Confrontation deur Kirsty Steinberg: ’n lesersindruk (Deel 1)

  • 0

 Confrontation deur Kirsty Steinberg (Uitgewer: Naledi)

Confrontation
Kirsty Steinberg
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928530229

Confrontation was vir my as waarderende leser ’n ware konfrontasie met my eie waardes en verstaan van die pyn, konflik en wroeging van iemand met genderdisforie.1 Ek was wel bewus van hierdie verskynsel deur te hoor van vriende en familie se kinders wat hiermee gekonfronteer is, hoe hulle deur hulle familie en die samelewing in die breë met ongevoeligheid veroordeel is waar die algemene publiek van mening is dat hierdie mense die toestand gekies het en dus self die gevolge daarvan moet dra.

Die verteller neem die leser op ’n sensitiewe wyse op ’n reis van intense belewing om empatie te kry met die pynlike emosionele ervarings van hierdie verskynsel van genderdisforie. Deur middel van die hoofkarakter (CJ, die jong seun wie se ouers reeds met sy geboorte besef het daar is iets wat fisiek anders is as by ’n gewone baba – wát dit is word aanvanklik nie vertel nie, maar dit blyk mettertyd vir die leser in die storie) se sintuiglike waarnemings van mense en situasies, verbeeld die ek-verteller die seun se emosionele spanning en verwarring. Die verhaal fokus op sy konfrontasie met sy eie monster van eensaamheid, gevoelens van sy onvermoë om selfstandig en in beheer te wees, sy verlies van onskuld, die ongemaklike interpersoonlike verhoudings wat hy beleef, en hoe hy dit uiteindelik oorkom met die hulp, liefde en simpatieke aanvaarding van familie en vriende. 

Confrontation is ’n verhaal wat psigies-opvoedkundige waarde inhou vir ouers, vriende en familie wat betrokke is by die onbekende wêreld van die emosionele pyn van diegene wat in die worstelstryd van genderdisforie gewikkel is. Ook ander jongmense en volwassenes met hierdie fisieke disharmonie sal kan identifiseer met die ervarings van die hoofkarakter, sy ontwrigting beleef en op ’n nuwe manier daaroor kan dink – om te verstaan.

.....
Hiermee kry die leser insig in ’n veelvlakkige aanbieding van genderdisforie, wat afspeel in die ontvouing van die konflik van ’n karakter se innerlike werklikheid en ontwikkeling van onsekerheid, liefde, verraad en transformasie in die verhaal.
.....

Die voorwoord berei die leser reeds daarop voor dat die skrywer ’n ongewone en intieme geleentheid bied om ’n leeservaring te hê wat verder strek as bloot die feite aangaande genderidentiteit en -disharmonie. Saam met die skrywer loop die leser (wat dapper genoeg is) met ’n gedeelde ervaring van die ek-verteller se reis na die innerlike wêreld van ’n persoon wat as gay gesien en negatief gekategoriseer word. Hiermee kry die leser insig in ’n veelvlakkige aanbieding van genderdisforie, wat afspeel in die ontvouing van die konflik van ’n karakter se innerlike werklikheid en ontwikkeling van onsekerheid, liefde, verraad en transformasie in die verhaal.

Deur die deelname aan die hoofkarakter se estetiese uitbeelding van situasies, mense en ervarings word die leser genooi om sintuiglik deel te neem aan sy sensitiwiteit en die verwoording daarvan in metafore en vergelykings met waarnemings van sien, hoor, proe, ruik en taktiele aanraking. 

Laasgenoemde – en daarmee saam ook die hoofkarakter se begaafdheid met musiek en tekenkuns, en vermoë om op tweejarige ouderdom al vlot te kon praat – verdien op sigself ’n aparte bespreking wat nie deel vorm van my lesersindruk nie. Die ek-verteller se uitbeelding van die hoofkarakter se lewenspad word verhelder deur sy gevoelens, sintuiglike ervarings en intertekstuele verwysings na populêre liedjies, ook Phantom of the opera, wat die karakter se reis vergesel en leefbaar gemaak het. 

’n Memoire wat meer as ’n storie is

Omdat die eerstepersoonsverteller ’n tematiese memoire2 aan die hand van ’n outobiografiese narratief aanbied, is dit waarop my fokus in hierdie skrywe sal val. Die leser kry ’n blik op die hoofkarakter se stryd om emosioneel te oorleef. Deur middel van sy innerlike monoloog kan die leser empaties deel word van die ervarings en ’n begrip van ’n wêreld wat aan die een kant aanvaarding het vir die pynlike fisieke en emosionele omstandighede van mense met genderdisforie en ’n hawe vir hulle bied, en aan die ander kant mense onderwerp aan uitskelwoorde en kinders van hulle portuur se fisiese geweld, afknouery en afkraking. Ook is hulle dikwels die slagoffers van die seksuele molestering deur volwassenes wat nie begelei is om vrede te maak met hulle eie psigiese en fisieke verskynsel nie en hierdie kinders seksueel uitbuit – gewoonlik met die laakbare ondertoon dat dit ’n geheim is.

’n Letterkundige teks

Confrontation kan gesien word as ’n volwaardig letterkundige teks met temas; karakterbeelding; uitbeelding van die tyd en milieu waarin die verhaal afspeel; verhoudings en konflik; gebeure en handelinge wat ontplooi tot ’n veelheid van klimakse en krisisse; en ook aan die einde die ontknoping van die intriges. Ek sal in hierdie skrywe net fokus op die tema van die hoofkarakter se intensiewe innerlike wroeging, verwarring en uiteindelike transformasie.

Hooftema

Die hooftema wat dwarsdeur die verhaal gestalte vind, word heel vroeg vir die leser duidelik wanneer die hoofkarakter ’n gevoel kry dat daar iets gebeur wat hy ’n monster onder sy bed noem (21), waar dit vir hom reeds as kleuter duidelik was dat hy anders is – hy het net nie die woorde gehad om dit te beskryf of te verduidelik nie. 

Die monster is dwarsdeur die verhaal sy metgesel en dit gaan telkens hand aan hand daarmee dat hy oorweldig raak in ’n ongemaklike situasie en dan stres en angstigheid ervaar. Hierdie gevoel kry hy veral wanneer hy dink dat hy nêrens hoort nie omdat mense geneig is om na dinge in terme van negatiewe kategorieë te verwys sodat hulle dit kan etiketteer – iets waarteen hy rebelleer:

Little boxes on the hillside
Little boxes made of ticky-tacky
Little boxes on the hillside
Little boxes all the same ...

I have no box. I did not choose this. (13)

Die gebeure in die verhaal hang ten nouste saam met CJ se bewustheid van die monster onder sy bed – ‘n ontleding daarvan toon hoe die spanning wissel tussen gevoelens van ongemak en gemak, selfbeheer en manipulering deur ander. Telkens wanneer hy die gevoel van depressie as gevolg van tweespalt van sy binnekant ervaar, raak hy bewus daarvan dat die monster ...

  • sy psige wegvreet (14); 
  • hom laat skuldig voel vir sy ouers se gebroke huwelik (46); 
  • veroorsaak dat sy klein bietjie selfvertroue kwyn in sy verhouding met ’n vriend (Jan) wat maak dat hy voel of hy ’n slegte invloed op ander het (73); 
  • ’n tweespalt en verwarring in hom veroorsaak oor sy verhouding met ‘n nuwe vriend: Andries. CJ het Andries se vriendskap nodig en dit maak dat hy veilig voel; alles in hierdie verhouding was so ingewikkeld, terwyl dit eintlik eenvoudig kon wees. CJ voel veiliger as hy alleen gelaat word en hy voel hy is in beheer van homself en situasies (82).

Die gebeure en ervarings van CJ begin positief raak wanneer hy in afwagting vir die ontmoeting met Andries is. CJ voel in beheer en dat dit nou hý is wat die monster vermaak en hom skadeloos maak (84). Hierna het die monster vir ’n ruk minder krag:

  • CJ ontmoet vir Schalk en dit voel of Schalk reguit binne-in hom kyk, in sy hele wese kyk en nie net in sy oë nie. Met Schalk se kitaar in sy hand stap CJ dan saam met hom na die rivierbedding – hulle gesprek raak al dieper en inniger. CJ ervaar dat hy homself begin sien deur Schalk se oë. Allerlei gevoelens wat hy nog nooit ervaar het nie, vloei deur CJ met ‘n sagte aanraking wanneer Schalk hom omhels en daarvan verseker dat hy veilig is by hom (85–87).
  • As CJ saam met Otto in die groepie van wanaangepastes is, voel dit vir hom of hy in sulke omstandighede die monster as bondgenoot aanvaar (110). 
  • Nadat CJ die groep leerders meegevoer het met sy klavierspel waarvoor hulle hom ’n applous gee, kom hy agter dat hy daarvan hou om ’n gehoor te hê. In sy agterkop het hy agtergekom dat iets gebeur – die monster het teruggetrek terwyl CJ gevoel het of hy vlerke gekry het (115).
  • Wanneer Willem reël dat CJ vir Sam (’n ouer man) leer ken is CJ bewus daarvan dat hy in hierdie situasie vir Willem gebruik het en dat dit iets is wat hy self gedoen het – hy het ’n deur oopgemaak en sy monster ingenooi. Al het dit gevoel of die monster op sy skouer sit, was hy seker daarvan dat hy wat CJ is, in beheer was (126);

Dan kom ‘n wending wanneer CJ tuis voel in die Drama-departement van die Universiteit Stellenbosch waar hy in sy studies floreer. Hy besef dat hy die wispelturigheid van sy monster onderskat het – dit was wel makgemaak, maar dit was steeds ’n monster (149):

  • Wanneer CJ romantiese rolle moet vertolk, was al wat hy kon kommunikeer ongemaklike verwarring. Indien hy ’n gay of straight karakter moes uitbeeld, het CJ probleme gehad met intimiteit en kon hy dit nie wegsteek nie. Die lektore het besef dat hy iets wegsteek en hom daaroor aangespreek, al het hulle dit nie verstaan nie. Vir CJ het dit gevoel of die monster alweer piekniek hou (by wyse van spreke) (151). 
  • Toe CJ besluit om ’n mediese prosedure te ondergaan waarin ’n persoon se liggaam na die teenoorgestelde geslag verander word, besef hy dat die monster swaarder was as wat hy gemeen het – dit gebeur omdat hy van sy ouers en vriende onvoorwaardelike aanvaarding beleef. Hy het geweet die monster sal weer terugkom, maar om ander mense te martel, nie vir hom nie (175). 
  • By sy ouers kon hy dapper sy lewe as ’n persoon met ‘n hibridiese gender lewe sonder openbare kritiek – hy kon met selfvertroue in die straat stap asof hy dieselfde as enige ander mens is. Wanneer hy egter in ’n een-tot-een-situasie met mans in kroeë was, kon hy nie verdwyn nie omdat hy is wat hy wou wees, en hy moes net met soortgelyke situasies optree soos wat hulle na vore kom (275).
  • Wanneer hy op ’n dag saam met sy pa staan en oor die see uitkyk, besef hy dat sy pa hom aanvaar. Ook was hy in sy gedagtes bewus van hoe maklik hy hierdie vryheid sou kon verloor omdat sy pa dit dalk moeilik kon vind om vrede te maak daarmee dat hy ’n gebroke kind is. Dan weet hy met sekerheid dat die monster hom vir ’n hele ruk oorgelaat het aan sy eie planne om te oorleef, maar tog nog soos ’n seebries oor sy wang vee – hy het dalk net vir CJ herinner aan hoe ver hy reeds gekom het (275).

Die verhaal bereik ’n klimaks na die prosedure wanneer CJ ’n nuwe naam kry: Esté. Sy besef dat sy vrygekom het van genderdisforie nadat sy die monster wat haar geteister en agtervolg het, laat gaan het. Sy het ’n nuwe naam vir die monster gehad, naamlik “ervaring”. Sy het haar eie vrese in die gesig gestaar en besef dat die pad voor haar nie maklik gaan wees nie – sy moes fisiek herstel na die operasie en vir drie maande absoluut laag lê. Hoewel sy steeds pyn gehad het – veral om te sit – kon sy mettertyd opstaan en begin om stadig te beweeg en te stap.

Slotbeskouing

Die verhaal het vir my die geleentheid gebied om begrip en empatie te hê vir die spanning waarmee mense met genderdisforie worstel. Dit word uiteindelik ’n memoire genoem wat gebaseer is op werklike gebeure en ek kon voortdurend voel hoe die kop, nek en stert van die hoofkarakter se monster onder sy bed en in sy lewe broei.

Hierdie ware lewensverhaal het my laat deelneem aan die hoofkarakter se lewe, pyn, en fisieke en emosionele worsteling – in ’n samelewing met negatiewe voorveronderstellings en veroordelings – en dit het vir my die uiteindelike verligting en transformasie van die hoofkarakter intens laat ervaar. As waarderende leser is ek verryk met meer insig, beter begrip en empatie.

Eindnotas

1 Gender dysphoria is discomfort, unhappiness or distress due to the primary sex characteristics and secondary sex characteristics of one’s sex assigned at birth” (https://en.wikipedia.org/wiki/Dysphoria).

2 https://thewritelife.com/how-to-write-a-memoir/

Lees ook:

New from Naledi: Confrontation by Kirsty Steinberg

Estelle Kruger gesels met Rudi Venter oor ’n Skewe, skurwe sirkel

Om ’n boek te skryf, ’n ontdekkingsreis

Offers vir genade deur Irize Loots: ’n boekbespreking

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top