Die nag van die lang snorre

  • 6

Dit voel soos nou die dag, maar eintlik was dit ’n hele klompie jare gelede.

Die plek? ’n Klein teatertjie iewers in Durbanville. Die geleentheid? ’n Paar Afrikaanse liedjieskrywers wat hul talente ten toon stel voor ’n semi-apatiese gehoor.

Backstage is ek ingetrek by ’n private gesprek. Ek dink dit was tussen my en Abel Kraamsaal. Ons was besig om te luister na ons medemusikant, Riku Lätti, wat besig was om ’n paar liedjies te sing.

Die kleinerige gehoor was nie so ontvanklik vir Riku se liedjies soos wat ons verwag het hulle sou wees nie. Hulle het hoflik hande geklap ná elke song, maar daar was geen geesdriftige “oe’s” en “aa’s” nie.

Ek dink dit was Abel wat die versugting uitgespreek het: “Wanneer gaan mense eendag Riku se musiek ontdek? Wanneer gaan hy regtig famous raak?”

Hoewel Riku deesdae effens meer bekend is, het die algemene publiek hom nog nie regtig ontdek nie. Hy was nog nooit op Die Huisgenoot se voorblad nie en hy is, sover ek weet, nog nooit genooi om ’n duet te doen saam met Corlea nie.

’n Paar maande gelede het dinge egter verander. Dit het begin lyk asof Riku uiteindelik die hoofstroom-erkenning sou kry wat ons almal geweet het hy verdien. Naledi-uitgewers besluit om ’n bundel uit te gee van sy poësie.

Toe ek hoor van die boek, was ek baie opgewonde en het vir Riku gevra: “Stuur vir my die manuskrip, kan ek kyk daarna?” 

So het Riku se digbundel in my inbox beland etlike weke voor dit as gedrukte boek die winkelrakke sou tref.

Ek was verras deur die kompleksiteit van die lywige bundel en het aangebied om ’n sinnetjie te skryf wat hulle sou kon gebruik vir bemarking. Ek kan nie nou onthou presies wat ek geskryf het nie, maar ek onthou ek het onder andere die woord monumentaal gebruik.

Toe die bundel verskyn was daar, benewens my shout-out op die buiteblad, ook enkele ander ewe geesdriftige aanhalings van bekende mense.

Dit het gelyk asof die bundel Taboek bestem is vir die hoogste louere.

Toe ’n Afrikaanse koerant my boonop kort daarna kontak en my versoek om ’n volledige resensie oor Riku se bundel te doen, het ek aanvanklik geesdriftig “ja” gesê.

Maar toe dink ek weer daaroor. Was ek regtig die aangewese ou om ’n resensie van Taboek te doen? Dit, nadat ek alreeds my stuiwer in die armbeurs gegooi het deur ietsie op die buiteblad te sê? Is dit nie tyd nie, het ek my afgevra, vir iemand meer gekwalifiseerd as ek, iemand heel buite ons klein vriendekringetjie van sogenaamde “alternatiewes”, om die bundel werklik professioneel op te weeg?

Ek besluit toe dat ek eerder nie Riku se bundel wil resenseer nie, maar eerder sou kyk of Netwerk24 dalk ’n meer gekwalifiseerde kenner kon kry om ’n onafhanklike en waarlik belese opinie te gee.

Enkele weke later verskyn daar toe ook ’n resensie in die Afrikaanse Sondagpers. Dit was egter nie wat ek verwag het nie. Mellet Moll se oordeel oor Taboek was negatief en snydend.

My eerste reaksie was een van woede. Wie dink Mellet Moll is hy, met sy Salvador Dalí-snor en sy kaalgeskeerde kop? Is hy dalk Nataniël se evil twin?

Ironies genoeg, reageer Riku self sonder enige woede teenoor die resensent, maar plaas bloot die link op Facebook, naas aan een van sy eie gedigte.

Nie almal hanteer Moll met soveel grasie nie. Enkele dae later verskyn daar op LitNet ’n striemende stuk kritiek op Moll se resensie deur ene Crito, die sogenaamde “resensie-resensent”.

Aanvanklik is ek baie bly oor Crito se stuk. Ek het immers nog altyd baie van sy meningstukke gehou; dit is altyd onderhoudend geskryf en soms nogal snaaks.

Terloops, natuurlik is niemand veronderstel om te weet wie is Crito nie. Op die prentjie wat LitNet altyd van hom plaas, verskyn hy egter met amper so ’n erge woeste weglê-snor soos Moll s’n.

Al is Crito se snor effens kleiner, is sy negatiewe reaksie op Moll se reaksie baie skerp.

Van daardie oomblik af is die hel behoorlik los tussen die verskillende snorre. Moll reageer met etlike woedende replieke op sosiale media. Argumente grens aan die absurde, soos die (teen hierdie tyd voorspelbare) bespiegelinge oor die ware identiteit van Crito.

Goeiste! Wat de hel het Crito se identiteit te doen met die kwaliteit, al dan nie, van Riku Lätti se digbundel? Of Crito nou Kerneels Breytenbach is, soos iemand op Instagram beweer, of Dan Roodt is, of – kan dit wees? – Annelie Botes is, wat de hel maak dit saak?

Toe, meteens, lyk dit vir ’n oomblik asof alles verby is. Crito se aanval op Moll verdwyn van LitNet se webwerf. En wanneer ek op Netwerk24 soek na Moll se oorspronklike resensie van Taboek, vind ek ook skielik niks nie.

Is die strydbyle begrawe? Waaroor was die hele bohaai?

Enkele dae later, toe Jean Oosthuizen – wat ook vroeër ’n lesersindruk van Taboek (heel positief) op LitNet gepubliseer het – ook al hoe meer toetree tot die woordewisseling, het die getjommel van voor af posgevat. Meteens lyk dit soos een van die lelikste gevegte ooit in die Afrikaanse letterkunde, hoewel min mense nou meer kan uitmaak waaroor alles gaan of hoekom almal so die moer in is.

Om terug te keer na die oorspronklike geskil tussen Crito en Moll: Kan ’n mens iets leer uit hierdie onaangename moddergooiery? Wie was reg en wie was verkeerd?

My aanvanklike negatiewe reaksie op Mellet Moll se resensie, besef ek wel later, was dalk ’n bietjie irrasioneel. Is dit nie presies waarvoor ek gehoop het toe ek self geweier het om Taboek te resenseer nie? Natuurlik! Ek het juis gehoop op ’n onafhanklike mening! En dis presies wat ons gekry het! Mellet Moll het immers nie op daardie stadium ’n persoonlike aanval op Lätti geloods nie. Hy het slegs sy opinie uitgespreek oor Lätti se bundel. Dit is sy volste reg.

Of ons nou met hom saamstem of nie en of ons fans is van sy snor of nie, Mellet Moll se resensie in Rapport verdien ons respek. Nie soseer oor sy opinie nie, maar omdat hy die moed gehad het om met soveel oortuiging op te staan vir dit wat hy geglo het, al was dit kontroversieel.

Bewaar ons van die ongesonde situasie waar ons groepie “alternatiewes” – die sogenaamde “cool” ouens, die buitestaanders en pelle van Riku – alle objektiewe of akademies-georiënteerde kritiek op werk wat deur ons gelewer word, afmaak as die gebabbel van ’n klomp letterkundige snobs.

Having said that, bewaar ons ook van die situasie waar ’n klein groepie akademici hulself aanstel as sogenaamde “hekwagters” (ek dink dit was Crito se woord) om in hul akademiese isolasie te besluit watter digters gekanoniseer moet word as “pedigree”-woordkunstenaars en watter digters liewer in die agterplaas moet bly speel.

Ons het mekaar nodig. Ons het almal se opinies nodig. En om ’n klomp akademiese kwalifikasies te hê, soos Mellet Moll, kan sekerlik net ’n aanwins wees. Aan die ander kant kan mens seker ook wonder: Het iemand regtig ’n doktorsgraad in letterkunde nodig om te weet “Winternag” van Eugène Marais is ’n grootse gedig?

My eintlike vraag bly egter onbeantwoord. Is Taboek ’n goeie boek of nie? Wat my betref, ek weet ek het die boek geniet, maar verdien dit literêre akkolades en respek, of is dit net ’n gebrabbel?

In kort: Is dit poësie?

Dalk kort ons derde of selfs vierde opinies, opinies van mense wat nie betrokke was by hierdie getjommel nie. Liefs iemand wat nie gereeld bier drink saam met my of Jean Oosthuizen nie, of dan ten minste mense sonder snorre ...

  • Foto: Izak de Vries
  • Skets: Koos Kombuis
  • Snorre: Gitti Lohr | Pixabay
  • 6

Kommentaar

  • Ja, die hele wêreld word stil, en luister in die donker uur na die naggeluide van snorre en papier.

    Dankie Koos. Uiteindelik het iemand na die midde gesoek sonder om persoonlik te raak.

  • Toe gisternag al drie dae lank aanhou, langer as enige snor, wonder ek omstreeks 3:55 of ek gou Crito se identiteit sal uitpluis. [Killing time.]

    My KI-botjie kan fluks uitkyk vir 'n paar merkers ... terloops, só het ek al menige familie-Kersvader ontbloot. Maar helaas, dit is die ou kindertjies wat altyd daaronder ly en wat se genot is daar werklik op my oudag te put uit so 'n ontbloting. 'n Leë oorwinning. Die Holklinkende gebaar van 'n muis aan die groot klok hang.

    Oi.

    Toe dink ek: statistiese doeleindes.

    'n Kersmoeder. Of. Nie. Sonder 'n baard is daar min wegkruipplek. Vrou alleen met soveel sondebokke wat jou lewer vergal ... kom sit hier op my skoot, was jy literêr genoeg vanjaar en wat wil jy vir Kersfees resenseer? (Hier is 'n lys van my resensies van resensente vir die jaar. Jitte ja, kyk net hoe vrygewig raak ek gedurende die laaste semester ...)

    M'm.

  • Jean Oosthuizen

    Dankie Koos. Daar is darem alreeds ʼn derde opinie ook oor Taboek deur iemand wat nie gereeld bier drink saam met my of Koos Kombuis of die skrywer van die boek nie, en sonder ʼn snor is.

    Bester Meyer se resensie op LitNet by die skakel hier onder het verskyn nog voordat die storm in die teekoppie losgebars het. Ek dink dit is hoe ʼn goeie resensie behoort te lyk. Hy het duidelik moeite gedoen om Taboek te lees.

    Hy ontleed die inhoud krities en laat dit dan aan die leser oor om sy eie besluit te neem sonder om neerhalende en persoonlik kwetsende kommentaar te lewer wat niks met die inhoud te make het nie.

    https://www.litnet.co.za/taboek-deur-riku-latti-n-lesersindruk/

  • Tov vorige kommentaar hierbo: daar is 'n verskil tussen literêre kritiek deur 'n resensent wat aangewys is deur die literêre media en gegrond is op literêre teorie; en 'n lesersindruk wat soos hierbo genoem eintlik net 'n "opinie" is, deur 'n persoon wat bande met die betrokke uitgewer het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top