Heks deur Dibi Breytenbach: ’n resensie

  • 0

Boekomslag: Queillerie

Heks
Dibi Breytenbach
Queillerie

ISBN: 9780795802836


“There is a little witch in all of us, waiting to be set free.” – Roald Dahl, The witches (1983)

“The witch is merely a symbol of your own fears and desires.” – Terry Pratchett, Witches abroad (1991)

“A witch is a woman who emerges from deep within herself.” – Laurie Cabot, The witch in every woman (1997)

“Every woman is a witch when she taps into her intuition.” – Phyllis Curott, Book of shadows (1998)

“A witch is a rebel who challenges societal norms and embraces her own path.” – Lisa Lister, Witch (2017)

...........
Sewe puik misdaadromans later is Dibi Breytenbach reg om haar Heks met die wêreld te deel. Maar is ons plaaslike lesers, ons troebel literêre poeletjie, reg vir Heks?
............

Sewe puik misdaadromans later is Dibi Breytenbach reg om haar Heks met die wêreld te deel. Maar is ons plaaslike lesers, ons troebel literêre poeletjie, reg vir Heks?

Die woord heks, veral in die konteks van die Vierde Golf van feminisme, is ’n elastiese term, een wat kan verbreed en vernou, en eerder ’n innerlike soort towerkrag vergestalt as wat dit bloot ’n vloek of belediging is wat (steeds) uit sommige mans se monde kom. Breytenbach die krimiskrywer stel die afgelope klompie jare deur haar fiksie ondersoek in na wat in die grys gebiede tussen wit en swart, reg en verkeerd, taboe en konvensionele moraliteit uitspeel: hoe mense mekaar sien, misken, etiketteer, en hoe geweld beide oorsaak en gevolg kan wees.

Heeltyd kom jy onder die indruk dat Breytenbach nie bloot ’n spanningsverhaalskrywer is nie (sy skryf beslis nie speurverhale nie) en dat hier eerder ’n soort kosmiese ondersoek aan die uitspeel is. Die publikasie van Heks, ’n ietwat omstrede, witwarm verhoudingsroman wat lag in die gesig van enige benouende beskrywing of genreboksies, bevestig Breytenbach se status as uitskieter, fyn waarnemer en skrander denker.

Heks bevat ook, soos daardie ander uitskieter in die oeuvre van Meester Meyer, Koors, van die mooiste sinne en paragrawe wat die skrywer tot nou toe kon neerpen. Dis g’n toeval dat die sonneblomme van die Oekraïne, so ’n kragtige simbool van skoonheid, hoop en oorlewing te midde van ontsetting, verskrikking en verlies, so prominent op die voor- en agterplat van Heks pryk nie.

In Heks beskerm die verteller, deesdae vryskutskrywer, maar met ervaring as dosent en belangstelling in klassieke mitologie en sprokies, en ook alledaags genoeg om enige moderne vrou te kon wees, die identiteit van haar man en haar minnaar. Haar man is G, ’n ironiese voorletter vir iemand wat deurlopend veels te min gee en bied, maar nou ja, dis sy voorletter. En die ander man is M – vir Minnaar.

En die verteller? Sy dra vele donker mantels, Owerspel wat skynbaar vir haar voorop staan. Die verteller en heldin van hierdie verhaal – is dit ’n moderne sprokie? – het jonk getrou met G toe hulle gedink het sy is swanger, en baie jare later ontmoet sy vir M wanneer sy ’n brosjure vir sy batebestuurmaatskappy skryf.

Die verteller is die skarlakenvrou, die skandelike, draer van die skandvlek. Haar verhoudings met G in die huwelik en met M buite-egtelik verteenwoordig twee teenpole: Met G – self ’n vorige verneuker, toenemend halsstarrig en onbeskof, soms ten beste heel kortaf en onsmaaklik en toenemend meer weg van die huis – is die lewe saai, grys, voorspelbaar en futloos, sonder vonk en inspirasie, sonder warmte en intimiteit, ’n huwelik vol niksheid.

Haar verhouding met M, die wêreldreisiger en sakeman, is weer tot oorlopens toe vol, passievol, betrokke, vol liefde, vol lus en liefdemaak, vol diepte, woorde en pogings tot verstaan en ware gemeenskap. Hy sien haar en sy sien hom. Sy besef dat haar huwelik nie gered kan word nie, en besef ook terdeë dat M steeds ’n getroude man is.

M is wel nie perfek nie; hy is ’n “realis”, word nie weggevoer en opgesweep deur sake van die dag of emosie nie, en is uiters pragmaties. Hy is ’n rustige bergstroom teenoor haar bruisende en warm poel. Sy is sy “habibi”; sy pasmaat.

Hier is die stem wat luidkeels dawer en wat weier om stilgemaak te word. Soms ’n hees gekrap, soms bloot ’n fluistering, soms een stem met die krag en mag van ’n duisendskaar.

............
Heks vra gedurig, bowenal oor die koste van agentskap, van iets doen, wat is die prys wat ons betaal om nie iets te doen nie, bloot te staan en kyk, of om ons koppe in skaamte te laat sak of weg te draai?
............

Heks vra gedurig, bowenal oor die koste van agentskap, van iets doen, wat is die prys wat ons betaal om nie iets te doen nie, bloot te staan en kyk, of om ons koppe in skaamte te laat sak of weg te draai? Ek is nog besig om uit te pluis hoe ek voel oor die roman se skets van sisterhood, van vroue wat saamstaan, met Heks wat nie vir die verteller ’n reuse aantal hegte vroulike vriendskappe gun nie en die hoofkarakter taamlik isoleer en in die wêreld van boeke en die verbeelding laat lewe.

In Heks is daar ’n menigte vorme van oorlog wat gevoer word: benewens die oorlog in Oekraïne wat in die agtergrond voortspeel en deel vorm van die tekstuur van die vertelling, die oorlog teenoor vroue wat reeds so oud is soos tyd en wat steeds op allerlei eksplisiete en minder sigbare, veral strukturele wyses uitspeel, ook in die veld van skoonheidsprodukte en grimering, op die liggame en gesigte van vroue en ook selfs jong meisies en ook mans (hier kom die frase “what nourishes me also destroys me” ter sprake), geweld teen vroue soos beleef deur die verteller se moeder en miljoene ander vroue, en die “silent killer” van “tradisie”, van verwagtinge en kulturele norme wat voorskryf wat en hoe om te wees.

Heks skryf in teen konserwatiewe moraliteit maar ook die nihilisme; die roman kies kant teen neutraliteit en onbetrokkenheid en anderpad kyk.

Ek kan nie namens ander (veral vroulike) lesers praat nie, maar ek het die kombinasie van sprokies en mitologie, die kartering van ’n verbrokkelende huwelik, indringende kommentaar oor oudword, die liggaam, ons soeke na sin en gemeenskap en liefde en ons betrokkenheid of afsydigheid/toeskouerskap as wêreldburgers vreeslik prikkelend en onderhoudend gevind.

Die bekoring van die “onaanvaarbare” of “verbode” liefde, verkeerd maar so reg, en die storm wat naderhand woed rondom die giftige kosmetiek van Red Storm, is storielyne wat mekaar slim aanvul en eggo. Is die gewete ’n giftige bestanddeel in die skoonheidsbedryf? Het enigiemand in die politiek ooit edele motiewe of ’n skoon gewete? Kan ons bloot tot ons laagste, mees brutale en verwoestende impulse gereduseer word? Hier is verskeie bitter pille om oor die mensdom te sluk.

Ek sou ’n hele essay kon skryf oor hoe Breytenbach verhelder oor die liggaam, die erotiese, die “battle of the sexes”, die oorlog tuis – langs die kombuistafel, in die badkamer en tussen die lakens – en veral hoe vroue die norme van die samelewing in ’n gegewe tydgleuf of oomblik internaliseer, daarteen rebelleer of moontlikhede toets.

Ek laat dit aan meer bekwame ontleders oor, maar wil wel noem dat Breytenbach eerder op intimiteit en die erotiek ingestel is as om bloot oor seks en begeerte te skry. Baie deernisvol en nie sonder die nodige hitte en vonk nie skryf sy oor die intimiteit tussen ouer wordende liggame wat steeds geliefkoos wil word en geliefd wil voel. En die skrywer weet alte goed dat die liggaam, die lyf, altyd ’n ruimte is waar daar onderhandel word en magspele uitspeel. Daar is net soveel humor as intensiteit en erns betrokke; alles verloop nie altyd volgens plan nie – soms verraai jou lyf jou.

Die eie liggaam en die liggaam van die ander is ’n toevlugsoord, ’n oorlogsone of ’n strafkamp, soms al drie en nog meer. The body keeps the score. The body keeps the score.

Heksemoed het verskeie gedaantes in hierdie soms speelse, soms woedende teks. En hierdie moed, hierdie durf, is soms moedswillig en aspris, soms bloot ’n middelvinger aan die maatskappy, die man of groep mans, die maatskaplike orde, die hele boksemdais – ieder en elk wat durf om vroue te misbruik, te onderskat, onderdanig te probeer maak, te manipuleer, en veral te probeer beheer en indoktrineer. Soms is heksemoed die durf om jou hele lewe deur een of twee ontsettend moeilike keuses te verander. Soms is heksemoed die keuse, willens en wetens, om nie te doen, te wees, te word wat ander wil hê en van jou verwag nie. Soms is heksemoed die moed om jou eie pad te stap, jou eie mens te wees, en nie in te koop op wat ander voel jy is of waartoe jy beperk is nie. Heksemoed is om te glimlag en te grynslag vir verandering, vir die onsekere, omdat dit jou nie kan breek of begrawe nie.

Kennis is mag in Heks, en herhaaldelik word daar ’n pleidooi teen bloot transaksionele verhoudings gelewer wat die menslike en unieke in individue en in verhoudings en assosiasies misken. Maar kennis is ook, veral, ’n komplekse en gevaarlike vrug om te pluk, ’n vrug wat die draer van hierdie kennis kan isoleer, kan vervreem, kan verwond, en kan uitdaag om iets aan ’n verwoestende status quo te doen.

Breytenbach se skrywe is ’n treffende, soepel, besielende en vlot kombinasie van die beskrywende, belewende, besinnende. Die roman bring ’n wavrag navorsing na die vertelling – funksioneel aanmekaargesit, tersaaklik, aangrypend en gepas, dig verweef en met baie om aan te herkou – om aan die helder prentjie konstant verdere diepte en dimensie te verleen.

Soos ook met haar misdaadromans, boeke wat minder op resep en formule staatmaak en nog al die pad vir my iets fantasties en liries aan hulle het, is daar ’n bepaalde loslittigheid, ’n deurleefdheid, ’n volkome gemak in en met woorde, ’n omarming van woorde se sensuele, gelade plofbaarheid en plooibaarheid, maar ook die stiltes tussen woorde. Daar is die illusie van die natuurlike, die noodwendigheid wat op papier neerslag vind, ’n menigte gemoedstoestande en emosies en iets van die onverklaarbare, onsigbare, onmeetbare wonder van die kosmos wat georden word op papier.

Sommige lesers vind ’n vlak van veiligheid, van berusting, van die bekende, in die grense en beperkings van genre; so is dit altyd makliker vir die skrywer om aan die leser se verwagtinge te voldoen wat nie ’n ongewenste “meer” wil kry as wat hy of sy wou gehad het nie.

Ek staan weer gereeld met albei bene in die ander kamp: Gee vir my berekende risiko’s, gee vir my die storie wat nie te maklik in een of ander genreboksie pas nie – mits elk van die onderliggende storie-elemente en die kombinasie van fokuspunte en temas mekaar komplementeer en die finale produk iets interessanter, meer lewendig en moontlik selfs meer onpeilbaar maak.

Moet ook nie mis lees hoeveel Heks te sê het spesifiek oor die patriargie nie; hoe die sisteem nie slegs vroue benadeel, afbreek, verniel en ontmagtig nie, maar ook presies dieselfde doen aan en met mans. Daar is absoluut niks “natuurliks” aan die “sterk” en dominante man wat geen greintjie empatie het, emosie wil of kan wys nie, en die sagter, sensitiewe, feilbare kant van homself (moet) onderdruk of weg wens nie. Die “sterk” man is ’n kulturele en psigososiale konstruk en mite wat oor baie, baie tyd momentum opgebou het en neerslag kon vind – en wat veral in tye van onstuimigheid en onsekerheid opnuut ’n houvas kry op mans. En heelwat vroue.

Soos Heks die grense ophef tussen liefdesverhaal, romanse, moderne besinning oor die mitologie (en eintlik die narratologie of vertelkunde), en opvattings oor vroue, vroulikheid en vroueregte onder die loep neem, is die skrywer ook besig met ’n bestekopname of inventaris van verskillende opvattings oor dit wat taboe of grensoorskrydend of onaanvaarbaar of ongewens is.

Hoe lyk die moderne verligte vrou? Hoe lyk die moderne, verligte man? Hoe presies het oorlog – sommer regstreeks vir jou gebeeldsend op jou foon, tablet, skootrekenaar of TV – so onlosmaaklik deel van ons wêreld, ons bewussyn, ons verworde menswees geword? Is ons nou meer of minder geraak, meer of minder empaties, as wat ons was tydens iets soos die Golfoorlog, toe die beeldsending van ’n oorlog sommige nog tot stilstand kon ruk?

Glo my as ek sê dat Heks ’n onteenseglik politiese roman is: die oorlog in Oekraïne, die afkeer en sinisme jeens politieke leiers soos Wladimir Poetin en Joe Biden, die uiters kritiese blik op skoonheidsmaatskappye en kosmetiese middels wat nie geskik is vir menslike gebruik nie, wat nog te sê van die versengende blik op chauvinistiese, “ouskool” manlikheid.

Die roman se ideologiese beskouing, die feministiese “aanslag” op verskeie vlakke, die gemak en oortuiging waarmee die roman die woord en kategorie van vrou en vrouwees ondersoek en ontluister, getuig van ’n skryfwerk waar die “ernstige” en die “politiese” nie ’n vernislagie bo-oor die “lekkerlees”-boustene van die verhaal vorm nie.

Die roman as genre, as tegnologie-van-verstaan wat steeds bly staan te midde van allerhande tegnologiese vooruitgang, die aandagspan wat krimp en luide verkondigings dat die roman se dae getel is, bly een van die wonderbaarlikste stukke gereedskap wat ons het: As jy kan lees, en herlees, en herlees, en herlees as jy sou wou, kan jy onbepaald en sonder einde na oneindige bestemmings naby en ver reis.

En jy kan so agterkom, en besluit, of jy die geheim wil verklap of nie, dat die woord heks net ’n ander term is vir dit wat nie maklik pas of wil pas nie; vir dit waarvoor ons sinne en paragrawe en selfs boeke eerder as slegs een woord nodig het. Heks is die soort boek wat dalk op een plek en met ’n bepaalde konteks in die agterkop begin, maar jou dan op reis neem na plekke wat donker, diep, en, ja, selfs magies is. Die wonderbaarlike ding van oorlewing; die magiese krag van ’n “eendag was daar ...”.

Hier gee ek aan Heks al die eer: Breytenbach het klaarblyklik doelbewus die boek geskryf wat sy wou, die storie vertel wat sy wou; en die roman kon groei tot iets wat verskillend tot verskillende lesers sal spreek en verskillende gesprekspunte en resonansies sal losmaak in lesers volgens hul eie voorkeure, opvattings en wêreldbeskouings. Ja, die medisyne hier is dalk soms bitter, wrang, met ’n verwoede skeut ironie in die samestelling, maar sluk moet jy sluk.

Heks is veelvlakkig op storievlak, lewendig in die beelding en verbeelding. Intellektueel-filosofies stel dit belang in stories, mites en sprokies en hoe ons voortdurend sin maak van ons liggaamlikheid, ons menslikheid, ons belewenis en verantwoordelikheid as individue en as deel van verskillende gemeenskappe, en die roman belig sonder ophef en met ’n intieme blik hoe ons rituele en tradisies beskou en gebruik om die ondermaanse meer draaglik te maak.

..............
Heks is veelvlakkig op storievlak, lewendig in die beelding en verbeelding. Intellektueel-filosofies stel dit belang in stories, mites en sprokies en hoe ons voortdurend sin maak van ons liggaamlikheid, ons menslikheid, ons belewenis en verantwoordelikheid as individue en as deel van verskillende gemeenskappe, en die roman belig sonder ophef en met ’n intieme blik hoe ons rituele en tradisies beskou en gebruik om die ondermaanse meer draaglik te maak.
...............

Verblydend hoe die teks op die oppervlak gedurig vir die leser ’n groeiende en inklusiewe stel voorbeelde van sprokies en mites oor die gode, hekse, die liefde, oorlog, verlies en oorlewing bied – dit tussen brokkies oor die sleurgrond en treurgrond van die onbetowerende alledaagse soos wasgoed en koskook en stry kry oor wie wat in die huis moet doen as eggenote. Dan, soms subtiel, soms meer eksplisiet, ’n pad vind deur die verteller en die subteks: om nie slegs hierdie “stories” se relevansie en waarheid onder die soeklig te plaas nie, maar voortdurend ’n eie mite van die sterk vrou, die sexy vrou, die vrou wat die patriargie uitdaag en selfs wen, voor te hou.

Heks is nie ’n roman waar ’n mens die skryfwerk self, die nommerpas en selfs uitstaande karakterisering of die waagmoed, durf en woema wil misken nie, maar krities beskou kon die teks tog nog heelwat meer gefokus en gestroop gewees het in sy laaste derde. Hier voel dit soms of die vertelling net effe wil-wil dwaal, asof daar nog mitologie, nog besinning, nog verdere inkleur plaasvind ten koste van ’n aantal uiteindes en intriges wat finaal tot verhaal kom en wat meer effektief en meer beslissend opgelos kon gewees het. Dit sal sommige lesers glad nie pla nie, en doen nie vir my afbreuk aan die krag en bekoorlikheid van die roman nie, maar met die herlees veral is daar ’n verskil te bespeur tussen die dringendheid van veral die eerste twee derdes en die laaste deel van die roman.

Is dit ’n geval van die leser wat soveel belê in die verhaal, soveel gee in terme van omgee en betrokkenheid en gevoel dat ons die moontlikheid van een of twee gelukkige eindes wil najaag en bespoedig? Dit terwyl ons goed weet dat die oorlog in Oekraïne – nou ook aansienlik verskerp in Gaza – geen einde in sig het nie. En dat die mens nooit, ooit oorlog en die hebsug, magsug en soeke na vergelding en bloedvergieting sal kan of wil stopsit nie?

Daar is verskeie afdwaalpaadjies wat ek met die noem van hierdie boeke en skrywers kan volg, maar ek laat dit aan die leser om ’n bietjie verbeelding in te span: Mark Winkler se uitsonderlike The errors of Dr Browne kyk met moderne wysheid na heksejag van die onlangse verlede; Chris Karsten se Man van min belang betrek ook mites en sprokies en skep ruimte vir dialoog oor moraliteit, verantwoordelikheid en vergelding en die rol en verantwoordelikheid van die individu in die verworde samelewing; Kaveh Akbar se Martyr! is ook ’n liefdesverhaal, en verkenning van trauma, die rol van kuns en die kunstenaar en heksejag bloot onder ander name; Erla Diedericks verken met elke boek vrouwees, die patriargie en geweld teen vroue, en wat dit beteken om “sterk” en “anders” en “uitdagend” te wees as vrou; The English patient en The banshees of Inisherin is twee voorbeelde van karakterstudies waar mense tot uiterstes gaan om mekaar te vernietig en te misken, maar ook probeer om lief te hê, met die konteks van oorlog wat baie naby dog in die agtergrond afspeel.

Hierdie opspraakwekkende roman se essensie, sy kern, sy diepste dieptes, is onlosmaaklik deel van ’n groter projek om die innerlike krag van die vrou, en die vryheid van die mens te vier.

Sien Heks dan as ’n lekkerleesboek met ’n kragtige kinkel; ’n moderne fabel waar die boodskap en die boodskapper van belang is, maar wat veel dieper strek as wie die hardste en aanhoudendste kan skree.

Waardering, gewis, vir hoe Didi Breytenbach haar eie grense as skrywer toets en uitdaag – sy was van die eerste oomblik met haar debuut vir my meer as net ’n krimiskrywer; sy was romansier – en vir hoe Heks ook manlike lesers nooi om aan tafel te kom sit en deel te wees van die breedvoerige gesprek oor wat vroue vir ons beteken en kan beteken.

Daar word met reg verwys na Heks as ’n boek met die potensiaal om hierdie generasie se Griet skryf ’n sprokie te word. Leesbaarheid, toeganklikheid, verteerbare kompleksiteit en die betowering van die storie-binne-die-storie: sleutels tot leesgenot en sielsverrukking.

Moet Heks nie misloop nie.

Lees ook:

Almal moet kan vlieg: ’n resensie van Heks deur Dibi Breytenbach

Hoekom is mans bang? In gesprek met Dibi Breytenbach oor Heks

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top