
Titel: Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid
Skrywer: Sakkie Spangenberg
ISBN: 9781067234270
Uitgewer: Naledi
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Hiermee ’n lesersindruk van Sakkie Spangenberg se pas vrygestelde boek Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid (Naledi Uitgewers), binne die konteks van twee debatte wat onlangs gewoed het (en steeds woed) in Afrikanergeledere.
Twee debatte het die Afrikaanse literêre en kulturele wêrelde besig gehou die afgelope paar weke.
Daar was die tweestryd tussen die Rapport-kritikus Mellet Moll en, onder andere, Kerneels Breytenbach (toe nog onder sy LitNet-skuilnaam Crito) en Jean Oosthuizen oor die meriete, al dan nie, van Riku Lätti se digbundel Taboek (Naledi, 2024). Ek het, terloops, myself reeds uitgelaat oor hierdie spesifieke debat in die onlangs gepubliseerde stuk “Die nag van die lang snorre”.
Hierdie debat tussen Moll en sy teenstanders het veral gefokus op die waarde van resensies en die integriteit van sekere resensente, onder andere hy self. Die debat het by tye geweldig heftig geraak en sommige deelnemers se insette het so amper-amper gegrens aan persoonlike aanvalle.
Die tweede debat is afgeskop deur ’n opiniestuk deur Christo van der Rheede waarin hy sy opinie gee, of eerder sy vrese lig, oor wat hy beskryf het as ’n “agenda” wat moontlik verskuil sou wees agter die uitsprake van sommige toonaangewende leiersfigure in die sogenaamde “Afrikaner”-geledere.
Hierdie debat, wat by tye byna net so heftig en venynig geword het soos die resensie-debat, het gefokus op die definisie van Afrikanerskap (of dan eerder Afrikaans-wees?), en die legitimiteit van sekere Afrikaanse sprekers om namens ander te praat.
Beide hierdie debatte was natuurlik nie werklik nuut nie. Dit was merendeels ’n herhaling van soortgelyke debatte wat van tyd tot tyd ook in die verlede opgevlam het onder Afrikaanssprekendes.
Daar is ’n rede hoekom ek in hierdie lesersindruk na hierdie twee debatte verwys. Hoewel dit nie op die oog af lyk asof hulle enige verband met mekaar het nie, dui dit beslis op ’n ernstige tektoniese kloof wat bestaan tussen twee hoogs uiteenlopende denkrigtings.
...
Veral Spangenberg se opvatting dat die historiese Jesus, indien daar so iemand bestaan het, weinig meer was as ’n politieke aktivis, ’n eerste-eeuse rolspeler wat die Israelse volk wou bevry van Romeinse politieke oorheersing, voel vir my soos ’n gruwelike mistasting.
...
En ja, hoewel die grondliggende vertrekpunte so oud soos die berge is – dit voel soos dekades gelede dat die sogenaamde “verligte” en “verkrampte” mekaar op politieke terrein die stryd aangesê het! – bespeur ek in hierdie moderne tye (verbeel ek my dalk?) toenemend ’n meer dringende, byna histeriese toon wat kop uitsteek in die geskille.
Ek vermoed dit het baie te doen met ons onderskeie sienings van die begrip volk (bestaan daar hoegenaamd nog so iets soos ’n “Afrikaanse volk”, of nie?) en natuurlik ook met die desperaatheid van beide partye om juis vandag te soek na ’n definisie van die rol wat sogenaamde “Afrikaners” of “Afrikaanse mense”, en om daarby aan te sluit, ook Afrikaanse denkers, kunstenaars en kritici deesdae veronderstel is om te speel. Dit, teen die agtergrond van geweldige veranderinge en die dramatiese herposisionering van verskillende rolspelers en groeperinge in die breër Suid-Afrikaanse konteks.
Daar is magsverskuiwings besig om plaas te vind, en baie van ons voel die grond bewe onder ons. Dit noop ons om te gryp na ou vastighede, of andersins te soek na nuwe maniere om ons balans te hou in ’n wêreld waar baie van ons ou sekerhede besig is om weggekalwe te word deur strominge en tendense wat voorheen feitlik ondenkbaar was.
Tekenend van hierdie tektoniese verskuiwing is nog ’n nuwe boek wat sopas verskyn het, ’n boek wat die potensiaal het om die “volk” (weer eens: as daar hoegenaamd so iets is!) selfs nog meer op te sweep tot vurige debatte en verskeurende uitsprake.
Ek verwys na Sakkie Spangenberg se publikasie Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid wat sopas die lig gesien het (toevallig ook, net soos Taboek, uitgegee deur Naledi).

Hoewel Spangenberg se boek nie ook ’n digbundel is nie – dis ’n stuk navorsing, gekoppel aan redenasies – sluit dit aan by Lätti se Taboek omdat dit, in Afrikaans altans, staan aan die voorpunt van ’n haas ongekende “dekonstruksie” en aftakeling van talle meestersimbole van die tradisionele Afrikanervolk, veral dié simbole wat betrekking het tot Afrikaanse mense se tradisionele siening van die rol van godsdiens in hul omgang met die werklikheid.
In die ou tyd, en baie gevalle ook nog vandag, was en is die Afrikanermentaliteit baie diep gewortel in ’n soort nasionalistiese Christenskap wat die onbetwisbare basis gevorm het van hul siening van hulself en van die sogenaamde ander, en hulle respons, as groep, teenoor tendense en groeperinge wat hulle ervaar as “anders” of bedreigend.
Voortgestu deur die wieke van hul geloof, het tradisionele Afrikaners brawe dinge vermag. Hulle het oorleef teen alle verwagtinge in. Hulle het vyandigheid, oorlog, ekonomiese rampe en ander beproewinge getrotseer en staande gebly, soos die spreekwoordelike doringboompie, onder werklik moeilike omstandighede.
Hul geloof was egter ’n tweesnydende swaard, want dieselfde geloof het hulle ook aangespoor tot die verskriklikste vergrype en wandade, soos apartheid.
Met sy nuwe boek waag Sakkie Spangenberg weer om daardie ou sekerhede tromp-op uit te daag; hierdie keer met meer oortuiging as ooit tevore.
Spangenberg se boek is ’n volkome hatchet job op alle vorme van Christenskap. In net onder die 300 bladsye, lê Spangenberg die lem van logika in en sny diep en pynlik dwarsdeur alles wat so baie mense tot dusver kinderlik aanvaar het as vele veilige assumpsies en kinderlike vertroue op ’n kosmiese orde soos gereguleer deur ’n bybelse outoriteit.
En die hemele behoed ons! Daar lê die “afgod” nou (as dit inderdaad ’n “afgod” is) magteloos, onttroon en afgesaag by die voetstuk, die kop en skouers van die borsbeeld flenters eenkant op die plaveisel van Afrikanerdom. Vir altyd verwyder, gesloop, vernietig, tragies verinneweer en verniel net soos arme Humpty Dumpty!
Spangenberg se nuwe boek is ’n grondverskuiwende oomblik van waarheid.
Soveel “ewige” of “goddelike” oortuigings waaraan gelowiges nog altyd vasgeklou het, word deur Spangenberg se intensiewe navorsing as inderdaad mensgemaakte konstruksies, onderhewig aan giere en tendense wat deur die eeue verander, uitgemaak.
Soos hy ook in ’n ander onderhoud eenmaal bevestig het, glo Spangenberg lankal nie meer aan die legimiteit van die kerk nie: “Die kerk is onhervormbaar en verknog aan die Augustiniaanse paradigma van Sondeval-Verlossing-Eindoordeel.”
Ek moet wel erken dat ek persoonlik, noudat ek hierdie boek klaar gelees het, in ander opsigte ’n klein bietjie ge-cheat en onvergenoegd voel. Het Sakkie nie dalk iets weggelaat nie? Deur die gode te verbrysel, laat Sakkie ons agter om tevergeefs te spartel in ’n byna ondraaglike eksistensiële lugleegte.
Ons weet nou inderdaad wat die waarheid NIE is nie, maar ons het nog geen benul wat die waarheid IS nie.
Spangenberg se boek los ’n mens met meer vrae as antwoorde. Is die groep noodwendig altyd belangriker as die individu? Of andersins: Waarom ervaar soveel mense onsekerheid as bedreigend eerder as bevrydend? Ergste van alles, is daar nog ruimte vir ’n konsep soos genade? En moet “genade” noodwendig altyd in ’n teologiese verwysingsveld gegiet wees? Wat as die idee van genade, soos in die woorde van Shakespeare (“the quality of mercy is not strained”, ens, ens), tegelyk eenvoudiger en ook oneindig meer groots kan wees, meer algemeen menslik, as die verdoemende pseudo-genade van ’n “Godheid”?
Ek stem inderdaad heelhartig saam met baie wat Sakkie Spangenberg sê in Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid. Maar nie met alles nie. Hoewel ek geweldige respek het vir sy navorsing, kan ek nog nie sê dat al sy afleidings met my resoneer nie.
Veral Spangenberg se opvatting dat die historiese Jesus, indien daar so iemand bestaan het, weinig meer was as ’n politieke aktivis, ’n eerste-eeuse rolspeler wat die Israelse volk wou bevry van Romeinse politieke oorheersing, voel vir my soos ’n gruwelike mistasting.
Lees ek die oorspronklike woorde van Jesus (kom ons aanvaar nou maar oorspronklikheid as ’n gegewe ter wille van die argument), byvoorbeeld die Bergpredikasies en die talle gelykenisse, kom ek diep onder die indruk van ’n besondere wyse persoon vir wie die lewe meer fasette gehad het as bloot politieke bevryding.
So baie van Jesus se leringe, hoewel dit nie noodwendig in lyn was met wat vandag as Christelike dogma beskou word nie, was tog tekenend van ’n verrassende nuwe siening (vir daardie tyd, en selfs nog vandag!) wat ’n vars briesie laat waai het deur die eeue-oue hiërargiese beskouings van mense se verhoudings met mekaar en met God (of, soos Jesus verkies het om na hom te verwys, die Vader).
Hoe versoen jy sy uitspraak van “betaal aan die keiser wat die keiser toekom” met anti-Romeinse aktivisme? En die talle algemeen menslike vertellinge van die verlore seun, die dwase maagde, en so baie ander? Hier was inderdaad iets meer aan die werk as bloot ’n opstand van die Jode teen die Romeine, en dis vir my moeilik om te verstaan hoe ’n intelligente persoon soos Spangenberg so iets kan miskyk of ignoreer.
Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid is ’n baie belangrike bydrae tot ons geestelike insigte, en dit gaan bes moontlik reusagtige implikasies hê in hoe ons onsself intellektueel probeer posisioneer in die een-en-twintigste eeu en verder.
Maar, helaas: Ek wag nog steeds op ’n skrywer wat iets kan opbou in die plek van alles wat Sakkie Spangenberg afgebreek het.
Die feit dat die tradisionele Christelike logos so suksesvol ontmasker is as ’n groteske denkfout, beteken nie dat daar glad nie ’n logos bestaan nie.
Iewers speel die gode nog en iewers in die kosmos klop die hart van ’n kind, en dalk selfs ’n Vader (of ’n Moeder?). Wie weet, dalk is die laaste woord oor hierdie onderwerp dalk nog nie gespreek nie?
Lees ook:
Skrywersonderhoud: Ben du Toit oor God Is daar ’n ander antwoord?
Om vrede te maak met my oupa: Koos Kombuis gesels oor voorvadergeeste, Afrikaanse resensies en RSG
Deur die tonnel van twyfel: Waarom Kombuis hom nie as Christen beskou nie
Postkoloniale leierskap? Die uitdagings vir ’n nuwe geslag teoloë



Kommentaar
Ek dink dat soveel teoloë probeer het om dikwels poësie, prosa en vertellinge met lang relase en redenasies te verklaar. Volgens die nuutste Afrikaanse 2022 gepubliseerde vertaling van die bybel, is selfs Genesis deur priesters geskryf in Jerusalem, prosa is. Bv "kom laat Ons die mens skape na God se beeld". Dan Jesus as menslike weergawe van God op aarde. Daarna Petrus en Paulus se kerkbriewe. Openbaring as Johannes se kerkbriewe aan die gemeente in Rome in kodetaal, omdat hul vervolg was. 'n Ethnos kultuur in konstante sosiale aanpassing?
Dankie Koos,
Ek moet nou hierdie boek gaan lees, soveel vrae kom na vore, een van hulle stel jy mooi duidelik: "Hoe versoen jy sy uitspraak van “betaal aan die keiser wat die keiser toekom” met anti-Romeinse aktivisme?"
Om dit te antwoord moet mens onthou dat Jesus nie die boeke oor Jesus geskryf het nie.
Daar is nou al so baie Jesusse. Selfs in die Bybel al. Maar die Jesus van Johannes is ‘n baie interessante Jesus, mens sou sweer dááí Jesus was al Romein.
Maar die Jode was in daardie jare in oorlog was met die Romeine. Volgens die geskiedenis geskryf deur Josephus in “The war of the Jews”, ‘n ontsettend geweldadige oorlog.
Pontius Pilates het egter sy bes probeer om Jesus vry te laat (Johannes 19:12 - 15) maar dit was die Jode wat aangedring het dat Jesus gekruisig moet word. “Ons het nie ‘n koning nie, ons het net die keiser.” Watter Jood verraai sy god so maklik om die keiser as oppergesag te aanvaar? Geen ware Jood nie, slegs die tipe denkbeeldige Jood wat deur Romeine uitgedink is. Dis mos fake nuus. Oor Jesus. Deur die Romeine uitgedink en deur die Rooms Katolieke kerk verkondig die wye wêreld in.
Maar dankie vir jou wonderlike lesersindruk, dit prik my soveel dat ek dadelik die boek in my hande wil hê. Maar jinne ek sal graag met jou wil verder gesels oor al die vrae wat jy opper, want dis vir my vrek interessant.
Daar is betekenis te vind in vele dinge wat religie van die mensdom gekaap het en in hul geskrifte ingesluit het. Ons hoef nie daardie leemte te aanvaar nie, want ons verloor slegs die toor-toor aspek van religie, maar nie die mooi verhale en lewenslesse nie.
Ek voel vir elke storie wat werklik gebeur het, het 7 duisend monde die storie bietjie oorvertaal en aangedik en die wonderwerke meer wonderlik laat klink. Maar daar was 'n oorspronklike waarheid, en nou is ons nader aan die waarheid, en dit is vir my die wins.
Die leemte is 'n eksistensiële angs, maar religie is maar 'n illusie wat ons nie werklik teen daardie angs beskerm nie. Ons moet almal die die reg gee om te glo. Die Rubicon is oorgesteek. Ons het geproe aan die boom van kennis van goed en kwaad.
Liefde
Riku
Koos, dankie vir jou perspektief. Ek sien uit na hierdie boek.
Ten opsigte van Jesus. Daar is, soos jy weet, so baie boeke oor Jesus al geskryf, dat een leeftyd nie genoeg is om hulle almal te lees nie. Ek het wel 'n hele klomp boeke oor Jesus gelees, insluitend Izak Spangenberg se eie boek. Daar is by my weinig twyfel dat Jesus werklik bestaan het. Dit is nie eintlik 'n kwessie nie. Ek noem dit na aanleiding van jou opmerking oor die "historiese Jesus". Maar ek dink dis veiliger om te stel dat die verhale in die Bybel, is los en vas op historiese karakters gebasseer. Die klem val hier op 'verhale'. Alhoewel die evangelies as 'n soort biografie van Jesus opgestel is, is dit gladnie wetenskaplik ontwikkelde geskiedskrywing nie. Izak is korrek in sy interpretasie van Jesus en sy interpretasie strook ook met die van byvoorbeeld Bart Erhman. Die Bybel dokumenteer nie veel van Jesus, die anti-Roomse aktivis nie. Maar dit skemer tog deur. Mens moet in ag neem dat die skrywers vir Jesus so gepoets het, om hom meer aanneemlik vir Rome te maak. Jesus is nie verniet gekruisig as die "koning van die Jode" nie. In een deel in Lukas 22, beveel Jesus selfs vir sy dissipels om swaarde te koop. Mens moet altyd die konsep van messias in gedagte hou waar Jesus ter sprake is. Jesus is die Joodse messias. Sy rol is om sy mense te bevry. Hy waarsku dus vriend en vyand dat God binnekort 'n nuwe koninkryk gaan vestig. Dat hulle moet 'bekeer'. Presies hoe die koningkryk sou gebeur, was nie so belangrik vir Jesus en sy volgelinge, as dat dit sou gebeur nie. Dit sou waarskynlik merendeels deur direkte goddelike ingryping plaasvind. Maar God kon dalk ook mense gebruik in die verstiging van so koninkryk. So swaarde is nie so slegte plan nie. Net vir ingeval. Hierdie was ook die boodskap van Johannes die Doper. Naamlik dat die koninkryk van God baie naby is.
Die evangelies is egter eers baie jare later geskryf. Ten minste na die verwoesting van die tempel. Dit is hoekom Jesus uitgebeeld word as sou hy daardie verwoesting voorspel het. Mens kan dus sien dat die figure op historiese karakters gebou was, maar die historiese feite self is baie verdag en die Bybel is eintlik maar een groot mengsel van feit en fiksie, waaruit ons baie min kan leer van wie Jesus
Die kerke sal hulle nie veel steur aan die boek van Izak nie. Die feite is egter reeds baie wel bekend onder historici. Maar word nie in die kerke aanvaar nie. Die waarde sal wees vir nuuskieriges, soekers, mense wat agter die kap van die byl wil kom.
Ek wil graag reageer op Koos se resensie van Sakkie Spangenberg se onlangse boek.
Koos het self nie te lank terug nie 'n boek geskryf waarin hy sy eie pad met (uit) geloof beskryf het, en dat hy eindelik die 'lig' gesien het aan die einde van 'n donker tonnel. Koos se boek neem lesers inderdaad deur 'n donker worsteling van post-religieuse twyfel en onsekerheid en eksperimente met 'n verskeidenheid van alternatiewe spiritualiteite. En omdat Koos op die verkeerde plek bly soek het, neem hy sy leser hoofstuk na hoofstuk van een mislukte spiritualiteit na die ander, tot Koos aan die einde 'n ervaring vind waarna hy nog al die tyd gesoek het, en dit as die 'lig' aan die einde van die tonnel voorhou: terug na 'n religieuse vorm van geloof.
Iets van hierdie mislukkings en soeke na nuwe integrasie slaan ook deur in Koos se opmerking oor Sakkie se boek. Koos is moeg om te hoor hoe die religieuse 'afgetakel' word. Hy wil graag iets lees wat weer opbou. Ek vermoed Koos het met al sy eie soeke na 'n nuwe spiritualiteit begin veronderstel dat die 'leemte' wat hy 'gevul' wil sien, alleen deur 'n mistieke of spirituele ervaring gevul kan word. Indien ek Koos hierin korrek verstaan, misverstaan hy nie alleen die sekulêre en humanistiese denkwyses van Sakkie se boek nie; maar ook van 'n meer sekulêre Christendom wat al vir sowat 100 jaar aan die ontwikkel is: ek dink aan Bonhoeffer wat al amper 100 jaar gelede religieuse waarhede op nie-religieuse wyse wou formuleer; ek dink aan Bultmann se ontmitologisering program om religieuse waarhede in moderne taal te formuleer; en aan Paul Tillich se uitspraak van 'n "ultimate concern" - 'n sekulêre definisie van geloof. Skynbaar gaan hierdie lang geskiedenis van interpretasie by Koos verby, en hy is ontsteld as hy Sakkie lees asof Sakkie die eerste persoon is wat die Christendom nou kom 'afbreek', die Christelike mure uit die bloute wil kom omskop. Die Christendom is al van sy eie ontstaan gewikkel in 'n hermeneutiese stryd om te formuleer wat die Christus-gebeure vir die hede beteken: (a) om 'n kern van gebeure om Jesus vn Nasaret as histories te aanvaar; en (b) om "Die Christus" relevant te beskou vir vandag. Koos se frustrasie met Sakkie se boek laat die indruk dat Koos eintlik nie hierdie dinamiek begryp nie. Koos se eie soeke en mislukte pogings na 'n mistieke spiritualiteit kon hom nie help om 'n nuwe post-religieuse identiteit te vorm, om sekulêr en gelukkig en vervuld te leef sonder religie nie.
Daaar is egter ook sekulêre alternatiewe. Die filosoof en predikant Anton van Niekerk het 'n paar jaar glede 'n boek geskryf oor die dood waarin Anton die hiernamaals as 'n werkbare Christelike dogma skrap. Van Niekerk skaf nie die Christendom af nie. Hy kom egter by 'n ander tipe geloof as die Ortodokse geloof waarmee baie Afrikaners grootgeword het en mee vertroud is. Van Niekerk verwys na 'n boek deur Martin Hägglund, "This life" wat vir mense soos Koos wat 'n 'opbou' soek uit al die 'afbreek', kan help. Hägglund se standpunt is dat die sekulêre denkwyse 'n beter lewensstyl lewer, meer konsekwente lewe en vervulde, gelukkige lewe, as om dit in religieuse geloof te soek. Ons eindigheid, die feit dat ons geen ewige lewe het om na uit te sien nie, maak juis hierdie lewe sinvol, is sy argument. As Koos sê hy wag nog vir 'n skrywer wat opbou en nie afbreek nie; kan hy by Hägglund begin lees.
Moet 'n resensie / lesersindruk nie effe meer as Koos s'n van die substantiewe inhoud van 'n boek saamvat nie? Is "Spangenberg [beweer] dat die historiese Jesus, indien daar so iemand bestaan het, weinig meer was as ’n politieke aktivis, ’n eerste-eeuse rolspeler wat die Israelse volk wou bevry van Romeinse politieke oorheersing" voldoende opsomming? Of het ek te vinnig gelees?
Die boek waarna Willem verwys is "Die dood en die sin van die lewe" (Tafelberg 2017).
Baie ander mans met die naam Jesus het ook in daardie tyd bestaan en rondgegaan en gepraat, want die Romeine was ook 'n spul kakkerds. Mens kan g'n ander inval en onderdruk nie, dit is duidelik deur die eeue. Mense skop terug en noem hulle kinders Prince en Jesus en Morningstar.
Jesus was ongeletterd en het f*ol nagelaat. Kon nie eers sy naam kerf op 'n klip nie.
Geprate woorde het verander in die winde wat mense afgeblaas het en dan het die geletterdes 'n field day gehad om dit alles hoogs kreatiefs op te lig en voort te stuur oppie wind, soos Ian McEwan skryf: "It lifted them up to high above the counter."
Oeps. In elk geval...
Pragtig hier bo verwoord deur al hierdie helderdenkende breine. En daar kom darem in Januarie so skippie in vir my en gaan ek al hierdie boeke bestel, want hoe gelowe ontwikkel het, is inderdaad ja, vrek interessant.
Liefde omgee deernis
Altyd An.
Die mens se onderbewussyn bly soek maar na die onverborgemaking van die syn, na die sin, die betekenis, die onderliggende samehang van dinge, 'n uitdrukking, 'n openbaring van iets meer as net die konkrete. Die opwindende resente natuurwetenskaplike waarnemings plaas die “God-hipotese” (Stephen C Meyer), weer vierkant op die tafel, en 'n indiepte filosofies-psigologiese lees van antieke geskrifte, soos die Bybel, open nuwe vistas van verstaan. 'n Mens voel aan dat nederigheid en 'n oop ontvanklikheid om vorentoe dalk opnuut verras en uitgedaag te mag word, die gepaste geesteshouding is. Soms weet ons nie dat ons nie alles weet nie.