Offers vir genade deur Irize Loots: ’n boekbespreking

  • 0

Naledi

Offers vir genade
Irize Loots
Naledi
ISBN: 9 781176172849

Offers vir genade staan vir my as waarderende leser uit as ’n boek van hoop. Die boodskap van hoop wat ek daarin lees, is dat genade altyd groter is as gebrokenheid. Want dit is die rede waarom mense iets met baie pyn en verlies moet opoffer – almal is gebroke; almal maak keuses sonder om die gevolge daarvan te besef; sonder om moedswillig te wees soos wat jy is. En dit is genade wat ’n mens dra in jou gebrokenheid – in en deur die offers wat ’n mens bring – besittings, geliefdes, ’n lewe.

As kritiese leser het ek wel foute raakgesien, maar dít is nie wat ’n boek maak nie, daarom sal ek dit nie aan die groot klok hang nie. Dit is foute wat ’n waaksame redigeerder betyds moes raakgesien het. Vir my is die geheelindruk besonder betekenisvol en diep – dit is wat ek wil deel in hierdie resensie.

Die skrywer, Irize Loots, is in 1966 in Johannesburg gebore en het musiek by Unisa gestudeer. Ook verwerf sy ’n BA en diploma in verhoogbestuur aan die Universiteit Stellenbosch. Sedert 1993 woon sy in Amsterdam, Nederland, waar sy ’n Gestalt-terapiepraktyk het, klavierles gee en deeltyds by ’n uitgewer van wetenskaplike, tegnologiese en mediese tydskrifte werk. Haar studies in musiek, teaterbestuur en Gestalt-terapie, asook haar skilderkuns het meegewerk om haar te leer om met sagte oë na mense kyk. Sy skryf gedigte, kortverhale, blogs en langer verhale – in Afrikaans, Engels en Nederlands. Haar publikasies is kortverhale, Vrou in rooi (2015) en Sy was Siela (2016), en haar debuutdigbundel, vlieg vorentoe (2021), gepubliseer deur Turksvy Publikasies. Haar debuutroman, Dromers (2018, Naledi), word opgevolg wanneer Naledi in 2023 ook Offers vir genade publiseer, met ’n sublieme voorblad geskilder deur Irize – ’n voorblad wat op treffende wyse die uitgestrektheid van die landskap en die felheid van die son uitbeeld en die leser uitnooi om deel hiervan te word, te wonder oor die offers wat die karakters moet bring en watter rol genade speel in hulle wedervaringe.

..........
Die verhaal handel oor mense wat ’n lewe probeer maak in patriargale onderdanigheid op ’n verlate plaas in die droë Karoo. Almal gebroke mense, almal onder dieselfde son wat brand en vernietig. Mense wat almal keuses maak sonder om te weet wat die gevolge daarvan sal wees.
.............

In hierdie familie- en verhoudingsroman is daar familie en nageslagte en nakomelinge wat ’n verskeidenheid van besittings en karaktereienskappe erf. Die verhaal handel oor mense wat ’n lewe probeer maak in patriargale onderdanigheid op ’n verlate plaas in die droë Karoo. Almal gebroke mense, almal onder dieselfde son wat brand en vernietig. Mense wat almal keuses maak sonder om te weet wat die gevolge daarvan sal wees. Mense in komplekse verhoudings en interaksies met mekaar. Mense wat offers moet bring en genade kry in die proses om te oorleef. Mense wat patriargale onderdanigheid met moedersmelk ingekry het. Mense van wie sommiges op vadersknie chauvinisme aangeleer het.

Die ruimte waarin die verhaal “gebeur” is tipies van lokale realisme – dit speel af in ’n dorre landstreek in ’n harde woestynland met versengende hitte en “trillende warmte wat krioel op die horison” (19). Die doenigheid binne-in die huis word met baie besonderhede uitgebeeld, daar is baie beskrywings van skaap en boerbokke en hul lamtyd. Wat opval in die uitbeelding van die ruimte, is die twee hoofkarakters se sintuiglike ervarings:

  • “Te midde van die oorverdowende getik (van die staanhorlosie) raak ek ook bewus van ander geluide. Daar is ’n irriterende brommer wat hierbinne teen die venster op en af vibreer om te probeer uitkom. Dan hoor ek veraf ’n geblêr” (114);
  • “Die rante is olyfgroen. Die pragtigste blomme is in plate van kleur in hierdie rooiwarm veld tussen die bossies sigbaar” (163);
  • Die oosterkim gloei soos alle ander dae as die son oor sy rand begin klim. Dan begin die oggend stadigaan sy arms uitstrek [...] Ek hoor die tevrede oggendgekoer van ’n paar duiwe en sien dan hoe groot spreeuswerms en baie swaeltjies bo die vrugteboord in die lug maal en baljaar [...] Wanneer die voëls só uitgelate is, beteken dit net een ding – dit gaan reën” (236);
  • “Laat-oggend, terwyl ek eiers uithaal en in die boorde kyk of daar vrugte is wat gepluk moet word, vlie die swerms spreeus aanhoudend oor my kop. Hulle maal rond en is uitgelate. Die swaeltjies swiep een vir een met ’n vaart op my af asof hulle iets vir my duidelik wil maak. Die wolke wat eers verder weg was, pak in bondels saam, begin by die minuut al donkerder word en kom al hoe nader” (240);
  • “Met my voete voor my uit op ’n klapstoeltjie kan ek met groot bewondering en verwondering die reën aanskou. Die geluid van die reën op die stoep se dak is soos pragtige musiek in my ore. Dit vul my hele wese asof ek self wonderbaarlik deel word van die genadige water wat soos manna oor die droë vlaktes van ons daaglikse bestaan gesaai word. Ek sit tjoepstil, kyk half gehipnotiseerd daarna en luister na die simfonie van die reën wat oor die aarde trommel, beweeg en sing” (256);
  • “Buite is die nag stiller as binne. Vanaand is daar geen uile nie. Daar is ook geen takke wat kraak of vreemde sleepgeluide op die grondpad [...] nie. Dis selfs so stil dat ek myself kan hoor asemhaal. Dis donkermaan en die sterrehemel se miljoene sterre verwelkom my. Dis verweg vriende wat na my roep deur die sterre wat in die donker bly vonkel. Ek is klein in hierdie heelal. Dit voel asof ek begin sweef. Ek dryf boontoe terwyl ek lank en innig na die sterre staar. Ek sit vir baie lank net so tjoepstil. Dit is ’n magiese plek” (265).

Die roman het drie fokaliseerders: Die leser lees die verhaal deur drie verskillende karakters se oë. Sophie, Kobus en Mina, elkeen met ander insigte en vanuit verskillende hoeke. Op hierdie manier word die veelvlakkigheid van die gebeure en belewenisse van karakters in die verhaal aangebied en dit verhoog die spanning van die intriges en behou die leser se belangstelling. As leser wou ek die hele tyd weet: Wat is die eintlike waarheid?

..........
Die roman het drie fokaliseerders: Die leser lees die verhaal deur drie verskillende karakters se oë. Sophie, Kobus en Mina, elkeen met ander insigte en vanuit verskillende hoeke. Op hierdie manier word die veelvlakkigheid van die gebeure en belewenisse van karakters in die verhaal aangebied en dit verhoog die spanning van die intriges en behou die leser se belangstelling. As leser wou ek die hele tyd weet: Wat is die eintlike waarheid?
............

Die verhaal kan ook ’n dagboek- en/of brieweroman genoem word, omdat die vroulike hoofkarakter, Sophie, begin met haar dagboeke waarsonder sy nie sou kon oorleef in hierdie onherbergsame fisiese en persoonlike omgewing nie. Later kommunikeer haar seun Kobus – die manlike hoofkarakter – met haar deur middel van briewe. Vir my was dit ’n verrassing om te ontdek dat daar eintlik meer vertelde tyd aan Kobus se perspektief as aan Sophie se perspektief gewy word in die roman.

As een van die hoofkarakters (en protagonis) maak die leser heel aan die begin van die verhaal[1] kennis met Sophie wat as opgeleide kleuterskoolonderwyseres trou met Marinus Coetzee en saam op sy erfplaas, Boesmanrand, woon – dit is dan haar eerste offer, om haar vryheid prys te gee. Omdat sy jonk, onskuldig en naïef was, kon sy nie voorsien dat hierdie wilsbesluit vir haar ’n lewe van eensaamheid beteken nie – totaal geïsoleerd met ver afstande na die naaste bure of die dorp.

Omdat Sophie nie opgelei is as boervrou nie en onkundig was oor wat die plaaslewe van haar sou vra, is dit vir haar toenemend moeiliker om onder die heerskappy van ’n man te leef wie se woord wet is en niemand durf hom teëspreek nie, iets wat sy nie kon voorsien het voordat sy hierdie keuse gemaak het nie, net soos wat sy ook nie geweet het eensaamheid haar lewensbrood in hierdie afgesonderde plek en haar enigste metgesel sou wees nie. So offer sy haar vryheid op in hierdie lewensomstandighede. Die genade wat haar wel gedra het, was haar geaardheid om stillerig te wees, en dat sy daarvan gehou het om dinge op ’n afstand waar te neem. In die dorre landskap wat haar tuiste is, ervaar sy dat die tuin en boord wat sy moes onderhou, vir haar genade is.

Al kan Sophie nie met Mina (die huishulp) kommunikeer soos met ’n vriendin nie omdat dit vir haar wat Mina is, ongemaklik laat voel, is sy dankbaar vir Mina se hulp in die huishouding. Hierdie verhouding word later dieper wanneer Mina haar in die grootste nood bystaan om haar seun te vind.

Van vroeg af is dit vir Sophie toenemend moeilik om agter te kom hoe dit vir haar lyk of die noodlot haar in hierdie situasie laat beland het – sy wonder dikwels of dit toevallig was dat sy en Marinus mekaar ontmoet het. Sy het gehunker na iemand wat haar beste vriend sou wees, ’n maat wat haar soos ’n handskoen pas. Dit verander wanneer hulle kinders het – twee seuns, Kobus en Gerrit. Hulle vul haar dae met vreugde.

Sophie leef vir ander mense en is welwillend teenoor almal. As Mina aan Sophie dink, sien sy haar as ’n “anderster soort stilmens met ’n anderster manier van uitkyk op die veld. Ek dink dat sy eintlik ’n beter lewe verdien as die een wat sy hierso het. Sy doen mos alles vir almal. Niemand kyk om na haar nie, maar hulle sal moet leer omkyk en opkyk na haar” (96).

Sophie se vriendskap met Pieter – die plaasbestuurder – is genade vir haar in hierdie uitgestrekte en dorre landskap. Hy gee haar erkenning vir haar talente en maak dat sy voel sy is nie heeltemal alleen en eensaam nie. Hulle vriendskap word hegter en hy is die man wat haar bystaan wanneer die verskillende krisisse opduik.

Die leser raak bekend met Marinus Coetzee (die antagonis wat baie pyn en lyding veroorsaak) deur Sophie se perspektief wanneer sy hom ontmoet as ’n groot boer met ’n boskasie blonde hare en ’n vreemde, wilde blik in sy oë (16). Later beleef Sophie hom as iemand wat nie simpatie het nie, veral nie met sy seuns nie. Kobus (hulle oudste seun) is oortuig daarvan dat sy pa beslis nie ’n dankbare mens is nie, by sy pa is alles basta as hy gepraat het. In ’n gesprek tussen Kobus en Pieter – die plaasbestuurder – vra hy vir Pieter: “Wou jy regtig kom werk het vir ’n bebliksemde, moeilike man soos my pa?” (66). Mina het vir Marinus grootgemaak, maar sy sien met haar stille kyk ná alles “hy het ’n sleg ding in sy binneste wat hom siek maak [...] Hy is gebore met daardie ding wat vreet in hom” (96). Kobus praat van sy pa se “sarkastiese, gemene sêgoed” (141).

Marinus is die weerbarstige baas van hierdie plaas, van die mense en diere op die plaas. Hy weier volstrek om die knie te buig vir enige ander outoriteit, vervloek as hy praat van Kobus as ’n “donnerse kind” wanneer hy flou val tydens die (“bliksemse”) springhaasjag (84). Wanneer hulle agterkom dat Kobus weggeloop het, het Marinus “hard gepraat en [...] gesê: ‘Sophie, daardie mannetjie hoef nie weer sy voete hier te sit nie [...] daardie rooikop-bliksem is nie meer welkom hier nie!’” (224). Marinus het sy hart verhard en die oordeel wat hy in ’n oogwink van woede en teleurstelling gevel het deur sy seun te verban, was van toe af sy absolute en finale een (225). Uiteindelik moet ook Marinus ’n offer bring nadat ’n donderstorm genade vir die droogte bring en hy die geleentheid kry om sy berou hieroor uit te spreek.

Kobus – of Koos (Kosie) soos wat hulle hom noem – met sy bos rooi krulhare en blou oë (soos Sophie s’n) is sagsinnig soos sy ma, iemand wat graag lees, van musiek hou en nie belangstel of presteer in sport nie. Sophie dink aan hom as iemand met sy eie inherente wysheid en ’n ongekende sterk wil. “As Mina aan Kobus dink wanneer hy wegloop, weet sy dat sy Kobus se inkyk-oë sal mis [...] hy sal genade kry op sy pad omdat hy ’n goeie binnewoning het” (96). Ook Kobus moet sy eerste liefde (vir Cerise, die pragtige, babbelende, spontane lappopmeisie met haar hare in bokstertjies en komplekse verlede wat haar optrede in die hede verklaar) opoffer, maar die genade was groter as hierdie offer, omdat die Coetzee-familieverhoudings grootliks herstel het.

Daarenteen was Gerrit ’n stewige kêreltjie wat reeds van die begin af sy pa se kind was, omdat hy na Marinus geaard het en Marinus daarom meer aandag aan hom gegee het. Sophie moes dus hierdie seun van haar offer vir sy pa se liefde en toegeneentheid tot hom. Aanvanklik was daar ’n wedywerende verhouding tussen Gerrit en Kobus as gevolg van hulle pa se voorkeur van seuns wat hy gewys het vir hulle, waar Gerrit altyd die voorkeur kry by hulle pa. Later, nadat die krisisgebeure ook van Gerrit ’n offer vra en hy met genade oorleef, ontstaan en groei daar ’n nuwe toegeneentheid tussen die twee broers.

Wanneer Kobus wegloop, vind hy onderdak by Trien van Garies. Sy sorg vir Kobus en hy help haar met die boerbokke op haar kleinhoewe. Sy is ’n reguit mens, hoewel sy nie iemand is wat ’n klomp reëls het oor hoe hy hom moet gedra nie. Trien het ’n Griekwa-aksent en ons lees ’n paar van hierdie woorde uit haar mond: “jouselwers” en “myselwers”, “gan”, “mar”, “petier”, “hieso” en “daso”, “gjeld”, “kjinners”, “jou ko’ roep”, “onse mense”, “loop wys”. Kobus se Ouma Annie het hom vertel van beskermengele en Kobus dink dit is wat Trien vir hom is.

............
As nuuskierige leser sou ek graag meer van hierdie Griekwa-woorde wou lees, veral omdat Trien nogal ’n groot rol in die verhaal speel wanneer sy help om Kobus te vind.
...........

As nuuskierige leser sou ek graag meer van hierdie Griekwa-woorde wou lees, veral omdat Trien nogal ’n groot rol in die verhaal speel wanneer sy help om Kobus te vind. Ek vind dit toe wel wanneer Sophie en Mina inligting soek by die Kamieskroon-hotel en ’n ouerige bruin vrou (Sanna Baadjies) hulle tuismaak en verduidelikings gee wat baie soos Trien se woorde klink – “tee loep maak”, “skinner”, “ek wiet”, “oorlat soe maak”, “baja”, “soes haar ma”, “mar daar onner by Garies se kant”, “ek wiet mos”, “daai dae”, “ônse hotel”, “netnou maar”.

’n Interessante newekarakter is Mina, wat saam met die plaaswerkers deel van die San-mense is aan wie die plaas vir 120 jaar behoort en waar die plaas sy naam (Boesmanrand) gekry het. As leser vind ek haar ’n boeiende karakter, omdat sy met haar godsdienstigheid ’n perspektief gee op die huismense met haar geloof in Hische wat reën bring en dit weghou om mense te straf wat nie natuurwette gehoorsaam nie en menselewens nietig ag. Sy bid ook vir die Groot God van die Ooste se genade oor die lewe van Kosie-kind wat “gebore is met [...] goedheid” (95).

Die taalgebruik is keurig met duidelike temas wat as metafore en vergelykings dwarsdeur die roman gestalte gee aan die karakters se sienings en woorde vir hulle ervarings: Skape en bokke ’n lappop, ’n ashoop, skoene, stof- en afdraaipaaie, geweld, oorlog, ontplof, bom, kanon, keuses, oorsaak en gevolg, godsdiens, offers, genade, ’n uil of witborskraai se roep.

Laastens wil ek nie die konflik in verhoudings, die spanning wat lei tot die krisisse en klimakse verklap nie, omdat ek die nuuskierigheid van die lesers wil behou en stimuleer.

[1] https://naledi.co.za/product/offers-vir-genade/

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top