’n Lesersindruk van Deur die tonnel van twyfel, Koos Kombuis se jongste boek

  • 1

Titel: Deur die tonnel van twyfel
Skrywer: Koos Kombuis
ISBN: 9781991256393
Uitgewer: Naledi

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Deur die tonnel van twyfel: op soek na waardes in ’n donker eeu (Naledi, 2023) heet die jongste boek van Koos Kombuis. Die boek se titel verraai ’n tweërlei opset: Dit is eerstens ’n vertelling oor Koos se eie lewe en oor hoe hy sy twyfel oorkom het (Deur die tonnel), maar deur sy vertelling probeer hy ook ’n gesprek oor waardes aanwakker (op soek na waardes).

In die vertelling oor sy lewe val die fokus hoofsaaklik op sy verhouding met die Christelike godsdiens en spesifiek hoe die NG Kerk daardie godsdiens vergestalt. Hy het in die NG Kerk grootgeword, maar die strengheid wat hy daar beleef het, het hom nie aangestaan nie. In sy standerd 9-jaar (nou graad 11-jaar) breek hy weg en vind hy ’n tuiste in ’n Baptiste-gemeente, waar die erediens nie volgens ’n vaste orde verloop nie. Die gemeente se spreek in tale spreek hom aan en kort voor lank praat hy self in tale – nie in die openbaar nie, maar in sy eie kamer. Hierdie ervaring oortuig hom dat die lewe nie sinloos is nie, want dit was asof hy Jesus tydens hierdie ervaring van spreek in tale self ontmoet het. Gedurende hierdie jare loop hy ook die Bybelvertaling Good news for modern man raak wat vir hom ’n belangrike boek op sy lewenspad word, maar kort voor lank voel hy hom spiritueel ook nie meer tuis by die Baptiste nie. Hy bly ’n eensame jongmens op soek na aanvaarding en ’n spirituele tuiste.

Sy dienspligjaar bring ’n tydelike verposing mee. Hy beleef die kameraderie van sy mededienspligtiges positief, maar wanneer hy weer in “civiestraat” is, oorval vertwyfeling hom en bly die gevoel van eensaamheid aan hom knaag. Dit is in hierdie tyd dat hy met dwelmmiddels deurmekaar raak en koers verloor. ’n Tyd waaroor hy nie veel uitwei nie, omdat dit hom verleë laat.

Wanneer sy pad met dié van die boek Die I Ching (of “The book of changes”) kruis, fassineer dit hom dermate dat hy die boek gereeld soggens raadpleeg om hom op die dag se gebeure voor te berei. Maar dis nie al boek wat sy pad kruis nie. Hy loop ook Burton Mack se The lost gospel: the book of Q and Christian origins (1994) raak. Koos vertel nie baie oor die oorsprong van hierdie “verlore evangelie” nie, maar ek vul sy vertelling aan deur nog agtergrond te voorsien.

Die Q-bron oftewel die Q-Spreuke-evangelie (soos sommige dit tans noem) is ’n gerekonstrueerde bron wat die skrywers van die Matteus- en die Lukas-evangelie naas die Markus-evangelie benut het om hulle verhale te skryf. Die bron fokus hoofsaaklik op uitsprake van Jesus en dit bevat nie vertellings oor Jesus se geboorte, sy kruisdood en opstanding nie. Volgens sommige navorsers illustreer hierdie dokument dat daar gedurende die eerste drie eeue heelwat variasies in die Christelike godsdiens bestaan het. Daar was verskillende groepe Jesus-volgelinge wat op verskillende maniere met hom geïdentifiseer het. Vir sommige was Jesus nie ’n verlosser nie, maar ’n wysheidsleermeester. Oor hierdie saak skryf GP Luttikhuizen die volgende in sy boek De veelvormigheid van het vroegste christendom:

Pluriformiteit en diversiteit hebben het christendom vanaf het allereerste begin gekenmerkt. Het christendom zou in de gefragmenteerde en pluriforme samenleving van de 21e eeuw meer kansen hebben als het dit kenmerk positief zou waarderen, als theologen en kerkelijke leiders zouden erkennen dat het christendom tegelijk in vele gedaanten kan bestaan, en als er bewust ruimte zou worden gelaten voor een gevarieerd aanbod aan christelijke zingeving. (Luttikhuizen 2005:21)

Dit was vir my een van die interessante dele van Koos se boek, omdat ek daarvan oortuig is dat daar só ’n dokument in die vroeë fase van die Christelike godsdiens bestaan het. Hy verwyt Bybelwetenskaplikes dat daar nie ’n “sagtebandteks op die rakke is nie”. Koos het egter nie hard genoeg gesoek nie, want daar bestaan wel sulke sagtebandboeke. In 2002 het ’n groep navorsers wat hulle met die Q-Spreuke-evangelie besig hou, ’n Engelse vertaling gepubliseer. Dit dra die titel The sayings gospel Q in Greek and English. Nog ’n navorser, Richard Valantasis, het in 2005 The new Q: a fresh translation with commentary gepubliseer.

Dis duidelik dat Koos homself nog as ’n Christen-gelowige beleef, al woon hy nie kerklike eredienste by en al onderskryf hy nie meer die tradisionele kerklike leerstellings nie. Sy onlangse spirituele belewenis toe hy deur die Hugenote-tonnel gery het, was vir hom ’n herbevestiging van sy eerste bekering. Hy is deur die tonnel van twyfel. Die Christelike geloof en die lees van die Bybel het sin aan sy lewe gegee en hom deur lewenskrisisse gedra. Van God wil Koos nie afskeid neem nie. Ateïsme staan hom nie aan nie. Maar dit is onduidelik wie hierdie God is van wie Koos praat. Vir seker nie meer die Drie-eenheid nie, want dan sou Koos Hom so benaam het. Om deesdae net van God te praat asof almal weet na wie jy verwys, is ’n probleem in ons multikulturele samelewing. Is dit nou byvoorbeeld die Christelike God, die God van die Judaïsme, of die God van Islam? Dis jammer dat Koos nie hieroor besin het nie. Teen die einde van sy boek skryf hy wel: “Ek is nog nie seker wat ek glo nie, maar ek weet nou ek is NIE ’n ateïs nie.”

Koos se boek sal nie almal oortuig dat hy steeds ’n Christen is nie. Ek vermoed dat heelwat predikante, pastore en priesters hom nie as ’n Christen-gelowige sal erken nie. Wat sy boek wel illustreer, is dat baie eertydse Christene hulleself nie meer tuis voel binne die tradisionele Christelike godsdiens nie. Deesdae ontwerp elkeen sy eie “model” waarmee hy/sy gemaklik is en wat hom/haar vooruit kan help.

Oor die waardes wat sy lewe rig, skryf Koos ongelukkig min – of liewer, dit kom wel so tussendeur sy vertelling ter sprake, maar ek sou graag meer daaroor wou lees. Ek sou wou hoor hoe hy oor waardes dink en of hy meen dat ateïste, omdat hulle godloos is, dan ook goddeloos is en geen waardes koester of aanhang nie. Hy huldig ’n verwronge beeld van ateïste. Ateïste is net mense wat nog nooit ’n behoefte gehad het aan ’n godkarakter in hulle lewensverhaal nie. Soms is dit mense wat binne ’n godsdienstige tradisie grootgeword het, maar na jare se nadenke afskeid geneem het van die God wat in daardie tradisie vereer en aanbid word. Heelwat eertydse Christene sal met die volgende stelling saamstem: “We can be better Christians with no God at all than with the Catholic or Protestant God” (Hunt 2004:257). Dis nogal ’n stelling om saam met Koos se boek te oordink – veral in hierdie onheilsdae waar ’n wêreldoorlog dreig.

Die boek bevat ’n aantal sketse van Koos wat van sy vertellings toelig.

Bibliografie

Hunt, John. 2004. Bringing God back to Earth: confessions of a Christian publisher. Winchester: O Books.

Kombuis, Koos. 2023. Deur die tonnel van twyfel: op soek na waardes in ’n donker eeu. Gansbaai: Naledi.

Luttikhuizen, GP. 2005. De veelvormigheid van het vroegste christendom. Budel: Damon.

Robinson, James M, Paul Hoffman en John S Kloppenborg. 2002. The sayings gospel Q in Greek and English. Minneapolis: Fortress.

Valantasis, Richard. 2005. The new Q: a fresh translation with commentary. Londen: T&T Clark.

Lees ook:

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 1

Kommentaar

  • Die titel van die boek het aanvanklik nogal die aandag geprikkel, maar hierdie bespreking van Izak Spangenberg het nou heeltemal my belangstelling geblus. Koos se storie klink vir my nogal bekend. Nes hy is ook ek deur die NG Kerk as kind. En sal ek ooit die Bloemfomtein Baptiste vergeet, met wie ek ook deurmekaar was? Maar ek dink nie vandag meer dat die NG Kerk en die Baptiste dieselfde godsdiens beoefen nie. Elkeen eis graag natuurlik die titel van "Christen" op. Maar amper al wat hulle deel, is die bybel en beslis deel hulle geen uitleg van die bybel nie. Koos se geloof klink amper soos die van die Unitariese groepe. Dit klink ook of daar geen grondige basis vir hierdie godsdiens is nie. Dis net nog 'n godsdiens. Ek sal ook nie sê ek het geen behoefte aan god net omdat ek 'n atëis is nie. Maar daar is geen bewys vir die bestaan van enige van die gode nie. Nog die NG, nog die Baptis, nog Koos se God, het enige basis in realiteit. Dis alles maar net stories.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top