen". Twee keer amen dus.

    Voel vir my dis hier ook gepas om net te se "amen en amen".

  • Lynette Erwee

    Ek het die boek van Ben du Toit gelees en dit het my beslis laat dink oor dit wat ek voorgesê is om te glo. Ek voel ongemaklik met dit wat ek jare vertel is om te glo.

  • Philippus Janse van Rensburg.

    Soos daar dikwels gedoen is, het daar ook om Sakkie Spangenberg se nek 'n etiket gekom: Ketter!
    Wat my opval, is dat mense in die meeste gevalle in die Bybel, namens God praat, Hyself is meestal 'n stom persoonlikheid. Eers met die verskyning van Jesus kry ons 'n beeld van 'n gesprek, 'n soort dialoog. (Selfs dít is my persoonlike waarneming.)

  • Annora Eksteen

    Sakkie Spangenberg: Hartlik geluk met 'n weereens uitstaande publikasie.
    Ek is gelukkig 'n vry kunstenaar, effens deur die blare, diep beseer, lesend alles en meer en het lankal oorgeslaat na sterke drank: Blatante Blasfemie.
    Balsemend vir al my wonde.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top