Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Heks
Skrywer: Dibi Breytenbach
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795802836
Ek volg Dibi Breytenbach met vreugde op sosiale media. Ek verlekker my in haar galgehumor. Sy plaas dikwels die soort memes wat ’n mens net vir diegene wat jou baie goed ken, en jy weet vir jou lief sal bly ongeag wat, kan aanstuur.
Aanvanklik het die titel van haar jongste boek my huiwerig gemaak om die boek op my Kerswenslys te sit, maar ná ’n onderhoud wat Ilse Salzwedel op RSG se Skrywers en boeke met Dibi gevoer het, het ek besluit dis ’n besliste wil-lees-boek.
Manlief het die boek aanlyn bestel en kort daarna is dit by die voorhek afgelewer. Eers het die mitologiese insetsels en verwysings na die Oekraïne-Rusland-oorlog my so stuk-stuk laat lees omdat dit vir my oorwegend na nie-fiksie (werk) gevoel het, maar dit was nie lank nie of die skrywer het my in ’n wip gevang.
Ek moes weet wat die hoofkarakter, ’n vryskutskrywer van beroep, in die boek met haar navorsing gaan doen en hoe haar liefdeslewe gaan uitspeel. Boonop is die hoofkarakter, sonder naam, se ontwikkeling baie bevredigend omdat vloermatjie in ’n bedonderde diva verander.
Die boek is in die eerstepersoon geskryf en dis beslis ’n aanwins en toonkrullekkerte om insae in die hoofkarakter se interne dialoog en binnegesprekke te hê. Hierdie juweeltjies sluit haar wroeging en plesier van ’n ongeoorloofde verhouding in.
Derde partye, mitologie, die oorlog in Oekraïne, geslagsgeweld, die vrou se rol in die samelewing en die kosmetiese bedryf se inhaligheid word wonderlik en chronologies in die storielyn verweef.
Motiewe word, danksy visuele beelde, regdeur die boek gedra. As voorbeeld is die gebruik van sonneblomme. Hulle staan langs haar swembad en is volop in Oekraïne. Dan is daar ook die spel tussen haar opdraggewer se materiaal en die oorlog.
As ’n woordliefhebber is dit verblydend en opwindend om onbekende woorde te ontdek en om die woordeboek byderhand te hou. Dit is ook ’n bonus om ’n beter begrip oor die kosmetiese bestanddele op die koop toe te kry.
’n Laaste belydenis: Heks was die eerste Dibi Breytenbach-boek wat ek gelees het en nou is ek begogel om haar vorige sewe, en komende boeke, te verslind.
Lees ook:
Almal moet kan vlieg: ’n resensie van Heks deur Dibi Breytenbach
Hoekom is mans bang? In gesprek met Dibi Breytenbach oor Heks